deur Dr Fransjohan Pretorius, Dept. Geskiedenis an Kultuurgeskiedenis, Universiteit van Pretoria
Vir die handhawing van dissipline op kommando het elke leërafdeling oor 'n militêre hof beskik wat in die Transvaalse kommandowetgewing 'n krygsgerig maar in die volksmond en in die Vrystaatse kommandowetgewing 'n krygsraad genoem is. Dit moes alle beskuldigdes op kommando verhoor en diegene straf wat hulle aan oortredings van enige aard skuldig maak.(2)
In sowel die stellingkryg- as die guerillafase is geldboetes opgelê vir oortredings soos afwesigheid van kommando sonder verlof (tussen 5 Pond en 7 Pond 10 sjieling =7/10), diensversuim en weiering om op patrollie te gaan (10/- tot 15/-) die afvuur van gewere sonder toestemming (10/-) en bakleiery (2/6 tot 5/-).(3) Waarskynlik vanweë die gebrek aan mannekrag is gevangenisstraf slegs in uitsonderlike gevalle opgelê. In Februarie 1901 is 'n burger van die Heidelbergdorp-kommando in Oos-Transvaal byvoorbeeld tot 'n maand tronkstraf gevonnis weens brutaliteit teenoor veldkornet T A H Dönges.(4) In April 1902 is 'n paar burgers ook van die Heidelbergdorpkommando skuldig bevind aan diefstal van gedroogde tabakblare van 'n weduwee naby Middelburg, waarop hulle gevonnis is tot sewe dae laer-arres. Hulle moes ook die helfte van die tabakblare aan die weduwee teruggee.(5)
Benewens geldboetes en gevangenisstraf soos deur die kommandowette bepaal, is daar verskeie ander strafmetodes op kommando toegepas. Dit was veral van ongehoorssaamheid aan bevele van offisiere of pligsversium. Dikwels was dit slegs die kommandant of die veldkornet, en nie 'n volle krygsraad nie, wat die oortreders gevonnis het.
Saalpak, ook genoem paksaal, pakdril of pakdrag, was 'n ligte straf wat veral in die stellingkrygfase maar ook in die guerrillafase toegepas is vir oortredings soos lawaai, versuim om ligte betyds uit te sit, die ongedwonge verlaat van stellings, ongehoorsaamheid aan die bevele van offisiere, en bakleiery. Wanneer 'n burger tot saalpak gevonnis is, moes hy vir 'n vasgestelde tyd, wat van 'n half uur tot twee ure kon wissel, in die laer rondstap met sy saal, geweer, bandelier en toom op sy kop of rug. Hy kon ook tot saalpak met 'n roete van twee of drie keer om die laer gevonnis word.(6) 'n Nederlandse vrywilliger het die volle implikasie van saalpak aan sy lesers uitgespel: ''t Is te begrijpen, dat het zadel op den duur erg zwaar begint te worden en dan kompt daarbij nog de schande. Iedereen plaagt den ongelukkige en lacht hem uit.'(7) Soms is die straftydperk verswaar vanweë die skuldige se brutale reaksie op sy skuldigbevinding.(8)
'n Ander metode om met 'n oortreder af te reken, was beesvelry. Die skuldige is op die bloedbesmeerde vel van 'n pas geslagte bees gehelp. Gate is rondom aan die rand van die beesvel gesny sodat 'n tiental paar hande 'n stewige greep kon hê. Daarop is die slagoffer met groot lawaai die lug ingeskiet, totdat hy na die oordeel van die offisier genoeg gely het en die jillende omstanders tevrede gestel is.(9) A G Hales, korrespondent van The Daily News, het die slagoffer simpatiek betrag: 'One second you see the poor beggar in mid-air, going like a circular saw through soft pine. Just when you are beginning to wonder if he has converted himself into a corkscrew, he straightens himself out horizontally, remains poised for the millionth part of a second like a he-angel that has moulted his wings; then down he dives perpendicularly like a tornado in trousers, skinning forehead, nose, and chin as he kisses the drum-like surface of the hide.'(15)
Beesvelry is nie net as straf toegepas nie, maar is ook deur terglustiges gebruik om die onskuldiges te terg.(11) Reeds op 9 Oktober 1899 het burgers van die Kroonstadkommando onderweg na die front met beesvelry as pret kennis gemaak.(12) In ligte luim moes Oom Gert Steyn van die Wolmaransstadkommando dit uit die guerrillafase in Wes-Transvaal ontgeld vir die wagstaanbeurte wat hy uitgedeel het en vir die verkeerde manne wat hy vir die wagstaan wakker gemaak het. Selfs Niklaas (Siener) van Rensburg is met 'n beurt beesvelry in sy waardigheid gekrenk omdat hy glo te veel kwaai bulle wat 'n gevaar vir die kommando ingehou het, 'gesien' het.(13)
'n Veel erger straf was kanonry. 'n Skuldige wat tot een uur of langer kanonry gevonnis is, moes vir die duur van sy straf wydsbeen en soms sonder broek op die loop van 'n kanon gaan sit, terwyl sy hande agter sy rug en sy voete onder die kanonloop vasgebind is. Nie alleen is die straf deur die burgers as baie vernederend beskou nie, maar het die stygende hitte van die kanonloop in die warm son en die onnatuurlike sitposisie dit vir die slagoffer ondraaglik gemaak. Styf-styf en wydsbeen het hy na afloop van sy vonnis daar afgeklim.(14)
'n Franse vrywilliger aan die suidelike front wat aan diefstal skuldig bevind en tot een uur kanonry gevonnis is, het die vergunning gekry om op 'n perdesaal op die kanon te sit. Toe hy egter 'n tweede maal vir 'n soortgelyke oortreding gevonnis is, moes hy direk op die kanonloop sit, terwyl talle burgers behaaglik in 'n kring om hom sit en rook het. Voor die uur om was, het hy opgegee en na benede gestort.(15) Waar daar nie 'n kanon byderhand was nie, soos met die Boshofkommando in die guerillafase, het twee sterk burgers 'n paal op hul skouers gehou waarop die skuldige moes gaan sit. Terwyl die twee draers spring en hardloop en allerhande draaie maak, moes hy op lewe en dood klou, want kmdt. Boet Jacobs was by met sy sambok om toe te sien dat die vonnis voltrek word.(16)
Ekstra brandwagbeurte is ook as straf toegeken. G S Visser van die Lydenburgkommando het in November 1899 vier uur se ekstra wagdiens ontvang 'wegens insubordinatie' omdat hy sy korporaal 'n 'verd leugenaar' genoem het.(17) I E Claasen van Bloemhof vertel dat hy in Junie l900 oos van Pretoria aan die hoof van 'n groepie op brandwag was wat téén genl. De la Rey se bevele vuur gemaak en 'n os gebraai het. Drie burgers wat agtereenvolgens deur 'n veldkornet, 'n kommandant en uiteindelik De la Rey self uitgestuur is om hulle te betig, is oorreed om by die gesellige braaivleis te bly sonder dat daar aan die bevele van bo gehoor gegee is. As straf moes Claasen tien dae aaneen brandwag staan.(18)
Lyfstraf was 'n uiterste vorm van straf wat klaarblyklik selde toegepas is. Dit moet nie verwar word met sambokslae wat offisiere op die ingewing van die oomblik aan burgers toegedien het wat geweier het om militêre dissipline aan die dag te lê. In Mei 1900 het genl. De Wet naby Kroonstad 'n aantal burgers wat wederregtelik wild geskiet het, met 30/- of twaalf houe met 'n tuig beboet. Heelwat van hulle het uit 'n gebrek aan geld lyfstraf verkies.(19) In April 1901 het genl. Ben Viljoen 'n wederstrewige burger in Oos-Transvaal tot vyftien houe met die sambok gevonnis. Sy bo-klere is vir die voltrekking van die vonnis uitgetrek.(20)
Tog is dit duidelik dat oortredings oor die algemeen nie gestraf is nie en dat die kommandowette en -regulasies in die meeste gevalle 'n dooie letter gebly het. In 'n patriotiese oproep met die titel 'Aan de getrouwe Afrikaners!' wat in Junie 1901 deur die ZAR-regering te velde gedruk is, het die skrywer hom daarin verheug dat die toediening van straf in die kommando's baie seldsaam was, wat volgens hom 'n bewys was dat die burgers die belangrikheid van hul plig goed besef het.(21) Kapt. Carl Reichmann, militêre attaché van die VSA by die Boeremagte, was kennelik egter nader aan die kol met sy waarneming dat die wette om dissipline af te dwing, wel bestaan het, maar dat dit nie van die begin af, toe dit nog goed gegaan het, toegepas is nie, en dat daar nie gewaag kon word nie om hierdie beleid te verander toe die oorlogsgety begin keer het. (22) 'n Nederlandse vrywilliger het ook aangeteken dat straf betreklik selde toegepas word, 'niet zoozeer wegens die gehoorzaamheid der boerenkrijgslieden, die veel te wenschen overlaat, maar van wege de laksheid der officieren en die weinig voorkomende aanklachten.'(23)
Verskeie oortreders het dus met net 'n vermaning van die krygsraad skotvry daarvan afgekom. Reeds op 9 Oktober 1899 het vier burgers van die Kroonstadkommando wat onderweg na die front vir wanorderlike gedrag voor die krygsraad verskyn het, slegs 'een goede vermaning' gekry.(24) Jan Celliers wat as sekretaris van kmdt. R Preller nóú met hom en genl. H J Schoeman aan die suidelike front saamgewerk het, het die situasie raak beskryf in sy dagboek: Hy reken dat die offisiere sover moontlik probeer om streng strawwe te vermy. Hulle vermaan liewer oor en oor. Vir die burgers was hul offisiere niks beter of hoër as hulleself nie, en te streng strawwe sou gevolglik opstand kon verwek. Gewoonlik, sê Celliers, word strawwe slegs toegepas wanneer die billikheid daarvan vir almal duidelik is. Wanneer 'n ondergeskikte die bevel of besluit van 'n offisier teëspreek, word hy geduldig aangehoor en sy beswaar in oorweging geneem. So, verklaar Celliers, word die Boeremagte eintlik bestuur deur manskappe en offisiere tesame.(25)
Verwysings
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org