- June 1995 WYK GATSRAND SE ROL IN DIE MILITERE AKTIWITEITE VAN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK - Journal

The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 10 No 1 - Junie 1995

(incorporating Museum Review)

WYK GATSRAND SE ROL IN DIE MILITÊRE AKTIWITEITE VAN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK

deur E S van Eeden

INLEIDING
Die militêre aktiwiteite van die eertydse Gatsrand wyk wat as deel van die distrik Potchefstroom bekend was, vorm tans deel van die ryke kultuurherinneringe van die Carletonville munisipale gebied. Namate die streek ekonomies ontplooi het, en dorpe vervolgens geproklameer is sowel as gebiedsgrense geherstruktureer is, het die naam Gatsrand as verwysing na die eertydse wyk vervaag. Vandag bestaan die naam Gatsrand nog slegs ten opsigte van die Gatsrand-rantereeks wat 'n wel bekende geografiese landmerk in die munisipale gebied is. Gatsrand is geleë oos van Potchefstroom en het tot teenaan die huidige Witwatersrand gestrek. Wyk Vaalrivier het die suidelike grens gevorm en wyk Boven-Mooirivier die noordgrens.

Die besondere rol wat die Gatsrand as prominente gebied tussen Potchefstroom en Pretoria gespeel het gedurende die regeringsperiode van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), 1844-1901, is waarskynlik aan die meeste mense onbekend. Ook die militêre bedrywighede is vaag en moontlik net beperk tot die rol van Danie Theron. In dié artikel word die militêre aktiwiteite in die Gatsrand, en waarin Gatsranders betrokke was vanaf 1844 tot 1902, belig.

Wyk Gatsrand, wat vermoedelik vanaf 1844 amptelik met dié naam bekend was, se blanke inwoners was feitlik almal nasate van die Trekgeselskappe wat gedurende die dertigerjare vanaf die Kaapkolonie weggetrek het. Die eerste plase in die wyk is in 1839 beset. Gedurende die dekade hierna is 42 plase toegeken. In die daaropvolgende agt jaar tot en met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se verkryging van 'n grondwet in 1857, het nog sestien plase eienaars gekry.(1) Al die weerbare man op die plase was verbonde aan die militêre aktiwiteite van die Potchefstroom distrik.

VROEGSTE MILITÊRE BEDRYWIGHEDE
Volgens die Volksraadsnotules van 1850 was daar 249 weerbare man in die Gatsrandwyk wat die patrollies kon meemaak.(2) P J W Schutte van die plaas Buffelsdoorn het in sy dienstermyn as kommandant (1850-1855) die burgers van Gatsrand in die oorlog teen die Bakwenastam gelei.(3) Hulle het ook die oorloë teen Sekwati en Segali (1852), Mapela (1860), Molappo (1868) en Sekhukhune (1876) meegemaak.(4) Die burgers in die wyk van veldkornet J H G van der Schyft (Boven-Mooirivier) het in 1861 ook die hulp van wyk Gatsrand gekry toe 'n patrollie na die 'Bossiemans' uitgestuur is om gesteelde beeste terug te neem.(5)

Dit was die ZAR se betrokkenheid by die Sekhukhune-oorlog wat aan Brittanje die geleentheid gebied het om die Republiek in 1877 te annekseer.(6) In die daaropvolgende jare het die burgers hulle toegespits op die herwinning van hulle verlore onafhanklikheid. Toe dit geblyk het dat 'n verlore stryd gevoer is tydens vele onderhandelinge met die Britse regering en spanning geheers het oor die belastingkwessie het 'n volksvergadering op 8 Desember 1880 te Paardekraal besluit om die ZAR se verlore onafhanklikheid te herstel.(7)

Assistent-kommandant-generaal P Cronjé het opdrag van generaal P Joubert gekry om met 'n patrollie van 400 man vanaf Paardekraal na Potchefstroom te vertrek en die vryheidsproklamasie by J P Borrius te laat druk. Die drukkery moes terselfdertyd teen 'n moontlike Britse aanval beskerm word. Cronjé het Potchefstroom met die poskoetspad vanaf Gatsrand genader. Van die Gatsranders onder leiding van assistent-veldkornet P Martins het die patrollie meegemaak asook Gatsrand se veldkornet, A J O Oosthuizen, wat as kommandant die wyke Gatsrand en Vaalrivier verteenwoordig het.(8)

Veldkornet J T Martins
(Foto: A C M Pretorius, Potchefstroom)

Gerugte dat die soldate in die Britse fort te Potchefstroom skote gevuur het, het Cronjé onmiddellik tot aksie laat oorgaan en hy het die patrollie beveel om in vier afdelings te verdeel. Die drukkery is bewaak, die Britse fort aan die westekant van die dorp omsingel en twee afdelings is na die landdroskantoor om majoor Clarke en sy manskappe se bewegings dop te hou. Die skermutseling het begin toe 'n afdeling van die Boerepatrollie onder leiding van kommandant J Wolmarans van die plaas Welverdiend in die Gatsrand, oor die markplein na die landdroskantoor beweeg het en majoor Clarke se manne op hulle begin skiet het. In die vroeë oggendure van 18 Desember 1880 het Clarke die wit vlag gehys en die landdroskantoor is ingeneem.(9)

Die laaste slag van die Eerste Vryheidsoorlog het op 27 Februarie 1881 op Majuba in Natal, ongeveer twee maande na die aanvang van die Potchefstroombeleg, plaasgevind. Boeremagte onder aanvoering van generaal Joubert het die mag van Sir G P Colley daar oorwin.(10) Volgens oorlewering was enkele burgers van Gatsrand ook by die slag betrokke.(11)

Na die eerste Vryheidsoorlog moes kommando's by verskeie geleenthede weer op kommando gaan om mee te doen aan oorloë teen Swartstamme. Van die vernaamste was dié teen Mapoch en Mampuru (1882), Malaboch (1894 en 1897) en Mphephu (1895-1898).(12) Veldkornet J Geldenhuys, wat die Gatsranders in die oorlog teen Mapoch en Mampuru gelei het, het tussen 1882 en 1883 veertien blanke en vyf Swartmans beboet vanweë hulle onwilligheid om op kommando te gaan. Elke wyk se opgekommandeerde burgers moes sorg vir hulle eie voedsel en vir die doel het Geldenhuys gereeld vee, meel en kontant van die burgers in die Gatsrandwyk gevra. Ammunisie is deur kommandant P A Cronjé op Potchefstroom uitgereik.(13)

Gatsranders op kommando
(Foto: C Rautenbach, Carletonville)

Die ZAR het in die negentigerjare, tydens oorloë teen Swartstamme, ook met die Uitlandervraagstuk geworstel. Van die Britse onderdane wat vir die oorlog teen Malaboch opgekommandeer is, het heftig gereageer en hulle herroep op hul mondstuk, die National Union, terwyl diegene wat die Volksraad positief gesind was, aan oorloë deelgeneem het en selfs die Jameson-inval, 'n verset- en anneksasiepoging deur Uitlanders (gerig op die anneksasie van die ZAR) in Desember 1895 tot Januarie 1896 meegemaak het.(14) Vir die burgers wat Oujaarsdag op 31 Desember 1895 wou vier, was die nuus van L S Jameson se plan om na Johannesburg op te ruk waarskynlik onwelkome nuus. Volgens onderlewering het die inwoners van die noordelike plase in die Gatsrand, naamlik Elandsheuwel (nr 494), Rooipoort, Welverdiend, Twyfelvlakte, Wonderfontein en Driefontein (nr 591) hulle klaargemaak vir boeresport en perderesies op Welverdiend, toe 'n ruiter vanaf Potchefstroom die verrigtinge gestop en gevra het dat alle berede burgers na Krugersdorp moes gaan om Jameson se manne te verhoed om Johannesburg te bereik.(15)

Daar bestaan nie 'n afsonderlike naamlys van die burgers van Gatsrand wat aan die Jameson-inval deelgeneem het nie. Hulle het vermoedelik, vanweë veldkornet J T Martins se betrokkenheid by die oorlog teen Mphephu(16), by die burgers van ander veldkornetswyke aangesluit. Name van Gatsranders verskyn byvoorbeeld in die naamlyste van die Vaalrivier, Krugersdorp en Potchefstroom.(17) Kommandant Cronjé het dié burgers aangevoer en op 2 Januarie 1896 is Jameson by Doornkop tot oorgawe gedwing.(18)

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG, 1899-1902
Die ontdekking van goud in die Witwatersrand in 1886 en die daaropvolgende Uitlandervraagstuk het uiteindelik tot 'n gespanne verhouding tussen Brittanje en die ZAR gelei. Die Tweede Vryheidsoorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek.(19)

Oppad na Magersfontein
Die ongeveer 550 weerbare burgers(20) van die Gatsrand het opdrag gekry om die plaas Kleinfontein bymekaar te kom. Die Potchefstroom-Kommando, bestaande uit burgers van die verskillende veldkornetswyke van die distrik Potchefstroom, het onder leiding van generaal Cronjé die Transvaalse wesfront (met Mafeking as sentrum) verdedig.(21)

Dat die Gatsranders nie 'n tekort sou hê aan wapens vir die stryd nie blyk uit assistent-veldkornet J F van der Merwe se bestelling van 20 000 Mausers en 10 000 Martini-Henry-gewere op 24 Junie 1899.(22) Dit was toe reeds duidelik dat daar voorbereidings getref is vir 'n oorlog.

Die berede burgers in die omgewing van Mafeking was elk toegerus met 'n Mauser en een honderd patrone, maar vir mondproviand moes self gesorg word. Veldkornet Martins het generaal Cronjé as kommandant bygestaan.(23) Na ongeveer twee maande het die generaal in opdrag van die regering suidwaarts vertrek om die Vrystaters wat nog by Belmont was te help om die Britse opmars te stuit.(24)

Van die opgekommandeerde Gatsranders, 1899
(Foto: J du Preez, Fochville)

Generaal Cronjé was skaars by die Vrystaters toe die regering hom opdrag gegee het om by generaals de la Rey en Prinsloo aan te sluit. Die Potchefstroom Kommando, waarvan die Gatsranders deel was, met onder andere kommandante M J Wolmarans, J T Martins en T F J Dreyer van die Gatsrand, het vroeg in Desember 1899 op Magersfontein naby Kimberley posisie ingeneem.(25) Die Boeremagte het op 11 Desember 1899 die Britse troepe oorwin. Generaal Cronjé se mag het hulle tydens die aanval onderskei en daarvoor het hulle 'n telegram van gelukwensing van president Kruger ontvang.(26)

Cronjé se mag het na die slag van Magersfontein in die omgewing van Kimberley agtergebly met die doel om die Britse garnisoen wat hulle in die dorp bevind het tot oorgawe te dwing.(27) Vir diegene wat naby die Modderrivier stelling ingeneem het, het hierdie taktiek eintlik op 'n lang rustydperk uitgeloop. Kommandant J F Martins het in 'n brief aan assistent-veldkornet J F van der Merwe onder meer melding gemank dat 'op Modderfontein(28) over het algemeen is het hier betrekkelijk stil, behalwe dat die vyand elken dag eenige aantal bommen zendt, nie over Maertins kopje, uitwerking niets dan stof.'(29)

Veggeneraal Breytenbach ontvlug

'n Burger van die Gatsrand, veggeneraal J J M Breytenbach, het opdrag van generaal Cronjé gekry om met 300 man laer langs die Modderrivier stelling in te neem om Britse omsingeling te verhoed.(30) Lord Roberts het egter Cronjé se 4000 man by Paardeberg vasgekeer. Kommandant Martins het voorgestel dat 'n biduur gehou word ten einde die Almagtige te vra om leiding aan die offisiers te verskaf en dit is deur Cronjé aanvaar. Kommandant M J Wolmarans het hom verset teen die latere voorstel dat daar deur die Britse linie gebreek moes word en Cronjé se manne is op 27 Februarie tot oorgawe gedwing.(31)

Dié oorgawe was vir die Gatsranders in die besonder 'n gevoelige verlies, aangesien die meerderheid berede burgers van die omgewing saam met kommandant J T Martins en M J Wolmarans gevange geneem en sommige na plekke soos St Helena verban is.(32)

'n Aantal burgers (waaronder kommandant T F J Dreyer) het skynbaar voor Cronjé se oorgawe daarin geslaag om van die laer weg te kom. Veggeneraal Breytenbach en sy 300 man het ook ongeskonde daarvan afgekom, aangesluit by Dreyer se burgers en teruggetrek na Veertien Strome.(33) Na Cronjé se oorgawe het Smuts vir generaal de la Rey vergesel met die doel om ontvlugte burgers soos dié by Veertien Strome in die rigting van Pretoria en Johannesburg te laat beweeg.(34)

Nadat Roberts Pretoria op 6 Junie 1900 beset het, is begin met die grootskaalse verwydering van vroue en kinders van die plase na konsentrasiekampe. Verder is 'n netwerk van blokhuislinies opgerig wat van digby Lambertsbaai in Wes-Kaapland tot by Pietersburg in Noord-Transvaal gestrek het met die doel om die spoorweë te beskerm. In die Gatsrand is blokhuise op Modderfontein, Bankstasie en Vlakfontein nr 364 gebou.(35)

In die krygsgevangenekamp te St Helena, 1900
(Foto: C Uys, Potchefstroom)

Kaptein Danie Theron

Die Boeregeneraals het vervolgens besluit om deur middel van guerrilla-oorlogvoering Britse militêre aktiwiteite aan bande te lê deur spoorweë en ander kommunikasie-netwerke te saboteer om te verhinder dat die vyand die westelike distrikte oorneem.(36) So byvoorbeeld het generaal P J Liebenberg van Potchefstroom en sy manskappe, wat hulle na Augustus 1900 in die omgewing van Bank en Welverdiend bevind het, die spoorlyn gereeld beskadig.(37) Aan Britse kant het generaal A F Hart die spoorlyn tussen Krugersdorp en Welverdiend bewaak.(38) Die spoorlyn vanaf Pretoria oor Krugersdorp en Klerksdorp na Kimberley was 'n belangrike verbindingsroete na die suide.(39)

Na aanleiding van gerugte dat Engelse kolonne uit die rigting van Johannesburg na Potchefstroom beweeg, het Liebenberg versterking van generaal C R de Wet uit die Vrystaat aangevra.(40) Kaptein Danie Theron het met sy verkenningskorps na die Gatsrand vertrek om generaal Liebenberg by te staan. Terwyl sy verkenners op 5 September 1900 in die klowe van die Gatsrand geskuil het, het Theron en een lid van sy korps, W A S Nel, die terrein verken en by die Wolvaardts op Elandsfontein nr 289 navraag gedoen oor generaal Liebenberg wat skynbaar vir hom 'n boodskap op die plans moes gelaat het.(41) Liebenberg het egter eers na Theron se vertrek by die Wolvaardts opgedaag en 'n boodskap gelaat. Drie Britse kolonne het intussen langs die noordelike en suidelike heuwels asook in die valleipaaie deur die Gatsrand in 'n westelike rigting beweeg.(42)

Met Theron se tweede besoek ann die Wolvaardts het hy die boodskap van generaal Liebenberg ontvang en het hy Nel aan die voet van 'n heuwel (by die Britse troepe bekend as 'Yeomanry koppie'(43) naby die plaashuis agtergelaat en die heuwel bestyg om die wêreld te bespied.(44) Volgens generaal Hart het Theron hom in 'n stuk of vier Britse verspieders vasgeloop.(45) Theron, 'n goeie skut, het hom egter goed verdedig.(46) Die Engelse kolonne in die suidelike deel van die Gatsrand was egter reeds baie naby die heuwel en het met hulle skeepskanon daarop gevuur, skynbaar onder die indruk dat daar 'n paar Boere op die heuwel was.(47) Bomskerwe het Theron waarskynlik gedood en Nel het met die tyding na die verkenningskorps teruggekeer.(48)

Kaptein Danie Theron
(Foto: Potchefstroom Museum)

Na hierdie terugslag, het generaals de Wet, Liebenberg en Smuts in die Gatsrand en in opvolging van Liebenberg se oproep, na die Frederikstad-omgewing opgeruk. Generaal G Barton het 'n direkte opdrag uit Pretoria gekry om met sy manskappe vanaf Krugersdorp verby Bank en Welverdiend te marsjeer en de Wet af te sny. Op 15 Oktober het Liebenberg op die plans Buffelsdoorn in die Gatsrand met Barton se Engelse kolonne slaags geraak - sonder sukses. De Wet slaag nietemin daarin om op 20 Oktober Frederikstad, ten spyte van Barton se teenwoordigheid in die omgewing, te bereik.(49)

Die twee Boeregeneraals het kragte saamgespan en generaal Barton by Frederikstad aangeval. Op bevel van generaal de Wet het 'n aantal Boere gedurende die nag van 24 Oktober na Frederikstadstasie gegaan met die opdrag om die Britse troepe te verjaag.(50) P A Vermaas van Losberg (lid van die verkenningskorps) het Froneman met 'n afdeling van twintig man gehelp om die stasie aan te val. Die Engelse oormag was egter te groot en baie is gevang. Net 'n paar Boere, waarvan Vermaas een was, het ontvlug.(51)

Generaal de Wet het na die mislukte aanval by Frederikstad teruggetrek na die Vrystaat. Die meeste burgers is gedurende November die kans begun om hulle koring te oes en sake op hulle plase in orde te bring. Die toestand in Wes-Transvaal het generaal de la Rey bekommer en hy het instruksies aan Smuts uitgereik om daarheen te gaan om die kommando's behoorlik te organiseer.(52)

Teen die middel van Januarie 1901 het Smuts uit die omgewing van Ventersdorp in die rigting van die Gatsrand beweeg. Die burgers van Gatsrand het in daardie stadium reeds opdrag gekry om weer op die plaas Kleinfontein te vergader. Hierdie burgers het weer by die res van Potchefstroom Kommando aangesluit wat deur generaal Liebenberg en J J M Breytenbach (laasgenoemde 'n burger van die plaas Kleinfontein in die Gatsrand) gelei is. Liebenberg het by Smuts aangesluit terwyl Breytenbach en 'n groepie burgers wat hoofsaaklik afkomstig was van die Losberg-omgewing in die Gatsrand vooruit gegaan het na die Britse blokhuis op Modderfontein. Hier was die Britse getalsterkte onder Casson net 109 man en hy was van die Boeremag in die Gatsrand bewus.(53)

Intussen het kaptein Magniac op 29 Januarie 1901 met 'n konvooi met 'n maand se voorraad onder beskerming van 108 man van Krugersdorp af na Modderfontein vertrek - onbewus van die Boeremag in die omgewing wat die konvooi moontlik kon buit. Casson moes toe 'n paar man onder luitenant Crawley afstaan om die naderende konvooi by te staan sodat dit die blokhuis in veiligheid kon bereik. Ten spyte van herhaalde aanvalle deur generaal Breytenbach het die konvooi tog daarin geslaag om sy bestemming te bereik.(54)

Generaal Liebenberg en Smuts het hulle op 29 Januarie naby Modderfontein bevind na kleiner skermutselings met Britse troepe by Ventersdorp en Frederikstad en besluit om op 30 Januarie met 'n gesamentlike Boeremag van 1 500 man die blokhuis op Modderfontein (wat toe deur 200 beman is) aan te val.(55) Na 'n geveg van 43 uur het Smuts op 31 Januarie die blokhuis oorgeneem met enkele verliese aan Boerekant. Net generaal Breytenbach het gesneuwel en kommandant F G A Wolmarans is lig gewond.(56) Generaal Cunningham, wat Modderfontein op 1 Februarie bereik het, het die Boere die volgende dag met 800 man aangeval. Generaal Smuts het Cunningham se magte egter teruggedryf en dit het vir Smuts en die Boere as inspirasie gedien vir verdere optrede elders.(57)

Bankstasie in die spervuur

Kort na die aanval op Modderfontein het Smuts vir generaal Ben Bouwer van Kafferskraal na Gatsrand ontbied om die Boeremagte te help om die brug by Bankstasie met plofstof te vernietig. Alhoewel die sterkte van die Britse kamp op Bank onbekend was, is besluit om tot aksie oor te gaan waarin kommandante T F J Dreyer en F G A Wolmarans van Gatsrand ook deel gehad het. Bouwer en sy vyftig man het ervaring van plofstowwe gehad en moes die brug opblaas, terwyl Dreyer en vyftig man hulle teen 'n moontlike aanval van die vyand sou beskerm en Wolmarans se vyftig man die Britse kamp bestorm.(58)

Kommandant T F J Dreyer
(Foto: T F Dreyer Jr, Parys)

Die geblaf van 'n hond in die Britse kamp het kommandant Dreyer se manne egter ontsenu en daar is geskiet sonder bevel. Die operasie is egter ten spyte van dié voorval suksesvol deurgevoer en Wolmarans het daarin geslang om die kamp te bestorm en heelwat voedselvoorraad te buit.(59) Die fout wat kommandant Dreyer se manskappe begaan het, het gelei tot die verlies van vier van Bouwer se manne wat tydens die geveg aangesien is vir Britse soldate.(60)

Generaal Smuts na die Kaap

Ondertussen het Cunningham, na sy neerlaag op Modderfontein, van Lord Kitchener opdrag gekry om met G E Benson (Potchefstroom) en C Shekleton (Elandsfontein) se kolonnes te verenig en Smuts in die Gatsrand te verslaan. Die kolonnes kon egter nie daarin slaag om Smuts se mag vas te trek nie. In Julie 1901 het Smuts besluit om die Kaapkolonie in te val en vir die doel moes die burgers op Kaalplaats in die Gatsrand vergader. Van oor die hele Wes-Transvaal het 340 man bymekaar gekom en in vier afdelings verdeel onder kommandante Dreyer, Bouwer, van der Venter en Kirster [sic].(61)

Terwyl die ander onmiddellik suidwaarts beweeg het, het generaal Smuts en kommandant Dreyer met een honderd man agtergebly en 'n dag later na Losberg vertrek. Die Britse magte het egter van Smuts se plan te hore gekom en Britse troepe is dadelik na Hoopstad gestuur, terwyl Garratt se manne na Losberg beweeg het. Die Boeremag het Garratt by Lindequesdrift ontglip, maar Dreyer(62) en nege ander is deur Britse troepe gevang voordat hulle Zastron bereik het.(63)

Gatsrandse vroue en die konsentrasiekampherinneringe

Die guerrilla-taktiek van Smuts, de la Rey en andere was besig om sy einde te nader. In die Transvaal en Vrystaat was die land reeds verwoes. Duisende vroue en kinders waaronder die van Gatsrand, is na konsentrasiekampe geneem waar baie gesterf het.(64) Uit vrees vir wegvoering was sommige vroue en kinders gereeld op die vlug. Onder die voortvlugtende vroue uit die Gatsrand het getel B Pretorius van Kalbasfontein wat vir sewentien dae aaneen gevlug het en 'n tyd lank by haar skoonsuster naby Klerksdorp gaan woon het.(65) M S E Brits van die plans Jachtfontein in die Gatsrand het vir maande met haar kroos rondgeswerf(66) en M C Dreyer wat ook in die Gatsrand rondgeswerf het, het vele kere op 'n wonderbaarlike wyse van die Britse troepe ontvlug.(67) Mevrou D J C Dreyer (kommandant T F J Dreyer se vrou) het die Britse troepe ontwyk deur een nag met haar kinders oor die Mooirivier te swem en elders 'n tuiste te vind.(68)

Helaas vrede

Die algemene toestand (veral met betrekking tot afgebrande plaashuise, mens- en veeverliese) waarin die eertydse ZAR verkeer het, het onder meer gelei tot die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902.(69) 'n Groot Britse troepemag het in die land agtergebly om toe te sien dat orde gehandhaaf word. Van dié troepe, bekend as die South African Constabulary, was vir 'n geruime tyd ook in die omgewing van Losberg, Welverdiend, Taaiboschspruit en Bank gestasioneer.(70) Britse soldate het selfs die plaasinwoners met los werkies gehelp, onder andere kommandant T F J Dreyer wat gehelp is om die verwoeste krale op sy plaas met klip te herbou.(71)

In 1920 het die Verdedigingshoofkwartier besluit om erkenning te gee vir uitstaande prestasies gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Die medalje, die Dekoratie voor Trouwe Dienst, is in 1922 aan elf offisiere van die Gatsrand uitgereik. Hulle was kommandant J T Martins, kommandant T F J Dreyer, kommandant M J Wolmarans, kommandant F G A Wolmarans, veggeneraal J J M Breytenbach, veldkornet F O Breytenbach, assistent-veldkornet W P Grey, veldkornet P J W du Plessis, veldkornet P A Vermaas, veldkornet J F van der Merwe en veldkornet J Geldenhuys.(72)

Die Sac-Pos te Losberg
(Foto: B J J Vermaas Jr, Fochville)

SAMEVATTING

Uit die voorafgaande bespreking is die wyk Gatsrand se prominente betrokkenheid by, en die Gatsranders se aandeel in, militêre aktiwiteite ter plaatse en elders uitgelig. Gatsrand se negentiende eeuse militêre deelname, as deel van die ZAR-regering, is veral ter sake. Dit is ongetwyfeld so dat die berede burgers van Gatsrand elders, maar veral op tuisgrond, hul goed van hul taak gekwyt het.

Veggeneraal J J M Breytenbach en generaals T F J Dreyer, M J Wolmarans en F O A Wolmarans het op 'n uiters bekwame wyse leiding in skermutselings besluit en binne die Gatsrand-gebied onderneem. Voorts sal die Gatsranders sekerlik nie die rol van generaals J C Smuts, C de Wet en B Liebenberg vergeet nie. Gatsrand was inderdaad 'n prominente landmerk ten tyde van etlike militêre bedrywighede, in en buite die gebied.

Verwysings

1.
Register van Aktes (TAB), verw 2433: Plaasregister, 1838-1851.
2.
J H Breytenbach en H S Pretorius, Notule van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek: Transvaal nr 1, 1845-1850, 15.4.1850 en 22.11.1850, pp 312, 347.
3.
W P du Plessis, Phillipus Jacobus Wilhelmus Schutte as kerkman, p 17.
4.
F A F Wichmann, 'Die wordingsgeskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1838-1860' in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 4(2) 1941, p 124. Kyk ook Potchefstroom landdros (TAB) verw 196: Staatsekretaris/Landdros, 9.11.1868; en T R H Davenport, South Africa: A modern history, p 70.
5.
Staatsekretaris (TAB), verw R4404/6 1: J H G van der Schyff/Waarnemende president S Schoeman, 17.5.1861; en R4432/61: J H G van der Schyff/Waarnemende president S Schoeman, 8.8.1861. Die term 'Bossiemans' is die Hollandse weergawe vir die Boesman (San), kyk I Schapera, The Khoisan peoples of South Africa: Bushmen and Hottentots, p 18.
6.
S P Engelbrecht, DD en I D Bosman, 'Federasie en anneksasie, 1872-1881' in D W Krüger (red), Geskiedenis van Suid-Afrika, p 291.
7.
M C van Zyl, Die protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners, 1877-1880, p 150. Vergelyk ook D J P Haasbroek, 'Potchefstroom en die Eerste Vryheidsoorlog, 1880/1' in Contree, Nr 7, Januarie 1980, p 22.
8.
D F le Roux, Die beleg van Potchefstroom gedurende die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, pp 30, 46, 164. Kyk ook H M van Coller, Die burgerlike lewe in Potchefstroom ten tye van die Eerste Vryheidsoorlog, pp 86, 90.
9.
D F le Roux, Die beleg van Potchefstroom, pp 164, 215.
10.
F A van Jaarsveld (red), Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, p 194.
11.
Carletonville (PU vir CHO), verw.1: Herinneringe M M van der Westhuizen, p 5. Dié oud-bewoner van Gatsrand maak melding van P S en J M C Nortje van Rooipoort wat deelgeneem het aan die slag van Majuba. Beide is presies negentienjaar later, tydens die Tweede Vryheidsoorlog, op Magersfontein gevange geneem na generaal Cronjé se oorgawe.
12.
Davenport, South Africa: A modern history, pp 106, 109. Kyk ook J S du Plessis, 'Die Suid-Afrikaanse Republiek' in C J F Muller (red), 500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis, pp 224, 254, 261.
13.
Potchefstroom Landdros (TAB), verw. 10: 1 Geldenhuys/Landdros, 21.9.1833. Die Blankes is met vier pond en die Swartes met drie pond beboet. Kyk ook Kommandant-Generaal (TAB), verw. KG274 nr 601: Kommandolyste en verslae, 1882-1884, 3.11.1882-21.4.1883. Van die Swartes wat op die plaas gewerk het moes normaalweg saam op kommando gaan om onder meer die perde te versorg en kos te maak. Kyk Die Vaderland, 10.9.1959, p 9 (berig oor G P Brits).
14.
J H Breytenbach, Die Tweede Vryheidsoorlog: Voorspel tot die stryd I, pp 2, 54.
15.
Carletonville (PU vir CHO), verw 1: Herinneringe M M van der Westhuizen, pp 21-2. Kyk ook Breytenbach, Die Tweede Vryheidsoorlog, p 29.
16.
I van Wyk, 'Landskoonmaker' in Die Boerevrou, Julie 1950, p 21.
17.
Kommandant-Generaal (TAB) verw KG327 nr 702: Naamlys van kommando. Jameson-inval, 1895-1896.
18.
N J Hofmeyer, Die Afrikaner-Boer en die Jameson-inval, pp 208-9. Kyk ook W J du Plooy, Die militêre voorbereidings en verloop van die Jameson-inval, 1895-1896 (MA-verhandeling, 1958), p 102.
19.
Davenport, South Africa: A modern history, pp 135-9.
20.
Kommandant-Generaal (TAB) verw KG327 nr CR892/96: aantal dienspligtige burgers, distrik Potchefstroom. Vergelyk ook Potchefstroom Landdros (TAB) verw 28: Lys van burgers op kommando, 1899.
21.
Defence Council (SAWA) verw GP1: Skriftelike verklaring, J A van der Walt, 12.1.1973. Van der Walt het as sestien-jarige seun deel gehad aan die Tweede Vryheidsoorlog. Kyk ook J H Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902: Die eerste Britse offensief Nov-Des 1899, II, p 56.
22.
Potchefstroom Landdros (TAB) verw 26: J F van der Merwe/Landdros, 24.6.1899.
23.
Defence Council (SAWA) verw GP1: Skriftelike verklaring J A van der Walt, 12.1.1973. In C Rautenbach se koerantrubriek, 'Rondom die Gatsrand', word veldkornet J T Martins sowel as verskeie historiese momente tydens die oorlog en daarna breedvoerig bespreek. Kyk in uitgawe van die Potchefstroom Herald and Western Gazette, 7.10.1983-15.8.1986.
24.
Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, II, p 56.
25.
Defence Council (SAWA) verw GPI: Skriftelike verklaring, J A van der Walt, 12.1.1973. Kyk ook Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, II, pp 56, 77.
26.
WI Leyds (TAB), verw 7I2 nr71: S J P Kruger/P Cronjé, 11.12.1899.
27.
Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, IV, p 462.
28.
Dit is onseker waarom Martins sowel as oud-stryder J A van der Walt in hulle skrywe die woord Modderfontein in plaas van Modderrivier gebruik.
29.
Potchefstroom Landdros (TAB) verw 27: J T Martins/ J F van der Merwe, 2.2.1900.
30.
Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, IV, p 13. Vergelyk ook Carletonville (PU vir CHO) verw 1: Herinneringe A P Nel, p 7.
31.
Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, IV, pp 395-406.
32.
Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, IV, p 426.
33.
Defence Council (SAWA) verw GPl: Skriftelike verklaring J A van der Walt, 12.1.1973. Vergelyk ook Carletonville (PU vir CHO) verw 1: Herinneringe A P Nel, p 7.
34.
P A Pyper, Generaal J C Smuts en die Tweede Vryheidsoorlog, 1899-1902, pp 34-35.
35.
O J O Ferreira (red), Memoirs of General Ben Bouwer, pp 165-6.
36.
J Oosthuizen (TAB), verw Al 449: Boereoorlogsdagboek van de la Rey, 1899-1902, p 80. Kyk ook Breytenbach, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog.
37.
Bul (pseud), 'Die Tweede Anglo-Boereoorlog' in Kommando, 16(10), Oktober 1965, p 35.
38.
L S Amery (red), The Times History of the War in South Africa, 1899-1902, V, p 47. Vergelyk ook I H Breytenbach, Gedenkalbum van die Tweede Vryheidsoorlog, p 175.
39.
Anon, In Memoriam, N Z A S M, p 173.
40.
J H Breytenbach, Kommandant Danie Theron, p 214.
41.
D G C van Wyk, 'Danie Theron monument' in Die Hervormer, 14, September 1976, p 20. Dr van Wyk maak melding van Danie Theron se aankoms by die Pienaars op Malansfontein, terwyl dit volgens ooggetuies die Wolvaardts was waar Theron die boodskap gekry het. Kyk Potchefstroomse Museum, verw THE 986.20481: Ooggetuies se verslag oor Danie Theron se dood, p 2. Die ligging van die heuwel waar Theron deur die Engelse soldate verras is, is nader aan die Wolvaardts se huis. Die ooggetuies se weergawe word dus aanvaar.
42.
Potchefstroomse Museum, verw THE 968.20481: Extract from the official diary of the Potchefstroom Column, 5.9.1900. Vergelyk ook Breytenbach, Kommandant Danie Theron, p216.
43.
'Yeomanry' beteken burgermag. Dit is 'n term wat redelik algemeen deur die Britse troepe gebruik is.
44.
Van Wyk, 'Danie Theron monument', p 20.
45.
Potchefstroomse Museum, verw THE 968.20481: Extract from the official diary of the Potchefatroom Column, 5.9.1900.
46.
Carletonville (PU vir CHO), verw 3: Onderhoud A P Nel, 11.3.1987.
47.
Potchefstroom Museum, verw THE 968.20481: Extract from the official diary of the Potchefstoom Column, 5.9.1900. Volgens die verslag was daar 150 Boere op die heuwel maar volgens ooggetuies was dit slegs Theron, terwyl W A S Nel aan die voet van die heuwel gewag het. Kyk Potchefstroomse Museum, verw THE 968.20481: Ooggetuies se verslag oor Danie Theron se dood, p 3.
48.
Carletonville (PU vir CHO), verw 3, Bandopname A B Wolvaardt, 20.11.1986.
49.
Amery (red), The Times History of the War, V, pp 9-10.
50.
Amery (red), The Times History of the War, V, p 12. Vergelyk ook A J Pienaar, Christiaan Rudolf de Wet in die Anglo-Boereoorlog (MA verhandeling, 1974), pp 164-6.
51.
P H S van Zyl, Waar en trou, p 129.
52.
J Oosthuizen, Jacobus Hercules de la Rey en die Tweede Vryheidsoorlog (DPhil-proefskrif, 1949), pp 358-386.
53.
Defence Council (SAWA), verw GP1: Skriftelike verklaring J A van der Walt, 12.1.1973. Vergelyk ook Amery (red), The Times History of the War, V, pp 113-14 en P A Pyper, Generaal J C Smuts en die Tweede Vryheidsoorlog, 1899-1902, p 46.
54.
Amery (red), The Times History of the War, V, p 114.
55.
Amery (red), The Times History of the War, V, p 115. Kyk ook J Oosthuizen (TAB) verw A1449: Generaal J C Smuts/Generaal J H de la Rey, 22.1.1901.
56.
Pyper, Generaal J C Smuts en die Tweede Vryheidsoorlog, 1899-1902, p 46. Vergelyk ook Carletonville (PU vir CHO) verw 1: Herinneringe A P Nel, p 12.
57.
Amery (red), The Times History of the War, V, p 115.
58.
Ferreira (red), Memoirs of Gen Ben Bouwer, pp 106,110-11.
59.
C I S Strydom, Ruitervuur, p 165.
60.
Ferreira (red), Memoirs of Gen Ben Bouwer, pp 111. Kyk ook Strydom, Ruitervuur, p 165.
61.
Amery (red), The Times History of the War, V, pp 219-220, 302. Kyk ook Defence Council (SAWA) verw GP1: Skriftelike verklaring J A van der Walt, 12.1.1973.
62.
Kyk Carletonville (PU vir CHO): Onderhoud T F Dreyer, 6.5.1987. Kommandant Dreyer is na die krygsgevangenekamp in Indië gestuur.
63.
Ferreira (red), Memoirs of general Ben Bouwer, p 114.
64.
Amery (red), The Times History of the War, V, p 604. Vergelyk ook Carletonville (PU vir CHO) verw 1: Herinneringe A M Schutte, 24.9.1950.
65.
Konsentrasiekampherinneringe (TAB) verw WHA 1221: Vertelling B Pretorius, 1901.
66.
Konsentrasiekampherinneringe (TAB) verw WHA 1221: Vertelling M S E Brits, 1901.
67.
J Dreyer, Bittereinders onder die vroue, pp 9, 21.
68.
Carletonville (PU vir CHO) verw 3: Onderhoud T F Dreyer, 6.5.1987.
69.
L S Amery (red), The Times History of the War, V, p 604. Kyk ook F A van Jaarsveld, Honderd basiese dokumente by die studie van Suid-Afrikaanse geskiedenis, 1648-1961, p 172.
70.
Justisie (SAB) verw 519 nr 6216/29(2): Law Department SAC, 30.10.1904. Vergelyk ook Carletonville (PU vir CHO) verw I: Herinneringe dr J A Schutte, 3.11.1986.
71.
Carletonville (PU vir CHO) verw 3: Onderhoud T F Dreyer, 6.5.1987.
72.
De Westelike Stem, 8.11.1922, p 6. Vergelyk ook D R Forsyth, 'Dekoratie voor Trouwe Dienst' in Krygshistoriese Tydskrif 1(11), 11 Desember 1967, pp 14-18 en P H S van Zyl, Waar en trou, p 129. Die SAWA besit lyste van aanbevelings van persone wat aansoek gedoen het, of namens wie aansoek gedoen is, vir die 'Dekoratie voor Trouwe Dienst'.

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org