In the following article, in Afrikaans, Dr J J Retief, DWD provides a history of the De Wet Decoration and Medal, which were introduced to meet the need for a long service and efficiency medal for members of the South African Commando units at a time when such medals had already been introduced for service with the South African Permanent Force and the Active Citizen Force. Dr Retief begins the article by examining the political circumstances which led to a situation in which the well-known and much admired Boer general, Christiaan Rudolph de Wet, did not receive a medal for his outstanding leadership in the Anglo-Boer War. It goes on to explain the decision, many decades later, to institute, firstly, the De Wet Decoration and, later, the De Wet Medal, with detailed descriptions of these awards.
Generaal de Wet
Generaal Christiaan Rudolph de Wet, hoofkommandant van die Vrystaatse Magte vanaf Maart 1900 tot met die einde van die Anglo-Boereoorlog, is waarskynlik die beroemdste Suid-Afrikaanse krygsman van alle tye (Scholtz, 1984, p1 00). Hy was 'n uitstekende taktikus, soos gedemonstreer tydens byvoorbeeld die gevegte by Sannaspos en Groenkop (Rabie, 1980). Die Britse magte kon hom nooit vang nie, ten spyte van drie groot dryfjagte wat spesiaal vir die doel georganiseer is (Amery, 1902, vol 4 en 5). Hy tree uit die stryd as 'n legendariese figuur, wat by vriend en vyand respek afdwing (Scholtz, 2003, pp326-51).
Generaal Christiaan de Wet.
(Foto: De Wet, 1902, teenoor titelblad)
In 'n vorige artikel is aangetoon hoe dat die Unieregering in 1920 drie militere eerbewyse ingestel het uit erkentlikheid aan diegene wat tydens die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg het (Retief, 2005, pp18-22). Dit het bestaan uit die Dekoratie voor Trouwe Dienst vir offisiere, die Anglo-Boereoorlogmedalje, asook die Lint voor Wonden. Verskeie bekende Boereleiers het van hierdie toekennings ontvang, waaronder genls Smuts, Botha en de la Rey, alhoewel Botha in 1919 en de la Rey al in 1914 oorlede is. Geeneen van hierdie eerbewyse is egter aan genls de Wet, Hertzog of Beyers toegeken nie (Forsyth, 1976, pp33, 58, 78; Forsyth, 1967, pp1516; Forsyth, 1968, p31).
Die vraag ontstaan hoe dat dit moontlik is dat veral iemand met die statuur van genl de Wet, nie die Dekoratie voor Trouwe Dienst 6f die Anglo-Boereoorlogmedalje ontvang het nie. Hy het beide toekennings in alle opsigte verdien. Die antwoord kan gevind word in die politiek van die dag.
Die eensgesindheid wat daar tussen die Boeregeneraals tydens die oorlog geheers het, het nie lank na vredesluiting bly voortbestaan nie. Na Uniewording in 1910, het daar fundamentele verskille tussen hulle oor die verhouding tussen Suid-Afrika en die Britse Ryk ontwikkel. Vir genls Botha en Smuts was die Britse Ryk baie belangrik, terwyl genl Hertzog 'n benadering van 'Suid-Afrika eerste' gevolg het. Hy word in 1912 uit die Botha-kabinet gelaat en tydens 'n konferensie van die Suid-Afrikaanse Party, stap genls Hertzog en de Wet albei uit, om saam met andere die Nasionale Party te stig (De Kock, 1968, p247)
. Die Vrede van Vereeniging in 1902 is deur baie bittereinders as 'n tydelike terugslag ervaar. Die stryd sou hervat word sodra die geleentheid hom voordoen. Hul kans het gekom toe Engeland by die Eerste Wereldoorlog betrokke raak. Onder leiding van voormalige offisiere, soos genls Kemp, Beyers en de Wet, asook lt kol Manie Maritz, het sowat 11 500 burgers in 1914 die wapen teen die Unieregering opgeneem. Die rebelle was swak bewapen en georganiseer. Na 'n paar maande het die Unieverdedigingsmag (UVM) die opstand onderdruk en die rebelleleiers gevange geneem (Cameron en Spies, 1986, pp236-8).
Vir genl de Wet was die afloop van die Rebellie traumaties. Sy seun Danie het gesneuwel en die ideale van die rebelle was aan skerwe. Hyself, die vermaarde kommando-aanvoerder, is vir twaalf maande in die Fort in Johannesburg aangehou. In daardie tyd is hy skuldig bevind op 'n aanklag van hoogverraad en tot ses jaar gevangenisstraf, asook 'n boete van £2 000 gevonnis. Alhoewel die boete met vrywillige bydraes betaal is en hy begenadiging ontvang het, verlaat hy in Desember 1915 die gevangenis as 'n afgeleefde, ou man (De Kock, 1968, pp248-9).
Aangesien die Boeremagte nie volledige aantekeninge van burgers se deelname aan die Anglo-Boereoorlog gehou het nie, kon die Unieregering nie op sy eie die dekorasie, medalje of lint hierbo genoem, uitreik nie. Diegene wat vir 'n toekenning gekwalifiseer het, moes meesal self die aanvoorwerk doen. Dit is onder die politieke omstandighede wat destyds geheers het, begryplik dat daar geen sprake daarvan was dat genl de Wet 6f iemand na aan hom, vir eerbewyse by die Unieregering aansoek sou doen nie.
Genl de Wet sterf in 1922 en word deur sy volk aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Amptelike erkenning vir hierdie groot seun van Suid-Afrika sou moes wag tot na die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948.
Instelling van die De Wet-Dekorasie
Die Unieverdedigingsmag, gestig in 1912, het onder andere bestaan uit 'n Staande Mag, 'n Aktiewe Burgermag asook Skietverenigings, wat in Kommando's saamgegroepeer was (Ploeger, 1969, p16). Eersgenoemde twee afdelings was van meet af aan op Britse lees geskoei. Hierdie feit, asook deelname saam met Brittanje aan twee Wereldoorloe, het meegebring dat die UVM oor die algemeen nie juis aantreklik vir Afrikaners was nie.
Die nuwe Ministervan Verdediging in die Nasionale Partyregering van 1948, mnr F C Erasmus, het opdrag gehad om die Afrikanertradisie in die UVM uit te bou. Die taak het hy met oorgawe aangepak (Jooste, 1995). Hy stel onder andere tradisionele kommandorange vir die UVM in, waaronderdie rang van kommandant in 1950.
Die ongewilde Britse kroon word in 1957 as rangkenteken vervang met die kasteel. In 1952 word 'n eg Suid-Afrikaanse stel dekorasies en medaljes aangekondig, om die Britse militere eerbewyse te vervang wat tot op daardie tydstip in gebruik was (Staatskoerant, 1954).
Onder die nuwe toekennings was die John Chard-dekorasie en -medalje, as erkenning vir 20 en 12 jaar troue diens gelewer deur offisiere, adjudant-offisiere, onderoffisiere en manskappe van die Aktiewe Burgermag. Dit is vernoem na Lt John Chard, VC, wat tydens die Zoeloe-oorlog van 1879 aanvoerder was van die Britse mag wat Rorke's Drift suksesvol verdedig het. Hierdie eerbewyse het die Dekorasie en Medalje vir Bekwaamheid vervang, wat sedert 1940 toegeken is (Retief, 2007). 'n Nuwe medalje het lang en getroue diens in die Staande Mag erken, verrig deur enige lid. Dit was die Unie-medalje, toegeken na 18 jaar troue diens. Die naam is in 1961 verander na die Medalje vir Troue Diens in die Staande Mag (Alexander et al, 1986, p83).
Daarwas egter geen erkenning vir lang en bekwame diens gelewer deur lede van die Skietkommando's nie. Die rede hiervoor is dat die Skietkommando's op daardie tydstip nie 'n volwaardige deel van die UVM was nie, maar die Aktiewe Burgermag Reserwe B gevorm het (Ploeger, 1969, p16). Mnr Erasmus het ook aandag aan hierdie saak gegee, en met die Verdedigingswet van 1957 het die Kommando's, soos wat dit voortaan bekend sou wees, gelyke status met die Staande Mag en die Burgermag ontvang (Wet Nr 44, 1957).
In 1965 word erkenning vir lang en getroue diens vir die eerste keer aan offisiere van die Kommando's gegee, deur die instelling van 'n nuwe dekorasie. Aangesien die toekennings vir die Burgermag in die Engelse tradisie van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) ontstaan het, sou hierdie dekorasie vir die Kommando's, die Afrikaanse tradisie versterk. Daar is gevolglik besluit om dit na genl de Wet te vernoem.
In die aanhef tot die bevelskrif waarvolgens die De Wet-dekorasie ingestel is (Staatskoerant, 1965), verklaar die destydse Staatspresident, mnr C R Swart, DVD, dat daar volgens sy mening, geskikte erkenning behoort te wees vir offisiere van die Kommando's wat lang en bekwame diens gelewer het. Vir hierdie doel stel hy gevolglik 'n dekorasie in 'ter ere van generaal Christiaan Rudolph de Wet, die internasionaal vermaarde kommandoleier'.
Op hierdie wyse is genl de Wet 43 jaar na sy dood, uiteindelik vanaf owerheidswee vereer. Meer as 1 000 van hierdie dekorasies vir 20 jaar troue diens is aan Kommando-offisiere toegeken, wat dit met groot trots dra. Hulle is daarop geregtig om die na-naamse titel 'DWD' te gebruik. Die letters 'DWD' kon nie gedurende die periode 1977 tot 1986 gebruik word nie, behalwe as die toekenning voor 1977 gemaak was (Staatskoerant, 1977; 1986).
Die De Wet-dekorasie is rond en van silwer, met 'n deursnee van 38,1 mm. Op die voorkant is 'n afbeelding in relief van genl de Wet op sy perd Fleur, ontleen aan die standbeeld deur Coert Steynberg voor die Vierde Raadsaal in Bloemfontein. Dit is omring deur die woorde 'Dekorasie - De Wet - Decoration' en 'n krans van proteas. Die keersy bestaan uit die versierde wapen van die Republiek van Suid-Afrika (1932-weergawe) in relief (Brownell, 1993, pp18-20). Die dekorasie hang aan 'n oranje (geel) lint met 'n bree blou baan in die middel. Die randte bestaan uit twee groen bane. Die groen bane word van die oranje geskei deur twee smal wit bane.
Die dekorasie kon toegeken word aan offisiere vir 20 jaartroue diens in die Kommando's of sy voorgangers. Vorige diens in die Staande Mag of Burgermag het ook as kwalifiserende diens gegeld.
Die De Wet-Dekorasie, saam met 'n 1984 Suid-Afrikaanse 25 sent-posseel.
(Foto: Suid-Afrikaanse Departement van Pos en Telegraafwese)
.] 'n Silwer gespe, 31 ,8mm by 6,4mm, met die letters 'DWD' daarop, kon na 30 jaar getroue diens toegeken word. Dit word op die lint van die dekorasie gedra. Op dienstenue en kleintenue, wanneer slegs medaljelinte gedra word, word die toekenning van 'n gespe aangedui deur 'n silwer knoop met die letters 'DWD', wat op die lint gedra word.
Instelling van die De Wet-Medalje
Die instelling van die De Wet-Dekorasie het egter uit die staanspoor twee tekortkominge gehad. Eerstens was daar geen erkenning vir lang en bekwame diens gelewer deur adjudant-offisiere, onderoffisiere en manskappe van die Kommando's nie. As rede is aangevoer dat slegs offisiere vir diens verplig kon word, ten spyte daarvan dat lotelinge reeds sedert 1961 vir diens by die Kommando's ingedeel is. Dit is gevolg deur dienspligtiges wat vanaf 1967 deel van die Kommando's geword het (Meyers, 1986, pp9-10).
Tweedens is daar nie soos vir die Burgermag erkenning na 12jaar troue diens gegee nie. Die gevoel onder Staande Maglede was dat Kommando-offisiere nie soveel diens as lede van die Burgermag doen nie en derhalwe langer moes werk voordat hulle erkenning kry. Buitendien het Staande Maglede ook eers erkenning gekry na 18 jaar diens. Beide sake het ongelukkigheid onder Kommandolede veroorsaak.
Die 'Een-Mag' konsep het periodiek in die SAW opgevlam. In 1975 is besluit dat dit verdelend is dat die Staande Mag, die Burgermag en die Kommando's elkeen sy eie medaljes vir lang en getroue diens het. Daar is gevolglik 'n nuwe medaljereeks ingestel, die Medalje vir Troue Diens in die Suid-Afrikaanse Weermag. Dit het bestaan uit goue, silwer en brons medaljes vir 30,20 en 10 jaar troue diens gelewer deur enige lid van die SAW, hetsy Staande Mag, Burgermag of Kommando's en afgesien van rang (Staatskoerant, 1975). Slegs baie smal gekleurde bane op die groen linte sou aandui in watter afdeling van die SAW die betrokke lid diens gedoen het.
Die Medalje vir Troue Diens in die Staande Mag is deur die nuwe medaljereeks vervang, maar die John Chard-reeks asook die De Wet-dekorasie en gespe het as alternatief vir die Burgermag en Kommando's behoue gebly. Lede van laasgenoemde twee magte moes gevolglik van toe af skriftelik aandui watter medaljereeks hulle verkies (Alexander et al., 1986, p47). Hierna is hulle beperk tot die reeks wat hulle gekies het.
Op hierdie manier is daar in 1975 voorsiening gemaak vir die erkenning van lang en bekwame diens gelewer deur adjudant-offisiere, onderoffisiere en manskappe van die Kommando's. Hulle kon egter nog steeds nie vir die De Wet-Dekorasie of die gespe kwalifiseer nie. Dit is eers in 1986 goedgekeur (Staatskoerant, 1986).
In 1975 is terselfdertyd ook voorsiening gemaak vir die erkenning van 10 jaar bekwame diens gelewer deur offisiere van die Kommando's. Sommige offisiere het gevolglik die Medalje vir Troue Diens in die SuidAfrikaanse Weermag (Brons) verkies en so die geleentheid verbeur om na 20 jaar te kwalifiseer vir die De Wet-Dekorasie.
Om die leemte in die De Wet-reeks reg te stel, is 'n nuwe medalje, die De Wet-Medalje vir 10 jaar getroue diens, vir die Kommando's in 1987 ingeste!. Dit kon toegeken word vir diens gelewer deur enige Kommandolid. Die ontwerp van die medalje is soortgelyk aan die van die dekorasie, maar dit is van brons gemaak. Op die voorkant verskyn die woorde 'Medalje - De Wet - Medal'. Die lint het dieselfde kleure as die van die dekorasie, maar met die oranje en blou bane omgeruil.
Alle Kommandolede, afgesien van rang, sou voortaan vir beide die De Wet-Medalje en die De Wet-Dekorasie kwalifiseer, met 'n gespe by die dekorasie na 30 jaar troue diens. Relatief min De Wet-Medaljes is toegeken, omdat die bevelskrif waarkragtens dit ingestel is, nie in die Staatskoerantgepubliseer is nie. Die meerderheid Kommando-offisiere wat van te vore die dekorasie ontvang het, is gevolglik nie vir die medalje aanbeveel nie.
Teen die negentiger jare het die entoesiasme vir die 'Een-Mag' konsep weer ietwat getaan en in 1993 is besluit om die Medalje vir Troue Diens in die SAW voortaan weer slegs aan Staande Maglede toe te ken. Die naam is verander na die Medalje vir Troue Diens (Goud), (Silwer) en (Brons). Burgermaglede sou voortaan net vir die John Chard-reeks in aanmerking kom en lede van die Kommando's slegs vir De Wet-reeks (Pienaar, 1998, pp70-3).
Uiteindelik is daar drie volwaardige reekse toekennings vir lang en bekwame diens vir die drie afdelings van die SAW ingestel, wat nie tussen range gediskrimineer of afdelings benadeel het nie. Hierdie reeling was egter van korte duur. In 2003 het die African National Congress-regering 'n nuwe reeks medaljes en dekorasies ingeste!. Die De Wet-Dekorasie en die De Wet-Medalje is onder die toekennings wat afgeskaf is. Daar is reeds vroeer in dieselfde jaar aangekondig dat die Kommandostelsel as sulks om politieke redes uitfaseer word.
Generaal de Wet se nalatenskap leef egter in vele opsigte voort. Onder Afrikaners word hy geeer as een van die groot manne van sy tyd, en in die huise van baie oud-Kommandolede word 'n De Wet-Dekorasie nog steeds as 'n kleinood bewaar.
VERWYSINGS
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org