The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 9 No 4 - Desember 1993

(incorporating Museum Review)

DIE ONTWIKKELING VAN DIE RANGSTRUKTUUR VAN DIE BOEREKOMMANDO'S
DEEL 1: 1715 - 1836

deur Kmdt J J Retief, DWD, PhD

Inleiding

Met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, is die Anglo-Boereoorlog amptelik beëindig. Dit het ook die einde van die onafhanklike Boererepublieke, die Suid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, beteken. Terselfdertyd is die Boerekommando's gedemobiliseer en het hierdie eiesoortige verdedigingstelsel opgehou om te bestaan. Een aspek van die kommandostelsel het egter in die volksmond en in die praktyk behoue gebly, naamlik die range wat 'n groot aantal Afrikanerleiers tydens die oorlog verwerf het. Manne wat hulself op die slagveld bewys het, het op politieke en ander lewensterreine tot in die veertigerjare groot invloed uitgeoefen. Onder hulle was generaals Botha, Hertzog en Smuts, aldrie op hul tyd eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. Daar was ook generaals de Wet, de la Rey, Beyers en Kemp, asook kommandant Chris van Niekerk, tot vandag toe bekend onder militêre range wat uit die grootste oorlog wat nog op Suid-Afrikaanse bodem geveg is, dateer.

Die kommandostelsel van die Boererepublieke het sy oorsprong teen die einde van die sewentiende eeu aan die Kaap gehad. Dit het twee honderdjaar later, toe die oorlog met Brittanje op 11 Oktober 1899 begin het, reeds tot 'n gedugte gevegsmag ontwikkel. Die kommando's was 'n vorm van deeltydse militêre diens wat tot op die been gestroop was van alles wat nie absoluut noodsaaklik was nie. In ander wêrelddele is tradisionele militêre gebruike soos uniforms, parades, salueer en eerbewys, asook slaafse gehoorsaamheid aan bevele, as normaal beskou. Vir 'n pioniersgemeenskap wat voortdurend gewikkel was in die stryd om te oorleef, was hierdie aspekte van krygsdiens heeltemal onaanvaarbaar. Een vereiste van militêre diens wat egter reg van die begin af besef is, is dat geen groep krygers sonder leiers kon optree nie. Spesifieke benamings vir hierdie leiers het derhalwe reeds van vroeg af voorgekom. Dit is die doel van hierdie artikel om die ontwikkeling van die rangstruktuur van die Boerekommando's na te gaan, wat op sy beurt ten nouste saamhang met die ontwikkeling van die kommandostelsel self.

Voordat daar op hierdie onderwerp ingegaan kan word, is dit noodsaaklik om baie duidelik tussen twee begrippe te onderskei. Eerstens is dit die amp, pos of aanstelling wat deur 'n bevoegde gesag aan 'n individu gegee word. Saam daarmee ontvang die persoon ook 'n opdrag en die bronne wat nodig is om dit uit te voer. Hierdie aanstelling geld dikwels vir 'n vasgestelde tydperk. Tweedens, en in die besonder in 'n militêre omgewing, kan die individu ook 'n persoonlike rang, titel of aanspreekvorm ontvang, wat gewoonlik in ooreenstemming is met die verantwoordelikhede verbonde aan sy aanstelling. Dit het in Suid-Afrika, soos elders, die gebruik geword dat iemand sodanige militêre titel behou wanneer hy nie meer die pos beklee waarvoor hy oorspronklik aangestel is nie.

Die rang en die amp was in die verlede baie keer dieselfde, maar ook net so dikwels verskillend. In die volksmond maak die onderskeid meesal glad nie saak nie en word die amp maklik 'n titel en omgekeerd. So word die amp van byvoorbeeld 'staatspresident' dikwels 'n persoonlike titel, soos 'president Steyn'. Net so word die rang van 'n individu eenvoudig as amp gebruik, soos byvoorbeeld 'die kommandant', wanneer daar na 'n eenheidsbevelvoerder verwys word. In die literatuur het daar dikwels verwarring ontstaan, omdat daar nie tussen hierdie begrippe onderskei is nie. In wat volg word daar noukeurig hierop gelet.

Daar is drie lemmas wat in Suid-Afrika tot verskeie range aanleiding gegee het, naamlik die terme: 'kornet', 'kommandant' en 'generaal'. Hulle kom voor in die volgende range: assistent-veldkornet, veldkornet, kommandant, assistent-hoofkommandant, veggeneraal, hoofkommandant, assistent-kommandant-generaal en kommandant-generaal; almal range wat in die kommandostelsel tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik is. Die term 'kornet' is afkomstig van die Latynse cornu en beteken 'n horing of spiraal. In Frans het dit 'n musiekinstrument in die vorm van 'n horing of cornette geword. In Spanje het die woord cornetta 'n wimpel geword, wat later gebruik is vir die draer daarvan, wat 'n junior offisier in die kavallerie was. Dit herinner aan die term 'vaandrig', 'n junior infanterie-offisiersrang wat ook onstaan het weens die feit dat hy vroeër die vaandeldraer was. Teen die sewentiende eeu was beide range algemeen in Europa in gebruik.(1)

Die term 'kommandant' kom oorspronklik van twee woorde in Latyn, naamlik mandare, wat beteken 'om te beveel' en com, wat 'n versterkende vorm aandui.(2) 'n Hele aantal bekende terme in Afrikaans het dieselfde oorsprong, soos 'kommando', 'kommandeer', 'kommandeur' en 'kommodoor'. Sommige van hierdie woorde kom ook in ander tale voor, byvoorbeeld Engels, Duits, Frans en Portugees. In die Franse leër en lugmag word die rang 'commandant' vandag nog gebruik, maar as die ekwivalent van majoor.(3)

Die Oxford English Dictionary gee die oorsprong van die term 'generaal' aan as afkomstig van vertalings uit Latynse geskrifte. 'n Werk van Guicciardini wat in 1576 deur Sanford vertaal is, verwys na 'n 'generall Capytayne', met ander woorde, 'n gesagvoerder met uitgebreide aanspreeklikheid. In 1601 gebruik Holland dieselfde term in 'n vertaling van Plinius die Jonge se Geskiedenis van die Wêreld. In 1595 verwys Maynarde in Drake's Voyage na 'n 'serjant-major generall'.(4)

Die term 'kommando', as 'n militêre groepering, kan 'n probleem skep vir diegene wat daaraan gewoond is om in terme van pelotons, kompanies, bataljons, brigades en divisies te dink. 'n Kommando kon in getalle enigeen van hierdie leërafdelings ge-ewenaar het, aangesien daar op geen tydstip voor September 1900 iets soos 'n sterktetabel was nie.(5)

In die praktyk het 'n kommando eenvoudig uit diegene wat aan die opdragte in die kommandeerbrief uitvoering gegee het, bestaan. Daar was wel 'klein' en 'groot' kommando's en, tussen 1774 en 1812, 'generale' kommando's, toe die weerbare manne van verskeie distrikte opgeroep is.(6)

Die Ontstaan van die Kommandostelsel

Die verversingspos aan die Kaap is op 6 April 1652 met net een doel voor oë gestig. Dit was om die VOC in staat te stel om sy sake meer winsgewend te bedryf, deur die voorsiening van vars voorrade aan sy handelsvloot. Die Here XVII was ook deurgaans bedag op 'n aanval op die Kaap deur veral Brittanje of Frankryk. Saam met Jan van Riebeeck het 'n garnisoen van aanvanklik 70 man na die Kaap gekom, maar hul getalle het deur die jare gewissel volgens die aard van 'n verwagte buitelandse bedreiging. As gevolg hiervan is van tyd tot tyd baie geld en energie aan vestingswerke bestee. Dit was ook van die begin af duidelik dat die voltydse garnisoen nooit groot genoeg sou wees om hierdie bedreiging doeltreffend af te weer nie. 'n Voltydse garnisoen is duur en daarom het die VOC sy magte met 'n stelsel van deeltydse militêre diens aangevul.(7) Hierdie oudste vorm van krygsdiens ter wêreld is reeds deur Abraham en Nehemia gebruik en is na meer as 300 jaar in Suid-Afrika nog nie uitgedien nie.(8)

Uit die oogpunt van die landsburgers het deeltydse militêre diens egter om 'n heel ander rede noodsaaklik geword. Die eerste Vryburgers het in 1657 hul plase ontvang. Botsende aansprake op dieselfe weidingsgebiede deur Vryburgers en die Khoikhoi-veeboere het reeds in van Riebeeck se tyd op konflik uitgeloop. Op 1 Mei 1659 het die Politieke Raad besluit om die weerbare burgers in te deel in 'n 'kompagnie schutters', georganiseer op 'n soortgelyke basis as die garnisoen. Die 'crijgsofficieren', een sersant en twee korporaals, sou jaarliks verkies word. Die eerste aanvoerder van die milisie was 'n oudlid van die Burgerraad, Steven Jansen, bygestaan deur die landbouer Harman Remagienne en die meulenaar Wouter Mostert.(9) Dit kan as die ontstaan van die Burgermag in Suid-Afrika beskou word.

Die waarde van gewapende perderuiters is reeds deur van Riebeeck besef. Die burgermilisie het gevolglik vroeg reeds uit 'n infanterie- en 'n kavalleriekorps (ook 'dragonders' genoem) bestaan, beide op 'n kompaniebasis georganiseer. Sake rakende die milisie is deur die Burgerkrygsrade behartig, wat gaandeweg in al die distrikte gestig is. Die range van die offisiere was in 1678: luitenant, vaandraer, sersant en korporaal. Volgens 'n besluit van die Burgerkrygsraad van Kaapstad in 1768 is die range in tabel 1 goedgekeur. Vir die kavallerie was dit soos volg: ritmeester, luitenant, kornet, wagmeester en korporaal. Vir die infanterie was dit weer: kaptein, luitenant, vaandrig, sersant en korporaal. Vir beide korpse is ook 'n aantal administratiewe poste goedgekeur. Die burgers moes self vir hul wapens voorsiening maak, asook perde in die geval van die kavallerie. Aanvanklik was militêre diens vrywillig, maar vanaf 1672 het dit verpligtend geword. Gereëlde krygsoefeninge het uit die staanspoor plaasgevind.(10)


Tabel 1

Tabel 1


In 1673 het 'n militêre mag bestaande uit Kompanjiesoldate, Vryburgers en Khoikhoi-meelopers teen Gonnema, 'n Khoikhoi-opperhoof, opgetrek. Dit was 'n voorloper van die latere kommando's, wat 'n deurslaggewende rol in die geskiedenis van Suid-Afrika sou speel. Op daardie tydstip was dit egter nog regeringskommando's, wat 'n gemengde mag was, meesal onder aanvoering van 'n offisier van die garnisoen of 'n landdros. Die aanvoerder het sy instruksies van die goewerneur ontvang. In 1676 word die benaming 'commando' volgens Roux vir die eerste keer gebruik, toe 'n sterk mag teen die Sonquas optree. Hulle was 'n San-groep wat in die benedeloop van die Breërivier gewoon bet. Oor die datum van die eerste regeringskommando bestaan daar onsekerheid, dit kan tussen die jare 1670 en l676 wees.(11)

Met die verloop van tyd het die verdediging van die land meer en meer die taak van dié burgers geword wat die meeste aan aanvalle blootgestel is. In 1700 het 'n kommando onder bevel van die landdros met 30 burgers en 10 soldate opgetree. In 1712 was daar 'n kommando met 80 burgers en 50 soldate. Die regeringskommando's het egter nie aan hulle doel beantwoord nie. Omdat hulle met direkte regeringsgoedkeuring moes optree, was hulle reaksietye te lank en die aanvoerders was ook nie vertroud met plaaslike omstandighede nie. (12) 'n Kommando is in 1705 onder aanvoering van landdros Starrenburg van Stellenbosch deur goewerneur WA van der Stel na die omgewing van die huidige Mawer gestuur Hoewel dit eintlik 'n ekspedisie was om vee te ruil, het Starrenburg streng opdragte gehad aangaande die beskerming van sy manskappe.(13)

Na 1703 het die aantal blanke veeboere drasties toegeneem as gevolg van die oopstelling van die veeruilhandel en die toekenning van gratis weidingspermitte. Die trekboere het nou al meer in aanraking met die San-jagters gekom. Aan die begin van die agtiende eeu was slegs 'n klein deel van die Boland deur blankes bewoon. Dit was begrens deur die Hottentotsholland-, Drakenstein- en Obiquaberge in die Ooste, met gemeenskappe by Riebeeck-kasteel en Tulbagh. Ten tye van goewerneur van Plettenberg se reis in 1778, het die grense van die kolonie tot teen die Visrivier in die Ooste en die Hantam- en Nuweveldberge in die Noorde gestrek.(14) Grootskeepse verset van die Khoisan teen die veeboeruitbreiding het tot langdurige konflik gelei. Dit het die daarstelling en ontwikkeling van burgerkommando's as 'n eiesoortige vorm van verdediging tot gevolg gehad.(15) Die stelsel het uit nood ontstaan, aangesien die VOC nie 'n polisiemag gehad het nie en die trekboere gevolglik self na hul veiligheid moes omsien.

Groot meningsverskil heers vandag in Suid-Afrika, asook in ander lande, soos die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland, oor die aansprake van die koloniste en veral die 'onreg' wat die inheemse bevolkings aangedoen sou gewees het. Wanneer groepe mense met fundamentele kultuurverskille op dieselfde natuurlike hulpbronne aanspraak maak, is konflik 'n noodwendigheid. Hierdie kulturele verskille kan onder andere taal, sosiale stukture, sedelike norme en opvattings aangaande eiendomsreg insluit. Die oorsake van die konflik val buite die oogmerk van hierdie artikel. Die wyse waarop dit besleg word, sal bepaal word deur die lewens- en wêreldbeskouings van individuele lede van die betrokke partye. Dié groep wat sy beskikbare hulpbronne ten beste benut, sal op die lang duur in die mees voordelige posisie verkeer. Aan beide kante gaan dit uiteindelik om net één oorweging, naamlik die stryd om te oorleef.

Gedurende 1715 het daar grootskaalse aanvalle op die veeboere deur die San plaasgevind langs die Bergrivier en in die Land van Waveren. Op 3 Augustus van daardie jaar het Geertruy du Toit, die tweede vrou van heemraad Pierre Rousseau, woonagtig op die plaas 'L'arc d'Orleans' in Drakenstein, by die Kasteel opgedaag. Sy het teenoor goewerneur de Chavonnes oor die diefstal van haar trop skape en die moord op haar veewagter gekla. Sy het toestemming gevra vir haar bure om die boosdoeners agterna te jaag en die vee terug te bring. Skriftelike magtiging is verleen en dertig vrywilligers onder aanvoering van Hermanus Potgieter het die rowers agterna gesit, maar ongelukkig sonder sukses.(16) Die grondslag vir 'n suiwer burgerkommando was egter gelê.

Die aanvalle deur die San het verhewig en later in dieselfde jaar is 'n kommando bestaande uit dertig vrywilligers onder leiding van burgervaandrig S W van der Merwe en wagmeester J H Potgieter uitgestuur om die vee van Joost Bevernagie terug te kry. Hulle het streng opdragte ontvang en moes by hul terugkeer verslag doen aan die landdros van Stellenbosch.(17) Verdere strooptogte in 1728, 1731 en 1738 in die Piketberg en Bokkeveldomgewing het gelei tot klein kommando's, wat nog steeds uit vrywilligers bestaan het. In 1739, toe die stryd met die San weereens opgevlam het, het kommandodiens verpligtend geword. Ontwikkelings gedurende die VOC-tydperk

Met die snelle uitbreiding van die Kolonie gedurende die agtiende eeu, asook die feit dat die VOC op geen tydstip 'n polisiemag gehad het om orde te handhaaf nie, het die burgermilisie 'n verdere en betekenisvolle ontwikkeling ondergaan. Die Burgerkrygsraad van die Kaap het op 4 Julie 1740, na aanleiding van 'n voorstel deur luitenant Rudolf Siegfried Aalman, die president, besluit om 'een Veld-Corporaal onder het Caabse district' aan te stel. Sy opdrag was om alle wandade wat deur gedroste slawe gepleeg is, asook 'verdere onheijlen'. teen te gaan en te voorkom. Hy het magtiging ontvang om, indien nodig, manskappe op te roep om hom by te staan. As eerste bekleër van hierdie amp is die landbouer Burgert van Dijck aangestel, onderhewig aan bekragtiging deur goewerneur Hendrik Swellengrebel.(19) Hierdie aanstelling het nie 'n werklikheid geword nie en op 5 September 1740 is die burger Jan van Helsdingen in die pos aangestel.(20) So het die sogenoemde 'veldkorporaal' ontstaan, wat bestem was om onder ander benamings, 'n uiters belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika oor 'n eeu en 'n half te speel. Die feit dat hy spesifiek vir 'n distrik verantwoordelik was, verteenwoordig 'n radikale afwyking van die pligte van 'n gewone korporaal in die burgermilisie. Hiermee is die grondslag gelê vir gebiedsverantwoordelikhede vir kommando's, 'n gebruik wat met onderbrekings, tot vandag toe nog steeds voortbestaan.

In 1759 was daar ten minste vyf veldkorporaals(21) en teen 1774 was die hele kolonie verdeel in dertien distrikte, elkeen met sy eie veldkorporaal.(a) Hulle opdrag was om goed toesig in hul distrikte te hou, sodat alle 'disorder en samenrotting' van slawe verhinder en teengegaan kon word. Geoordeel aan die uitgestrektheid van die distrikte, het hierdie veldkorporaals 'n baie groter verantwoordelikbeid gehad as die gewone korporaal in die milisie. Die Burgerkrygsraad van Stellenbosch het dit gevolglik goed gevind om tydens 'n vergadering gehou op 28 Maart 1774 die hoër rang van wagmeester aan hulle toe te ken, om as aanmoediging te dien vir die getroue nakoming van hul pligte.(22) Dit was die kavallerie-ekwivalent van die rang van sersant, wat sinvol is, aangesien die kommando's berede was. Die veldkorporaals het ook volledige instruksies vir die uitvoering van hulle pligte ontvang, wat tydens 'n vergadering gehou op 19 April 1774 goedgekeur is. Voortaan sou hulle van die jaarlikse krygsoefeninge van die milisie vrygestel wees.(23)

Die Burgerkrygsraad van Stellenbosch het op 28 Desember 1773 'n brief van die inwoners van die Hantam en die Roggevelde oorweeg.(24) Die strooptogte gepleeg deur die San het sodanig toegeneem dat daar versoek is dat 'n kommando daarheen gestuur moes word. Daar is verder versoek dat die taak van aanvoering nie aan een van die veldkorporaals oorgelaat moes word nie, maar aan 'n 'veld commandant' wat vir hierdie doel oor hulle aangestel moes word. 'n Voorstel van die landdros is goedgekeur, waarvolgens die advies van die betrokke veldkorporaals ingewin moes word, voordat 'n finale besluit aangaande die aanstelling van 'een gesag hebbend officier' en die uitstuur van die kommando geneem sou word. Die veldkorporaals het opdrag ontvang om die vergadering van 28 Maart 1774 by te woon. Die Burgerkrygsraad van Stellenboscb het op daardie dag, na aanleiding van 'n voorstel van die landdros, eenparig besluit om Godlieb Rudolph Opperman, een van die veldkorporaals, aan te stel as 'veld commandant' oor die dertien distrikte met hulle veldkorporaals. Die volgende hoër kavallerierang van 'kornet' is aan hom toegeken. Al die besluite van die Burgerkrygsraad was egter onderhewig aan bekragtiging deur die goewerneur en die Politieke Raad. Die nuutaangestelde kommandant het tydens 'n vergadering van die Burgerkrygsraad van Stellenbosch gebou op 7 Mei 1774, skriftelike instruksies in verband met die uitvoering van sy pligte ontvang, wat deur goewerneur van Plettenberg goedgekeur is.(26)

Later in 1774 trek 'n algemene of 'generale' kommando van 150 burgers en 150 Khoisan-meelopers onder aanvoering van Opperman teen die San-jagters op. Hy het opdrag gehad om een derde van die dienspligtige burgers tuis te laat bly, sodat die platteland nie weerloos agtergelaat sou word nie. In die afwesigheid van die veldkorporaals word 'n 'provisionele' veldkorporaal in elke distrik oor die agtergeblewe burgers aangestel.(27) Die notule van die Burgerkrygsraad van Stellenbosch maak tot op 2 April 1776 deurgaans melding van veldkorporaals, in die hoedanigheid van gesagvoerders in hul onderskeie distrikte, ten spyte daarvan dat hul reeds in 1774 die rang van wagmeester ontvang het.(28) Vanaf 7 Mei 1776 en daarna word daar egter deurgaans en na sommige van dieselfde individue verwys as 'veldwagmeester'.(29) Tydens die vergadering van 4 Junie 1776 word daar op voorstel van vier veldwagmeesters, 'n veldkorporaal onder elkeen, aangestel.(30) Die oorspronklike veldkorporaal het dus 'veldwagmeester' geword en die provisionele veldkorporaal op sy beurt 'veldkorporaal'. (Sien tabel 2). Die veldkorporaal is, soos tevore, as die gelyke van die korporaal in die burgermilisie beskou.(31)

Vanaf 1770 het die konflik met die Khoisan verskerp, veral in die omgewing van die Nuweveld- en Sneeuberge. Dit sou tot aan die begin van die negentiende eeu voortduur. Teen 1778 het die trekboere en die Xhosa aan die Oosgrens teen mekaar te staan gekom in die eerste van 'n reeks grensoorloë wat, met onderbrekings, vir 'n eeu sou aanhou. Dit moet in ag geneem word dat die grens op daardie tydstip 'oop' was. Die historikus Gilomee definieer sodanige grens as een waar twee of meer etniese gemeenskappe naas mekaar met botsende aansprake op die grond bestaan. Geen gesag van die ander word deur enige van die partye as bindend beskou nie en geen party is in staat om onbetwiste beheer oor die betrokke gebied uit te oefen nie.(32) Dit was die situasie aan die Oosgrens na 1778, waar die VOC onwillig en onmagtig was om orde te bandhaaf. In bierdie omstandigbede, waar wit en swart met begerige oë na mekaar se weiveld en vee gekyk het, het langdurige vrede 'n droom gebly.

Die konflik het, net soos vandag, groot eise aan die offisiere van die deeltydse mag gestel. Dit moet verder in ag geneem word dat burgers wat op kommando uittrek, normaalweg geen vergoeding ontvang het nie. Gebuite beeste is wel in sommige gevalle onder lede van die kommando's verdeel. Sommige van hierdie offisiere was so dikwels in die veld, dat hulle persoonlike bedrywighede skade gelei het. Een so 'n persoon was Opperman, wat op 6 Oktober 1777 by die Heemraad van Stellenbosch aansoek gedoen het om die amp van veldkommandant neer te lê. Die volgende dag het die Burgerkrygsraad op voorstel van die landdros dit goedgevind om die goewerneur te versoek om hom eervol te ontslaan, maar om die besluit aangaande 'n opvolger uit te stel. Dit is gedoen omdat 'n landmeter op daardie tydstip besig was om die veraf geleë gebiede op te meet en 'n kommissie van heemrade daarby betrokke was. Hierdie kommissie moes die Burgerkrygsraad adviseer aangaande die aanstelling van 'n ander veldkommandant.(33) In 'n brief van goewerneur van Plettenberg aan beide die Heemraad en die Krygsraad van Stellenbosch, wat deur laasgenoemde op 6 Februarie 1778 behandel is, word dit goedgekeur dat veldkommandant Opperman uit sy pos ontslaan word, met behoud van die rang van kornet. Die goewerneur het ook die aanbeveling aanvaar om 'n besluit aangaande die aanstelling van 'n plaasvervanger uit te stel.(34)

As gevolg van die uitgestrektheid van die land en die bedreiging deur die Khoisan in die Noorde en die Xhosa in die Ooste, het 'n gekombineerde vergadering van die Heemraad en die Burgerkrygsraad van Stellenbosch op 10 Oktober 1780 in beginsel besluit om meer as een veldkommandant aan te stel. Dit is verder goed- gevind om vir elke veldkommandant ook 'n onderkommandant aan te stel, om hom by te staan en in sy plek waar te neem in geval van afwesigheid en siekte. Aan die bekleërs van beide ampte sou gepaste range in die burgermilisie toegeken word.(35) As kommandant in die Ooste is Adriaan van Jaarsveld benoem en in die Noorde Charl Marais, beide met die rang van luitenant. Die onderkommandant in die Ooste sou David Schalk van der Merwe wees en in die Noorde David de Villiers, albei met die rang van kornet.(36) Die poste van kommandant en onderkommandant is soms ook 'eerste' en 'tweede' kommandante onderskeidelik genoem. (37)

Die aanvoerders van die kommando's het derhalwe as gevolg van hulle toenemende verantwoordelikhede hoër range bereik. Hierdie aanstellings is op 24 Oktober 1780 deur goewerneur van Plettenberg bekragtig en die ampsbekleërs het breedvoerige instruksies in verband met die uitvoering van hulle pligte ontvang.(38) Die bestaande wyke met hulle veldwagmeesters en veldkorporaals is onder die twee kommandante verdeel. Omstreeks 1789 het die rang verbonde aan die pos van kommandant klaarblyklik 'n verdere verhoging ondergaan, aangesien kaptein D W Kuehne as veldkommandant van Graaff-Reinet tydens die Tweede Grensoorlog (1789-1793) opgetree het.(39) Net voor die eerste Britse besetting, word daar ook na Adriaan van Jaarsveld as 'kaptein' verwys.(40) In 1798 is daar vir die distrik van Graaff-Reinet alleen, vier veldkommandante aangestel, elk met die infanterierang van kaptein.(41) Dit moet in aggeneem word dat die Kolonie op daardie tydstip in slegs vier distrikte ingedeel is en dat die konflik met die Kboisan en die Xhosa hoofsaaklik tot die uitgebreide distrik van Graaff-Reinet beperk was. (42)

Die veldwagmeesters het ook in 1780 nuwe instruksies ontvang. Dit is belangrik om daarop te let dat die amp van toe af beide siviele en militêre verpligtinge gehad het. In sy verhandeling toon die historikus van Jaarsveld uitvoerig aan hoedat hierdie twee aspekte langs verskillende weë ontwikkel het. Die siviele deel het ontwikkel uit die pos van 'veldwagter', wat 'n amptenaar van die VOC sedert 1685 was en as 'n geregsdienaar beskou kan word. Daar was ses van hulle in elke distrik. Die pos staan vanaf 1765 as 'ordonantie ruyter' bekend. Die pos van 'veldwagter' is deur verskeie skrywers met die militêre amp van 'veldwagmeester' verwar.(43)

Die kommando's het dus teen die einde van die VOC tydperk 'n standaardvorm bereik, wat in wese nie veel verskil het van die negentiende eeu se weergawe nie. Die veldwagmeester, bygestaan deur die veldkorporaal, was verantwoordelik vir sy wyk en vir die reël van 'klein' kommando's. Die kommandant, bygestaan deur die onderkommandant, was verantwoordelik vir 'n distrik of 'n deel daarvan, asook vir die aanvoering van 'groot' kommando's.(44) Die kommando's, wat aanvanklik as 'n gedeelte van die verpligtinge van die burgermilisie ontstaan het, het derhalwe in 'n afsonderlike stelsel ontwikkel, met 'n gebiedsverantwoordelikheid, wat parallel met die burgermilisie bly voortbestaan het en wat deur dieselfde Burgerkrygsrade beheer is. Dit is om hierdie rede en aangesien die burgermilisie en die kommando's op dieselfde manskappe aanspraak kon maak, dat dit nodig was dat daar op daardie tydstip nog range van die burgermilisie gekoppel was aan die poste van veldkommandant en onderkommandant. (Sien tabel 1).

In die praktyk is die kommando-ampte toenemend as range gebruik. Die notule van die Burgerkrygsraad van Stellenboscb verwys deurgaans na 'den Veld Commandant Opperman'. Alboewel hy self sy rapporte as 'veldcommandant en cornet'onderteken het, het sy rang van kornet net by sy aanstelling en uittrede as kommandant ter sprake gekom en is dit duidelik dat eersgenoemde in hoofsaak 'n beskermende rang ten opsigte van die burgermilisie was. (45) Daar is ook talryke verwysings na byvoorbeeld 'den VeldCorporaal Hendrik Olivier' of 'den Veldwagtmeester Willem Steenkamp'.(46) Verder kom die range van luitenant en kaptein wat later aan veldkommandante toegeken is, in amptelike stukke voor en is nie tiperend van die gebruik in die volksmond nie. (47) Hiervan moet nie afgelei word dat die statusverskille tussen range nie vir die samelewing van destyds van belang was nie. Die teendeel is eerder waar. Valentyn meld in 1726 dat 'n vaandrig in diens van die VOC die ekwivalente rang van 'n burgerkaptein gehad het.(48) Dit het tot sodanige ontevredenbeid aanleiding gegee, dat 'n burgermemorie in 1779 die VOC versoek het om die range gelyk te stel.(49) Alles in ag genome, is dit duidelik dat die kommandostelsel besig was om sy eie rangstruktuur te ontwikkel en dat die volksmond 'n groot rol in die proses gespeel het.

Veranderings onder die Bataafse en Britse Bewind

Die Britse besetting van die Kaap in 1795, aan die begin van die Napoleontiese oorloë, was hoofsaaklik daarop gerig om Frankryk te verhoed om dieselfde te doen. Aangesien die nuwe bewindhebbers aanvaar het dat hulle teenwoordigheid slegs tydelik sou wees, het hulle in vele opsigte die bestaande situasie probeer handhaaf. Aan die Oosgrens het hulle 'n ongemaklike erfenis van hulle voorgangers ontvang; die spanning tussen die grensboere en die Xhosa het breekpunt bereik. Gedurende die laaste maande van die VOC-bewind het die burgers van Graaff-Reinet en Swellendam hul eie republieke uitgeroep. Die opstandige koloniste is weldra deur die Britse onder bedwang gebring. Die Xhosa het egter deurgaans die onvermoë van die regering om orde te handhaaf, tot hul eie voordeel aangewend. Hulle het reeds onder die VOC-bewind gewoond geraak aan 'n weifelende beleid wat gewissel het tussen die beperkte toepassing van mag en pogings om vrede te koop en het hul gevolglik min aan die Visrivier as grens gesteur. Onder hierdie omstandighede het die kommandostelsel teen wil en dank behoue gebly en word dit tydens die Derde Grensoorlog (1799-1803) deeglik op die proef gestel.(50)

Vanaf ongeveer 1770 het verskeie reisigers die Suiderafrika van destyds deurkruis en hul ervarings geboekstaaf. Sommige, soos Lichtenstein en Napier, het 'n gunstige verhaal van die koloniste vertel. Ander, soos Sparrman, Barrow en later Philip, het die saak van die inboorlinge met oorgawe bepleit. Sendelinge, soos Read en van der Ke mp, het voorleggings aan Britse parlementˆre gekose komitees gedoen. Hierdie filantrope het geen goeie woord vir die koloniste of hulle kommando's gehad nie. In Europa was dit die Eeu van Verligting. Die Franse Revolusie was pas afgeloop en die idees van Rousseau het wyd inslag gevind. Opeenvolgende Britse regerings, tydens beide besettings, was terdeë van die opvattings en invloed van die filantrope bewus, asook van die politieke implikasies indien dit sou voorkom asof hulle die koloniste steun. Die kommandostelsel is teësinnig behou, maar het 'n nuwe fase in sy ontwikkeling ervaar. Burgerkommando's sou, vir die Derde Grensoorlog, weer onder aanvoering van hul eie offisiere optree. Om die filantrope en ander kwelgeeste tevrede te hou, sou Britse beroepsoffisiere en die landdros voortaan die kommando's vergesel.(51)

Tydens die eerste Britse bewind is die benaming 'veldwagmeester' gaandeweg vervang deur 'veldkornet'. Na die verhogings in die range verbonde aan die poste van kommandant en onderkommandant, gebruik die veldwagmeesters van Graaff-Reinet gedurende 1798 in verskeie gevalle die titel 'kornet', in kombinasies soos 'Cornet en Veldwagtmeester', 'Cornet Veldwagtmeester' en uiteindelik 'Veld Cornet'. Volgens van Jaarsveld het 'veldkornet' dus ontstaan uit 'n sametrekking van die amp van 'veldwagmeester' en die rang van 'kornet'. (Sien tabel 1)(b) Daar is nie amptelike goedkeuring hiervoor gegee nie en dit wil voorkom asof dit eenvoudig deur die onafhanklike en republikeinsgesinde offisiere van Graaff-Reinet en Swellendam ingevoer is. Dit is in die volksmond aanvaar en later ook deur die Britse owerhede. Daar heers in die literatuur van hierdie tydperk groot verwarring aangaande die ampte van veldwagmeester en veldkornet, waarskynlik juis omdat laasgenoemde nie amptelik ingestel was nie.(52)

In die joernaal van Paravicini di Capelli, geskryf in 1803, verwys die skrywer in 'n paragraaf oor die kommandostelsel, na veldwagmeester sowel as veldkornet.(53) Di Capelli was 'n kaptein in die artillerie van die Bataafse Republiek en die aide de camp van generaal J W Janssens, goewerneur van die Kaap van 1803 tot 1806. As 'n beroepsoffisier kan daar verwag word dat hy 'n groter aanvoeling vir range sou hê as ander skrywers. Na 1803 word daar in reisbeskrywings nie meer melding van veldwagmeesters gemaak nie, maar slegs van veldkornette. Uit talle verwysings is dit ook duidelik dat die titel sedert vroeg in die negentiende eeu beide as amp en as aanspreekvorm gebruik is.(54) Di Capelli maak glad nie melding van die rang van veldkorporaal nie. Die benaming 'veldkorporaal' het waarskynlik tydens die eerste Bribe bewind in onbruik geraak, om later as 'provisionele veldkornet'(53) of as 'assistent-veldkornet' te herleef.(56)

Die Bataafse tydperk is gekenmerk deur die hervormings op feitlik alle lewensterreine wat deur kommissaris-generaal J A Uitenhage de Mist deurgevoer is. Vergesel van onder andere Henry Lichtenstein, het hy 'n uitgebreide reis deur die binneland in 1803 onderneem, waartydens hy persoonlik kennis gemaak het met die werk wat deur die veldkornette verrig is. Hy was beindruk met die rol wat hierdie ampsdraers in veral die afgeleë dele vervul het. In 1805 het hy sy 'Instructie voor de Veldkornets in die Respective Buiten-Districten' uitgevaardig. Hierdie instruksies het voorsiening gemaak vir die siviele sowel as die militêre aspekte van die amp. Normaalweg het die veldkornet opgetree as vrederegter, en as aanvoerder van sy wyk in oorlogstyd. Die grootte van die wyke is beperk deurdat die verste afstand tussen twee inwoners van 'n wyk nie meer as ses uur te perd sou wees nie.(c) Die ampsbekleër het nie vergoeding ontvang nie, maar is van alle belastings vrygestel. Op hierdie wyse het de Mist amptelike goedkeuring aan die pos van veldkornet gegee. Sy instruksies was bestem om vir die res van die eeu 'n riglyn te wees vir die amp, in die Britse kolonies asook in die Boere-republieke.(57)

Dit is opvallend dat die veldkornet en sy voorgangers meesal 'n heelwat meer prominente rol gespeel het as die kommandant. Dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word. Die konflik teen die Khoisan en selfs teen die Xhosa was die meeste van die tyd van 'n lae intensiteit, die blanke bevolkingsdigtheid was laag, afstande was groot en die kommunikasieprobleme enorm. Die ampsdraer wat die naaste was aan die plek waar 'n insident plaasgevind het en wat die besluite dan en daar moes neem, was die veldkornet. Wanneer daar egter 'n grootskaalse inval was of 'n kommando bestaande uit die burgers van verskeie wyke teen die vyand moes optrek, was die situasie anders en het die kommandant beheer aanvaar.(58) Nadat 'n kommando uitgetrek het, was dit dikwels nodig om maatreëls te tref vir die veiligheid van die vroue en kinders wat agtergebly het. In die afwesigheid van die veldkornet is 'n 'provisionele' veldkornet aangestel, wat die belange van die wyk moes behartig. Dit was soms vir hierdie provisionele veldkornette, wat later assistent-veldkornette geword het, moeilik om hul gesag te handhaaf, omdat van hul medeburgers hulle nie as sodanig wou erken nie.(59) Selfs veldkornette bet hierdie probleem ervaar.(60)

Met die tweede Britse besetting van die Kaap is die bestaande situasie weereens grotendeels gehandhaaf. Teen 1812 het goewerneur Cradock egter politieke en militêre veranderings teweeggebring wat die situasie aan die Oosgrens radikaal verander het. Die Suurveldgrens, wat vir meer as veertigjaar 'oop' was, is 'toe' gemaak.(61) Dit het hy bewerkstellig deur die plasing van 'n garnisoen wat 'n stelsel van forte al langs die grens beman het. Soos die Hollanders voor hulle, het ook die Engelse gevind dat 'n garnisoen selde groot genoeg was. Daar moes dus weereens teruggeval word op die nou al beproefde kommandostelsel. Die kommando's sou egter onder die opperbevel van 'n voltydse Britse offisier, wat volgens 'n proklamasie van 1812 oor alle burgerkommando's aan die grens aangestel is, dien.(62)

Opeenvolgende regerings in Brittanje het die Kaapkolonie tot voordeel van die moederland bestuur. Aan die een kant is 'n streng wakende oog oor uitgawes gehou en aan die ander kant het die openbare mening swaar geweeg. Laasgenoemde is sterk beinvloed deur die filantrope. Onder hierdie omstandighede is daar geen twyfel dat die kommandostelsel reeds vroeg in die negentiende eeu afgeskaf sou gewees het, indien die probleme met die Xhosa op 'n ander wyse opgelos kon word. Tussen die tweede Britse besetting en die Groot Trek het drie grensoorloë plaasgevind. Verskeie Britse goewerneurs, soos Cradock en Somerset, het 'n hoë opinie van die kommando's gehuldig en het dit nodig geag om daarvan gebruik te maak tydens die Vierde en Vyfde Grensoorloë. Na afloop van elke oorlog het politieke druk egter tot 'n beleid van vrede ten alle koste gelei. Hewige protes teen die beweerde optrede van die kommando's het streng beperkings op hul aanwending tot gevoig gehad. In 1833 het die verwerping van Cole se herinstelling van MacCartney se kommandowette van 1797 tot sy bedanking as goewerneur gelei, asook tot die afskaffing van die kommandostelsel in 1834.(63) Ironies genoeg, moes die kommando's later in dieselfde jaar weereens opgeroep word vir diens tydens die Sesde Grensoorlog. Roux is van mening dat die afskaffing van die kommandostelsel, saam met die pogings van D'Urban om die burgers tot diens in 'n ge-uniformde milisie te verplig, een van die belangrikste oorsake van die Groot Trek was.(64)

Die verhouding tussen die Britse beroepsoldate en die burgers was nie altyd van die beste nie. Baie van die Engelse soldate was veterane van die Napoleontiese oorloë, met jare militêre ondervinding teen 'n Europese vyand. Hulle begrip van dissipline was iets heel anders as die van die vryheidsliewende burgers. So was hul siening van dringendheid; vir hulle was militêre diens 'n lewenswyse en 'n veldtog duur solank as wat dit nodig was. Vir die burgers het dit beteken dat hulle persoonlike belange al meer verwaarloos word, hoe langer 'n veldtog duur. Die Britse soldate, die meeste infanteriste, het soms op die burgers neergesien, ten spyte daarvan dat laasgenoemdes hul meerderes was sover dit kennis van die vyand, veldkuns, perdry en bedrewenheid met skiet betref. Die kommando's en hul offisiere het wel by meer as een geleentheid groot respek afgedwing. So was kmdt van Wyk tydens die Sesde Grensoorlog in bevel van een van die vier afdelings van kol Harry Smith se mag op die grens; die ander drie was onder twee Britse luitenant-kolonels en 'n majoor.(65) Sowat 1 500 kommandolede het aan hierdie veldtog deelgeneem en waardevolle dienste verrig. Toe die Britse veldtogmedalje vir die Sesde, Sewende en Agste Grensoorloë in 1854 uitgereik is, was daar egter nie medaljes vir lede van die kommando's nie.(d,66)


Tabel 2

Tabel 2


Dit is onder hierdie omstandighede verstaanbaar dat die burgermilisie range van kaptein en luitenant tydens die tweede Britse besetting nie meer met die poste van kommandant en onderkommandant geassosieer is nie. Dit wil voorkom asof die gebruik reeds in die Bataafse tydperk verval het, aangesien n6g Lichtenstein n6g di Capelli daarna verwys. Die Britse militˆre owerhede sou nie toelaat dat hul offisiersrange deur 'burgerlikes' gebruik word nie. Piet Retief was een van twee onderkommandante wat die Stellenbosch-Kommando in 1812 na die Oosgrens vergesel het.(67) Franken verwys ook nie na milisierange in sy beskrywing van hierdie kommando nie. Verder praat vaandrig Thavoine van die 'Cape Corps'(e) in 1822 van veldkommandant Piet Retief as 'Mr Ratiffe'.(68) In 'n brief in 1836 van Stockenstrom aan goewerneur D'Urban in verband met Retief se ontslag as veldkommandant, word verskeie kere verwys na 'Mr Retief.'(60)

Die natuurlike ontwikkeling om kommando-ampte as range te gebruik en waarmee daar tydens die VOC-tydperk begin is, het gevolglik voortgegaan. Di Capelli verwys in sy joernaal op verskeie plekke na 'veldkornet' en 'kommandant', beide as aanstelling en aanspreekvorm.(70) Dit word ook later deur die Engelse gebruik, soos in 'n verslag van kapt Jarvis, die 'commissary to the Burgher Force', waar hy in 1836 na 'Commandant Retief' verwys. In 'n brief in 1835 van lt-kol Somerset aan die goeweneur verwys die skrywer na 'Komt Piet Erasmus'.(71) Dit is opvallend dat reeds tydens die VOC-tydperk, die terme 'veldkommandant' en 'kommandant' aanvanklik as sinonieme gebruik word, maar dat 'veldkommandant' gaandeweg in onbruik verval. As gevolg van die gebruik van kommandoposte as range, het die onderskeid tussen range en poste toenemend vervaag, sodat die terme veldkornet en kommandant in die Boererepublieke deurgaans beide as amp en as aanspreekvorm gebruik is.(f) Die amp van onderkommandant moes vroeg tydens die tweede Britse bewind in onbruik geraak het, aangesien daar in 1812 nie daarna verwys word nie. Die amp van 'provisionele' veldkommandant is later in oorlogstyd as 'n noodmaatreël gebruik.(72)

Aantekeninge

a. Die dertien distrikte is soos volg beskryf: (22)
1. in 't Camdebo, 'tveld
2. op den Sneeuwberg
3. onder langs den Sneeuwberg
4. in 't Nieuweveld agter de Coup
5. in 't Bokkeveld agter den Witsenberg
6. agter de Hexerivier
7. in 't klijne Roggeveld
8. in 't middelste Roggeveld
9. in 't Bokkeveld over de Doornrivier en den Hantam
10. in 't grote Roggeveld
11. onder aan d' Oliphantsrivier
12. agter de Piquetbergen
13. aan d' Oliphantsrivier over de Piqueniers Cloof.
b. Daar bestaan 'n alternatiewe verklaring vir die oorsprong van die benaming 'veldkornet'. Volgens Roux het dit uit 'n sametrekking van die amp van 'veldkommandant'(45) of 'onderveldkommandant'(73) en die rang van 'kornet' onstaan. Hierdie verklaring kan verduidelik waarom di Capelli(53) 'veldwagmeesters' sowel as 'veldkornette' opgeteken het, asook hoe die pos van 'onderkommandant' in onbruik verval het. Van Jaarsveld het die saak grondig ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat Roux se verklaring verkeerd is.(74)
c. Ongeveer 60 km.
d. '(Medal for) South Africa Campaigns (1834-1853)', ook bekend as 'The South Africa Medal, 1834-1853'.(66)
e. Cape Corps of Infantry and Cavalry. (75)
f. In die Republiek van die Oranje-Vrystaat is die benaming 'veldkommandant' deurgaans in amptelike stukke gebruik.

Verwysings

1. F. A. van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870' (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria) in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, p 193; O L Perry, Rank and Badges (William Clowes and Sons Ltd, London, 1887), p 82; R M Barnes, A history of the Regiments and Uniforms of the British Army (Sphere Books Ltd, London, no date), p 22.
2. The Compact Edition of the Oxford English Dictionary (Oxford University Press, 1971), p 477.
3. J Brandt und E Bruecker; Der Diensunterricht im Heere, Der Reibert 1 (Verlag E S Mittler & Sohn, Frankfurt am Main, 1959), p96.
4. The Compact Edition of the Oxford English Dictionary (Oxford University Press, 1971), p1127.
5. H C Hillegas, With the Boer Forces (Methuen & Co., London, 1900), p92; Wet no.5, 1900, 4 September 1900, (ZAR).
6. P E Roux, Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 51, 209.
7. P E Roux, Die Verdedingingstelsel aan die Kaap onder die Hollands Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 49.
8. Die Bybel, Genesis 14:14,15 en Nehemia 4:16-18.
9. D B Bosman en H B Thom, Daghregister houden by den oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck, Deel III (1659-1662), uitgawe van die van Riebeeck-vereniging (A A Balkema, Kaapstad, 1957), p 34.
10. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 52, 53.
11. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 141-143.
12. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 143.
13. F Valentyn, Beschryvinge van die Kaap der Goede Hoope met de saaken daar toe behoorende (Amsterdam, 1726, heruitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, Tweede Reeks No 4, Deel II, Kaapstad, 1973), p 10.
14. E Stockenstrom, Historiese Atlas van Suid-Afrika (Pro Ecclesia Drukkery, Stellenbosch, 1928), kaart No 12 en kaart No 17(1).
15. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 139.
16. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p147.
17. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 148.
18. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 150.
19. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notulen der Krijgsraad' (Cabo) ,BKR, Vol 1, 4 Julie 1740.
20. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notulen der Krijgsraad' (Cabo), BKR, Vol 1, 5 September 1740.
21. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notulen der Erijgsraad' (Cabo), BKR, Vol 1, 25 September 1759 en 7 November 1759.
22. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 28 Maart 1774.
23. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p155.
24. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p 153.
25. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 28 Desember 1773.
26. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', l/STB, Vol 13/8, 7 Mei 1774.
27. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliscerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 158, 165.
28. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 2 April 1776.
29. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 7 Mei 1776.
30. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van dir Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 4 Junie 1776.
31. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), p166.
32. T Cameron en S B Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld (Human en Rousseau, Kaapstad, 1986), p 72.
33. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/9, 7 Oktober 1777.
34. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/9, 6 Februarie 1778.
35. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/9, 10 Oktober 1780.
36. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/9, 14 November 1780.
37. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 173, 174.
38. P J van der Merwe, Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) (Nasionale Pers Bpk, Kaapstad, 1938), p 283; P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 172-174.
39. P J van der Merwe, Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) (Nasionale Pers Bpk, Kaapstad, 1938), voetnotas pp 296, 298.
40. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, voetnota p 199.
41. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), voetnota p 174.
42. E Stockenstrom, Historiese Atlas van Suid-Afriko (Pro Ecclesia Drukkery, Stellenbosch, 1928), kaart No 12 en kaart No 17(1).
43. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en Sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Univeniteit van Pretoria), gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, voetnotas p 198.
44. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), pp 173-175.
45. P E Roux, Die Verdedigingstelsel aan die Kaap onder die Hollands-Oos Indiese Kompanjie (1652-1795), (gepubliseerde MA-verhandeling, 1925, Universiteit van Stellenbosch), voetnota p 175; Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 28 Maart 1774; Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/9, 6 Februarie 1778.
46. Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 2 April 1776; Kaapse Argiefbewaarplek, 'Notule van die Krygsraad van Stellenbosch', 1/STB, Vol 13/8, 7 Mei 1776.
47. J D Vorster, 'Burgeroffisiere in Suid-Afriks', in Historiese Studies, Jaargang 1, No 2, Oktober 1939, voetnota p42.
48. F Valentyn, Beschryvinge van die Kaap der Goede Hoope met de zaaken daar toe behoorende (Amsterdam, 1726, heruitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, Tweede Reeks No 4, Deel II, Kaapstad, 1973), p214.
49. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, voetnotas p 199.
50. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif. 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 167-170.
51. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 174,345.
52. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en Sr aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, p 200, voetnota p 201.
53. W B E Paravicini di Capelli, Reize in de Binnen-Landen van Zuid-Africa, (1803, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 46, Kaapstad, 1965), p 22.
54. W B E Paravicini di Capelli, Reize in de Binnen-Landen van Zuid-Africa, (1803, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 46, Kaapstad, 1965), pp 192-195; H Lichtenstein, Travels in Southern Africa, 1803, 1804, 1805 en 1806 (London, 1812, heruitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 10, Deel 1, Kaapstad, 1928), p 469; F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, voetnota p201.
55. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 258,301; J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), pp 290-293.
56. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif. 1946, Universiteit van Stellenbosch), p 195.
57. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikanse Geskiedenis (1950), deel II, p 202.
58. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), p 56.
59. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878),' (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), p 259.
60. H Lichtenstein, Travels in Southern Africa, 1803, 1804, 1805 en 1806 (London, 1812, heruitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 11, Deel II, Kaapstad 1930), pp 216-218.
61. T Cameron en S B Spies, Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld (Human en Rousseau, Kaapstad, 1986), p 80; P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 210-212.
62. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), p349.
63. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 284-289.
64. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), pp 326, 336.
65. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhiI-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), p296.
66. L L Gordon, British Battles and Medals (Spink & Son Ltd, London, Vierde Uitgawe, 1971), hersien deur E C Joslin, p 158.
67. J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), p 52.
68. J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), p 148.
69. J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), pp 419,420, 421.
70. W B E Paravicini di Capelli, Reize in de Binnen-Landen van Zuid-Africa (1803, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging, No 46, Kaapstad, 1965), pp 92, 95, 190, 192.
71. J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), notas p513.
72. J D Vorster, 'Die Verdedigingstelsel van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1864', (ongepubliseerde MA-verhandeling, 1939, Universiteit van Pretoria), p 56;J L M Franken, Piet Retief se Lewe in die Kolonie (HAUM, Kaapstad en J H de Bussy, Pretoria, 1949), pp 321, 322.
73. P E Roux, 'Die Geskiedenis van die Burgerkommando's in die Kaapkolonie (1652-1878)', (ongepubliseerde DPhil-proefskrif, 1946, Universiteit van Stellenbosch), p 191.
74. F A van Jaarsveld, 'Die Veldkornet en sy aandeel in die opbou van die Suid-Afrikaanse Republiek tot 1870', (MA-verhandeling, 1946, Universiteit van Pretoria), gepubliseer in die Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1950), deel II, voetnotas pp 200, 201.
75. J de Villiers, 'Die Cape Regiment 1806 - 1817', (D Litt et Phil-proefskrif, 1983, Universiteit van Suid-Afrika), gepubliseer in Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis (1989), deel I pp 220, 221.

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org