The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 9 No 1 - Junie 1992

(incorporating Museum Review)

KOMMANDANT MARIE GEORGE DEMANGE, FRANSE MILITêRE ATTACHé IN SUID-AFRIKA, FEBRUARIE-JUNIE 1900

deur C de Jong

Inleiding
Westerse moondhede het sedert die Napoleontiese oorloë die gebruik gevolg om neutrale regerings offisiere as waarnemers na oorlogvoerende leërs te stuur. Hierdie waarnemers is militêre attachés genoem en het diplomatieke status geniet. Omdat daar van hulle verwag is om hulle waarnemings en menings aan hulle generale stawwe oor te dra, is voorkeur aan middeljarige offisiere met goeie diensstate, krygservaring, taalkennis en vaardigheid in verslaggewing gegee.(1)

Die Spaanise-Amerikaanse en Anglo-Boereoorloë wat onderskeidelik in 1899 uitgebreek het, was die eerste oorloë tussen Westerse moondhede sedert die Frans-Duitse oorlog van 1870-1871. Beide hierdie oorloë het om dié rede die aandag van neutrale regerings getrek en verskeie het militêre attachés na die onderskeie krygstonele gestuur. Tussen 1870 en 1900 is talle nuwe wapens ontwikkel wat nog getoets moes word. Van nuwe taktieke was daar egter nog min sprake. Veral die opspraakwekkende neerlae wat die sterk wêreldmoondheid, Groot-Brittanje, aanvanklik teen die eenvoudige Boerevolksleër of milisie tydens die oorlog in Suid-Afrika gely het, het die aandag van neutrale moondhede getrek. Na die Britse neerlae tydens die Black Week (Swart Week) in Desember 1899, is verskeie attachés na Suid-Afrika gestuur om toe te kyk hoe die onopgeleide, swak gedissiplineerde Boerekommando's die Britse leër verslaan. Nie minder nie as elf militêre attachés het by die Britse leër aangesluit terwyl nege attachés hulle by die Boerekommando's geskaar het.

Een van die attachés aan die Britse kant, die Fransman majoor Albert Gèrard Lèo d'Amade (1856-1941), was 'n ervare militaris met 'n uitstekende diensstaat. Hy was offisier in die Franse koloniale oorloë in Tunisië in 1881-1882 en in Tonkin in Agter-Indië in 1886-1887. Hy was ook lid van generaal Munier se staf en in 1886 word hy lid van die bekende Tweede Buro, die inligtingsafdeling van die Franse leër in Parys. Die Franse generale staf (GS) het derhalwe nie gehuiwer om hom as militêre attaché na die Britse leër in Suid-Afrika te stuur nie. Na sy vertrek aan die einde van Junie 1900 het hy met sy aanstelling as militêre attaché in Londen in 1901 sy militêre loopbaan voortgesit. In 1908-1909 is hy as bevelhebber van die Franse ekspedisieleêr na Marokko gestuur waarna hy tot divisiegeneraal bevorder is. As generaal het hy 'n belangrike werk in die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) verrig. D'Amade het in 1919 afgetree.(2)

Loopbaan van Demange
Die Franse GS het Marie Georges Demange, 'n bekwame offisier maar met 'n geringer diensstaat as dié van d'Amade, na die boereleër gestuur. Marie Georges Demange, die seun van Catharine Adèle Mathelin en Jean Baptiste Demange, is op 9 Februarie 1860 te Cenville aan die rivier Meurthe, Lotharinge, gebore. Die beroepe van sy vader en grootvaders is nie bekend nie. In 1880-1882 het Demange in die Politegniese skool, 'n hoog aangeskrewe universitêre inrigting in Parys, gestudeer. Tussen 1882 en 1885 studeer hy aan die militêre akademie vir artillerie en genie.

In 1886 tree hy in die huwelik met die weduwee Jeanne Louise Hestineé Colomb.(3) Dit is nie bekend of enige kinders uit die huwelik gebore is nie. Demange het ook in die Hoëre Krygskool gestudeer waar hy in 1891 met die vermelding très bien (baie goed) sy studie voltooi het. Demange het 'n beroepsoldaat in die Franseleër geword waar hy as offisier in die 25ste, 30ste en 34ste artillerieregimente gedien het. Op 27 Februarie 1891 is hy tot die rang van kaptein bevorder. Hierdie talentvolle leëroffisier is op 11 November 1891 by die GS aangestel en op 24 Maart 1896 tot die Derde Buro van die GS bevorder. Op 26 Julie 1898 is Demange as ordonnansoffisier van die hoof van die GS benoem.

Attaché in Suid-Afrika
Na die Britse neerlae in Suid-Afrika tydens die sogenaamde Black Week, in Desember 1899, is Demange as attaché met die rang van kommandant aan Boerekant deur die GS aangestel. Omdat Demange se kennis van die Engelse taal onvoldoende was, is luitenant Roger Raoul-Duval as sy adjudant en tolk aangestel. Duval het toe 'n militêre, of waarskynlik nie-militêre betrekking in die Franse ambassade te Londen beklee. Op 3 Januarie 1900 het hulle op die stoomskip Yang Tsé van die redery Compagnie des Messageries Maritimes, uit Marseilles vertrek.

In Port Said het hulle na die geriefliker Britse stoomskip die Catalonia oorgestap waarmee hulle oor die Rooi See na Aden gevaar het. Die Catalonia was egter onderweg na Voor-Indië en die twee Franse moes in Aden terugstap op die Yang Tsé en hul reis na Diego Suarez, die belangrike hawe in Noord-Madagaskar, voortgesit.(4)

Op 5 Februarie 1900 het hulle in Diego Suarez geland, waar Demange, in opdrag van die GS, militêre installasies in die hawestad geinspekteer het. Op 15 Februarie het hulle met die Yang Tsé op hulle laaste skof na Lourenco Marques vertrek waar hulle omstreeks 20 Februarie aangekom het.

Aan boord van hierdie Franse skip was daar ook jong mans uit verskeie Europese lande wat as vrywilligers aan die Boerekant wou veg, en nog 'n militêre attaché, kaptein Carl Reichman van die Verenigde State van Amerika (VSA) wat in Aden aan boord die Yang Tsé gestap het. Aangesien die VSA reeds 'n militêre attaché, kaptein Stephen L H Slocum, na die Britseleër afgevaardig het, sou kaptein Reichman as waarnemer aan Boerekant aansluit. Reichman, 'n gebore Duitser, moes weens finansiële probleme sy universiteitstudie staak en het, soos ander Duitsers in daardie tyd van uitbreiding van die leër in die VSA, by die leër aangesluit. Die VSA het in 1898 die Fillipyne, 'n Spaanse kolonie, verower en Reichman is daarheen gestuur om 'n opstand teen die nuwe heersers te bedwing. Hy is vandaar deur die GS as militêre attaché na Suid-Afrika gestuur op grond van sy algemene en talekennis wat hy in Duitsland opgedoen het. In Lourenco Marques aangekom, het hy saam met die twee Franse per trein na Pretoria gereis. Na hulle aankoms in Pretoria op 22 Februarie het hulle saam met die ander attachés die Boere op kommando vergesel tot en met einde van die konvensionele oorlog in Transvaal.(5)

By hulle aankoms in Pretoria, was die atmosfeer in hierdie klein hoofstad rustig dog gespanne. Die Buitelandse attachés het twee verrassende ontdekkings gedoen. Die eerste was dat die militêre toestand in Suid-Afrika tydens hulle lang seereis totaal verander het. Die Britte het ná hulle neerlae tydens Black Week, hulle opperbevel en leër geherorganiseer, op drie fronte aangeval en die Boerekommando's by Kimberley, Colesberg en Ladysmith teruggedryf. Die Franse attachés het inderdaad in die Swart Week van die Boererepublieke in Pretoria aangekom. Dit was die laaste week van Februarie 1900, waarin generaal P A Cronjé homself en sy manskappe by Paardeberg aan lord Roberts oorgegee het. Dit was ook dié week waarin generaal Buller Ladysmith ontset het.

Die verrassing was van 'n meer persoonlike aard. Die Republikeinse regerings het die attachés op 'n ander wyse as die Britse GS behandel. Die Britte het geneig om die attachés te verwen met akkommodasie in luukse hotelle, dinees en uitstappies, maar het hulle van die fronte weggehou en hulle so min as moontlik oor die krygsverrigtinge ingelig, veral tydens hulle eie neerlae. Dit was eers tydens die suksesvolle opmars van lord Roberts na Kimberley en Paardeberg dat die elf hoogs verveelde attachés in Kaapstad toestemming ontvang het om na die oorlogsfront by Paardeberg te beweeg.(6)

Ook die Republikeinse regerings het die attachés as gaste verwelkom en hulle so gerieflik as moontlik gehuisves. Die attachés is met ryperde, 'n muilwa vir hulle bagasie en 'n tent toegerus. Hulle is deur 'n swart drywer en bediende vergesel. Soos in die geval van die Britte, het die Republikeinse regerings ook 'n verbindingsoffisier beskikbaar gestel. Hy was die jong Percy Fischer, seun van die invloedryke Volksraadslid van die Oranje-Vrystaat, Abraham Fischer - volgens een van die attachés was Percy geen held nie.(7) In teenstelling met die Britse GS, het die Boere die attaché volledige bewegingsvryheid, selfs bywoning van krygsrade en toegang tot telegramme van die Republikeinse opperbevel, toegestaan. Die attachés was verder totaal op hulleself aangewese en moes in 'n groot mate self sien en klaarkom. Hierdie bewegingsvryheid sou toegeskryf kon word aan die feit dat die Boere van mening was dat hulle eerstens niks gehad het om weg te steek nie en tweedens so min omslag en moeite as moontlik met die attachés wou hê.

Die groot terugtog
Die attachés aan Boerekant het die volgende persone ingesluit: die twee Franse, kommandant Demange en luitenant Raoul-Duval, kaptein Carl Reichman van die VSA, luitenant-kolonel Vassili I Romeiko Gurko van Rusland, kaptein Julius Allum van Noorweë(8) en vier Nederlandse militêre attachés, naamlik kaptein J H Ram(9) en die luitenants L WE J K Thomson, C J Asselbergs en M J Nix, almal oorlogsveterane van Nederlands Oos-Indië. Die Nederlanders het as gevolg van hulle stamverwantskap met die Afrikaners besondere belangstelling in hierdie oorlog getoon en het twee attachés na die Boerekommando's gestuur. Hulle wou ook twee attachés na die Britseleër afvaardig maar die Britse GS het dit geweier en dié twee het hulle ook by die Boere aangesluit.

Intussen het die Britse leër, ná generaal Cronjé se oorgawe, na Bloemfontein opgeruk waar die Boere onder generaals J H de la Rey en C R de Wet gepoog het om die Britte teë te hou. Die attachés is per trein van Pretoria na Bloemfontein geneem waar hulle by die generaals aangesluit het en die Boereneerlaag by Poplar Grove op 7 Maart 1900 waargeneem het. Hulle was ook ooggetuies tydens die geveg by Abrahamskraal op 10 Maart 1900 toe die Boere 'n dag lank moedig die Britse aanvalle afgeslaan het. Demange is tydens hierdie geveg deur 'n kartetskoeël in die heup gewond. Dit was 'n pynlike vleiswond en hy moes 'n paar dae in sy ongerieflike bagasiewa bly lê.(6) Die Britte het op 13 Maart 1900 Bloemfontein beset en die Boere het hulle by Brandfort verskans. Die Vrystaatse regering en die attachés is per trein na Kroonstad waar die nuwe regeringsetel gevestig is.

Die attachés, onder wie Demange en Raoul-Duval, het op 17 Maart 1900 die opperste krygsraad in Kroonstad bygewoon. Die belangrike besluite wat geneem is, het ondermeer behels dat die konvensionele oorlogvoering voortgesit sou word maar dat 'n sluipoorlog met verrassingsaanvalle op Britse verbindingslyne onderneem sou word.(11) Generaal C R de Wet wat die eerste aanval in die sluipoorlog by Sannaspos op 31 Maart 1900 onderneem het, is deur die attachés vergesel. Die Nederlander Asselbergs en die Noor, Allum was verstandig genoeg om skuiling by die burgers in die bedding van die Kroonspruit te soek. Die ander attachés onder wie Demange, het op 'n lae koppie gaan staan om die geveg beter waar te neem. Blootgestel aan die Britse geskutvuur is die Nederlander Nix ernstig gewond. Hy het op 10 April in die Britse hospitaal in Bloemfontein tydens 'n operasie beswyk.(12)

Die attachés aan beide die Britse en die Boerekant was blootgestel aan al die gevare en ontberings van die oorlog te velde. Een van die grootste probleme was disentrie, wat deur die onhigieniese toestande in die veld soos vuil drinkwater veroorsaak is. Veral D'Amade, Ram en Asselbergs het onder hierdie siekte deurgeloop terwyl sommige attachés vir die res van hulle lewens aan die nagevolge gely het.(13) Die attachés aan Boerekant is nog meer as dié aan die Britse kant aan die risiko's van die oorlog blootgestel. Soos vermeld, is Demange en Nix gewond. Raoul-Duval se ryperd het op 11 Mei by Ventersburg by die Vetrivier geval en hy is met harsingskudding enkele weke in 'n hospitaal in Johannesburg opgeneem. Hy het nie weer by sy kollegas aangesluit nie, maar met die nadering van die Britseleër die hospitaal in Johannesburg verlaat en na Pretoria vertrek.

Duval het daar op grond van sy toestand verlof ontvang om na Frankryk terug te keer en het na Lourenco Marques vertrek. Hy het spoedig hierdie stad vol vlugtelinge op die ongerieflike Britse stoomskip Induna verlaat en na Durban gevaar. Na enkele interessante kennismakings het hy na Kaapstad gereis waar hy d'Amade van Frankryk en Gentilini uit Italie, albei aan die herstel na maagkoors, raakgeloop het. Hy het eindelik op die gerieflike Britse passasierskip die Briton van die Union Castle Line na Groot-Brittanje teruggekeer.(14)

Enkele van die ander attachés onder wie Demange het blykbaar generaal de Wet se geledere verlaat en by generaal De la Rey aangesluit. Op 3 Mei het die Britte hulle opmars vanuit Bloemfontein hervat en die Boere se groot terugtog vanaf Brandfort na Komatipoort het begin. Die attachés het hierdie terugtog ten dele meegemaak, gevegte aan die Vet- en Valsriviere waargeneem en by die Vaalrivier die trein na Pretoria geneem. Daar het 'n algemene gevoel van spanning en vrees vir die naderende Britse magte in die hoofstad geheers. In die nag van 29/30 Mei het die regering onaangekondig Pretoria verlaat en sy setel in Machadodorp gaan vestig. Enkele dae later het die attachés die regering na Machadodorp gevolg. Op 5 Junie 1900 het die Britse magte Pretoria beset. Die attachés het nie die belangrike slag by Donkerhoek op 11 en 12 Junie bygewoon nie, maar het wel die laaste konvensionele veldslag van die oorlog, die slag by Belfast, Berg-en-Dal of Dalmanutha van 25 tot 28 Augustus 1900 waargeneem. Kort na hierdie veldslag het die Britse magte hulle opmars na Komatipoort voortgesit. Die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, S J P Kruger, en 'n klein gevolg het per trein oor die grens na Mosambiek gevlug vanwaar hulle via Lourenco Marques na Europa sou uitwyk. Die oorgeblewe attachés was van mening dat die konvensionele oorlog op 'n einde was en dat die Boere tot 'n sluipoorlog sou oorgaan. Hierdie uitgerekte, gevaarlike wyse van oorlogvoering het geen belangstelling by die attachés gelok nie en hulle het besluit om saam met president Kruger oor die grens via Komatipoort na Lourenco Marques te vertrek. Die attachés aan Britse kant het tot dieselfde gevolgtrekking gekom en het na die slag van Dalmanutha Suid-Afrika verlaat. Demange was toe reeds huis toe.

Een van die belangrikste redes vir Demange se vervroegde vertrek na Europa aan die einde van Mei was die feit dat hy op 11 Mei sy adjutant en tolk Raoul-Duval verloor het. Hy het nie saam met die ander attachés aan die opmars na Komatipoort deelgeneem nie, (15) maar het direk met die trein van Pretoria na Lourenco Marques vertrek. Op 25 Oktober 1900 was Demange terug in Parys. Die presiese roete wat hy gevolg het, is onbekend.

Dit kan aanvaar word dat Demange, soos al die ander attachés, 'n verslag oor sy ervarings en menings van die oorlog in Suid-Afrika aan sy GS moes voorlê. Aangesien hierdie verslag nie beskikbaar is nie, bly sy menings ons onbekend.(16)

Dit word beweer in die boek van Raoul-Duval dat hy baie goed met die ander attachés oor die weg gekom het. Die Nederlandse attaché C J Asselbergs maak in sy dagboek minder vleiende opmerkings. Hy skryf op p 29-30: 'De verhouding van Thomson, Nix en mij met die overige attaché's is nu niet zoo goed als wenschelijk was; die Franschen weten zich niet te behelpen, moeten tekens op- en afladens enz(ovoorts) en daardoor trekken wij veel te langzaam; daarbij zijn de heeren zoo onaangnaam geweest om afzonderlijk met kolonel Gourko te eten, waarom wij besluiten ook maar op eigen gelegenheid te gaan leven.'

Asselbergs teken op p 59 op 27 Maart 1900 wrewelrig aan: 'Wij vernamen hier, dat Duval 22 uur (lang) een vrouw van het land in zijn wagen heeft gehad. Die Franschen bederven de boel hier leelijk voor de attaché's.' Die vrou van die land was waarskynlik bruin of swart. Die attachés was so uiteenlopend van geaardheid en herkoms dat onderlinge wrywing en verskille te wagte kon wees.(17)

Die twee Franse het hulle so gerieflik moontlik vir die lewe in die veld ingerig. Dit word deur ander attachés asook deur kolonel G de Villebois-Mareuil, militêre raadgewer van die republikeinse opperbevel en daarna veggeneraal oor die buitelandse vrywilligers, bevestig. Laasgenoemde het Demange en Raoul-Duval in Maart 1900 in Bloemfontein ontmoet. Hoewel hy verheug was oor die briewe wat hulle vir hom uit Frankryk saamgebring het, blyk dit tog uit sy oorlogsdagboek dat hy ietwat afgunstig op hulle betreklike luukse leefwyse was, veral in die lig van die sober, eenvoudige bestaan wat hy moes voer en die ontberings wat hy moes deurmaak. Hy skryf: 'I admired M(ister) Raoul-Duval's gorgeous bed and mosquito curtains, and he is proportionally surprised at my simple arrangements. Demange and he have done everything magnificently - canteens etc. of the most splendid kind. In fact all the things a gentleman should have. This gives me no trouble in their positions as neutrals. It would have been quite out of place for me, quite beyond my means. My hardy way of living is rather too much in evidence and I begin to be rather ashamed of it.'(18)

Verdere loopbaan van Demange
Demange het na sy terugkeer uit Suid-Afrika sy loopbaan by die GS voortgesit. Hy is op 2 April 1900, tydens sy verblyf in Suid-Afrika, as lid van die reeds genoemde Tweede Buro benoem en op 22 Mei 1900 is hy tot Chef d'Escadron bevorder. Op 5 Februarie 1901 is hy met die rang na die 29ste artillerieregiment oorgeplaas maar is op 7 April 1903 aan hierdie diens onttrek en tot ordonnansoffisier van generaal Ducheyne, lid van die opperste krygsraad, benoem. Op 23 Maart 1907 is hy tot luitenant-kolonel bevorder en op 28 September 1910 tot kolonel van die 46ste artillerieregiment. Nadat hy op 11 April 1911 as lid van die tegniese kommissie van die GS benoem is, is hy op 7 Oktober 1913 tot brigade-generaal bevorder.

Die Eerste Wêreldoorlog het sy promosie versnel. Hy is op 19 Augustus 1914, twee weke na die uitbreek van die oorlog, tot tydelike divisiegeneraal en op 18 Mei 1915 is hy belas met die bevel oor die 57ste infanterie-divisie wat in die suidelike sektor van die Westelike front gestasioneer was. Die sektor het vanaf die vesting Belfort tot aan die Switserse grens gestrek. Hy word op 8 Maart 1916 kommandant van die 34ste en op 6 Oktober 1916 kommandant van die l3de leërkorps. Hy word op l7 Junie 1917 adjutant van generaal Roques asook inspekteur van militêre installasies waarna hy die suidelike sektor van die Westelike front verlaat het. Na die oorlog het hy steeds sy suksesvolle militêre loopbaan voortgesit.

Hy word op 13 September 1920 algemene inspekteur van die leër en tree op 9 Februarie 1922 af. Hy het die oorgawe van Frankryk aan Duitsland in Junie 1940 beleef voordat hy op 23 April 1941 in Parys oorlede is.

Dit is gepas om ten slotte kortliks die ereposisies wat Demange beklee het, te noem. Op 27 September 1919 is hy tot voorsitter van die Raad vir Reorganisasie van sy alma mater, die Politegnieseskool in Parys benoem. Hy het al die range van die Franse Erelegioen (Légion d'Honneur), van ridder in 1901 tot grootoffisier in 1927, deurloop. Die rang van ridder is waarskynlik te danke aan sy diens op die fronte tydens die oorlog in Suid-Afrika. In 1915 ontvang hy die oorlogskruis met die palmtak.

Suiwer persoonlike gegewens, soos dié betreffende Demange se karakter, sy familielede en sy gevoelens jeens die Boere, is nie beskikbaar nie. Hierdie feite sal moontlik aan die lig kom wanneer sy dagboek wat hy in Suid-Afrika bygehou het, vir navorsingsdoeleindes beskikbaar gestel word.

Voetnote
1. Alfred Vagts, The military attaché, (Princeton University Press, Princeton, USA, 1967) 408 pp, algemene en verdienstelike werk; oor die militêre attachés in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, slegs terloops in twee voetnote.
2. Kyk ook 'AC L d'Amade' in J Stone en E A Schmidl, The Boer war and military reforms, (University Press of America, Lanham, New York, 1988) p 222, en oor die ander attachés in die oorlog, dieselfde aanhangsel, pp 222-228.
3. Ministère de la défence, Service historique de l'Etat-major, Etat des services, Château de Vincennes, Parys. Demange se diensstaat is die belangrikste bron oor sy militêre loopbaan. Waar geen ander bronne vermeld word nie, kan aanvaar word dat die diensstaat as bron gebruik is.
4. Roger Raoul-Duval, Au Transvaal et dans le Sud-Africain avec les Attachés militaires, (Librairie Delagave, Parys, 1902) p 30. Hierdie is die belangrikste bron oor Demange se ervarings op reis na Suid-Afrika en sy verblyf hier. Daar is helaas geen Etat des services van Raoul-Duval in die militêre argief in Parys beskikbaar nie en geen besonderhede oor sy lewe en loopbaan kon opgespoor word nie.
5. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek V; (Pretoria, 1987), pp 667-668. Reichman het in September of Oktober 1900 na die Fillipyne teruggekeer. Demange se verslag van sy verblyf in Suid-Afrika aan die GS is nog nie vir historici beskikbaar nie. Die diensstaat (état des services) deur die militêre argief in Parys verstrek, en die boek van Raoul-Duval is die belangrikste bronne. Laasgenoemde vertel opvallend min oor sy sjef, Demange.
6. C de Jong en E Foxcroft, 'Reports of neutral military observers during the Anglo-Boer War: The reports of two Russian military attachés, 1899-1900, The despatches of Colonel Stakhovich of the General Staff, despatched from the theatre of military operations in South Africa' in Militaria, Historical Periodical of the South African Defence Force, Pretoria, 5(3), 1975, pp 1-21. In sy verslag aan die GS maak Stakhovich ten sterkste beswaar teen die wyse waarop hy en sy kollega's deur die Britte behandel is. Die voorwendsels van die Britse GS om hulle van die front af weg te hou, wat hy vermeld, maak ten dele 'n humoristiese indruk.
7. W L v R Scholtz en I M E Scholtz, 'Dagboek van luitenant C J Asselbérgs' in Christiaan de Wet-Annale V, (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, en Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, 1978), p 43.
8. S de Jong 'A neutral military observer in the Anglo-Boer War, 1900: The Norwegian Captain Allum' in Kleio, Bulletin No 1&2, Vol 7, Department of History, University of South Africa, Pretoria, June 1976, pp 17-28, insonderheid pp 21-22.
9. Kaptein J H Ram moes weens tifuskoors in Pretoria agterbly en het dus nie die Vrystaatse veldtog kon bywoon nie. Hy het wel die veldtog in Oos-Transvaal saam met ander attachés bygewoon.
10. C de Jong, 'Reports of neutral military observers in the Anglo-Boer War, 18.09.1900: Captain Demange and Lieutenant Raoul-Duval, French military attachés with the Boers' in Militaria, 6(1), Pretoria, 1976, p 54; Raoul-Duval Au Transvaal, p 52. Otto von Lossberg gee op p 27 van sy boek, Mit Santa Barbara in Süd-Afrika, (Leipzig, 1903) 'n ander verklaring vir Demange se wond. Hy skryf onder meer: 'Tydens hierdie tog (van Abrahamskraal na Bloemfontein) het ek die Franse militêre attaché, majoor Demange, tans kommandant van die 39ste artillerieregiment in Laon, ontmoet; ... hy was in die sitvlak getref deur 'n kartetskoeël'. Von Lossberg is in Duitsland gebore en het net soos Reichman offisier in die leër van die VSA geword. Sy feite is egter nie altyd korrek nie. In hierdie geval was Demange byvoorbeeld nie 'n majoor nie maar wel 'n kommandant van die 29ste en nise die 39ste regiment nie. In Demange se diensstaat word daar ook geen melding van 'n dienstyd in die Noord-Franse vestingstad Laon gemaak nie.
11. Raoul-Duval, Au Transvaal, p 189 ev. Op p 189 word die datum van die krygsraad verkeerdelik as 20 Maart 1900 aangegee.
12. Raoul-Duval het op 23 Maart na Pretoria vertrek om vars perde en proviand te bekom en was dus nie tydens die geveg by Sannaspos teenwoordig nie. Hy het op 8 April na die attachês by Smaldeel teruggekeer. Die geveg by Sannaspos is uitvoerig deur Asselbergs beskryf. Kyk C de Jong, 'Verslae van neutrale waarnemers tydens die Anglo-Boerenorlog, 1899-1902: Die geveg by Sannaspos, deur luitenant C J Asselbergs' in Militaria, 5(2), Pretoria, 1975, pp 54-65.
13. E A Schmidl, The Boer War and military reforms, pp 323-325.
14 Raoul-Duval, Au Transvaal, hoofstukke 13,14 en 15.
15. C G S Sandberg, Twintig jaren onder Krugers Boeren in voor- en tegenspoed, (Amsterdam, 1943) p 321. Hy meld sy ontmoeting met die attachés te Waterval-Onder, 'De Franschen hadden zich, als ik mij wil herinner, na de overgave van Pretoria teruggetrokken', dit wil sê hulle het Transvaal verlaat.
16. Waarskynlik sal Demange se dagboek van die oorlog in Suid-Afrika eendag meer lig op die saak werp.
17. Scholtz en Scholtz, 'Dagboek van C J Asselbergs', pp 29-30, 59. Hy skryf bowendien onder 9 Maart 1900 op p 37: 'Hedenmiddag komen Riekert ('n Boere-ordonnans van die attachês) en Reichman (attachê van die VSA) die alweer over Franschen (d.i. die twee Franse attachês) klagen - mijn geschiedenis (d.w.s. my reeds teen hulle opgevatte gevoelens).'
18. R Macnab, The French colonel, Villebois-Mareuil and the Boers, 1899-1900, (Oxford University Press, Cape Town, 1975), p 143.

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org