The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 9 No 5 - Junie 1994

(incorporating Museum Review)

DIE ONTWIKKELING VAN DIE RANGSTRUKTUUR VAN DIE BOEREKOMMANDO'S
DEEL 2: 1834 - 1902

deur Lt-Kol J J Retief, DWD, PhD

Krygsowerstes tydens die Groot Trek

In 1834, net voor die aanvang van die Groot Trek, is drie kommissies uitgestuur om die binneland te verken. As gevolg van die Difaqane was groot gedeeltes skynbaar onbewoon. Uit die verslae van die kommissies was dit egter duidelik dat konflik met die inboorlinge 'n moontlikheid was waarmee rekening gehou sou moes word. Dit was dus voor die handliggend dat wanneer iemand sy aardse besittings op 'n wa laai om met sy familie en vee die onbekende in te trek, hy hom verkieslik sou voeg by 'n leier wat homself ook op militêre gebied bewys het. Die trekkerleiers Retief, Uys, Potgieter en Pretorius, was almal ervare veldkommandante(1) en net soos Maritz, invloedryke manne ook op ander lewensterreine, soos die politiek en die kerk. Louis Trigardt was 'n provisionele veldkornet.(2) Op hierdie manier het die kommandostelsel saam die binneland ingetrek. Dit het nie net as verdedigingstelsel vir die trekkerlaers gedien nie, maar was ook bestem om 'n belangrike rol te speel in die konstitusionele ontwikkeling van die Boererepublieke.

Tydens die Groot Trek het die behoefte aan 'n nuwe pos in die kommandostelsel ontstaan, naamlik dié van 'n krygsowerste, wat die opperbevel kon aanvaar wanneer meer as een kommando met 'n gesamentlike doel uittrek. Aan die Oosgrens onder die Britse bewind het die grensboere gewoond geraak aan 'n beroepsoffisier wat oorhoofs verantwoordelik was vir die veiligheidssituasie. 'n Volksvergadering is op 2 Desember 1836 by Thaba Nchu gehou met die doel om 'n voorlopige regering vir die Voortrekkers daar te stel. 'n Burgerraad van sewe lede is gekies, met Maritz as 'regter president' en Potgieter as 'leger kommandant' van die gekombineerde Potgieter- en Maritztrekke. Met die Tweede Burgerraad gehou aan die Vetrivier het die Retieftrek ook reeds aangekom. Piet Retief is op 17 April 1837 ingehuldig as 'goewerneur en opperhoofd van 't algemeen vereenigd leeger'. Hy was dus hoof van die regering sowel as opperbevelhebber van die kommando's.(3)

Na die moord op Retief op 6 Februarie 1838, is nog 'n volksvergadering op 28 Maart 1838 aan die Boesmansrivier gehou. Maritz, Potgieter en Uys het aldrie aanspraak gemaak op die leierskap van die Voortrekkers. Uys is gekies as 'generale veldkommandant' vir die komende veldtog teen die Zoeloes. Daar is egter uitdruklik bepaal dat Uys en Potgieter dieselfde bevoegdheid sou hê. Maritz het aanvanklik aangebied om die strafkommando aan te voer, maar het na teenkanting deur Uys en uit erkentlikheid teenoor Potgieter en Uys, besluit om by die laer agter te bly. Potgieter was nie bereid om onder Uys te dien nie en daar is ten spyte van Maritz se besware besluit dat hulle as gesamentlike aanvoerders sou optree. Hierdie verdeelde bevel-en-beheer het uitgeloop op die ramp by Italeni op 10 April 1838 en die benaming 'Vlugkommando'.(4) Uys het gesneuwel en Potgieter het Natal verlaat. Maritz het alleen oorgebly, maar hy was 'n siek man en is op 23 September 1838 oorlede.(5)

Die Voortrekkers in Natal het gevolglik vier van hul erkende leiers binne sewe maande verloor en in haglike omstandighede verkeer. In Augustus 1838 het hulle 'n beroep om hulp gedoen op Andries Pretorius, 'n ervare veldkommandant wat toe nog in die distrik van Graaff-Reinet gewoon het. Op 25 November 1838 is hy deur die Volksraad in die Sooilaer as opperbevelhebber van die kommando in die amp van 'hoofkommandant' aangestel. Binne 'n maand, tydens die optrek van die Wenkommando teen Dingane, word Pretorius egter reeds deur sy burgers as 'kommandant-generaal' aangespreek. Daarna word die terme 'kommandant-generaal' en 'hoof-kommandant' as sinonieme met aanvanklik gelyke status gebruik. Pretorius self onderteken egter sy briewe tot in Mei 1840 as 'hoofkommandant'. Hierna word die titel 'kommandant-generaal' al meer gebruiklik en in die notule van die Volksraad van 5 Augustus 1840 word na Pretorius in hierdie hoedanigheid verwys. Hy was dus die eerste hoofkommandant asook die eerste kommandant-generaal.(a,6)

Sover dit sy historiese oorsprong aanbetref, asook taalkundig, is die terme 'hoofkommandant' en 'kommandant-generaal' ekwivalent. Die woord 'generaal' beteken: algemeen, nie beperk, nie spesifiek. Tussen 1774 en 1812 het daar by verskeie geleenthede algemene of 'generale' kommando's opgetree, toe die burgers van verskillende distrikte vir diens opgekommandeer is. Taalkundig gesien, as 'n kommandant die aanvoerder van 'n kommando was, sou 'n 'kommandant-generaal' in beheer van 'n 'generale' kommando kon wees. 'n Generale kommando kon egter ook uit 'n aantal kommando's bestaan, elk onder aanvoering van sy eie kommandant. Die opperbevelhebber sou dan net so wel 'n 'hoofkommandant' kon wees, dus hoof van al die kommandante. Die twee terme hierbo is vergelykbaar met 'direkteur-generaal' en 'hoofdirekteur', asook 'sekretaris-generaal' en 'hoof-sekretaris', wat wel in verskillende organisasies statusverskille mag hê, maar taalkundig dieselfde begrip weergee.

Daar is egter nog 'n ander kant van die saak. Op enkele uitsonderings na, was die goewerneurs aan die Kaap, vanaf die eerste Britse besetting, manne wat buiten 'n adelike of 'n riddertitel, ook die titel van 'n opperoffisier gebruik het. Die militêre rang van generaal, met sy drie variasies(b), was dus glad nie onbekend aan die Oosgrens nie, aangesien dit dikwels op proklamasies en ordonansies van die goewerneur verskyn het. Die Voortrekkers, wat pas die eerste treë op die pad van 'n eie staatkundige ontwikkeling gegee het, moes van nuuts af 'n regeringsvorm en staatsdiens daarstel. Dit is dus hoogs waarskynlik dat daar onder die Voortrekkers diegene was wat in hul toekomstige verdedigingstelsel die militêre rang van generaal voorsien het. Die spontane wyse waarop hoofkommandant Pretorius in Desember 1838 deur sy burgers as 'kommandant-generaal' aangespreek word, is 'n aanduiding hiervan. Volgens die kommandotradisie, was die rang van spesifiek kommandant-generaal, 'n logiese ontwikkeling.

Kommandant-generaal en konstitusionele ontwikkeling

Die drang na vryheid was een van die belangrikste oorsake van die Groot Trek. Dit het ook tot uiting gekom in die pogings van die Voortrekkers om hul staatshuishouding te orden. Gert Maritz was van mening dat daar te veel mag in die hande van een man, Piet Retief, geplaas was en het hom reeds voor laasgenoemde se dood beywer vir regering deur die volk, soos verteenwoordig deur die Volksraad. Maritz se opvattings is na sy dood deur sy broer; Johannes S Maritz en J J ('Kootjie') Burger gepropageer. In wat beskou kan word as 'n grondwet vir Natal van Oktober 1838, word voorsiening gemaak vir die wetgewende en regterlike gesag, dog die uitvoerende gesag was baie vaag. Daar was geen hoof of president nie, maar 'n voorsitter sou op elke vergadering van die Volksraad van vier-en-twintig lede gekies word. Die vrees om te veel mag in die hande van die militêre leier te plaas, het daartoe gelei dat die Volksraad Andries Pretorius telkemale in 'n tydelike hoedanigheid aangestel het, eers as hoofkommandant en later as kommandant-generaal. Volgens van Heerden was die afwesigheid van 'n doeltreffende uitvoerende gesag, asook die streng beperkings wat op die kommandant-generaal geplaas was, grotendeels daarvoor verantwoordelik dat Brittanje die Republiek van Natalia in 1842 kon annekseer.(7)

In die Transvaal het Potgieter gedurende 1839 en 1840 as hoofkommandant te Potchefstroom met 'n krygsraad oor die gemeenskappe te Winburg en Potchefstroom regeer. Hy het dié status reeds voor 1839 verwerf.(8) Ten spyte van Pretorius se stryd met die Natalse Volksraad, tree hy tog daar as de facto leier op. In Oktober 1840 het hy Potgieter besoek en met hom ooreengekom dat die hele gebied wat deur die Voortrekkers bewoon was, deur die Natalse Volksraad beheer sou word. Gedurende die volgendejaar is 'n Adjunkraad van twaalf lede op Potchefstroom daargestel, met Potgieter as hoofkommandant. Die rang van kommandant-generaal was teen daardie tyd beskou as die hoër rang, aangesien Pretorius op Potchefstroom gekies is as 'hoof Bestierder over de geheel volksplanting in het Distrekt van Natalia', terwyl Potgieter 'bestierder van het distrekt Potchefstroom' sou wees.(9)

Teen 1845 was Natal finaal vir die Voortrekkers verlore. Dit is deur die Britse regering as 'n afsonderlike distrik van die Kaapkolonie geproklameer en die Volksraad het opgehou om te funksioneer. Reeds in die vorigejaar het Potgieter homself van die Natalse Volksraad onttrek en het die Burgerraad van Potchefstroom ontstaan, om na die belange van die Potchefstroom-Winburg gebied om te sien. 'n Nuwe grondwet met 33 artikels is in April 1844 goedgekeur; waarin die militêre leiers nadruklik ondergeskik aan die Volksraad gemaak is. Andermaal is daar nie vir 'n staatshoof of uitvoerende gesag voorsiening gemaak nie, sodat Potgieter en sy krygsraad de facto die hoogste gesag vorm. In Mei 1845 het Potgieter na Ohrigstad verhuis. Voor sy vertrek word hy as 'de eenigste Hoofd' uitgeroep en op Ohrigstad word later in die jaar besluit dat hy lewenslank hoof-kommandant sou bly. Daar is verder bepaal dat enige kommandant wat later van elders kom, hom aan Potrieter sou moes onderwerp. Na 1842 het baie Voortrekkers Natal gaandeweg verlaat. Onder hulle was J J Burger wat homself in 1845 in Ohrigstad gevestig het. Hy en andere het hul teen bogenoemde besluite verset en in 1846 het die wrywing sodanig toegeneem dat die Potgieter-ondersteuners tydens 'n Volksraadsvergadering uitgestap en bedank het. In 1848 het 'n onderwyser, H T Bührmann, op versoek van J A Smellekamp as bemiddelaar na Ohrigstad gegaan en beslis dat die Volksraad die hoogste gesag sou wees, maar dat Potgieter hoofkommandant sou bly. Potgieter het intussen egter vroeër in dieselfdejaar na Zoutpansberg getrek.(10)

Pretorius het hom aanvanklik aan die Britse bestuur in Natal onderwerp. Die veiligheidsituasie het algaande versleg en in Oktober 1847 word hy afgevaardig om die saak van die Voortrekkers met die waarnemende goewerneur en hoë kommissaris, sir Henry Pottinger; in Grahamstad te gaan bepleit. Pottinger het geweier om met Pretorius te praat en dit het vir die Voortrekkers duidelik geraak dat hulle heil oorkant die Drakensberge lê. Toe Pretorius in Januarie 1848 weer in Natal aankom, was die laaste trek uit Natal in volle gang. Dit was hier waar hy verneem het van sir Harry Smith se voorneme om die gebied tussen die Oranje- en die Vaalriviere te annekseer. Hy vertrek na Winburg en daarvandaan na Potchefstroom en Ohrigstad en spreek vyftien byeenkomste binne twee maande toe. Dit is duidelik dat die blanke inwoners oorweldigend teen Britse inmenging was en dat 'n groot gedeelte van die Voortrekkers hom in sy eertydse amp van kommandant-generaal herstel sou wou sien. Sir Harry Smith het egter reeds in Februarie 1848 die Transoranje as die Oranjerivier-Soewereniteit geannekseer. Pretorius gaan haal sy familie in Natal en vestig hom aan die Magaliesberge. In Julie 1848 word hy na die Transoranje geroep om nog 'n keer die stryd teen Brittanje aan te knoop. Hy word algemeen as kommandant-generaal aanvaar en onderteken sy instruksies in hierdie hoedanigheid. Na die Slag van Boomplaats keer hy na die Transvaal terug. 'n Beloning van 2 000 VK Pond word vir sy gevangeneming uitgeloof.(11)

Daar was dus op hierdie tydstip drie groeperinge in die Transvaal. In Ohrigstad was daar die volksraadgroep, aangevoer deur Burger en Bührmann, wat sterk voorstanders van die volkswil was. Hendrik Potgieter was lewenslange hoofkommandant, met sy volgelinge te Schoemansdal. Andries Pretorius het wes van die huidige Pretoria geboer, met sterk steun in die Transoranje en in die Transvaal. Aanvanklik het die volksraadgroep Pretorius teen Potgieter gesteun, maar in Desember 1848 het die Volksraad Pretorius vir die soveelste maal van die amp van kommandant-generaal onthef. 'n Mens kan 'n mate van begrip hê vir die volksraadgroep, wat eenmanoorheersing ten alle koste wou verhoed, maar die gebrek aan 'n erkende sterk leier het vir meer as 'n dekade groot verdeeldheid en onsekerheid in die Transvaal tot gevolg gehad. Telkens is die amp van kommandant-generaal deur die Volksraad aan bande gelê en telkens het diegene wat die meeste aan aanvalle deur die inboorlinge blootgestel was, op die herstel daarvan aangedring. Die konsep van 'n uitvoerende amptenaar wat aan die Volksraad aanspreeklik is, het eers later na vore getree.(12)

In Mei 1849 word op Derdepoort besluit om die 33 artikels van 1844 as grondslag van 'n behoorlike regeringsvorm aan te neem. Die volksraadsverkiesing vind in September 1849 plaas en een van die eerste besluite, op aandrang van Bührmann, was dat daar voortaan geen hoofkommandant of generaal sou wees nie. Die houding van die Volksraad het Pretorius en Potgieter na mekaar toe gedryf, met Bührmann as 'n gemeenskaplike teëstander. 'n Groot aantal petisies het na bogenoemde besluit die Volksraad bereik, waarin versoek is dat Pretorius in sy amp as kommandant-generaal heraangestel word. Die Volksraad het gevolglik besluit om 'n volkstemming oor die saak te hou. In Mei 1850 is oorweldigend teen 'n permanente kommandant-generaal besluit. Hierdie skynbare oorwinning van die volksraadgroep het egter nie die gewensde uitwerking gehad nie. In verskeie gedeeltes van die land het die inboorlinge opstandig geraak en die behoefte aan 'n sterk uitvoerende leier was groter as ooit. Gevolglik is daar in Oktober 1850 besluit om weereens te stem oor die kwessie van 'n kommandant-generaal. Die saak sou in Januarie 1851 beslis word. Intussen is Pretorius aangestel as waarnemende kommandant-generaal tot 15 Januarie 1851, omdat hy 'n kommando teen 'n swart opperhoof Segeli, moes aanvoer. Volgens die inkomende kieslyste was dit duidelik dat die volk begerig was om Pretorius as permanente kommandant-generaal te hê.(13)

Op l5 Januarie 1851 het die Volksraad op Elandsrivier besluit om die kwessie van 'n kommandant-generaal aan die krygsraad op te dra, waarvan Pretorius die voorsitter was. Die krygsraad het aanbeveel dat daar vier kommandante-generaal aangestel word, een vir elke distrik. Hierdie voorstel het algemene byval gevind en is deur die Volksraad goedgekeur, op voorwaarde dat die kommandante-generaal gelyk in status sou wees en onder gesag van die Volksraad sou optree. Pretorius, Potgieter, W F Joubert en J E Enslin is in hierdie poste aangestel. So het Potgieter in 1851 ook kommandant-generaal geword en verdwyn die rang van hoofkommandant in die Transvaal. Dit is belangrik om daarop te let dat die onmag van die Volksraad deur hierdie besluit duidelik na vore kom. Deur vier kommandante-generaal aan te stel, is 'n kompromie aangegaan om te verhinder dat te veel mag in die hande van een persoon geplaas word.(14)

Offisiersrange in die Boererepublieke

Brittanje was aanvanklik nie bereid om aan die Voortrekkers die vryheid te gee waarvoor hulle die binneland ingetrek het nie. Hulle is as Britse onderdane beskou, onderworpe aan die bepalings van die Cape of Good Hope Punishment Act. Die onkoste verbonde aan koloniale besittings, die Agste Grensoorlog (1851-1853) en die Britse neerlae teen die Basotho's onder Moshweshwe te Viervoet en Berea, het egter tot 'n verandering in Britse koloniale beleid gelei. Op 17 Januarie 1852 bet die Britse kommissarisse Hogge en Owen die onafhanklikheid van Voortrekkers oorkant die Vaalrivier met die ondertekening van die Sandrivierkonvensie erken. Kommandante-generaal Andries Pretorius en W F Joubert het namens die Transvaal geteken. Dit is gevolg deur die Bloemfonteinkonvensie van 23 Februarie 1854, waardeur Brittanje die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en die Vaalriviere erken het. Die Groot Trek het hiermee tot 'n einde gekom en in Suid-Afrika sou daar voortaan Boererepublieke sowel as Britse kolonies wees.(15)

Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het in Maart 1854 'n eenvoudige, dog doeltreffende grondwet daargestel. In die proses is die Amerikaanse en Franse grondwette as voorbeelde gebruik. Die uitvoerende gesag is toevertrou aan 'n staatspresident wat vir 'n termyn van vyfjaar deur die burgers gekies sou word. 'n Verkose volksraad sou die wetgewende gesag behartig.(16) Die konstitusie van 1854 het alreeds voorsiening vir die krygwese gemaak. Volgens Ordonansie 9 van 1857 was mans tussen 16 en 60 jaar dienspligtig. Hulle het gestaan onder veldkornette, wat vir 'n tydperk van drie jaar deur die burgers van 'n wyk gekies is. 'n Kommandant was in beheer van elke distrik en is ook vir drie jaar deur die burgers gekies. Die grondwet het verder voorsiening daarvoor gemaak dat die kommandante van die onderskeie kommando's een van hulle as kommandant-generaal moes kies by die uitbreek van vyandelikhede. Hy sou sy opdragte van die staatspresident ontvang en sy aanstelling aan die einde van die veldtog neerlê. Op hierdie wyse is uit die staanspoor seker gemaak dat die kommandant-generaal in die Vrystaat nie by die uitvoerende gesag van die staat betrokke raak nie. Die magte van die kommandant-generaal is verder aan bande gelê, deur 'n proklamasie wat bepaal het dat 'n krygsraad elke leërafdeling moes vergesel. Die krygsrade het die mag gehad om die kommandant-generaal se planne en opdragte te bespreek. Hierdie bepaling het by geleentheid tydens die Basotho-oorloë tot vertragings op kritieke tye gelei.(17)

In die Transvaal het daar na 1852 nog steeds groot onenigheid onder die Boere geheers. Die groepe was geografies geisoleer, wat sy invloed op staatkundige, politieke en kerklike terreine laat geld het. Die vier kommandante-generaal het ook nie baie jare gehad om te werk vir die welsyn van die nuwe staat nie. Andries Hendrik Potgieter sterf in Desember 1852 en word deur sy seun Piet opgevolg. Andries Pretorius is in Julie 1853 oorlede en in sy plek is sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, as kommandant-generaal gekies. Piet Potgieter sneuwel egter in 1854 en word as kommandant-generaal opgevolg deur Stephanus Schoeman. M W Pretorius het die werk van sy vader voortgesit en hom dit ten doel gestel om die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek op 'n gesonde basis te plaas, asook om die twee Boererepublieke indien moontlik te verenig. Beide Pretorius en Schoeman was egter ambisieus en eiesinnig en bestem vir groot politieke omwentelinge in die Boererepublieke. W F Joubert en die Lydenburgers het hulle eenkant gehou en sover gegaan om hulle in 1856 onafhanklik te verklaar.(18)

Onder hierdie omstandighede is 'n grondwet waaraan reeds vanaf 1855 gewerk is, in Januarie 1857 tydens 'n buitengewone sitting van die Volksraad op Potchefstroom goedgekeur. M W Pretorius is as president gekies en op 6 Januarie 1857 ingesweer. S Schoeman is as enigste kommandant-generaal deur die Volksraad gekies. Die grondwet het egter bepaal dat beide ampsbekleërs deur die burgers gekies moes word.. Schoeman wou die benoeming nie aanvaar nie, aangesien hy van mening was dat die grondwet te veel mag in die hande van die president plaas. Pretorius was egter vasbeslote om 'n grondwet te verkry wat vir die meerderheid van die burgers aanvaarbaar sou wees. Na verdere onderhandelings is 'n nuwe grondwet uiteindelik in Februarie 1858 goedgekeur. Die Volksraad sou die hoogste gesag wees. Die uitvoerende gesag sou bestaan uit 'n Uitvoerende Raad van vyf lede, bestaande uit die president, die kommandantgeneraal en nog drie burgers. Die president is vir 'n tydperk van vyf jaar deur die burgers gekies, terwyl die ampstermyn van die kommandant-generaal onbepaald sou wees. M W Pretorius en S Schoeman is weereens onderskeidelik as staatspresident en kommandant-generaal gekies. Laasgenoemde is op 18 Februarie 1858 in sy amp deur die Volksraad beëdig. Op hierdie wyse het ook die Suid-Afrikaanse Republiek 'n uitvoerende staatshoof gekry en het die era van 'n uitvoerende gesag wat by die Volksraad alleen berus, tot 'n einde gekom.(19)

Die hoogste militêre gesag sou voortaan by een kommandant-generaal berus, alhoewel Lydenburg, wat in 1860 weer by die Suid-Afrikaanse Republiek aangesluit het, om politieke redes toegelaat is om sy kommandant-generaal tot 1864 te behou.(20) Die Transvaalse grondwet van 1858 het, net soos dié van die Vrystaat, ook bepalings insake die krygswese gehad. Die offisiersrange sou wees: kommandant-generaal, kommandant, veldkornet en assistent-veldkornet. Die veldkornette was verantwoordelik vir binnelandse wet en orde, terwyl die kommandante in die besonder moes waak teen opstande onder die inboorlinge. Die opdrag van kommandant-generaal was die verdediging van die Republiek teen enige vyand, van binne of van buite die landsgrense.(21) Soos tevore sou die wyk, met die veldkornet as offisier, die basis van die verdedigingsstelsel vorm. Hy is deur die burgers van die wyk gekies vir 'n tydperk van vyfjaar, waarna hy herkiesbaar was.(22) Daar moes ten minste vyf-en-twintig burgers in 'n wyk gewoon het om 'n veldkornetskap te regverdig.(23) In 1885 is bepaal dat 'n assistent-veldkornet aangestel kon word indien daar meer as 200 dienspligtige burgers in 'n betrokke wyk gewoon het.(24) 'n Distrik was verdeel in ongeveer vyf wyke. Die burgers van die distrik het 'n kommandant as die hoogste offisier van die distrik gekies. Die grondwet het bepaal dat daar hoogstens twee kommandante per distrik kon wees. In 1860 was daar in die Suid-Afrikaanse Republiek ses distrikte. Daar was twee kommandante-generaal (een vir Lydenburg), agt kommandante en dertig veldkornette.(25)

Die grondwet van 1858, met die uitvoerende staatspresident en een kommandant-generaal, het nie dadelik die stabiliteit gebring waarop gehoop is nie. In 'n voortsetting van sy pogings om eenheid met die Oranje-Vrystaat te bewerkstellig, het pres Pretorius hom in 1860 ook as president van dié susterstaat laat kies. Hy kry verlof van die Transvaalse Volksraad en vertrek na Bloemfontein, sonder om iemand wat algemeen aanvaar word in sy plek te laat waarneem. Kmdt-genl Schoeman voel te na gekom omdat hy nie volgens die grondwet aangestel is nie en stel hom ten doel om die waarnemende president, J H Grobler, te ontsetel. Die volgende vier jaar was van die moeilikste wat die jong staat ooit beleef het. Die kommandant-generaal, wat veronderstel was om te waak teen vyande van die staat, voer 'n staatsgreep uit en dwing die Uitvoerende Raad om hom as waarnemende president aan te stel en 'n kandidaat van sy keuse as waarnemende kommandant-generaal, naamlik W C J van Rensburg. Teen Augustus 1861 keur sy krygsraad 'n nuwe grondwet goed, waarin die magte van die kommandant-generaal aansienlik uitgebrei word. Kmdt S J P Kruger het hom teen hierdie ongrondwetlike optrede verset en op 14 September 1861 'n volksvergadering te Rustenburg belê, waarop besluit is om die regering in ere te herstel. Tydens die Volksraadsitting van April 1862 is Schoeman weens pligversuim as kommandant-generaal en waarnemende president geskors. W C J van Rensburg word as waarnemende president gekies en T J Snyman word as waarnemende kommandant-generaal beëdig. Schoeman het hom hierteen verset en in September 1862 is krygswet afgekondig.(26)

Na 'n kort geveg op 10 Oktober 1862 te Potchefstroom teen die 'staatsleër' onder aanvoering van Snyman en Joseph van Dyk, kommandant-generaal van Lydenburg, was Schoeman verplig om na die Vrystaat uit te wyk. Hy keer egter in Januarie 1863 na Pretoria terug en stel homself weereens aan as waarnemende president en kommandant-generaal. Toe kmdt Paul Kruger op versoek van Snyman met die Rustenburg-kommando daar opdaag, het Schoeman nogmaals in die Vrystaat gaan skuiling soek. Gedurende April en Oktober 1863 is verkiesings vir beide president en kommandant-generaal gehou. Met die laaste verkiesing is Paul Kruger met 'n groot meerderheid tot kommandant-generaal verkies, en W C J van Rensburg as president. Kruger is op 19 Oktober 1863 in die amp van kommandant-generaal bevestig en het dadelik begin om die krygswese te herorganiseer. Toe berig word dat Schoeman andermaal gaan probeer om die regering oor te neem, het pres van Rensburg op kmdt-genl Kruger se versoek op 5 Desember 1863 krygswet afgekondig. Hierna verdwyn Schoeman van die toneel, maar sy bedrywighede word voortgesit deur kmdt Jan Viljoen van Marico. Dit loop uit op 'n geveg tussen die 'staatsleër' en die 'volksleër' op 5 Januarie 1864, waarin broederbloed weereens vergiet is. Naby die Krokodilrivier word vrede op 8 Januarie 1864 gesluit en ooreengekom dat daar weer 'n presidentsverkiesing gehou sou word. Dit vind in Maart 1864 plaas en M W Pretorius word hierdie keer as president gekies. Hy word op 10 Mei 1864 in die amp bevestig. So is die burgerstryd beëindig en is die leierskap van Transvaal weer volgens die grondwet herstel.(27)

Gedurende die jare van storm en drang in die Suid-Afrikaanse Republiek, was dit die veldkornet wat toegesien het dat die staatsadministrasie, op grondvlak altans, behoorlik voortgaan. In sy verhandeling toon die historikus van Jaarsveld aan hoedat wyke in Transvaal tot stand gekom het, met die veldkornet as verantwoordelike amptenaar op feitlik alle lewensterreine. In die afwesigheid van ander staatsamptenare op die platteland, het die burgerlike aspekte van die amp van veldkornet voortdurend uitgebrei. Militêr was hy aanspreeklik aan die kommandant en op burgerlike terrein ondergeskik aan die landdros. Vanaf Andries Prerorius se 'Stiptelijke order van de Hoofd commandant' van 20 Januarie 1840 tot met die 'Instructie van de Veldkornetten' wat op 17 September 1858 deur die Volksraad goedgekeur is, is by verskeie geleenthede geskrewe bepalings op hierdie amptenare van toepassing gemaak.(28) Die instruksies van 1858 het 63 artikels gehad, wat in ooreenstemming met sy vele verantwoordelikhede was. Die amp van veldkornet het in een persoon onder meer die volgende poste behels: militêre offisier; vrederegter, waarnemende landdros, landmeter, polisiedienaar, speurder; kommissaris vir inboorlinge, belastinggaarder, boedelberedderaar, verkiesingsagent, lisensiebeampte, posbeampte, padmaker en ex officio voorsitter van die skoolkommissie.(29) Met die ontwikkeling van die staatsdiens het daar egter mettertyd verligting vir die veldkornet gekom. So is in 1858 verkiesings gehou vir skutmeester; markmeester, balju en wykmeester.(30) Na die Eerste Anglo-Boereoorlog het die burgerlike aspekte van die werk van veldkornet begin afneem, aangesien nuwe amptenare wat in die staatsdiens aangestel is, van hierdie verpligtings oorgeneem het. Hy kon hom dus meer bepaald toelê op sy oorspronklike amp, naamlik die van 'n militêre offisier.

In die Republiek van die Oranje-Vrysraat moes in die wyke provisionele veldkornette in die plek van die veldkornet aangestel word wanneer laasgenoemde op kommando was. Indien die pligte van die veldkornet dit regverdig het, is assistent-veldkornette deur die regering aangestel om hom by te staan. Dieselfde aanstelling is gedoen wanneer 'n wyk te klein was om 'n veldkornet te regverdig.(31) 'n Provisionele of waarnemende veldkornet is ook in die Suid-Afrikaanse Republiek in die afwesigheid van die veldkornet aangestel. Hierdie offisiere het ook probleme ervaar met ongehoorsame burgers wat nie die gesag van 'n ongeswore veldkornet wou aanvaar nie. Assistent-veldkornette is ook in Transvaal aangestel in wyke met baie burgers wat oor 'n groot area versprei was.(32)

Die behoefte aan verdere senior-offisiersrange

Die politieke en militêre situasie in die Republiek van die Oranje-Vrystaar is van die begin af oorskadu deur die getalsterke Basothovolk, onder die bekwame leiding van Moshweshwe. Hulle het die Vrystaters in 1858 getalsgewys met twaalf teen een oortref en die jong staat tot 1869 in beroering gehou. Die eersre keer dat die Vrystaat sy burgers tot die wapen moes oproep, was egter toe pres M W Pretorius van die Transvaal in 1857 aanspraak op die Vrystaat gemaak het en dit met wapengeweld wou afdwing. Die Vrystaat het op 25 April 1857 krygswet geproklameer en 'n kommando onder kmdt-genl Frederick Senekal het aan die Renosterrivier versamel om Pretorius te stuit. Die kommando het bestaan uit 706 burgers onder leiding van vyf kommandante en vier-en-twintig veldkornette. Pretorius het net 350 man tot sy beskikking gehad. 'n Dreigende konfrontasie is afgeweer deur onderhandelings waarin kmdt Paul Kruger 'n leidende rol gespeel het. Vrede is op 2 Junie 1857 gesluit en die twee Republieke het mekaar se onafhanklikheid erken.(33)

Diefstalle van vee en grensskendings in die Ooste het teen Augustus 1857 sulke afmetings aangeneem dat krygswet weer afgekondig moes word. Op 19 Maart 1858 is oorlog teen die Basotho's verklaar. Die kommando's van Winburg en Smithfield was reeds opgeroep en kmdt Weber is as kommandant-generaal gekies. Na 'n terugslag by die Hel en die oorwinning te Cathcartsdrif, het kmdt-genl Senekal op 28 April 1858 by Weber oorgeneem. Hy behaal 'n oorwinning te Morija in Basotho-land, waarna die Basotho's na hulle bergvesting, Thaba Bosiu, terugtrek. Terwyl die kommando's vir die finale aanslag aan die voet van dié berg saamgetrek was, het berigte van Basotho-invalle in die grensdistrikte hulle bereik. Die krygsraad het besluit dat die kommando's moes terug keer om sodoende na huis en haard om te sien. Kmdt-genl Senekal was verplig om hiermee saam te stem en die kommando's het ontbind. Op 29 September 1858 is vrede met die Traktaat van Aliwal-Noord gesluit.(34)

Dit is opvallend dat die landdroste van Winburg en Smithfield, onderskeidelik Howell en Sauer, prominente rolle in hierdie stryd gespeel het. Hulle het voor die oorlog inligting aan die regering aangaande Basotho bewegings verskaf en persoonlik aan die veldkornette opdrag gegee om die burgers op te roep. Hulle was ook in beheer van die verdediging van die laers op die dorpe en het aan die kommando's opdrag gegee om hulle deurgaans op hoogte van ontwikkelings te hou. Gedurende Julie van dieselfde jaar het landdros James Howell 'n kommando van 500 man teen die Koranna en Bathlapin opperhoofde aan die Wesgrens aangevoer. In Augustus is 'n tweede kommando onder kmdt-genl H Venter na die Wesgrens gestuur. Die Oranje-Vrystaat het dus op hierdie tydstip twee kommandante-generaal gehad. Die president was die opperbevelhebber van die krygsmagte en geen bepaling in die kommandowette het die verkiesing van meer as een kommandant-generaal verhoed nie.(35)

In Oktober 1864 het die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, die grens tussen die Vrystaat en die Basotho op versoek van pres Johannes Brand uitgewys en Moshweshwe aangeraai om die grensskendings te staak. Die aanvalle het egter voortgeduur en op 9 Junie 1865 het pres Brand oorlog verklaar. As krygsowerste is kmdt-genl J I J Fick gekies. Na die aanval op Mabolela het die Basotho's met 'n teenaanval begin. Op 18 Julie het Louw Wepener Vegkop onder dekking van kanonvuur ingeneem. Tydens 'n tweede mislukte poging om Thaba Bosiu te verower sneuwel Wepener op 15 Augustus 1865. Hierna het die Vrystaters hul taktiek verander deur Thaba Bosiu te beleër. As gevolg hiervan is Moshweshwe uiteindelik verplig om op 11 April 1866 vrede te sluit. Tydens 'n sitting van die volksraad in Februarie 1866 is 'n nuwe Kommandowet goedgekeur.(36) Onder andere is bepaal dat dit nie meer verpligtend vir bevelvoerende offisiere sou wees om hul planne met die krygsraad te bespreek nie. Die range van kommandant-generaal, kommandant en veldkornet is ook weereens bevestig, spesifiek in die Okkupasiewet wat terselfdertyd vir die Verowerde Gebied aangeneem is.(37)

In die begin van 1867 het grensvoorvalle weer begin toeneem en in Maart is twee kommando's opgeroep. Op 18 Julie 1867 is krygswet andermaal afgekondig en vir die derde keer in tien jaar het die Vrystaters en die Basotho's in 'n staat van oorlog verkeer. Die kommando's het gou sukses behaal teen die vestings te Makwaaisberg, Tandjesberg en die Kieme. Moshweshwe het sy land se sake baie goed hanteer en vroegtydig die Britse regering gevra om in te meng. Toe die Vrystaatse kommando's op die punt was om Thaba Bosiu aan te val, het Wodehouse op 12 Maart 1868 Basotholand as Britse kolonie geannekseer. Met die Tweede Verdrag van Aliwal-Noord op 12 Februarie 1869 is die grense tussen die Oranje-Vrystaat en Basotholand vasgestel.(38)

Teen 1865 het daar in die Republiek van die Oranje-Vrystaat 'n behoefte aan 'n rang tussen dié van kommandant-generaal en kommandant ontstaan. In sy verhandeling maak Coetzee die stelling: 'Wanneer kommando's van verskillende kommandante bymekaar kom, kies hulle uit hulle een van die kommandante as hoogste in bevel. Hy kry dan die rang van hoofkommandant.'(39) Coetzee gee egter geen bewys vir hierdie bewering nie. Die Kommandowet, sowel as die Okkupasiewet van 1866, maak geen melding van die rang van hoofkommandant nie, alhoewel al die ander range genoem word. Dit is nogtans duidelik dat hierdie ampstitel vir verskeie individue in daardie tyd in gebruik was, al was dit ongrondwetlik. So verwys Coetzee na verskeie offisiere by herhaling as 'hoofkommandant', insluitend Louw Wepener.(40) In 'n brief aan sy weduwee gedateer Februarie 1866 meld die voorsitter van die Volksraad, H O Dreyer, onder andere dat Wepener in beheer was van die kommando's van die distrikre Caledonrivier; Philippolis en Bethulie. Daar kan aangeneem word dat elkeen van hierdie kommando's volgens wet met mobilisasie sy eie kommandant gehad het en dat Wepener as hulle gesamentlike aanvoerder gekies was. Dreyer verwys egter streng korrek volgens die amptelike rang na Wepener as 'kommandant'.(41)

In die Suid-Afrikaanse Republiek is soortgelyke behoeftes ervaar. Reeds in die beoogde grondwet van 1855 is die rang van 'hoofkommandant' voorgestel tussen dié van kommandant-generaal en kommandant, terwyl die grondwetlike voorstelle van 1857 voorsiening gemaak het vir 'n 'assistent-kommandant-generaal' asook 'n 'assistent-kommandant'.(42) Nie een van hierdie voorstelle is egter in die grondwet van 1858 opgeneem nie. Tog teken Paul Kruger sy dokumente as 'assisrent-kommandant-generaal' in Julie van daardie jaar; toe hy 'n kommando aangevoer het in die veldtog teen die opperhoofde Gasibon en Mahura, in die afwesigheid van kmdt-genl Schoeman.(43)

Met sy aanvaarding van die amp van kommandant-generaal, het Paul Kruger 'n besondere verantwoordelikheid op hom geneem. In 1864 was twee opperhoofde, Mapoch en Maleeuw, in die Zoutpansberg oorhoops en teen 1865 het die Zoeloes aan die Suidoosgrens 'n verdere bedreiging vir die Transvaal geword. Gedurende die jare van politieke twis het die dissipline van die burgers egter sodanig agteruitgegaan dat die kommandant-generaal slegs met die grootste moeite 'n kommando gereed kon kry. Dit is duidelik dat die gesag van die kommandante in 'n hoë mate ondermyn was. Om hierdie probleem die hoof te bied, het kmdt-genl Kruger in 1865 agt assistent-kommandante-generaal aangestel, met opdrag om genoeg burgers vir die kommando op te roep en om in die afwesigheid van die kommandant-generaal wet en orde te handhaaf.(44) Hierdie aanstellings was ongrondwetlik, soos die Volksraad in 1869 besluit het, nadat assistent-kommandant-generaal Geyzer aansoek gedoen het om die soldy verbonde aan dié pos.(45) In 1866 is Paul Kruger in 'n perdekarongeluk sodanig beseer dat hy sy amptelike pligte nie kon nakom nie. Op sy aanbeveling het die Uitvoerende Raad 'n waarnemende, sowel as 'n assistent-kommandant-generaal vir 'n kommando na Zoutpansberg en Schoemansdal aangestel.(46)

Die terme 'waarnemende' en 'assistent'-kommandant-generaal is dikwels verkeerdelik as sinonieme gebruik, soos in 1868 toe die regering weereens vier waarnemende kommandante-generaal aangestel het, met die opdrag om burgers en voorraad vir 'n kommando in Noord-Transvaal op te kommandeer. Hulle was streng gesproke assistent-kommandante-generaal.(47) Ook Paul Kruger het verkeerdelik as assistent-kommandant-generaal opgetree in 1858 tydens die afwesigheid van kmdt-genl Schoeman. In werklikheid was hy waarnemende kommandant-generaal. 'n Waarnemende aanstelling geld vir 'n individu wat optree namens 'n ampsbekleër tydens laasgenoemde se afwesigheid. Hy het vir die tydperk van sy aanstelling dieselfde verantwoordelikheid en magte as die amps bekleër; dog mag nie beleid verander nie. In die gevalle van 'n assistent-kommandant-generaal of 'n assistent-veldkornet, het beide offisiere egter hul eie neergelegde verantwoordelikhede gehad, wat minder was as die van óf die kommandant-generaal óf die veldkornet. Albei was derhalwe gesagvoerders in eie reg.

Anneksasie en die Eerste Anglo-Boereoorlog

Kmdt-genl Paul Kruger het deurgaans daarna gestrewe om wet en orde in die jong staat, die Suid-Afrikaanse Republiek, te handhaaf. Tog is sy opofferende werk nie deur almal waardeer nie. Na sy optrede teen die Zoeloes en hulp aan die Vrysraat teen die Basotho's, het 'n aantal tuisblyers hom in die Volksraad reeds in 1865 van eiemagtige en ongrondwetlike optrede beskuldig. Toe Schoemansdal in 1867 weens 'n swak kommando en 'n tekort aan ammunisie aan die genade van die opperhoof Katsi Katsi oorgelaat is, is die kommandant-generaal genadeloos gekritiseer. 'n Kommissie van ondersoek het hom egter gelyk gegee. Reeds in September 1864 is pogings aangewend om die soldy van die kommandant-generaal en kommandante in vredestyd af te skaf.(48) Dit is in April 1866 op aandrang van die publiek herstel, maar in Februarie 1868 is die soldy van die kommandant-generaal en kommandante in vredestyd as 'n besuinigingsmaatreël weereens afgeskaf. Paul Kruger dien hierop sy bedanking as kommandant-generaal in, maar dit word nie aanvaar nie, aangesien hy 'n kommando na die Zoutpansberg moes aanvoer. Pogings om die pos van kommandant-generaal in sy geheel af te skaf, word hierna in die Volksraad aangewend. Dit neem egter geruime tyd, aangesien dit 'n wysiging van die grondwet behels. In 1871 bedank pres M W Pretorius na die diamantveldkwessie en word op 1 Julie 1872 opgevolg deur ds T F Burgers van Hanover in die Kaapkolonie. Kmdt-genl Kruger het nie die kandidatuur van pres Burgers gesteun nie en op 28 Mei 1873 lê hy sy aanstelling as kommandant-generaal neer. Op 7 Junie 1873 besluit die Volksraad om die ampte van kommandant-generaal en kommandant in vredestyd af te skaf.(49) Ten spyte van beroeringe onder die swart stamme en opkomende Britse imperialisme, was die Suid-Afrikaanse Republiek nou sonder militêre leiding.

Teen die middel van 1876 het pres Burgers die gevolge van die afskaffing van die amp van kommandant-generaal begin ervaar. Oorlog teen Sekhukhune was onvermydelik, maar daar was geen krygsowerste nie. Paul Kruger; sowel as Piet Joubert, het die aanstelling van die hand gewys. Die Uitvoerende Raad besluit op 28 Junie 1876 teen die sin van pres Burgers dat hyself as opperbevelhebber van die kommando moes optree, en dat oud-pres M W Pretorius as kommandant-generaal en N J Smit as 'luitenant-generaal' (sic) sou saamgaan. Die rang van Nicolaas Smit is merkwaardig, veral aangesien die Volksraad op 7 Junie 1876 'Wet No 2, 1876, voor den Krjgsdienst' aangeneem het. In hierdie wet is bepaal dat die staatspresident opperbevelhebber van die kommando's sou wees. Daarin word bevestig dat die burgers onder bevel sou staan van die assistent-veldkornette, veldkornette, kommandante en die kommandant-generaal. Laasgenoemde sou voortaan egter deur die hele kommando gekies word.(50) Daar word dus andermaal nie amptelik voorsiening gemaak vir 'n rang tussen dié van kommandant-generaal en kommandant nie, allermins vir die enigsins volksvreemde rang van luitenant-generaal.

Die veldtog teen Sekhukhune was nie 'n sukses nie, alhoewel pres Burgers daarin kon slaag om hom met 'n beleg deur huursoldate tot oorgawe te dwing. Die hantering van die veldtog het egter aan die Britse minister van Kolonies, lord Carnavon, die verskoning gebied om in Transvaal se sake in te meng. Sy voorwendsels het gewissel van dat die regering nie in staat was om die swart bevolking te beheer nie, tot dat die swart volke onderdruk word. Op 22 Januarie 1877 kom sir Theophilus Shepstone met tien klerke en 'n geleide van vyf-en-twintig konstabels van die Natal Mounted Police in Pretoria as 'spesiale kommissaris van die Britse koningin' aan. Dit was gou duidelik wat sy planne was, maar pres Burgers was magteloos om iets daaraan te doen. Naas al sy ander probleme, het die president nie meer die krygswese gehad om op terug te val nie. Na uitgerekte onderhandelings is die Suid-Afrikaanse Republiek op 12 April 1877 as die Britse kolonie 'Transvaal' geannekseer. Burgers het protes aangeteken en bedank. Van Heerden betwyfel met reg of hierdie roemlose oorname van die Suid-Afrikaanse Republiek ooit sou plaasgevind het, indien die kommandostelsel behoue gebly het.(51)

Die burgers van Transvaal het egter nie die verlies van hulle vryheid gelate aanvaar nie. Twee deputasies is na Engeland gestuur; maar beide het onverrigtersake teruggekeer. Afrikaners in die Kaapkolonie en die Vrystaat het die saak van die Transvaal ondersteun en 'n volksgevoel het begin ontwikkel. Daar is gehoop dat 'n regeringsverandering in Engeland die saak van die Transvalers sou bevorder; maar toe Gladstone in April 1880 eerste minister word, het hy gou tot ander insigte gekom. Dit het toe duidelik geword dat oorlog die enigste uitweg was. Na die Bezuidenhout-voorval in Potchefstroom, het 'n volksvergadering te Paardekraal besluit om die regering van 1877 in ere te herstel. In sy hoedanigheid as visepresident het Paul Kruger die volksraad byeengeroep. Tydens die eerste sitting gehou op 13 Desember 1880, is die regering toevertrou aan 'n driemanskap, bestaande uit M W Pretorius, S J P Kruger en P J Joubert. Op 'n voorstel van Paul Kruger is Piet Joubert op dieselfde dag as kommandant-generaal gekies en op 17 Desember 1880 te Heidelberg in hierdie amp beëdig.(52)

Gedurende Desember 1880 en Januarie 1881 is sewe offisiere as waarnemende of assistent-kommandante-generaal aangestel om as aanvoerders in die onderskeie distrikte op te tree. Een moes vrywilligers in die Vrystaat gaan werf. Nicolaas Smit gebruik met die aanvang van die Eerste Anglo-Boereoorlog sy rang uit die Sekhukhune-oorlog, naamlik luitenant-generaal, maar teken in Februarie 1881 as 'luitenant-kommandant-generaal'. Na die oorlog is op 14 April 1881 'n krygsraadvergadering op Heidelberg gehou, waar ook hy as waarnemende kommandant-generaal teken. Dit is betekenisvol dat tydens hierdie vergadering twee offisiere die teenwoordigheidslys as 'veggeneraal' onderteken.(53)

Na die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881, is die Konvensie van Pretoria op 3 Augustus onderteken. Op 8 Augustus het die driemanskap die regering van Transvaal oorgeneem. Die staat was egter nie ten volle onafhanklik nie, maar is deur Brittanje as 'n susereniteit beskou. Kmdt-genl Joubert het met 'n skitterende reputasie uit die stryd getree en voortgegaan om 'n artillerie- en 'n polisiekorps vir Transvaal daar te stel. Hy is ook amptelik in die nuwe betrekking van 'superintendent van naturelle' aangestel, alhoewel hierdie verpligtinge reeds in Paul Kruger se tyd deel van die amp van kommandant-generaal was. Tydens die sitting van die Volksraad in Oktober 1881 is die Uitvoerende Raad in ere herstel, met die staatspresident, die kommandant-generaal, 'n sekretaris en twee burgers as lede. Wat die krygswese betref, is bepaal dat die dienstermyn van die kommandant-generaal voortaan tien jaar sou wees, die van kommandante vyf jaar en die van veldkornette drie jaar onderskeidelik.(54)

Tydens die presidentsverkiesing van 1883 is Paul Kruger met 'n groot meerderheid bo Piet Joubert verkies. Laasgenoemde is egter in Mei van daardie jaar as vise-president verkies. Sy kommandant-generaalskap was egter nog tydelik, aangesien hy te Paardekraal deur 'n volksvergadering gekies was en nie deur 'n algemene verkiesing, soos die grondwet vereis het nie. Gedurende Junie 1883 is 'n nuwe wet vir die krygswese goedgekeur. Dit was noodsaaklik, aangesien die kommando-stelsel gaandeweg verbrokkel het, nadat die volksraad in 1873 die ampte van kommandant-generaal en kommandant afgeskaf het. Onder andere word die range van die 1858-grondwet weereens bevestig, sonder om voorsiening te maak vir range tussen dié van kommandant-generaal en kommandant.(55) In Januarie 1884 is Piet Joubert byna eenparig tot die pos van kommandant-generaal verkies. Daar ontstaan egter meningsverskil tussen hom en die Volksraad en in plaas van om vir sy beëediging op te daag, bedank hy in September 1884 uit al drie sy betrekkings.(56)

Die Volksraad besluit om die betrekkings te skei en drie persone vir hierdie poste aan te stel. As waarnemende kommandant-generaal word kmdt P A Cronje aangestel, maar Joubert word oortuig om hom in die verkiesing van Maart 1885 te opponeer. Piet Joubert wen andermaal met 'n groot meerderheid en word op 5 Junie 1885 beëedig. Onmiddelik hierna het hy hom begin beywer om weer in sy ander betrekkings aangestel te word, aangesien hy besondere waarde daaraan geheg het. Hy het nog steeds sy oog op die presidentskap gehad en deur hierdie aanstellings kon hy sy magsbasis uitbrei. Die Volksraad word oortuig om hom weer as superintendent van naturelle aan te stel, maar toe daar vakatures vir visepresident en lid van die uitvoerende raad ontstaan, word N J Smit en J M A Wolmarans onderskeidelik verkies. Kmdt-genl Joubert het derhalwe geleentheid gehad om sy aandag nougeset aan die krygswese te wy.(57)

Na die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886, het groot getalle Uitlanders die Transvaal binnegekom. Dit het veroorsaak dat die grondwet gewysig moes word. In 1890 is bepaal dat die kommandant-generaal verkies sou word deur stemgeregtigde burgers wat lede van die Eerste Volksraad kon kies. In 1894 is wette vir 'n 'Korps Rydende Artillerie' bygevoeg en bepaal dat die ampstermyn van die kommandant-generaal van tien na vyfjaar verminder word.(56) In die hewig betwiste presidentsverkiesing van 1893 het Joubert nog eens die onderspit gedelf teen pres Kruger, na onverkwiklike pogings van eersgenoemde om die Volksraad en die amp van kommandant-generaal tot sy eie voordeel te manipuleer. Tog wen hy die verkiesing vir kommandant-generaal in 1895 met 'n oorweldigende meerderheid. Later in die jaar moes hy hewige kritiek in die Volksraad verduur aangaande die toestand van die krygswese. Daar is beweer dat die bewapening van die staat asook die krygsadministrasie in 'n swak toestand verkeer het. Die algemene onvoorbereidheid van Transvaal tydens die Jameson-inval op 30 Desember 1895, het duidelik aangetoon dat die lede van die Volksraad nie ver verkeerd in hul beoordeling was nie. Alhoewel die kommandant-generaal met aansienlik verminderde aansien uit hierdie insident getree het, was dit die aanvoerders in die veld, soos kmdte P A Cronje en H P Malan, wat die situasie gered en opnuut die inherente buigsaamheid van die kommandostelsel bewys het.(59)

Range tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog

Die Jameson-inval het duideliker as ooit aangetoon dat Brittanje hoegenaamd nie van voorneme was om die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Republiek te eerbiedig nie. Met die aanstelling van sir Alfred Milner as Britse hoër kommissaris in Suid-Afrika in Maart 1897, het die twee state op 'n pad van konfrontasie beland wat slegs op oorlog kon uitloop. Die Transvaalse regering het reeds in 1896 met 'n program van bewapening begin. In pres Kruger se termyn as kommandant-generaal is 'n geheime verdrag in 1872 met die Oranje-Vrystaat gesluit waarin onder andere reëlings neergelê is aangaande wedersydse hulp in die geval van vyandelikhede. Hierdie verdrag is in 1898 hersien. Daarin is onder andere bepaal dat indien die Suid-Afrikaanse Republiek aangeval sou word en die Oranje-Vrystaat hulp sou verleen, die opperbevel by die kommandant-generaal van die Transvaal sou berus, in oorleg met die kommandant-generaal van die Oranje-Vrystaat.(60)

Kmdt-genl Joubert het egter tot met die ultimatum geglo dat vyandelikhede vermy sou kon word en het die voorbereidings halfhartig ondersteun. Hy het buitendien ander aspirasies gehad. Dit geluk hom om in 1896 weer as visepresident deur die volksraad gekies te word in die plek van N J Smit, wat oorlede is. Hieroor was hy innig dankbaar, maar in 1898 besluit die volksraad tot sy teleurstelling om die ampte van kommandant-generaal en superintendent van naturelle te skei. In dieselfde jaar verloor hy vir die vierde keer die presidentsverkiesing teen pres Kruger. Die gevolge van Piet Joubert se twingtigjarige termyn as kommandant-generaal was onder andere dat die Transvaal met die uitbreek van die oorlog geen behoorlike krygsplan gehad het nie, onvoldoende bewapen was en boweal, dat daar onder die burgers geen gees van militarisme of selfs dissipline ontwikkel was nie.(61)

Die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek het op die vooraand van die oorlog besluite aangaande die krygswese geneem. Wet no 20 van 1898 soos aangevul deur Wet no 20 van 1899 is op 25 Oktober 1899 in die Staats Courant gepubliseer, waarin die range van offisiere nogmaals soos volg aangegee is: assistent-veldkornet, veldkornet, kommandant en kommandant-generaal.(62) Die bekleërs van al hiérdie range en poste is streng volgens die grondwet verkies. Die vorige dag het die Uitvoerende Raad egter besluit om die reg om doodsvonnisse te bekragtig, te laat voltrek of te versag, toe te ken aan die kommandant-generaal en vyf 'assistent-generaals'. Hierdie bevoegdhede is op 28 Desember 1899 tot 'n sesde uitgebrei. Die Uitvoerende Raad het hier in werklikheid 'assistent-kommandant-generaal' bedoel in plaas van 'assistent-generaal'.(63) Alhoewel ongrondwetlik, het die regering dit nodig gevind om as oorlogsmaatreël assistent-kommandante-generaal vir die verskillende gevegsfronte aan te stel. Die Transvaalse regering het verder veggeneraals aangestel om as aanvoerders te dien in die gevalle waar verskillende kommando's as 'n leërafdeling moes optree. Die regsbevoegdhede hierbo genoem is op 17 Januarie 1900 deur die Uitvoerende Raad met magtiging van die Eerste Volksraad ook na veggeneraals uitgebrei.(64)

Ook die Volksraad van die Oranje-Vrystaat het die nodige wysigings aan die krygs- en kommandowet aangeneem, toe dit geblyk het dat oorlog onvermydelik was. Die grondwet van die Oranje-Vrystaat het nie voorsiening gemaak vir 'n kommandant-generaal as opperbevelhebber nie. Elke leërafdeling kon sy eie kommandant-generaal kies, wat sy opdragte van die staatspresident sou ontvang. Die staatspresident was dus die opperbevelhebber van al die krygsmagte. Die Volksraad het op 27 September 1899 Wet no 33 van 1899 aangeneem en op 6 Oktober 1899 in die Gouvernements Courant gepubliseer, waarvolgens die assistent-veldkornette, veldkornette en kommandante na mobilisasie 'n hoofkommandant sou kies, wat as aanvoerder op 'n gevegsfront sou dien.(65) Die hoofkommandante sou hul opdragte van die staatspresident ontvang. Daar is geen verwysing na die rang van kommandant-generaal, soos in die grondwet beskryf nie. Hierdie rang en amp het dus in die Oranje-Vrystaat verval. Dit is moontlik dat die Volksraad hom in hierdie besluit laat lei het deur die verdrag wat met die Suid-Afrikaanse Republiek in 1898 aangegaan is.

Genl de Wet maak die stelling dat die Volksraad van die Oranje-Vrystaat kort voor die uitbreek van die oorlog besluit het dat die president 'n veggeneraal kon aanstel, alhoewel daar wetlik geen voorsiening voor gemaak is nie. Breytenbach kon egter geen bewys vir so 'n besluit opspoor nie.(66) Tog beskryf de Wet hoedat A P (Andries) Cronje deur die staatspresident as veggeneraal aangestel is. Hy vertel verder hoedat pres Steyn hom op 9 Desember 1899 telegrafies as veggeneraal vir die Wesgrens aangestel het.(67) Dit is belangrik om daarop te let dat 'n veggeneraal in die Oranje-Vrystaat ondergeskik aan die amptelike rang van hoofkommandant was. Genl de Wet is na hoofkommandant Ignasius Ferreira se dood as waarnemende hoofkommandant in eersgenoemde se plek aangestel, nog steeds met die rang van veggeneraal. In hierdie hoedanigheid het hy self vir ds Paul Roux as veggeneraal aangestel.(68)

Die senior range in die Oranje-Vrystaat was dus in stygende orde: kommandant, veggeneraal, hoofkommandant. Hierdie anomalie het eerstens tot gevolg gehad dat die hoofkommandant in die volksmond ook as 'generaal' aangespreek is. Dit is verstaanbaar, aangesien die gewone burger sou aanvaar het dat die veggeneraal se senior ook 'n generaal sou wees. Genl de Wet verwys self in een asem na C J Wessels sowel as na I S Ferreira as 'hoofkommandant' en as 'generaal'.(69) Dit het tweedens daartoe gelei dat die benaming 'hoofkommandant' 'n posbenaming eerder as 'n rang geword het. Dit kom veral na vore na Mei 1900, toe die Regering die rang van veggeneraal in die Oranje-Vrystaat afgeskaf het en dit vervang het met die benaming 'assistent-hoofkommandant'.(70) Genl de Wet was teen hierdie verandering gekant, maar het hierdie rang (in werklikheid 'n pos) aanvaar en sy ondergeskikte generaals Piet de Wet, C C Froneman, Philip Botha en Paul Roux ook as assistent-hoofkommandante aangestel. Die aanspreekvorm 'generaal' het in die volksmond egter behoue gebly. In Junie 1900 is de Wet as hoofkommandant gekies en gebruik daarna deurgaans ampshalwe hierdie titel. Hy teken uiteindelik die Vrede van Vereeniging in hierdie hoedanigheid.(71) In korrespondensie tussen genl de Wet en lord Kitchener spreek Kitchener eersgenoemde egter as 'generaal' aan en onderteken de Wet self sy telegramme as 'generaal' in die hoedanigheid van 'hoofkommandant OVS' (72)

Met die mobilisasie van die Boeremagte gedurende Oktober 1899, het die behoefte aan nog 'n nuwe rang spoedig ontstaan. In sy beraming van die aantal dienspligtige burgers in beide Republieke, kom die staatshistorikus Breytenbach op 'n getal van ongeveer 55 000 uit.(73) (Hierdie syfer sluit nie die voltydse korpse, soos die artillerie en die polisie van beide state in nie.) Hy bevind ook dat aan die Natalse front, waar die grootste Boeremag gekonsentreer was, die aanmeldingsyfer 54.2 % was.(74) Indien hierdie syfer enigsins verteenwoordigend van alle fronte was, het ongeveer 28 000 burgers op kommando gegaan. C Breytenbach gee ook die gekombineerde offisiers-sterkte van beide Republieke, generaals uitgesluit, aan as 280, bestaande uit 41 kommandante, 140 veldkornette en 99 assistent-veldkornette.(75) Dit beteken dat 'n kommando gemiddeld uit ongeveer 700 burgers bestaan het, met slegs sewe offisiere. Indien dit met die sterktetabel van 'n moderne regiment of bataljon vergelyk word, is dit duidelik dat die offisierskader dringend versterking nodig gehad het. Dit is gedoen deur met mobilisasie die rang van korporaal, wat 'n eeu tevore in die Kaapkolonie as kommandorang in onbruik geraak het, in ere te herstel.

'n Veldkornetskap is gevolglik verdeel in 'n aantal korporaalskappe. Laasgenoemde het bestaan uit twaalf tot vyftien burgers, volgens die historikus Pretorius.(76) Die korporaalskap is georganiseer volgens 'n proses van natuurlike seleksie, en het meesal bestaan uit familie en vriende. Die korporaal is deur sy medeburgers gekies, maar is volgens die Amerikaanse verslaggewer Hillegas sonder seremonie vervang wanneer hy hulle vertroue verbeur het. Dit het egter ook gebeur dat 'n korporaal sy rang afgestaan het ten gunste van een van sy burgers wat homself op die slagveld onderskei het.(77) 'n Belangrike stafpos, volgens genl de Wet, was die sogenoemde 'vleeskorporaal', wat verantwoordelik was vir die verkryging en uitdeel van rantsoene. Die hoogste eise van onpartydigheid is aan hierdie individu gestel.(78)


Table 1


Die laagste en oudste rang in die kommandostelsel was die rang van burger. 'n Burger op kommando het homself nie as 'n soldaat beskou nie; hierdie titel is slegs vir die Britse magte gebruik. 'n Manlike inwoner van een van die Boererepublieke was 'n burger in tyd van vrede en sy status het hoegenaamd nie verander wanneer hy die wapen teen 'n vyand opneem nie.(79) Volgens die kommandowette van beide republieke was alle burgers tussen 16 en 60 jaar dienspligtig, maar vele was op kommando wat buite hierdie ouderdomsgroep geval het. Daar was dus drie geslagte in die veld: Die grysaard, moontlik 'n veteraan van Majuba en talle ander veldtogte; die jongeling of penkop, wat eintlik op skool moes gewees het, maar homself ontydig midde-in die werklikhede van oorlog bevind het; en laastens die middeljarige burger; wat verkies het om op sy plaas en by sy vrou en kinders te wees, maar op kommando gegaan het toe sy volk hom nodig gehad het.(80) Veel is geskryf oor die swak en goeie eienskappe van die boerekryger, sy gebrek aan dissipline, maar ook sy inisiatief en individualisme. Die skrywer wil graag hulde bring aan die kommandoburger van alle tye, wat aan die oproep gehoor gegee, sy taak met blymoedigheid uitgevoer en indien nodig die hoogste offer gebring het. Hulle nagedagtenis sal voortleef solank die Afrikanervolk bestaan.

Teen September 1900 het die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek, toe dit blyk dat die oorlog langer duur as wat verwag was, besluit om die kommando's te herorganiseer. Dit is gedoen met Wet no 3 van 1900, gepubliseer op 4 September 1900.(81) Vir die eerste keer is bepaal dat kommando's uit tussen 300 en 500 man sou bestaan en veldkornetskappe uit tussen 100 en 200 man, onderhewig aan die diskressie van die kommandant-generaal. Korporaalskappe sou bestaan uit nie meer as 15 man nie. Alle offisiere sou voortaan aangestel word. Daar is verder besluit om aan alle burgers rangsoldy te betaal. Die rang tussen kommandant-generaal en veggeneraal word in hierdie wet op een plek as 'assistent-generaal' en op 'n ander as 'assistent-kommandant-generaal' aangegee, wat daarop dui dat dit as sinonieme gebruik is. Die rang van assistent-veldkornet word glad nie in die wet genoem nie.

Die rangstruktuur van die Boerekommando's het dus teen die middel van 1900 'n hoogtepunt in sy ontwikkeling bereik, soos in tabel 1 aangegee. Met die uitsondering van die rang van assistent-veldkornet, is die range van die Suid-Afrikaanse Republiek presies net so bevestig in Wet no 3 van 4 September 1900. Daaruit blyk dit dat die owerhede op daardie stadium van die oorlog die rang van assistent-veldkornet as onnodig beskou het. Dit val nogtans op dat nadat die 'Dekoratie voor Trouwe Dienst, 1899 - 1902' in 1920 deur die Unieregering vir offisiere van die Republikeinse krygsmagte ingestel is, 79 van hierdie dekorasies uit 'n totaal van 662 aan assistent-veldkornette toegeken is. Ten minste 47 van hierdie assistent-veldkornette was aan Transvaalse kommando's verbonde.(82)

Verskeie eienaardige range kom in die literatuur voor. Visekommandant-generaal, visegeneraal, assistent-veggeneraal, assistent-kommandant en hoofveldkornet is range wat deur Curson opgeteken is.(83) Genl de Wet maak ook melding van Philip Botha as assistent-veggeneraal.(84) Die Dekoratie voor Trouwe Dienst is aan ene assistent-veggeneraal J F Jordaan toegeken. Forsyth verwys na 'n brief van die Hoof van Weermagadministrasie in 1967, waarin die drie senior range in die kommando's van die Suid-Afrikaanse Republiek aangegee word as: kommandant-generaal, veggeneraal en assistent-veggeneraal.(85) Hierdie skema is foutief en die range hierbo wat deur Curson opgeteken is, het waarskynlik by individue ontstaan en kan nie as amptelik beskou word nie. Daar moet in hierdie verband onderskei word tussen range wat volgens 'n wet ingestel is, range wat amptelik, hoewel ongrondwetlik, deur 'n regering as oorlogsmaatreël ingestel is en range wat nie-amptelik ontstaan het. Die skrywer aanvaar die rangstruktuur van Breytenbach as basies korrek en het bevind dat dit ooreenstem met die werke van van Heerden en genl de Wet.(56)

Die rangstruktuur van die Unie Verdedigingsmag, gestig in 1912, is hoofsaaklik gebaseer op dié van die Britse Leër. Baie van hierdie range het al internasionaal begin raak en was gebruik deur die artillerie-, verkenner- en polisiekorpse van die twee Boererepublieke. Die kommandotradisie het egter in verskeie opsigte bly voortleef in die twintigste eeu. Veral na 1950 is verskeie range sowel as poste van die Boerekommando's in ere herstel. Hierdie is egter 'n onderwerp vir verdere navorsing.

Aantekeninge

a. Daar bestaan ander aansprake op die benaming 'eerste kommandant-generaal'. Piet Retief was dit de facto, dog is nie met die titel vereer nie. Paravicini di Capelli asook Dirk Gysbert van Reenen gee die teks van 'n brief van genl Janssens aan 'de Commandant generaal Botha en verdere Commandanten'. Beide verwys egter deurgaans in hul joernale na P R Botha as 'kommandant'.(87) Botha het na 1806 as veldkommandant van Swellendam aangebly en in 1811 kommandant van George geword.(88) Die benaming 'kommandant-generaal' was dus nie onbekend in die Kaapkolonie nie.

b. Brigadier-generaal, generaal-majoor en luitenant-generaal.

c. Breytenbach gee 'n syfer van 32 500 man.(89)

Verwysings

1. J D Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864' (ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 1939), p 52.
2. J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), pp 291-3.
3. J J van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek' (DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1949), gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afikaanse Geskiedenis (1964), deel II, p3.
4. H B Thom, Die Lewe van Gert Maritz (Nasionale Pers Beperk, Kaapstad, 1949), p233.
5. Thom, Die Lewe van Gert Maritz, p 263.
6. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 6-8; G Preller, Andries Pretorius (privaat uitgegee, 1937), p 20.
7. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 23-4; T Cameron en S B Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afika in Woord en Beeld (Human en Rousseau, Kaapstad, 1986), p 134.
8. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 10, 25.
9. Van Heerden, 'Die Kommandant-genersal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 10, 25-6; Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afika in Woord en Beeld, p 134.
10. Van Heerden, 'Die Kommandant-genersal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 11, 26; Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afika in Woord en Beeld, p 134.

11. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 9, 12, 40.
12. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaansc Republiek', pp 12-13.
13. Van Heerden, 'Die Kommandant-genersal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 13-14, 42.
14. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 14-15,43-4.
15. Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid--Afika in Woord en Beeld, p 143;
Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 47.
16. Cameron en Spies, Nuwe Geskedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld, p 146.
17. P F R Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat' (ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, 1940), pp 20,35; N Gomm, 'The Military Provisions of the Constitution of the Orange Free State Republic' in Krygshistoriese Tydskrif Deel 1, Nr 4 (1969), p 14;
Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', voetnota p 83.
18. Van Reerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 15-18; Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afika in Woord en Beeld, p 152.
19. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 18,19,54; Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld, p 152.
20. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 58-60.

21. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 54.
22. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870' (MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 1946) gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, p 223; Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', p 46.
23. Van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', p 222.
24. Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', p 46.
25. Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', p41.
26. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 60-64.
27. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 64-70.
28. Van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', pp 212-19; Vorster; 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', pp 44,45.
29. Van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', p 340; Vorster; 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', p49.
30. Van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', p 266.

31. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 29, 75.
32. Van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', pp 220, 228, 240.
33. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 54-7; Cameron en Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld, p 147.
34. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 64, 75.
35. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 79-80.
36. Coetzce, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 96, 104, 122, Bylae B (Ordonansie 1-1866); N Comm, 'The Commando Act of the Orange Free State Republic' in Krygshistoriese Tydskrif Deel I , Nr 5 (1969), p30.
37. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 123-4, Bylae G (Ordonansie 6-1866, Okkupasiewet van 7 Februarie 1866).
38. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 131, 144.
39. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', p 31.
40. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', pp 98, 103, 116, 134.

41. Coetzee, 'Die Verdedigingstelsel van die Oranje-Vrystaat', voetnota p 105, p 106.
42. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', voetnota p 54.
43. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 18, 19.
44. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', voetnota p 74.
45. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikainse Republiek', p 74.
46. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikianse Republiek', pp 76, 77, voetnota p 77.
47. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 81.
48. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 87.
49. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 89, 94.
50. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 90, 91.

51. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 93-5.
52. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 99, 100.
53. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 100, 101, voetnotas p 101.
54. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 104, 105.
55. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', voetnota p 114.
56. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 116.
57. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 119, 123.
58. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 128.
59. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 143, voetnota p 143.
60. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 153.

61. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', pp 154,163;
L S Amery, The Times History of the War in South Afica, 1899-1902 (Sampson, Low, Marston and Company, Ltd, London, 1902), volume II, pp 70,71.
62. Staatscourant der ZA Republiek, 25 Oktober 1899, Wet no 20, 1899, zijnde aanvulling van Wet no 20 van 1898, de Krijgswet.
63. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', p 166.
64. Van Heerden, 'Die Kommandant-generaal in die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek', voetnota p 166.
65. De Geuvernements Courant (OVS), 6 Oktober 1899, Wet no 33, 1899; J H Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheids oorlog in Suid-Afrika, 1899-1902 Deel I (Die Staatsdrukker, Pretoria, 1969), pp 41, 42.
66. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902 p43; CR de Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit (Boekhandel, voorheen Hoeveker & Wormser; Amsterdam en Pretoria, 1902), p 8.
67. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 12, 28.
68. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 66, 126.
69. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 30, 66.
70. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, p 138.

71. De Wet, De Strijd tussehen Boer en Brit, pp 168, 403, 436.
72. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 380-2.
73. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, p 36.
74. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, p 160.
75. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, pp 34, 35.
76. F Pretorius, Kommandolewe tydens die Anglo-boereoorlog 1899-1902 (Human & Rousseau, Kaapstad en Johannesburg, 1991), pp 250, 251.
77. H C Hillegas, With the Boer Forces (Methuen & Co, London, 1900), pp 92,99.
78. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, pp 2, 4.
79. Amery, The Times History of the War in South Africa, 1899-1902, volume II, p72; Hillegas, With the Boer Forces, pp 61,62.
80. Hillegas, With the Boer Forces, pp 63-74.

81. Wet no 5, 1900, 4 September 1900, (ZAR).
82. D R Forsyth, 'Dekoratie voor Trouwe Dienst (The DTD)', Krygshistoriese Tydskrif Deel I, Nr 1, (1967), p 14; D R Forsyth, Die Medaljerol: Dekoratie voor Trouwe Dienst, Anglo-Boeroorlog; De Zuidafrikaanse Republiek en Oranje Vrijstaat Oorlogsmedalje; en Lint voor Verwonding opgedaan gedurende de Anglo-Boeroorlog (privaat uitgegee, Johannesburg, 1976), p 7.
83. H H Curson, More Military and Police Devices from South Africa 1790-1962 (Pretoria, 1962), p8.
84. De Wet, De Strijd tusschen Boer en Brit, p 50.
85. Forsyth, 'Dekoratie voor Trouwe Dienst (The DTD)', p 14.
86. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, p 43.
87. W B E Paravicini di Capelli, Reize in de Binnen-Landen van Zuid-Africa (1803, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 46, Kaapstad, 1965), p 85; W Blommaert en J A Wiid, Die Joernaal van Dirk Gysbert van Reenen (1803, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 18, Kaapstad, 1937), p 112.
88. W J De Kock, (hoofredakteur) Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad, 1968), Deel 1, p 109.
89. Breytenbach, Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902, p 153.

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org