The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 10 No 6 - Desember 1997

(incorporating Museum Review)

DIE RANG VAN HOOFKOMMANDANT IN DIE SUID-AFRIKAANSE WEERMAG

deur Dr Johannes J Retief. DWD

"Maar ek onthou en delf nog goud uit die verlede" - Koos du Plessis.

Summary

Between 1969 and 1971, an extraordinary rank existed between those of commandant and colonel in the South African Army. This was the historical rank of chief commandant, which had originated during the Great Trek and had been used by the commandos of the Orange Free State during the South African War (1899-1902). By the sixties, the modern commandos had developed to such an extent that it became necessary to organise them into groups. The rank of chief commandant was reintroduced for the exclusive use of commando group commanders. Various attempts were made to increase the influence of Afrikaner tradition in the South African Defence Force and one of the ways of doing so was by enhancing the role and status of the commandos. Furthermore, few commando commandants had been staff qualified at the time and the majority were thus ineligible for promotion to colonel, without compromising the status of that rank. New badges of rank had to be improvised. The new rank, as well as its badges, caused confusion and discontent. In 1971 all incumbents were promoted to colonel and the rank of chief commandant became obsolete once more.

Inleiding

Indien die rangstrukture vir offisiere in die leers van Europese lande vergelyk word, is die ooreenkomste opvallend. Generaals, kolonels, majoors, kapteins en luitenante kom algemeen voor. Eeue van konflik het waarskynlik 'n groot mate van standardisasie meegebring. Tydens die koloniale tydperk het hierdie strukture ook na ander wêrelddele versprei. Ten spyte van die ooreenkomste, kom verskeie verskille egter ook voor. Die mees opvallende is waarskynlik die rang van brigadier-generaal, wat in Brittanje sy generaalstatus in 1920 verloor het,(1) terwyl dit in verskeie lande (byvoorbeeld die Verenigde State van Amerika, Frankryk en die voormalige Duitse Bondsrepubliek) nog steeds gebruik word.(2,a)

In Suid-Afrika is die rangstruktuur van die Britse Leer sedert 1912 deur die Unie-Verdedigingsmag gebruik. Die rang van brigadier-generaal was aanvanklik die hoogste rang, maar die rangstruktuur is in 1923 uitgebrei om ook die hoër opperoffisiersrange in te sluit.(3) Ook hier is deur die jare verskeie veranderings aangebring, waarvan die belangrikste waarskyrilik die vervanging in 1950 van die rang van luitenant-kolonel deur die tradisionele kommandorang van kommandant is.(4) Kommandant is een van verskeie range wat voorkom in die rangstruktuur van die Boerekommando's, wat oor 'n tydperk van byna twee eeue in Suid-Afrika ontwikkel het.(5)

Op 28 Mei 1968 is 'n drastiese verandering in die rangstruktuur van die Suid-Afrikaanse Weermag aangekondig. Nog 'n tradisionele kommandorang, naamlik die van hoofkommandant, is tussen die bestaande range van kommandant en kolonel in die Suid-Afrikaanse Leer en die Suid-Afrikaanse Lugmag ingevoeg (6) (sien tabel 1). Vir die Suid-Afrikaanse Vloot was daar geen ekwivalent nie. Hierdie rang is ook nie gebruik deur óf die Staande Mag óf die Burgermag nie, maar was uitsluitlik bedoel vir die bevelvoerders van kommandogroepe. Daar was nooit 'n bekleër van die rang van hoofkommandant in die kommando-eskaders van die Suid-Afrikaanse Lugmag nie, waarskynlik omdat hulle oor die land versprei en nie in groepe ingedeel was nie. Die rang was derhalwe in die praktyk beperk tot die kommando's van die Suid-Afrikaanse Leer. Op 10 Mei 1971 is alle dienende hoofkommandante bevorder tot die rang van kolonel.(7) Hiermee het die rang van hoofkommandant vir die tweede keer in onbruik geraak en is die rang van kommandant gevolg deur kolonel soos tevore.

Tabel 1

RANGSTRUKTUUR VIR OFFISIERE: SUID-AFRIKAANSE WEERMAG(41)
(vanaf 28 Februarie 1969 tot 9 Mei 1971)
SA LeerSA LugmagSA Vloot
GeneraalGeneraalAdmiraal
Luitenant-generaalLuitenant-generaalVise-admiraal
Generaal-majoorGeneraal-majoorSkout-admiraal
BrigadierBrigadierKommodoor
KolonelKolonelKaptein
HoofkommandantHoofkommandant -
KommandantKommandantKommandeur
MajoorMajoorLuitenant-kommandeur
KapteinKapteinLuitenant
LuitenantLuitenantOnderluitenant
Tweede LuitenantTweede LuitenantVaandrig

Die hoofkommandant in die geskiedenis

Om die rang van hoofkommandant in konteks te plaas, is dit nodig om die ontwikkeling van die kommandostelsel in breë trekke na te gaan. Ongelukkig is die geskiedenis van die twintigste eeuse kommando's nog nie so goed nagevors as dié van die agtiende- en negentiende-eeuse kommando's nie. Verskeie akademiese studies is reeds in laasgenoemde verband onderneem.

Roux beskryf hoedat die stelsel van deeltydse, vrywillige kommando's in 1715 ann die Kaap uit nood ontstaan het, omdat die Vereenighde Oostindische Compagnie op geen tydstip 'n polisiemag gehad het nie.(8) Kommandodiens het in 1739 verpligtend geword. In 1774 het die rang van kommandant ontstaan, toe Godlieb Rudolph Opperman in hierdie hoedanigheid deur die Krygsraad van Stellenbosch aangestel is.(9) Die kommandostelsel het na die oosgrens uitgebrei, waar die Britse owerhede n&acaute;l 1806 teen hul sin daarvan gebruik moes maak. Tydens die Groot Trek het dit die verdedigingstelsel van die Voortrekkers uitgemaak en later in 'n groot mate ook die van die Boererepublieke.(10)

Volgens van Heerden is Andries Pretorius op 25 November 1838 in Natal deur die Volksraad in die Sooilaer in die amp van hoofkommandant as opperbevelhebber van die gekombineerde kommando's aangestel. Dit het gebeur ná die roemlose Slag van Italeni op 10 April 1838, wat grotendeels veroorsaak is deurdat Andries Hendrik Potgieter en Pieter Uys as gesamentlike aanvoerders opgetree het. Andries Pretorius is teen 1840 reeds deur die Volksraad as kommandant-generaal erken, wat teen daardie tyd die senior rang was. Andries Hendrik Potgieter is die bekendste hootkommandant van hierdie tydperk. Hy het die status reeds voor 1839 verwerf en dit gebly tot 1851, toe ook hy as kommandant-generaal verkies is.(11) Dit het die einde van die rang van hoofkommandant in die Transvaal beteken.

In die vroeë wette van die Republiek van die Oranje-Vrystaat is voorsiening gemaak vir al die range wat in die krygswese gebruik moes word. Die rang van hoofkommandant word nie genoem nie. Tog meld Coetzee dat die titel teen 1865 tydens die tweede Basotho-oorlog vir die aanvoerders van meer as een kommando gebruik is.(12) Hy verwys byvoorbeeld na Louw Wepener, wat in beheer was van die kommando's van Caledonrivier, Philippolis en Bethulie, as hoofkommandant.

Op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), het die Volksraad van die Oranje-Vrystaat wysigings ann die Krygs- en Kommandowet aangeneem. Hiervolgens sou die offisiere van die verskillende kommando's ná mobilisasie 'n hoofkommandant kies, wat as aanvoerder op 'n gevegsfront sou dien.(13) In Mei 1900 is die rang van veggeneraal in die Oranje-Vrystaat vervang deur dié van assistent-hoofkommandant.(14) Beide hoofkommandante en assistent-hoofkommandante het tydens die oorlog die status van generaal verwerf.(15) Genl CR de Wet was 'n hookommandant en genl JBM Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika tussen 1924 en 1939, was 'n assistent-hoofkommandant.

Die ontstaan van die Burgermag

In Suid-Afrika is daar egter gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu ook 'n ander tradisie van deeltydse militêre diens in gebruik geneem. Dit is die Britse stelsel van vrywilliger regimente, wat tussen 1855 en 1865 'n bloeitydperk in die Kaapkolonie en Natal beleef het.(16) Internasionale politieke gebeure, soos die Krimoorlog (1854-1856) en die Indiese Muitery (1857-1858), het veroorsaak dat troepe van die Britse Imperiale garnisoene uit die kolonies onttrek moes word op 'n tydstip dat hulle dringend in die kolonies self benodig was. Die politieke klimaat was gunstig en die inwoners het spontaan op hierdie uitdaging gereageer, gesteun deur die goewerneur aan die Kaap, sir George Grey. Die gevolg was dat militêre eenhede oral in die kolonies ontstaan het, in wat later die Vrywilliger Beweging genoem is.

Veral na 1861 het die belangstelling egter begin afneem en eenhede is geamalgemeer en ontbind. Teen 1869 was daar slegs vyf regimente in die Kaapkolonie oor, wat deur die entoesiasme van 'n handjievol lede aan die lewe gehou is. In die middel van die sewentigerjare het die situasie verbeter en het die vrywilliger eenhede belangrike bydraes gemaak in die vele botsings tussen 1877 en 1879, insluitende die Negende Grensoorlog en die Zulu-oorlog.(17) Twaalf van hierdie regimente het aan Britse kant tydens die Anglo-Boereoorlog deelgeneem en vorm vandag nog die kern van die tradisionele regimente van die moderne Burgermag.(18)

Kommmando's in die Unie-Verdedigingsmag

In die Verdedigingswet van 1912 is die beginsel van persoonlike diensplig neergelê en het die wetgewers wyslik besluit om, afgesien van 'n Staande Mag, ook van albei tradisionele vorms van deeltydse militêre diens gebruik te maak. Burgers tussen die ouderdomme van 17 en 25 jaar kon verplig word om vir vier jaar afgebroke opleiding in die Aktiewe Burgermag te ondergaan, wat bestaan het uit die destydse vrywilliger regimente, asook ander wat gestig sou word. Na voltooiing van hul opleiding, sou hulle ingedeel word in die Aktiewe Burgermag Reserwe A. Burgers kon egter ook verplig word om lede te word van, of vrywillig aansluit by verdedigings-skietverenigings, wat in kommando's gegroepeer was. Laasgenoemde het die Aktiewe Burgermag Reserwe B gevorm. Die skietverenigings was so gewild dat meer as 42 000 burgers binne die eerste jaar aangesluit het. Brig genl CF Beyers is op 1 Julie 1913 in die pos van Kommandant-Generaal van die Aktiewe Burgermag aangestel en was in beheer van alle deeltydse magte, insluitend die skietverenigings.(19)

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is die verdedigings-skietverenigings gemobiliseer en sommige van hierdie kommando's het aan die veldtog in Duits Suidwes-Afrika deelgeneem. Tydens die staking aan die Rand in 1922 is ses-en-twintig kommando's gemobiliseer.(20) In 1924 is die verdedigings-skietverenigings onder die gesag van die Hoof van die Generale Staf geplaas. Uit die verantwoordelikhede wat aan die kommandante van kommando's toegeken is, is dit duidelik dat die bevordering van bedrewenheid in die skietkuns die hooftaak van die skietverenigings was, soos die naam aandui. (21) Daar is eeter ook kwartaalliks oefenparades gehou en jaarliks 'n wapenskouing, waartydens daar gedril is en veldoefeninge plaasgevind het. Wapenskoue is in die twintiger jare meer realisties gemaak deur die deelname van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Uniforms is op staatskoste aan offisiere verskaf. Gewere kon óf uitgereik óf uit staatsvoorrade aangekoop word. Lede is toegelaat om kursusse by die Militêre Kollege te volg.(22) Die getalle het aangegroei en 'n hoogtepunt van 151 000 man bereik in 1926. Hulle was lede van 1 343 skietverenigings, ingedeel in 142 kommando's.

In die vroeë dertiger jare het die Groot Depressie ook Suid-Afrika en die Unie-Verdedigingsmag hard getref. Die verdedigingsbegroting is sodanig ingekort dat daar gedurende 1930/31 geen Aktiewe Burgermagkampe gehou kon word nie en alle lede ook nie van gewere en uniforms voorsien kon word nie. Nege-en-veertig Aktiewe Burgermageenhede is vanaf 1930 ontbind en patroon uitreikings aan verdedigings-skietverenigings is met die helfte verminder, asook die toelaes van die kommandante.(24) Teen 1934 het die ekonomiese toestande egter begin verander en agt nuwe Aktiewe Burgermag-regimente is op die platteland gestig, vyf genoem na leiers uit die voormalige Boere-republieke.(25) Dit was egter eers in 1937 dat die situasie van die kommando's verbeter het, met die aanstelling van die voormalige Hoof van die Generale Staf, lt genl AJ Brink, DTD, DSO, in die pos van Hoofkommandant, Burgerkommando's. Hy was direk verantwoordelik aan die Minister van Verdediging.(26)

Genl Brink het veel gedoen om die standaard en die moreel van die verdedigings-skietverenigings te verbeter. Hy het die historikus, dr G Preller, versoek om die oorlogsdeelname van alle kommando's op te skryf en hom beywer vir die toekenning van vaandels en gevegs-onderskeidings aan kommando's.(27) Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die hele situasie weereens verander en was hy in 1940 verantwoordelik vir die organisasie van ses berede kommando regimente vir diens in die Italiaans beheerde Oos-Afrika. Die mannekrag vir hierdie regimente het van vrywilligers uit die verdedigings-skietverenigings gekom, maar dit is vroeg in 1941 ontbind. Hierna het genl Brink die organisasie van die Nasionale Reserwe Vrywilligers behartig, 'n deeltydse organisasie wat tot die platteland beperk was en wat sy lede uit die yler bevolkte dele moes werf. Afdelings is aanvanklik gevorm as deel van bestaande kommando's, maar onafhanklike afdelings is later gestig op plekke waar daar nie kommando's was nie. Hierdie organisasie was onder bevel van die Hoofkommandant, Burgerkommando's en het uiteindelik uit 222 afdelings bestaan. Dit het 'n hoogtepunt van 27 000 man bereik. Lede van die Nasionale Reserwe Vrywilligers het onder andere diens gedoen by krygsgevangene- en interneringskampe in die Unie en is in 1947 ontbind.(28)

In 1948 het die Nasionale Party-regering besef dat die stelsel van verdedigings-skietverenigings verouderd was en nie meer aan die vereistes van die na-oorlogse Suid- Afrika voldoen het nie. Daar is gevolglik besluit om die verdedigings-skietverenigings op 15 Desernber 1948 te ontbind en dit vanaf 16 Desember 1948 te vervang met 'n nuwe organisasie, die skietkommando's. Die doel was om strenger dissipline daar te stel en om gespesialiseerde opleiding aan lede te verskaf.(29) Met sy ontbinding het die verdedigings-skietverenigings uit 148 kommando's bestaan, met 'n ledetal van 26 500 man.(30) As gevolg van administratiewe en ander vertragings, het dit tot in 1953 geneem voordat regulasies vir die skietkommando's uitgevaardig is. Die afleiding kan gemaak word dat die skietkommando's tot daardie tyd volgens die regulasies vir die verdedigings-skietverenigings opgetree het.(31) Die skietkommando's was vanaf 1952 deel van die verantwoordelikhede van die Leërstafhoof.(32)

In konsepregulasies vir die skietkommando' s wat in 1949 opgestel is, is voorsiening gemaak vir die groepering van skietkommando's in hoofkommandantskappe onder leiding van hoofkommandante.(33) Die hoofkommandante sou op aanbeveling van die Hoof van die Generale Staf deur die Minister uit die geledere van die hoofkommandantskap aangestel word. Hierdie voorstelle is egter nie aanvaar nie. In die regulasies van 1953 is bepaal dat skietkommando's in groepe ingedeel sou word, soos deur die Leërstafhoof goedgekeur. 'n Groepleier sou vir elke skietkommandogroep uit die dienende kommandante van elke groep vir drie jaar deur die Hoof van die Generale Staf aangestel word. By elke skietkommandogroep word verder 'n skietkommando-groep-komitee saamgestel, bestaande uit die groepleier en die kommandante van die groep.(34)

Die aanvaarding van die Verdedigingswet van 1957 (Wet no 44 van 1957) het belangrike implikasies vir die skietkommando's ingehou. Die voorvoegsel 'skiet' is weggeneem, sodat die organisasie voortaan net as die kommando's bekend sou staan. Die benaming 'skiet-kommando' het groot ontevredenheid onder baie lede veroorsank, eerstens, orndat die woordjie 'skiet' 'n verkeerde indruk van die aard en aktiwiteite van 'n moderne kommando geskep het en, tweedens, omdat hulle graag die verbintenis met die agtiende- en negentiende-eeuse kommando's in ere herstel sou wou sien.(35) Van meer fundamentele belang is die feit dat die kommando's kragtens Wet no 44 van 1957 'n volwaardige deel van die Unie-Verdedigingsmag geword het, en gelyke status met die Staande Mag en Burgermag toegeken is. Tot op daardie tydstip het dit die Aktiewe Burgermag Reserwe B uitgemaak.(36)

Teen 1960 het 'n kommando soos volg daar uit gesien: Die bevelvoerder het die rang van kommandant gehad en was bygestaan deur 'n kaptein/adjudant en administratiewe sersant. In sy hoofkwartier was verder 'n mediese offisier en 'n ereveldprediker. Daar was twee of meer veldkornetskappe, elk onder bevel van 'n kaptein. Die gemagtigde sterkte van 'n veldkornetskap was ses offisiere en 205 onderoffisiere en burgers.(37,b) Ingevolge die regulasies van 1953, was die kommando's volgens geografiese gebiede in groepe ingedeel. Die aanvoerders van hierdie groepe was bekend as groepkommandante. Dit was 'n aanstelling bo en behalwe sy aanstelling as kommandant van sy betrokke kommando en hy het dieselfde rang en rangkentekens gehad as die ander kommandante in die groep. In 1960 was daar sewe-en-twintig groepe.

Die moderne hoofkommandant

Alhoewel die kommando's in 1957 wetlik gelyke status met die Staande Mag en die Burgermag verkry het, was die omskepping van skietverenigings in volwaardige militêre eenhede 'n moeisame proses wat oor 'n tydperk van ongeveer twee dekades gestrek het. Dit is terselfdertyd ook 'n suksesverhaal wat nog opgeskryf moet word. Die oprigting van die Danie Theron-Krygskool te Kimberley in 1968 was 'n mylpaal in hierdie verband. Geleë naby verskeie historiese slagvelde van die Anglo-Boereoorlog, het dit 'n geestelike tuiste vir kommandolede van oor die hele land geword. Hier het hulle weer en weer bevorderingskursusse bygewoon, namate hulle hoër in rang geklim het, geïnspireer deur die voorbeelde van manne soos genl Christiaan de Wet, kmdt Danie Theron en kapt Jack Hindon. Terug by hul kommando's het hulle hul nuut verworwe kennis teruggeploeg. Dit is ook gepas om hulde te bring aan dié toegewyde Staande Maglede, wat hul kommandementsgebiede deurkruis het met besoeke aan hoofkwartiere en om behulpsaam te wees met bivakke en kampe, in pogings om die proses aan te help. Die opofferings van gesinne en werkgewers in hierdie verband moet ook erken word.

Die las wat as gevolg hiervan op kommandement geplaas is, was enorm. In Kommandement Oranje-Vrystaat was daar in 1962 byvoorbeeld twee-en-veertig kommando's,(38) wat beteken dat die totale aantal eenhede in die kommandement eensklaps ongeveer verdriedubbel het. Desentralisering van die bevelsfunksie was 'n voor-die-hand-liggende oplossing om hierdie druk verlig.

Volgens die herinneringe van hoofkommandant Frikkie van der Merwe (later kol FC van der Merwe, DWD), eerste hoofkommandant van Komandogroep 24 in die Noordwes-Vrystaat, (39) was die hooftaak van 'n groepkommandant wat volgens die 1953 regulasies aangestel was, slegs die organisering van 'n jaarlikse groepprysskiet. Die omskepping van 'n losse groepering van kommando's in 'n bevelstruktuur met sy eie hoofkwartier, sou nie alleen die taak van die kommandement verlig nie, maar ook bevorderingsgeleenthede vir geskikte kommando-offisiere meebring.

Opeenvolgende ministers van verdediging ná 1948 het gepoog om 'n meer Afrikaanse karakter aan die Weermag te gee. (40) Die uitbreiding van die rol en status van die kommando's was 'n belangrike onderdeel hiervan. Een van die redes waarom die rang van hoofkommandant aan die bevelvoerders van kommanogroepe gegee is en nie die rang van kolonel nie, is waarskynlik hierin geleë. Volgens hkmdt van der Merwe is die kommando's 'n unieke militêre organisasie met 'n spesifieke taak, naamlik die beskerming van huis en haard in sy gebied. Die historiese rang van hoofkommandant sou derhalwe logies baie goed kon inpas in dié organisasie.

Die verhouding tussen die kommando's en die Burgermag was egter 'n ander ander moontlike rede waarom die rang van kolonel nie aan die bevelvoerders van kommandogroepe toegeken is nie. Daar was in die sestiger jare baie groot verskille in die standaarde van kommando's, ten opsigte van basiese aspekte soos opleiding, dissipline, salueer en eerbewys, asook die toepassing van dragregulasies. In sommige kommando's was die leiersgroep ranggekwalifiseer en het bevelvoerders toegesien dat die hoogste standaarde gehandhaaf word. Daar was dikwels kommandolede wat vorige militêre ondervinding gehad het, soos oudlede van die Staande Mag of Burgermag, veterane van die Tweede Wêreldoorlog of kwekelinge van een van die Gimnasiums. Hierdie manne het waardevolle bydraes tot die ontwikkeling van die kommandostelsel gelewer.

Daar was egter ongelukkig ook dié kommando's waar die bevelvoerder tevrede was om jaar in en jaar uit as 'n tydelike kommandant, maar 'n substantiewe assistentveldkornet(c) te dien. Kommando's in kleiner gemeenskappe het soms dissiplinêre probleme ondervind as gevolg van die feit dat die militêre maar één van verskeie lewensterreine was waar mense met mekaar in aanraking gekom het. In sulke omstandighede is dit verstaanbaar dat standaarde oor die algemeen laag sou wees.

Die gevolg hiervan was dat die beeld van die kommando's by die publiek in die algemeen en by die Burgermag in die besonder in hierdie tyd glad nie goed was nie. Van die hewigste kritiek het gekom van diegene wat goie militêre opleiding geniet het, maar nie meer betrokke was nie. Hkmdt van der Merwe noem die feit dat baie min kommandobevelvoerders in daardie tyd stafgekwalifisserd was. Die toekenning van die rang van kolonel aan nie-stafgekwalifiseerde offisiere kon gevolglik die status van die rang verlaag het.(d) Dit is dus heel moontlik dat dit ook 'n faktor was by die besluit van die Minister om nié die rang van kolonel aan die bevelvoerders van kommandogroepe toe te ken nie.

Op 8 Februarie 1969 is wysigings aan die kommando-regulasies in die Staatskoerant gepubliseer waarvolgens die rang en pos van hoofkommandant ingestel word. Die pligte van hoofkommandante is in dieselfde Staatskoerant uiteengesit. Afgesien van die pligte wat deur die Kommandant-Generaal, SAW, of 'n offisier deur hom daartoe gemagtig aan 'n hoofkommandant opgedra kon word, was hy verantwoordelik vir die volgende: Om die werksaamhede, gesamentlike opleiding en funksies van die kommando's in sy kommandogroep te beheer en te koördineer. Ook moes hy al die gelde wat sy kommandogroep mag toeval, ontvang, toesig oor die uitgawe daarvan hou en verseker dat sodanige ontvangste en uitgawes behoorlik verantwoord word. Verder moes hy in verband met alle sake as skakel tussen sy kommandogroep en die kommandementsbevelvoerder dien.(41) Daar was aanvanklik nege-en-twintig ampsbekleërs.

Die kentekens vir die nuwe rang moes aan die volgende vereistes voldoen: Dit moes die draer identifiseer en dit moes logies inpas by die bestaande kombinasies van kasteel en miniatuur sterre wat vir die rangkentekens van senior offisiere in die Suid-Afrikaanse Leër gebruik is. Verder moes dit dadelik beskikbaar wees, aangesien die eerste hoofkommandante reeds op 1 Mei 1969 aansestel is.(42) Die laaste vereiste het sy eie probleme geskep. Die normale verkrygingsprosedure vir 'n nuwe kenteken, indien dit nodig sou wees, duur ongeveer twee jaar. Dit behels die proses van ontwerp, goedkeuring van die ontwerp deur alle betrokkenes, vervaardiging en finale goedkeuring van die produk.

Eerste foto

Figuur 1. Epoulet van 'n hoofkommandant, SA Leër,
somerdrag, gedra vanaf 28 Februarie 1969 tot 26 Mel 1970.

Tweede foto

Figuur 2: Epoulet van 'n hoofkommandant, SA Leër,
somerdrag, gedra vanaf 27 Mei 1970 tot 9 Mei 1971.

Daar is in beginsel besluit dat 'n hoofkommandant 'n versierde weergawe van die rangkentekens van kommandant sou dra.(e) 'n Tussentydse 'versiering' sou gebruik word tot tyd en wyl 'n permanente oplossing beskikbaar was. Vir die tussentyd is besluit dat 'n hoofkommandant 'n kasteel en 'n miniatuur ster asook 'n balkie (6mm x 3 8mm) van verguldmetaal sou dra (sien figure 1 en 4). Kombinasies van balkies van verskillende wydtes is deur die Suid-Afrikaanse Blanke Hulpdiens as rangkentekens gebruik en was as magasynitems beskikbaar.(43,f) Vir die langtermyn sou 'n spesiale rangkenteken vir 'n hoofkommandant vervaardig word. Dit sou bestaan uit 'n normale grootte ster, maar omring aan die onderkant deur 'n halwe krans en dit sou saam met 'n kasteel gedra word (sien figuur 3).

Die rangkentekens in figuur 1 is tot 26 Mei 1970 gebruik. Op 27 Mei 1970 is die miniatuur ster vervang deur 'n normale grootte ster,(44)(sien figuur 2). Hierdie verandering was een van die gevolge van verskeie pogings om die verwarring tussen die kasteel en die ster te verminder. In 1952 het 'n vyfpuntige ster die vierpuntige ster, gebaseer op die Ster van die Orde van die Bad, vervang, wat sedert 1912 as rangkenteken in gebruik was.(45) Soortgelyk het 'n kasteel die Tudor-kroon in 1957 vervang, wat ook sedert 1912 gebruik is.(46) Die vyfpuntige ster en die kasteel het beide vyfvoudige simmetrie en alhoewel die metaal kasteel 'n hoer profiel gehad het, moes daar weinig senior offisiere in die Suid-Afrikaanse Weermag gewees het wat nie een of ander tyd vir 'n junior offisier met die selfde getal rangkentekens op sy skouer aangesien is nie.

In 'n poging om bierdie verwarring te verminder, is in 1963 besluit dat senior offisiere miniatuur sterre saam met die kasteel sou dra.(47) In 1964 is geborduurde pettuite vir brigadiers en kolonels weer in gebruik geneem.(48) Dit is in 1966 na kommandante uitgebrei. (49) Gevolglik is dit moontlik dat daar teen 1970 geoordeel is dat die gebruik van miniatuur sterre nie meer nodig was nie. Geborduurde pettuite het die probleem gedeeltelik opgelos, maar dit is toevallig ook so dat barette as hoofdeksel vanaf 1966 algemeen in gebruik begin kom het.

Die rang van hoofkommandant, sowel as die rangkentekens, het van die begin af verwarring en ontevredenheid veroorsaak. Omdat daar net ongeveer dertig van hulle oor die land versprei was en hulle daarby deeltydse soldate was, was die meeste weermaglede onbewus van die bestaan van die rang en het dit nie herken nie, wat tot verleentheid aanleiding gegee het. Hkmdt van der Merwe skryf dat beide sake tydens elke groepbevelvoerderskonferensie geopper is. Die balkie as rangkenteken het veroorsaak dat hoofkommandante met die Suid-Afrikaanse Blanke Hulpdiens(g) geassosieer is, iets waarvan hulle niks gehou het nie. Ander hoofkommandante was van mening dat hulle die werk van 'n kolonel doen, maar nie die erkenning daarvoor kry nie. Die verwarring het vererger toe die pos van Hoofkommandant in 1970 vervang is deur dié van Kommandogroepbevelvoerder. In amptelike stukke is die rang egter verkeerdelik vervang.(50)

Derde foto

Figuur 3: Beplande epaulet van 'n hoofkommandant, SA
Leër, somerdrag, wat nooit amptelik gedra is nie.

Vierde foto

Figuur 4: Hkmdt: J H van Heerden LWD DWD,
hoofkommandant van Kommandogroep 5, ontvang die Louw Wepener-dekorasie
van die Minister van Verdediging, mnr P W Botha, op 6 Oktober 1969 te Voortrekkerhoogte.
[Foto: Nr 761-5401, met erkenning aan die SANW Argief]

Op 6 Mei 1971 het die Minister van Verdediging, mnr PW Botha, die volgende verklaring in die Parlement gemaak: 'Ek wil nog 'n topstruktuur aankondiging doen. Dit geld die Burgermag sowel as die kommando's. Dit is al lankal 'n gevoelde behoefte dat daar iets gedoen moet word om impetus te gee aan ons offisiere in die Burgermag en kommando's en om hulle 'n aandeel te laat hê in die Weermag as 'n geheel. Hulle moet voel dat hulle nie iets aparts van die Staande Mag is nie, maar dat hulle deel vorm van die groter Weermag-geheel. Hulle is in werklikheid ons Weermag. Daarom het ek na baie deeglike oorweging besluit om die rang van kommandogroepbevelvoerders wat elk oor 'n aantal kommando's bevel voer vanaf hoofkommandant tot kolonel te verander. Daar is twee-en-twintig sulke poste. Ons het moeilikheid ondervind met die aanspreeksbenaming asook met die rangteken. Ek meen dat dit die beste is am hulle in kolonels om te skep.'(51)

Net soos ander historiese range voor hom, het die rang hoofkommandant na 'n kortstondige bestaan uit die SA Weermag verdwyn. Soos dit met soveel ander menslike aktiwiteite die geval is, het dit die saad van sy eie indergang met hom saamgedra. Daar is egter nog 'n klein stukkie ironie, wat grootliks ongemerk verby gegaan het. Teen die tyd dat die hoofkommandante tot kolonel bevorder is, was die proses vir die vervaardiging van die rang kenteken bestaande uit 'n ster met 'n halwe krans al baie ver gevorder. Enkele voorbeelde van hierdie kenteken bestaan, as 'n herinnering aan een van vele pogings om 'n eie karakter aan die SA Weermag te gee.

Die skrywer wil graag kol FC van der Merwe, DWD, bedank vir sy indrukke en ervarings tydens sy termyn as hoofkommandant. 'n Hartlike woord van dank gaan ook aan die personeel van die Direktoraat Dokumentasiediens, SANW, vir die beskikbaarstelling van dokumente uit die Weermagargief.

Aantekeninge

a. In party Nordiese en voormalige Oos-blok lande, asook Nazi-Duitsland, is die rang van kolonel direk gevolg deur dié van generaal-majoor.
b. Die rang van majoor was op daardie tydstip nie in die kommando's in gebruik nie.
c. 'n Tweede luitenant in die SA Leer het tussen 1960 en 1968 bekend gestaan as 'n assistent-veldkornet.
d. Dit het eers vanaf 1979 gebruiklik geword om te onderskei tussen stafgekwalifiseerde en nie-stafgekwalifiseerde kolonels in die SA Leer deur middel van verskille in petkentens en kraagpatte.
e. Verskeie voorbeelde van hierdie gebruik het in die SA Weermag voorgekom; let byvoorbeeld op die onderskeid tussen die rangkentekens van adjudant-offisiere klas 1 en 2, asook die petkentekens van stafgekwalifiseerde en nie-stafgekwalifiseerde kolonels in die SA Leër.
f. Die rangkenteken van 'n junior inspekteur in die SA Blanke Hulpdiens was een balkie (6mm x 38 mm), van verguldmetaal, wat op die skouer gedra is.(43)
g. Die Hulpdienste was organisasies in uniform wat laer toelatingsvereistes as die SA Weermag gehad het. Die lede is meesal vir wagdienste aangewend.

Verwysings

1. WE May, WY Carman and J Tanner, Badges and Insignia of the British Armed Services (Adam & Charles Black, London, 1974), p 141
2. 1 Brandt und E Brücker, Der Diensunterricht im Heere, (Der Reibert 1), (Verlag ES Mittler & Sohn, Frankfurt am Main, 1959), p 96.
3. Goewermentskennisgewing nr 1533 in Staatskoerant nr 291, 6 November 1912; Goewermentskennisgewing nr 1766 in Staatskoerant nr 308, 24 Desember 1912; Goewermentskennisgewing nr 171 in Byvoegsel tot Staatskoerant nr 1289, 26 Januarie 1923.
4. Goewermentskennisgewingsnos 2092,2093 in Staatskoerant no 4448, 25 Augustus 1950.
5. JJ Retief, 'Die ontwikkeling van die rangstruktuur van die Boerekommando's, Deel 1:1715-1836', in Krygshistoriese Tydskrif deel 9 nr 4, Desember 1993, pp 124-133; JJ Retief, 'Die ontwikkeling van die rangstruktuur van die Boerekommando's, Deel 2:1834-1902', in Krygshistoriese Tydskrif, deel 9 nr 5, Junie 1994, pp 167-179.

6. GR Duxbury, 'Veranderings in range en ampsbenamings in die Suid-Afrikaanse Weermag', in Krygshistoriese Tydskrif, deel 1 nr 2, Junie 1968, p 36.
7. Hoofkwartier Kommandement Oranje-Vrystaat: Diensbrief A/ADM/5/3, 12 Mei 1971, aan alle eenhede.
8. PE Roux, Die Verdedingingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie, 1652-1795 (gepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch. 1925); PE Roux. 'Die geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie, 1652-1878' (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch. 1946).
9. Kaapse Argietbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 28 Maart 1774.
10. ID Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864' (ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria, 1939); FA van Jaarsveld. 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870 (MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 1946. gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 1950, deel ll); PFR Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrvstaat (ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika. 1940).

11. JJ van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek' (DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1949, gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 1964, deel II), pp 5-15.
12. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 31,98.
13. Republiek van die Oranje-Vrystaat: Wet nr 33 van 1899, De Gouvernements Courant, 6 Oktober 1899.
14. CR de Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit (Boekhandel, voorheen Höveker & Wormser, Amsterdam en Pretoria. 1902), pp 138.
15. Retief, 'Die ontwikkeling van die rangstruktuur van die Boerekommando's, Deel 2:1834-1902', pp 175.

16. JJ Hulme, 'Gallant Gentlemen, 1855-1865: The Cape Colony Volunteers of a Century Ago', Krygshistoriese Tydskrif, deel 2 nr 1, Junie 1971, pp 30-7.
17. JJ Hulme, 'Cape Colony Volunteer Units, 1877-1879', Krygshistoriese TydskrifBritish Battles and Medals, (Spink & Son Ltd, London, Vierde Uitgawe, 1971, hersien deur EC Joslin), pp 191, 230.
18. HH Curson, Regimental Devices in South Africa, 1783-1954, (privaat uitgegee, Pretoria, 1954), p 19.
19. J Ploeger, 'Op Brandwag - Drie eeue militêre geskiedenis van Suid-Afrika'. Militaria, 1(4), l969, pp 15-19.
20. Ploeger, 'Op Brandwag', p 29.

21. Regulasies vir verdedigings-skietverenigings, Goewermentskennisgewing nr 950, in Staatskoerant nr 1398, 13 Junie 1924, p 480.
22. Regulasies vir verdedigings-skietverenigings, Goewermentskennisgewing nr 950, in Staatskoerant nr 1398, 13 Junie 1924, p 481.
23. DokumentasiediensNSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 9: 'Rise of Commando Organisation, 1912-1962', p 20.
24. Ploeger, 'Op Brandwag', pp 31-2.
25. Goewermentskennisgewing nr 1255 in Staatskoerant nr 2221, 7 September 1934; Goewermentskennisgewing nr 1720 in Staatskoerant nr 2236, 30 November 1934.

26. Ploeger, 'Op Brandwag', p 34.
27. Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 9:'Rise of Commando Organisation', p 17.
28. Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 9: 'Rise of Commando Organisation', pp 17-18; Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 14: 'Commando Detachments of the National Reserve Volunteers.'
29. P Botha, 'Die Ontstaan en Ontwikkeling van die Moderne Kommando-stelsel, 1912 tot 1969', p 9. Opgestel deur die Dokumentasiediens, SANW.
30. Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG (14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 1: 'Die Ontwikkeling van die Kommando's (1948-1959?)'.

31. P Botha, 'Die Ontstaan en Ontwikkeling van die Moderne Kommando-stelsel, 1912 tot 1969', p 12. Opgestel deur die Dokumentasiediens, SANW.
32. Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 9: 'Rise of Commando Organisation, 1912-1962', p 19.
33. Dokumentasiediens NSAW, AG 3, Houer 184. Lêer AG(3)410, Vol 1, Rifle Commandos. Inlae 8: 'Konsep voorstel vir Regulasies vir Skietkommando's om in die Staatskoerant gepubliseer te word'.
34. Regulasies vir Skietkommando's, Goewermentkennisgewing nr 2847 in Staatskoerant nr 5199, 18 Desember 1953.
35. Botha, 'Die Ontstaan en Ontwikkeling van die Moderne Kommandostelsel, 1912 tot 1969', p 16.

36. Verdedigingswet: Wet nr 44 van 1957 in Buitengewone Staatskoerant nr 6490, 15 Julie 1957.
37. Dokumentasiediens NSAW. AG 14, Houer 11, Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 1: Die Ontwikkeling van die Kommando's (1948-1959?)'
38. Dokumentasiediens NSAW, AG 14, Houer 11. Lêer AG(14)/Kom/23, Kommando's algemeen. Inlae 10: 'Naamlys van Kommando's' volgens Kommandemente', 14 Maart 1962.
39. Brief van kol FC van der Merwe, DWD, gedateer 22 Junie 1992, aan die skrywer.
40. L Jooste. 'FC Erasmus as Minister van Verdediging: 1948-1959' (ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afnika, 1995): L Jooste, 'Die politieke koerswending van 1948 besorg 'n nuwe identiteit aan die Unieverdedigingsmag'. Militaria, 26(2), 1996, pp 113-128.

41. Goewermentskennisgewing nr R 266 in Staatskoerant nr 2285, 28 Februanie 1969.
42. Persoonlike lêer van 08005852K kol Johannes Hendrik van Heerden, LWD, DWD, bylae 77.
43. Unie-Verdedigingsmag Roetine-order 1640, 4 September 1950.
44. Hoofkwartier Kommandement Oranje-Vrystaat: Diensbrief A/ADM/5/0. 2 Junie 1970, aan alle eenhede.
45. Unie-Verdedigingsmag: KMG Omsendbrief 5/1952, 30 April 1952.

46. Dokumentasiediens NSAW, AG(3). Houcr 275, Lêer AG(3) 2215 'Ranks: Re-designation of Ranks, 1 April 1957: Unie-Verdedigingsmag: KMG Omsendbrief ORD/l50/1/3. 5 Februarie 1958.
47. SAWO 10/63. 15 Januanie 1963.
48. SAWO 10/63, 15 Januarie 1963, soos gewysig deur SAWO 82/64. 31 Julie 1964.
49. SAWO 71/66, 19 Augustus 1966.
50. Salueer en Eerbewys (Alle Dienswapens), pamflet uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Weermag, 1971.
51. Republiek van Suid-Afrika, Debatte van die Volksraad (Hansard). Tweede Sessie - Vierde Parlement, Begrotingswetsontwerp - Verdediging, 6 Mei 1971, p 6202.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org