The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 7 No 5 - Junie 1988

DIE VEGGENERAAL VAN COLESBERG:
HENDRIK LATEGAN EN DIE ANGLO-BOEREOORLOG, 1899-1902

deur Dr Andre Wessels
(Universiteit van die Oranje-Vrystaat)

DIE KAAPKOLONIE EN DIE UITBREEK VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Terwyl die oorlogswolke na afloop van die mislukte Bloemfonteinse Konferensie (31 Mei - 5 Junie 1899) saamgepak het was die Britse militêre leiers steeds onseker of hulle die Oranje-Vrystaat (OVS) in hul voorbereidings - hoe beperk dit ook al was(1) - as neutraal of vyandig moes reken. Die vraag of pres. MT Steyn die OVS neutraal sou hou tydens 'n oorlog tussen Brittanje en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), of hy sou toelaat dat sy land as 'n deurgang en afspringplek vir aanvalle teen die ZAR gebruik word en of hy aan die kant van die ZAR sou veg, was streng gesproke 'n voorvraag tot enige strategiese beplanning aan die kant van die Britte. Die Potchefstroomse Verdrag van 9 Maart 1889 - verder uitgebrei in Julie 1897 - het immers bepaal dat in geval van oorlog die een republiek die ander sou ondersteun, op voorwaarde dat die ander een se saak regverdig was.(2)

So laat as September 1899 wou talle lede van die Britse regering nie glo dat die Vrystaat aan Transvaal se kant tot die oorlog sou toetree nie.(3) Die goeie betrekkinge wat tussen die Vrystaatse en Kaapse regerings bestaan het, het waarskynlik die Britte in hul verkeerde siening gesterk.(4) Sir Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, het die strategiese implikasies van 'n vyandige OVS alte goed besef. In 'n telegram aan Steyn het hy op 19 September 1899 die hoop uitgespreek dat die OVS in geval van oorlog tussen Brittanje en die ZAR neutraal sou bly, en bygevoeg dat Brittanje die Vrystaat se onafhanklikheid sou respekteer.(5) Steyn het in sy antwoord die hoop uitgespreek dat die goeie verhouding tussen die OVS en Brittanje gehandhaaf sou kon word, maar gewaarsku dat Britse troepemonstering naby die Vrystaatse grense die konflikpotensiaal sou verhoog.(6)

Op 2 Oktober 1899 het Steyn sy besorgdheid uitgespreek oor Britse troepebedrywighede naby die Vrystaatse grens en daarop gewys dat hy sy burgers op daardie dag opgekommandeer het ten einde sy land se soewereiniteit te beskerm en ook om die burgers tevrede te stel.(7) Selfs enkele ure voor die uitbreek van vyandelikhede, het Steyn nog aan W P Schreiner, die Kaapse eerste minister, getelegrafeer dat hy steeds onderneem om nie die Kaap binne te val nie, solank dié gebied nie as afspringplek vir operasies teen die OVS en ZAR gebruik word nie.(8) Hierdie versekering het Steyn egter nie ontvang nie, want die Kaapse regering het geen beheer oor die imperiale troepe gehad nie.(9)

Met die uitbreek van die oorlog om 17h00 op 11 Oktober 1899, was daar slegs ongeveer 3 200 imperiale troepe in Kaapland gestasioneer, asook ongeveer 4 600 plaaslike vrywilligers.(10) Binne enkele weke het die getal plaaslike vrywilligers aansienlik gestyg, maar daar was steeds te min soldate om die Kaapkolonie se uitgestrekte grense van ongeveer 900 km met die Boererepublieke na behore te beskerm. Die Britse militêre bevelvoerder in Kaapland, lt-genl F W E Forestier-Walker, het die verdedigingsplanne vir die Kaapkolonie - planne wat grootliks gebaseer was op dié wat deur sy voorganger, genl-maj W F Butler, opgestel is - geïmplementeer, en relatief gesproke klein groepe soldate is by sleutelpunte soos Mafeking (die huidige Mafikeng), Kimberley, De Aar, Noupoort en Molteno gestasioneer. Die Britse strategie in Kaapland het om die verdediging van hul strategiese spoorlyne sentreer, want die spoorlynnetwerk moes weldra ingespan word om soldate na die republiekeinse grense te vervoer. Die Britse opperbevelhebber in Suid-Afrika, genl sir Redvers Buller, was naamlik aanvanklik van plan om 'n direkte strategie deur Kaapland teen die Boererepublieke van stapel te laat loop.(11)

Teenoor die relatief gesproke klein Kaapse garnisoen, was ongeveer 6 000 Transvalers onder bevel van genl P A Cronjé in Wes-Transvaal saamgetrek om die Britse mag te Mafeking dop te hou, 4 800 Vrystaters onder bevel van hoofkmdt C J Wessels en kmdt J Prinsloo te Boshof en Jacobsdal in die Wes-Vrystaat saamgetrek om die Britse garnisoene te Kimberley en Oranjerivierstasie dop te hou, en aanvanklik slegs ongeveer 2 500 burgers onder bevel van hoofkmdt E R Grobler (te Donkerhoek), hoofkmdt J H Olivier (te Bethulie) en kmdt J J Swanepoel (ten noorde van Aliwal-Noord) om die Suid-Vrystaatse grens te beskerm.(12)

Tot tyd en wyl Buller op 31 Oktober 1899 met sy leërkorps van ongeveer 46 000 soldate en 114 kanonne(13) in die oorlogsgebied aangekom het, was die Kaap redelik weerloos teen invalle; die relatief klein en ver van mekaar gestasioneerde garnisoene sou net eenvoudig nie al die gate kon toestop nie. Steyn se besluit om nie die Kaapkolonie binne te val tensy daar aanduidings was dat die Britte van daar 'n inval in sy land wou loods nie, was dus - hoe goed ook al bedoel - militêr-strategies gesproke naïef en op die lange duur het dit die Boere suur bekom. Die Britte het 'n inval vanuit die Suid-Vrystaat gevrees, veral die algemene opstand onder die Kaapse Afrikaners wat kon volg.(14) Aangesien die Boere geruime tyd egter geen blyke gegee het dat hulle van plan was om die Kaap binne te val nie, kon die Britte hul posisie so goed as moontlik konsolideer.(15)

Met verloop van tyd het selfs pres. Steyn besef dat aangesien soveel Boere in die omgewing van Mafeking, Kimberley en Ladysmith saamgetrek was, die Suid-Vrystaat al hoe meer kwesbaar geword het. Op 27 Oktober het hy dus vir pres. Kruger om versterkings gevra. Die gevolg was dat genl Hendrik J Schoeman op 1 November met Transvaalse versterkings te Norvalspont opgedaag het.(16) Op grond van die aanduidings dat die Britte van plan was om die Boererepublieke via die Kaapkolonie binne te val, het die republikeinse regerings besef dat hulle 'n voorsprongaksie sou moes loods indien hulle enigsins 'n kans wou staan om die Britse opmars te stuit. Wat die Boere nie geweet het nie, was dat teen die middel van November 1899 Buller reeds sy strategie verander en besluit het om met die grootste deel van sy leërkorps na Natal te gaan.(17) Indien die Boere die Kaapkolonie nou op groot skaal binnegeval het, kon hulle Buller se planne lelik deurmekaar gekrap het.

Op 13 November 1899 het die Boerekommando's die Oranjerivier op verskeie plekke oorgesteek en Noord- en Noordoos-Kaapland binnegeval. Aliwal-Noord is dieselfde dag nog beset en in Noordoos-Kaapland in Burgersdorp, Jamestown, Lady Grey, Venterstad en Barkly-Oos binne die volgende tien dae beset. Oral is die invallers geesdriftig verwelkom.(18) Toe die gekombineerde republikeinse magte onder bevel van hoofkmdt E R Grobler en genl H J Schoeman die dorp Colesberg op 14 November beset het, is ook hulle geesdriftig deur die plaaslike inwoners ontvang.(19) Een van die eerste Kaapse Afrikaners wat vrywillig by die Boere aangesluit het, was Hendrik Lategan, 'n vooraanstaande boer van die plaas Driefontein in die Colesberg-distrik.(20)


First photo
Genl Hendrik Lategan, sy vrou Hendrina Hermina (geb. Hesselman) en hul dogtertjie, Betty.
Hierdie foto is waarskynlik in 1903 of 1904 in Nederland geneem (Foto: Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria)

HENDRIK LATEGAN EN DIE COLESBERG-REBELLE

Anders as wat die Boere gehoop en die Britte gevrees het, het geen algemene opstand onder die Kaapse Afrikaners plaasgevind nie. Die meeste Afrikaners was lojaal aan die Britse kroon, was selfs trots op hul Britse onderdaanskap, en was boonop alte goed onder die besef wat opstand - en dus hoogverraad - beteken het.(21) Teen die einde van November 1899 het nog maar net ongeveer 160 persone te Colesberg by die Boere aangesluit.(22) Die feit dat Hendrik Willem Lategan, gebore in die Colesberg-distrik op 27 Julie 1858, 'n welvarende boer wat groot invloed onder die plaaslike mense gehad en algemene agting geniet het(23) hom by die Boere geskaar het, het wel baie vir die Boeresaak beteken, want met verloop van tyd het hy 'n kommando van ongeveer 400 Rebelle op die been gebring.(24) Hy is as assistent-kommandant oor dié kommando aangestel(25) en sy kennis van die omgewing het die Boere goed te pas gekom in hul afweerstryd teen die Britse bevelvoerder, genl-maj J D P French.(26)

Hoewel die Britse dit aanvanklik nie kon geweet het nie, was die Boere nie van plan om die Kaapkolonie diep binne te val nie, maar wou hulle bloot binne Britse gebied goeie verdedigingstellings inneem van waar hulle enige Britse opmars wou probeer stuit.(27) Weereens het die Boere hul kanse verspeel, want indien hulle vinnig toegeslaan het, kon hulle waarskynlik strategiese sleutelpunte soos De Aar en Noupoort verower het vóórdat Britse versterkings opgedaag het. Op 20 November het French egter te Noupoort aangekom en hoewel hy aanvanklik minder as 1 000 man tot sy beskikking gehad het, het sy deel - 4 950 man en agtien kanonne - van die nou verdeelde leërkorps met verloop van tyd aangekom.(28)

Lategan en sy kommando moes toekyk hoedat veral Schoeman passief bly vaskleef het aan sy posisies in en om Colesberg, en dit terwyl die Boere - wat teen die middel van Desember 1899 ongeveer 3 500 man sterk was en oor ten minste drie kanonne beskik het - geruime tyd die oormag geniet het.(29) Sy relatief gesproke min manskappe ten spyt, het French besluit om die strategiese inisiatief te neem en deur middel van voortdurende maneuvers en skynaanvalle die indruk te skep dat hy oor baie meer soldate beskik het as wat werklik die geval was. Hy het die Boere ontsenu en by hulle die verkeerde indruk geskep dat daar enige dag 'n groot aanval teen hulle van stapel gestuur sou word. Deur middel van goeie verkenning, magsvertoon en sporadiese aanvalle, het French die Boere behoorlik uitgeput, frustreer en mislei.(30) Te midde van die neerlae wat die Britte tydens die sogenaamde 'Black Week' gely het toe lt-genl W F Gatacre te Stormberg (10 Desember 1899), lord Methuen te Magersfontein (11 Desember 1899) en genl Buller te Colenso (15 Desember 1899) verslaan is, was French die enigste Britse bevelvoerder wat sukses behaal het.(31)

Talle gevegte het aan die Colesberg-front plaasgevind. Van die hewigste botsings was dié wat op 1 en 2 Januarie 1900 plaasgevind het toe French die Boerestellings te Colesberg aangeval het, 6 Januarie toe by Graskop sonder sukses probeer verower het en 14 Januarie toe hy in die rigting van die Colesbergbrug aangeval het.(32) Op 6 Februarie het French die Colesberg-front verlaat en met die meeste van sy kavalleriste na die Britse operasionele basis aan die Modderrivier gegaan, van waar lord Roberts - die nuwe Britse opperbevelhebber - van plan was om sy omvangryke indirekte strategie van stapel te laat loop.(33) Toe Roberts op 11 Februarie 1900 sy opmars begin, het 'n reeks gebeure gevolg wat met verloop van tyd ook Hendrik Lategan se militêre loopbaan dramaties sou beïnvloed. Roberts het naamlik die Boere se stellings te Magersfontein omvleuel, French gestuur om Kimberley te ontset (15 Februarie) en self vir Cronjé vasgekeer (18 Februarie), beleër en tot oorgawe gedwing (27 Februarie).(34) Die oorgawe van Cronjé en meer as 4 000 burgers het 'n demoraliserende uitwerking op die Boere in die hele oorlogsgebied gehad. Reeds op 25 Februarie het sommige burgers begin om van die Colesberg-front na die Oranjerivier terug te val en twee dae later het die Boere Colesberg ontruim. Op 28 Februarie het genl-maj R A P Clements, French se opvolger, die dorp ingeneem.(35) Teen die eerste week in Maart 1900 was al die Boere terug oor die Oranjerivier. Op 6 Maart het hulle die spoorwegbrug te Norvalspont opgeblaas en 'n paar dae later ook die wabrug noord van Colesberg.(36)

MET DIE REPUBLIKEINSE MAGTE IN DIE VRYSTAAT EN TRANSVAAL

Met die onttrekking van die Boeremagte uit die Kaapkolonie het die Kaapse Rebelle hul in 'n uiters netelige situasie bevind. Hulle het teen hul wettige owerheid in opstand gekom en sou heeltemal tereg van hoogverraad aangekla en by skuldigbevinding ter dood veroordeel kon word. Ten einde vervolging te ontduik kon hulle na die Vrystaat en Transvaal uitwyk, maar dan sou hulle hul eiendom en dierbares moes agterlaat. Die meeste van die ongeveer 10 000 persone wat gerebelleer het, het gevolglik besluit om te bly. Van hulle is die grootste persentasie vervolg, maar blykbaar is geeneen ter dood veroordeel nie.(37)

Hendrik Lategan en 'n aantal van sy burgers het besluit om saam met die Boere noordwaarts uit te wyk.(38) Op 13 Maart 1900 het lord Roberts Bloemfontein beset en byna twee maande daar vertoef ten einde sy leër uit te rus en te laat herstel van 'n ernstige maagkoorsepidemie.(39)

Op 3 Mei het hy sy opmars met ongeveer 24 000 man en 80 kanonne vanuit Bloemfontein hervat. Slegs ongeveer 1 500 Boere het sy pad aanvanklik versper, maar die burgers was uiters gedemoraliseerd en die afweerstryd het nie veel sukses vir die republikeine ingehou nie.(40) Lategan se kommando het deelgeneem aan die pogings om Roberts se opmars te stuit, byvoorbeeld aan die Sandrivier op 10 Mei 1900, waar genls Louis Botha en Christiaan de Wet die bevel gevoer het. Die Boere is egter uit hulle stellings verdryf en op 12 Mei is Kroonstad deur die Britte ingeneem.(41)

Op 28 Mei het Roberts die OVS geannekseer.(42) Lategan en die Colesberg-kommando het saam met die oorblywende Boerekommando's die Vaalrivier oorgesteek. Ook in die Suid-Transvaal het die Boere se pogings om die Britse opmars te stuit, misluk. Johannesburg is op 31 Mei deur die Britte ingeneem(43) en op 5 Junie het ook Pretoria sonder weerstand in Britse hande beland.(44) Na die val van Pretoria is Lategan as 'n volwaardige kommandant oor die Colesberg-kommando aangestel(45) en saam met die Transvaalse burgers onder bevel van genl Louis Botha het hy ooswaarts uitgewyk. Roberts, wat geglo het dat dit nou net 'n kwessie van tyd was alvorens die oorlog verby sou wees, wou die oorblywende Boerekommando's so gou as moontlik uitskakel en het French, van Colesberg-faam, beveel om Oos-Transvaal van Boere skoon te vee.(46) Die Boere was genoodsaak om al vegtende langs die Oosterlyn in die rigting van die grens met Portugees-Oos-Afrika (Mosambiek) terug te val. Lategan het aan hierdie stryd deelgeneem en onder meer te Dalmanutha, ook bekend as die slag by Bergendal (27 Augustus 1900) geveg.(47) Hierdie was vir alle praktiese doeleindes die laaste stellinggeveg van die oorlog. Hoewel die Boere kwaai weerstand gebied het, was hulle genoodsaak om voor die Britse oormag te swig en verder in die rigting van Komatipoort terug te val.(48)

By Waterval-Onder, waar pres. Kruger en die Transvaalse regering hul 'n tyd lank bevind het, het Lategan vir pres. Steyn - met wie hy reeds voorheen kennis gemaak het - ontmoet. Steyn het na Oos-Transvaal gegaan om met die Transvaalse regering te beraadslaag. Lategan het vervolgens vir Steyn via Noord- en Wes-Transvaal na die Vrystaat vergesel. Daar het hy hom in Oktober 1900 by genl Christiaan de Wet se kommando gevoeg.(49) De Wet, wat in Julie uit die Brandwaterkom ontsnap het voordat hoofkmdt Marthinus Prinsloo met meer as 4 000 burgers oorgegee het,(50) en daarna deur Britse kolonnes tot in Transvaal gedryf is,(51) het pas na sy eie land - hoewel nou bekend as die Oranjerivier-Kolonie - teruggekeer, vas van plan om die stryd met mening voort te sit. Reeds met die geveg te Sannaspos op 31 Maart 1900(52) het De Wet die guerrilla-fase van die oorlog ingelui en nou wou hy die Kaapkolonie inval om die stryd tot diep binne Britse gebied te neem, die druk op die ander kommando's te verlig en 'n tweede rebellie in Kaapland te ontketen.(53)

ONDER BEVEL VAN GENL DE WET

Lategan het aan De Wet se invalspoging deelgeneem. So byna is sy oorlogsloopbaan egter reg aan die begin van die tog beëindig. Op 6 November het 'n Britse kolonne onder bevel van lt-kol P W J le Gallais naamlik De Wet se laer te Doornkraal naby Bothaville verras. Ses van die Boere se kanonne het in die slag gebly en Lategan se laer en talle van sy burgers het ook in die hande van die Britte geval.(54) Die totale ongevalle aan Boerekant het ten minste nege dood en meer as 100 gevang - insluitende talle gewondes - beloop. Die Britte het dertien man dood en 33 gewond verloor.(55) Die nag van lO op 11 November is De Wet, Steyn, Lategan en kmdt Jan Theron - 'n broerskind van die bekende kmdt Danie Theron - die spoorlyn tussen Ventersburgweg en Smaldeel oor en het dit ook daar vernietig, onderweg na Doornberg, 30 km noordoos van Winburg. De Wet moes herorganiseer en op 13 November het hy toe van Doornberg af suidwaarts vertrek. Lategan, met 'n kommando van 120 man onder hom, het deel uitgemaak van De Wet se mag van ongeveer 1 500 man.(56)

Op 23 November 1900 was Lategan teenwoordig by die inname van Dewetsdorp. Die Boere het hier die Britse garnisoen van 480 man onder bevel van maj W G Massey tot oorgawe gedwing. Lategan het saam met De Wet die Gloucester-regiment se posisies aangeval.(57) Na die inname van Dewetsdorp het sake egter vir De Wet begin skeef loop. Hy was veronderstel om die Oranjerivier in die omgewing van Odendaalstroom, tussen Bethulie en Aliwal-Noord, oor te steek, maar as gevolg van swaar reën was die rivier in vloed en kon hy nêrens deurkom nie. Boonop het talle Britse kolonnes op hom toegesak. Op 6 Desember het De Wet besluit om sy invalspoging gewonne te gee, maar toe hy noordwaarts terugval, het hy hom aanvanklik ook teen die vol en goed bewaakte Caledonrivier vasgeloop. Op 7 Desember het hy wel daarin geslaag om by Lubbesdrif deur te kom, al vegtende noordwaarts gevlug en op 14 Desember het hy te Sprinkaansnek, ongeveer 24 km ten ooste van Thaba 'Nchu, deur die blokhuislinies gebreek.(58) Tydens laasgenoemde geveg het Lategan hom onderskei.(59)

De Wet was vasbeslote om 'n tweede invalspoging te loods. Op 26 Januarie 1901 het hy, vergesel deur Steyn en kommandante soos Lategan, met ongeveer 2 200 man vanaf Doornberg vertrek en die Oranjerivier op 10 Februarie te Sanddrif deurgegaan. Van meet af aan is die Boere deur aanhoudende agtervolging en aanvalle deur Britse kolonnes geteister en slegte weer het hul verder gekortwiek. Op 19 Februarie het die invallers die Brakrivier bereik, maar die rivier was in vloed en hulle kon nie verder nie. De Wet het dus besluit om die inval gewonne te gee en na die Vrystaat terug te keer.(60) De Wet het vir Lategan beveel om hulp te gaan soek by genl J B M Hertzog se kommando wat die Kaap reeds die nag van 15 op 16 Desember 1900 binnegeval het.(61) Vergesel van drie van sy burgers het Lategan op 20 Februarie 'n afdeling van Hertzog se kommando onder bevel van kmdt Georg Brand ontmoet, hom oor De Wet se benarde posisie ingelig en versoek om Hertzog mee te deel dat hy so gou as moontlik by De Wet moes aansluit. Blykbaar het Lategan en sy makkers hul toe by Brand se kommando gevoeg en hom tot by Hertzog se kommando vergesel, waarna hulle toe saam agter De Wet aan is.(62)

Intussen het De Wet daarin geslaag om onder dekking van die donkerte die Britse kolonnes te systap en koers te kry terug na die Vrystaat. In die vroeë oggendure van 27 Februarie 1900 het Hertzog en sy mag naby Sanddrif by De Wet aangesluit. Die rivier was in vloed en terwyl Brand hul agterhoede gedek het en in botsings met die oprukkende Britse kolonnes betrokke was, het De Wet en Hertzog met hul onderskeie kommando's al langs die Oranjerivier opbeweeg, op soek na 'n plek waar hulle kon deurgaan. Laat die middag van 28 Februarie is hulle te Bothasdrif, ongeveer 25 km wes van Norvalspont, deur die Oranje-rivier. Saam met De Wet het Lategan in 43 dae se tyd ongeveer 1 300 km afgelê. Strategies gesproke was die inval 'n mislukking. De Wet moes sy invalsplanne laat vaar, kon geen rekrute werf nie en die Transvalers se beplande inval - wat deur genl C F Beyers gelei sou word - moes afgelas word. Takties het De Wet egter op meesterlike wyse daarin geslaag om sewentien kolonnes, bestaande uit ongeveer 14 000 soldate, te ontwyk.(63)

LATEGAN SE INVAL IN DIE KAAPKOLONIE (APRIL-AUGUSTUS 1901)

Met De Wet en Hertzog se terugkeer na die Vrystaat, is die Boere se oorlogspoging in Kaapland ernstig benadeel. slegs enkele kommando's het nog in die Kaapkolonie geopereer, byvoorbeeld die van kmdte Gideon Scheepers en Wynand Malan.(64) De Wet wou egter dat soveel moontlik kommando's na die Kaapse oorlogsgebied moes terugkeer en met verloop van tyd het ook kommando's onder bevel van kmdte P H Kritzinger, W D Fouche en J P Neser aldaar geopereer.(65) In April 1901 het De Wet ook die kommando van kmdt Lategan - 'n kommando wat as gevolg van siekte en talle gevegte al redelik uitgedun was - na die Kaapkolonie gestuur om in sy tuisdistrik, Colesberg, te opereer.(66) Dit is nie duidelik uit hoeveel burgers Lategan se invalsmag bestaan het nie, waar en op watter dag hy die Kaap binnegeval het nie, en of hy en sy kommando alleen of saam met ander kommando's die Kaap in is nie,(67) maar tot aan die einde van Junie 1901 het hy in die distrikte Colesberg en Philipstown geopereer.(68)

Die invalle wat deur Lategan en ander bevelvoerders uitgevoer is, was vir die Boere van besondere belang. Deur die druk op die Britte in Kaapland vol te hou, is etlike Britse kolonnes as't ware daar vasgepen, kolonnes wat andersins vry sou wees om in ander oorlogsektore teen die Boere aangewend te word. Deur kommando's na die Kaap te stuur het De Wet die aandag in 'n mate van homself afgelei, sodat hy ná sy mislukte inval sy mag kon konsolideer en herorganiseer. As Kapenaar wat veral Colesberg en die omliggende gebiede en inwoners goed geken het, was Lategan 'n ideale keuse om 'n inval te lei. Sy terugkeer na sy geboorteplek kon ook opnuut Kaapse Afrikaners aanmoedig om te rebelleer.

Bronne oor die guerrilla-oorlog, veral oor die stryd in Kaapland, is nie volop nie en soms weerspreek die gegewens wat wel beskikbaar is mekaar ook nog boonop. Dit is dus nie moontlik om 'n dag tot dag of selfs week tot week oorsig van 'n bepaalde bevelvoerder se bedrywighede te gee nie. Die feit dat die onderskeie kommando's soms afsonderlik en dan weer twee-twee of in groter groepe saam geopereer het, kompliseer sake verder.

Lategan en kmdt J C Lötter - wat later gevang en weens hoogverraad, moord en roof tereggestel is - het by geleentheid saam geopereer en was byvoorbeeld op 21 Mei 1901 in 'n onbesliste skermutseling met kol E M S Crabbe betrokke gewees.(69) Teen die einde van Junie het Lategan siek geword, maar nogtans al vegtende suidwaarts in die rigting van Richmond en Graaff-Reinet getrek.(70)

Die geveg te Tweefontein

Teen die derde week van Julie 1901 was Lategan en sy kommando op die plaas Tweefontein, tussen Graaff-Reinet en Murraysburg, gelaer. Hy het toe ongeveer 130 man onder sy bevel gehad. In die vroeë oggendure van 20 of 21 Julie(71) is die kommando deur 'n afdeling van lt -kol H J Scobell se krygsmag onder aanvoering van lt-kol H T Lukin - later die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Oorsese Brigade tydens die Eerste Wêreldoorlog(71) - verras. 'n Kaapse Afrikaner het die Britte na die Rebellelaer gelei. Die aanvalsmag het uit slegs ongeveer 90 lede van die Cape Mounted Riflemen (CMR) bestaan.(73)

Die Boere was aanvanklik heeltemal in die war, maar na 'n hewige geveg wat bykans twee uur geduur het, het hulle daarin geslaag om te ontkom en te hergroepeer. Die Britte het egter die beste daarvan afgekom, want hoewel geen Boere blykbaar gesneuwel het nie, is ten minste drie gewond en tien of elf - insluitende 'n veldkornet - gevange geneem, en die ergste van alles was dat meer as 100 perde en saals in die Britte se hande geval het. Vdkt J P Neser, wat ernstig gewond is, moes met vier man op 'n nabygeleë plaas agtergelaat word. Na sy herstel het hy met die verloop van tyd sy eie kommando op die been gebring. Die CMR se verliese het blykbaar op een man dood en vier gewond te staan gekom. Een van die gewondes is later oorlede.(74)

Terug na die Vrystaat

Na afloop van die geveg te Tweefontein het Lategan sy kommando te Hanoverweg oor die spoorlyn tussen De Aar en Noupoort geneem en na die distrik Philipstown teruggeval. Daar het hy sy agtervolgers afgeskud en het 'n aantal plaaslike inwoners by hom aangesluit. Vir 'n ruk lank was die Philipstown-distrik so te sê in Lategan se hande gewees.(75)

Die geveg te Tweefontein het Lategan se kommando egter ernstig geknou, sy getalsterkte was nieteenstaande die nuwe rekrute swakker as voor die geveg en die verlies van soveel perde het sy mobiliteit ernstig aan bande gelê. Ook met die ander kommando's in Kaapland het dit nie goed gegaan nie en Kritzinger was byvoorbeeld genoodsaak om op 14 Augustus na die Vrystaat terug te val. Britse kolonnes het al hoe meer druk op die oorblywende kommando's uitgeoefen.(76) In hierdie dae het Lategan en French weer indirek bymekaar uitgekom. French, wat in Julie 1901 as opperbevelbebber van die ongeveer 30 000 Britse soldate in Kaapland aangestel is, het 'n boodskap aan Lategan gestuur waarin hy hom gevra het of by bereid sou wees om die wapen neer te lê.(77)

Lategan was nie bereid om oor te gee nie, maar eerder as om sy kommando aan verdere gevare bloot te stel, het by teen die einde van Augustus 1901 besluit om na die Vrystaat uit te wyk. Aanvanklik wou hy die Oranjerivier oorsteek by 'n drif in dié omgewing waar die Seekoeirivier daarby aansluit, maar toe by daar aankom het by 'n twintigtal bruin soldate in Britse diens aangetref, besig om dinamietmyne in die drif te lê. Soos wat die oorlog voortgesleep het, het die Britte naamlik al hoe meer swart- en bruinmense bewapen.(78) Lategan het 'n paar van die bruin soldate in die daaropvolgende geveg doodgeskiet, die res op die vlug gedryf en die dinamiet in besit geneem, maar 'n Britse kolonne het toe opgedaag en hy was verplig om sy kommando weer 'n ent die Kaap in te vat. Vervolgens is hy te Sanddrif deur die Oranjerivier, na die distrik Philippolis, maar aangesien dit ook daar van die Britse kolonnes gewemel het, het hy na die distrik Fauresmith getrek waar hy vir genl Hertzog ontmoet het. (79)

LATEGAN SE LAASTE INVAL IN DIE KAAP-KOLONTE, (SEPTEMBER 1901 - MEI 1902)

Lategan wou so gou as moontlik weer na die Kaapkolonie terugkeer. Op 16 September het hy dus weereens die Oranjerivier oorgesteek, aan die Kaapse kant sy kommando in kleiner dele verdeel en met slegs veertien man is hy tussen Hanoverweg en De Aar oor die spoorlyn en deur die distrik Richmond in die rigting van Murraysburg. Onderweg het hy vir kmdt Wynand Malan, regter Henry Hugo en Piet Marais ontmoet.(86) Laasgenoemde drie persone was op pad terug van die Vrystaat waar Malan met die Vrystaatse regering-te-velde samesprekings gevoer het.(81)

Lategan het homself en sy kommando, wat intussen tot ongeveer 30 man aangegroei het, vrywillig onder Malan se bevel geplaas. Malan se kommando was op daardie stadium in die omgewing van Calvinia, en hy en Lategan en hul gevolg het dus in daardie rigting getrek. Saam was hulle ook in talle gevegte betrokke gewees, byvoorbeeld op 6 November teen lt-kol B J C Doran se kolonne ongeveer 64 km wes van Willowmore. 'n Week later is hulle die hoof Kaapse spoorlyn na die noorde blykbaar iewers tussen Fraserburgweg en Beaufort-Wes oor. Te Botterkloof, suid van Calvinia, was hulle ook weer met die Britte slaags gewees.(82)

Intussen het genl J C Smuts op 4 September 1901 die Kaapkolonie met ongeveer 340 man binnegeval met die doel om die bevel oor al die kommando's in die gebied oor te neem en hulle te herorganiseer.(83) In die Roggeveldberge het Lategan en Malan 'n deel van Smuts se kommando onder bevel van kmdt Jaap van Deventer ontmoet en saam getrek tot duskant Calvinia waar hulle by die res van Malan se kommando uitgekom en ook vir Smuts ontmoet het.(84) Hulle het ook vir Manie Maritz, wat op 6 Mei 1901 tot kommandant van alle Rebelle in die distrikte Calvinia en Kenhardt verkies is, ontmoet.(85)

Die geveg te Tontelboskolk

Saam met die ander Boerebevelvoerders het Lategan 'n aanval op die Britse pos te Tontelboskolk, ongeveer 85 km noordoos van Calvinia, beplan. Die Britte het die plaas met sy twee opstalle, skure en krale as 'n perde- en graandepot ingerig en ses forte ter beskerming opgerig. Teen November 1901 is tussen 2 000 en 3 000 perde daar aangehou en is die plek deur drie offisiere en 86 manskappe van die Western Province Mounted Rifles en 160 van die Bushmanland Borderers (bruin soldate) bewaak. Indien die Boere hierdie strategies en logisties waardevolle basis kon verower, sou hulle geruime tyd van genoeg voorrade voorsien wees en sou die Britse pogings om die rebellie in Noordwes-Kaapland te onderdruk, ernstig aan bande gelê word. Maritz won ook graag sy hoofkwartier daar inrig.(86)

Malan was in beheer van die operasie en het bepaal dat hy, Lategan, Hugo en Maritz vanuit die ooste sou aanval, terwyl Van Deventer vanuit die weste en kmdt G H P van Reenen en Schalk en Hans Pyper vanuit die suide aanvalle moes loods. Op 28 November het die Boere aangeval, die soldate in een van die huise tot oorgawe gedwing en 300 perde en 'n aantal waens vol koring gebuit. Die res van die aanvalle is egter afgeslaan.(87)

Voorlopig het die Boere hul aanvalle gestaak en besluit om eerder die Britse garnisoen te beleër. Die Boere wou ook nie onnodige verliese ly deur frontaanvalle teen die goed verskanste Britte te loods nie. Swak dissipline aan Boerekant het in elk geval gekoördineerde optrede bemoeilik en boonop het hulle 'n tekort aan ammunisie ondervind. Daarenteen het die Britte oor genoeg voorrade en water beskik en was 'n kolon onder bevel van lt-kol W R B Doran vanuit Sutherland onderweg om hulle te ontset. Op 5 Desember het Malan gevolglik die beleg afgelas en met Lategan en die ander in die rigting van Calvinia teruggeval. Skaars was die Boere weg of die Britse garnisoen het hul posisies ontruim, waarna die Boere dit sonder slag of stoot ingeneem en Maritz sy hoofkwartier daar ingerig het. Tydens die geveg het die Western Province Mounted Rifles twee man dood, drie gewond en drie gevang verloor.(88) Die Bushmanland Borderers en Boere se ongevalle is nie bekend nie.

Veggeneraal Hendrik Lategan

Net na Kersfees 1901 het Smuts al die kommando's in Wes-Kaapland - sowat sestien komrnando's en nagenoeg 3 000 burgers - na Soetwater, tussen Calvinia en Niewoudtville, ontbied om hulle te herorganiseer. Volgens hom was daar te veel kommando's in daardie omgewing bedrywig en wou hy hulle op 'n gekoördineerde wyse oor 'n groter gebied versprei. Te Soetwater het hy toe vir Lategan, Malan, Van Deventer en Maritz tot veggeneraals bevorder, al die burgers en kommando's in vier hoofafdelings verdeel en 'n veggeneraal oor elk aangestel. Onder leiding van Malan moes Hugo, Schalk en Hans Pyper, Van Reenen, Botha en Smith na Oos-Kaapland gaan. Onder leiding van Van Deventer moes Louis Boshoff, Ben Bouwer, Abraham Louw en Neser suidwaarts in die Boland se rigting opereer en Maritz en sy Rebelle moes in Namakwaland en veral in die rigting van Port Nolloth opereer. Lategan moes noordwaarts opereer, waar kmdte Edwin Conroy, 'n Rebel van Britstown, en Jan Louw hulle onder sy bevel moes plaas. Hulle moes die belangrike kommunikasielinie na Duits-Suidwes-Afrika, en dus ook na Europa, oophou. Hul operasionele gebied het die gebied tussen die Middellande en Namakwaland, en noord van Vanrhynsdorp, behels.(89)

Lategan het op daardie stadium nog net 25 man van sy oorspronklike kommando oorgehad, maar nadat Conroy en Louw hul by hom aangesluit het, het hy ongeveer 500 man onder sy bevel gehad, die meeste ooit. Smuts wou gehad het dat Lategan in samewerking met genl P J de Villiers - wat in Kaapland noord van die Oranjerivier geopereer het - moes poog om die Britte vanuit Upington en omstreke te verdryf, want dan sou die kommando's in Transvaal direkte kontak met Duits-Suidwes-Afrika kon bewerkstellig.(90) Van hierdie plan het blykbaar egter nie veel gekom nie.

Teen die einde van Januarie 1902 het Lategan en sy mag hul te Kakamas bevind.(91) Hoewel al beweer is dat hy aan die geveg te Uitspansfontein in die distrik Fraserburg deelgeneem het,(92) kon geen stawende getuienis in dié verband gevind word nie. Teen April 1902 het Lategan hom te Houwater, ongeveer 36 km noordwes van Britstown bevind, in die geselskap van kmdte C Botha, Schalk en Hans Pyper, Smith en Conroy.(93) Blykbaar was hy ook nog in daardie omgewing toe die nuus in die Kaapkolonie bekend geword het dat die oorlog op 31 Mei 1902 beëindig is. Die meeste Kaapse kommando's was egter blykbaar nog onbewus van die feit dat die Boererepublieke hul onafhanklikheid verloor het en genl Smuts - wat die samesprekings as die regsadviseur van die Transvaalse afvaardiging bygewoon het - sou na die Kaapkolonie afreis om die kommando's oor die afloop van die samesprekings in te lig.(94)

'N VLUGTELING IN EUROPA

Tydens die vredesonderhandelinge is amptelik geen woord oor die Rebelle gerep nie, maar nie-amptelik het die Boere die versekering ontvang dat die gewone Rebelle - nadat hulle die wapen neergelê en skuld erken het - slegs hul stemreg lewenslank (later vir slegs vyf jaar) sou verloor. Rebelle-offisiere sou deur burgerlike howe vir enige misdrywe verhoor word, maar in geen geval sou die doodstraf opgelê word nie.(95)

Op Saterday 14 Junie 1902 het Smuts 'n groep van ongeveer 2 000 burgers te Soetwater oor die afloop van die samesprekings ingelig. Groot verslaendheid het geheers toe die aanwesiges moes hoor dat die stryd verlore was. Op daardie stadium het die Kaapse kommando's naamlik nog relatief gesproke suksesvol geopereer en het talle nog kans gesien om die stryd voort te sit. Hulle was egter nie goed ingelig oor die toestande in die voormalige Boererepublieke nie.(96) Lategan was nie te Soetwater teenwoordig nie, maar hy was een van die persone wat besluit het om, eerder as om vervolg te word, na Duits-Suidwes-Afrika uit te wyk. Op 30 Julie 1902 het hy en ten minste twaalf ander vlugtelinge - insluitende Maritz, Conroy en Neser - te Swakopmund aan boord 'n Duitse skip gegaan, wat hulle na Europa geneem het.(97)


Second photo
Genl Lategan (links), saam met twee ander Kaapse rebelle,
kmdte Bresler (middel) en Conroy, na die oorlog in Nederland afgeneem
(Foto: Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria)

Met hul aankoms te Hamburg op 29 Augustus 1902 is die vlugtelinge soos helde ontvang.(98) Van daar is Lategan en Conroy na Nederland waar hulle by die Van Lankeren gesin in Utrecht tuisgegaan het. Van 1903 tot 1904 het Lategan se vrou, Hendrina Hermina Hesselman, en hul dogtertjie hom besoek. Lategan het vervolgens Argentinië besoek met die oog daarop om hom daar te gaan vestig, maar ter wille van sy gesin het hy die plan laat vaar. Hoewel die Kaapse parlement eers op 14 Augustus 1906 wetgewing aangeneem het waardeur amnestie aan alle Rebelle toegestaan is,(99) het sir Abe Bailey - wat ook in die Colesberg-distrik geboer het - hom daarvoor beywer dat Lategan reeds in 1905 veilig kon terugkeer. Hy is hartlik terugverwelkom en het hom weer op sy plaas Driefontein - wat hy van die grond af moes opbou - gaan vestig. Lategan het weer welvarend geword, maar sy gesondheid was geknak en hy is op 27 September 1914 oorlede, twee maande na sy ses en vyftigste verjaardag. Hy is oorleef deur sy vrou, 'n seun en 'n dogter.(100)

EVALUERING

Hoewel talle redes aangevoer kan word waarom ongeveer 13 000 Kaapse Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog die wapen opgeneem het, bestaan daar uiteindelik geen regverdiging vir hul opstand nie en sou iemand soos Hendrik Lategan onder ander omstandighede ná die oorlog aan hoogverraad skuldig bevind en tereggestel kon word. Hoewel dit met die beskikbare bronne nie moontlik is om sy rol tydens die oorlog in besonderhede te beskry nie, wil dit voorkom of hy tydens die semikonvensionele fase van die oorlog (Oktober 1899 tot ongeveer Augustus 1900) geen buitengewoon belangrike rol gespeel het nie en tydens die guerrilla-fase het hy afgesien van die gevegte te Sprinkaansnek en Tontetboskolk, blykbaar ook nie veel noemenswaardig vermag nie. Dit wil voorkom of sy eie nalatigheid vir die neerlaag te Tweefontein verantwoordelik was, waarna hy tydelik na die Vrystaat moes terugval. Sy Kaapse inval van September 1901 was meer suksesvol en hy het daarin geslaag om tot die einde te bly voortveg.

Sowel takties as strategies het Lategan oënskynlik nie veel bereik nie: hy het die Britte nie (takties) veel verliese toegedien nie, nie hul strategiese kommunikasielinies noemenswaardig ontwrig nie en kon ook nooit veel Britse kolonnes agter hom aantrek nie. Lategan se optrede moet egter nie in isolasie beoordeel word nie. Saam met talle ander bevelvoerders het hy die Britte se oorlogspoging in die Kaap frustreer en hulle uitgeput, die Britse belastingbetaler geld uit die sak gejaag en meegehelp om die oorlog te verleng. Teenoor Colesberg het French die Boere van November 1899 tot Februarie 1900 strategies hokgeslaan, maar tydens die guerrilla-fase kon hy dit nie met die guerilla-eenhede regkry nie. Teen 'n potensieël gesien groot oormag het Lategan daarin geslaag om sy kommando redelik ongeskonde en aan die beweeg te hou.

Hendrik Lategan het 'n sterk persoonlikheid gehad en vertroue ingeboesem. Die feit dat iemand soos Smuts hom as 'n veggeneraal oor ander kommando's en oor 'n groot operasionele gebied aangestel het, behoort as 'n aanduiding van hierdie plaasboer van Colesberg se vermoëns te dien. Dit moet ook in gedagte gehou word dat Lategan die enigste Kaapse Rebel was wat feitlik die hele Anglo-Boereoorlog in 'n bevelvoerende hoedanigheid meegemaak het en ook die enigste een was wat tot 'n generaalsrang bevorder is.(101)

Voetnote

1. Die Britse leër het die Anglo-Boereoorlog in meer as een opsig onvoorbereid binnegegaan en gééen goeie strategie is voor die tyd uitgewerk nie. Kyk A WESSELS, Die Britse militêre strategie tydens die Anglo-Boereoorlog tot en met die Buller-fase (D. Phil., Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1986), pp 204-315.
2. Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria (TAB), mikrofilm M. 644: dokument getiteld 'Memorandum on the political and military relations between the Transvaal and Free State'.
3. Royal Commission on the war in South Africa: minutes of evidence taken before the Royal Commission on the war in South Africa l (Cd. 1790) (Londen, 1903), pp.363-364: Wolseley se antwoord op vraag 8 703.
4. F MAURICE (samesteller), History of the war in South Africa 1899-1902, 1 (Londen, 1906), p.4.
5. Milner-Steyn, 19.9.1899 (telegram), soos aangehaal in F B Iwan-Müller, Lord Milner and South Africa (Londen, 1902) p. 671.
6. Steyn-Milner, ongedateerd (telegram), soos aangehaal in ibid., pp. 671-672.
7. Steyn-Milner, 2.10.1899 (telegram), soos aangehaal in ibid., pp. 676-677.
8. South Africa: further correspondence relating to affairs in South Africa (Cd. 43) (Londen, 1900), p.135: Steyn-Schreiner, 11.10.1899 (telegram).
9. ibid., pp. 135-136: Schneiner-Steyn, 11.10.1899 (telegram).
10. Royal Commission on the war in South Africa: appendices to the minutes of evidence taken before the Royal Commission on the war in South Africa (Cd. 1792) (Londen, 1903), p.105. Getalle soos op 13 Oktober.

11. WESSELS, pp. 286-288, 367-370.
12. J H BREYTENBACH, Die geskiedenis van die Tweede Vryheids-oorlog in Suid-Afrika 1899-1902, I (Pretoria, 1969), pp. 147-150;J H BREYTENBACH (red.), Gedenkalbum van die Tweede Vryheidsoorlog [hierna vermeld as Gedenkalbum] (Kaapstad, 1949), p. 81.
13. BREYTENBACH, II (Pretoria, 1971), p.1.
14. Wat die houding en netelige posisie van die ongeveer 250 000 Kaapse Afrikaners - uit 'n blanke Kaapse bevolking van ongeveer 400 000 - voor en tydens die oorlog betref, kyk J H SNYMAN, Die Afrikaner in Kaapland 1899-1902 (D. Litt., Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, 1973), passim.
15. WESSELS, pp. 418-419.
16. BREYTENBACH, I, p. 438; Gedenkalbum, p.126.
17. WESSELS, pp. 420-421.
18. BREYTENBACH, I, pp. 444-452; C J S STRYDOM, Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog (Kaapstad, 1937), pp. 43-44; L S AMERY (red.), The Times history of the war in South Africa 1899-1902, II (Londen, 1902), pp.293-294.
19. ibid., p. 292; BREYTENBACH, I, pp. 447-448; MAURICE, p.275.
20. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek [hierna vermeld as SABW] III (Pretoria, 1977), p. 510.

21. SNYMAN, pp.22-44.
22. BREYTENBACH, I, p. 448.
23. SABW III, p. 510; De Volkstem, 16.10.1914, p.2.
24. A DE WET, H VAN DOORNIK en G C DU PLESSIS, Die Buren in der Kapkolonie im Kriege mit England (München, s.a.), p. 58.
25. De Volkstem, 16.10.1914, p.2.
26. SARW III, p.510.
27. WESSELS, p.426.
28. BREYTENBACH, I, p. 454 en II, pp. 12-14.
29. ibid., IV (Pretoria, 1977), pp.14. 18.
30. BREYTENBACH, I, pp. 453-455; MAURICE, pp. 275-284.

31. Wat French se persoonlike indrukke van die gevegsgebeure aan die Colesberg-front betref, kyk Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis, Johannesburg: J D P French, Boer War diary, 9th November 1899 - 17th March 1900 (gefotokopieërde afskrif), pp. 33-104.
32. BREYTENBACH, IV, pp. 33-61; AMERY, III (Londen, 1905), pp. 131-139 MAURICE, pp.391-399.
33. ibid., p.407; BREYTENBACH, IV, p. 145.
34. MAURICE, II (Londen, 1907), pp. 1-179; BREYTENBACH, IV, pp. 204-430.
35. ibid., 432-459; MAURICE, II, p.254.
36. AMERY, 111, p. 592.
37. J H SNYMAN, Rebelle-verhoor in Kaapland gedurende die Tweede Vryheidsoorlog met spesiale verwysing na die militêre howe (1899-1902), Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 25, 1962 (Pretoria, 1963), pp.12-29, 70-71. N.a.v. die tweede Kaapse rebellie is 370 persone ter dood veroordeel, maar blykbaar slegs 32 tereggestel.
38. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp. 127-128.
39. MAURICE, III (Londen, 1908), pp. 27-39.
40. BREYTENBACH, V (Pretoria, 1983), pp. 413-483.

41. ibid., pp. 466-481; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.128.
42. Die datum van anneksasie is terugwerkend van krag gemaak vanaf 24 Mei om saam te val met koningin Victoria se verjaardag. T PAKENHAM, The Boer War (Londen, 1979), pp. 419, 629 (voetnoot 5).
43. BREYTENBACH, V, pp.428-535.
44. S DU PREEZ, Die val van Pretoria, Militaria 5 (3), 1975, pp. 22-39.
45. De Volkstem, 16.10.1914, p.2.
46. MAURICE, III, pp. 102-103, 204-205, 381 et seq.; PAKENHAM, pp. 449-458; AMERY, IV (Londen, 1906), pp. 434-483.
47. G S PRELLER, Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland (1 Okt. 1901 - 18 Jan.1902) (Kaapstad, 1938), p. 139.
48. AMERY, IV, pp. 450-456; MAURICE, III, pp. 397-403.
49. SABW III, p. 510; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 128.
50. W L VON R SCHOLTZ, Generaal Christiaan de Wet as veldheer (D.Litt., Rijksuniversiteit te Leiden, 1978), pp.225-236.

51. F PRETORIUS, 'Die eerste dryfjag op hoofkmdt. C. R. de Wet' in M C E VAN SCHOOR (red.), Christiaan de Wet-annale 4, Okt. 1976, pp.22-198
52. Kyk J E RABIE, Generaal C. R. de Wet se krygsleiding by Sannaspos en Groenkop (Pretoria, 1980), pp. 5-30.
53. SCHOLTZ, pp. 287-289.
54. De Volkstem, 16.10.1914, p.2; SCHOLTZ, pp. 276-280.
55. H G HOWELL, Anglo-Boer War diary of (red. A. WESSELS)(Pretoria, 1986), pp. 80-81.
56. SABW III, p. 510; SCHOLTZ, pp. 293-294; AMERY, V (Londen, 1907), pp.21, 28.
57. SCHOLTZ, pp. 294-296; AMERY, V, pp.28-32.
58. SCHOLTZ, pp. 298-313; AMERY, V, pp. 36-42; J D KESTELL, Through shot and flame (Johannesburg, 1976), pp.160-163.
59. De Volkstem, 16.10.1914, p.2.
60. C R DE WET, De strijd tusschen Boer en Brit (Amsterdam, 1902), pp. 264-282; THE INTELLIGENCE OFFICER, On the heels of De Wet (Edinburgh, 1903), passim; SCHOLTZ, pp. 321-353.

61. Wat Herztog se inval betref, kyk C M VAN DEN HEEVER, Generaal J.B.M. Hertzog (Johannesburg, 1943), pp.113-120.
62. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp. 92-93; SABW III, p. 510; PRELLER, p.122.
63. DE WET, pp. 282-290; M H GRANT, History of the war in South Africa 1899-1902, IV (Londen, 1910), pp. 78-91; SCHOLTZ, pp. 353-362.
64. STRYDOM, p.99.
65. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein: Die herinneringe van kmdt Jacob Petrus (Japie) Neser uit die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (ongepubliseerde getikte manuskrip), pp. 43-44.
66. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 128; SABW III, p. 510.
67. Volgens ibid. is hy in April na die Kaap gestour. Volgens AMERY, V, p. 310 is by die nag van 16 op 17 Mei 1901 saam met Kritzinger oor die Oranjerivier.
68. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp. 128-129.
69. A C DOYLE, The Great Boer War (Kaapstad, 1976), p.644.
70. PRELLER, p. 140; SABW III, p.510; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.129.

71. Sommige bronne (kyk P H S VAN ZYL, Die helde-album: verhaal en foto's van aanvoerders en helde uit ons vryheidstryd (Johannesburg, 1944), p. 3l9 en DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 129) beweer dat die geveg op 20 Julie plaasgevind het, terwyl dit volgens ander (kyk SABW III, p. 510, DOYLE, p. 647 en J MEINTJES, Sword in the sand: the life and death of Gideon Scheepers (Kaapstad, 1969), pp. 142-143) op 21 Julie was.
72. SABW III, pp. 562-563.
73. ibid., p. 510; J STIRLING, The colonials in South Africa 1899-1902: their record, based on the despatches (Londen, 1907), p.108; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.129; Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein: Die herinneringe van kmdt Jacob Petrus (Japie) Neser uit die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (ongepubliseerde getikte manuskrip), p. 46.
74. ibid., pp. 46-51; GRANT, p. 232; DOYLE, p.647; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 129; MEINTJES, p.143; B WILLIAMS, Record of the Cape Mounted Riflemen (Londen, 1909), pp. 105-106; List of casualties in the South African Field Force, from 1st July, 1901 to Dec.1901 (s.1., sa.), p.84.
75. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.129.
76. ibid.; DOYLE, p. 649.
77. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.130.
78. Hoewel die Anglo-Boereoorlog veronderstel was om 'n witmansoorlog te wees, het sowel die Britse as die Boere van meet af aan Swart- en bruinmense in 'n nie-vegtende hoedanigheid gebruik. Tydens hul beleg van Mafeking (die huidige Mafikeng) en moontlik tydens die slag van Vaalkrans (5-7.2.1900) het die Boere swartmense bewapen, maar die Britte het uiteindelik moontlik tot soveel as 30 000 swart- en bruinmense bewapen. In Noordwes-Kaapland is talle Britse eenhede op die been gebring wat uitsluitlik uit bruin soldate, under bevel van blanke offisiere, bestaan het. Kyk bv. P WARWICK, Black people and the South African War 1899-1902 (Cambridge, 1983), passim; P. WARWICK (red.), The South African War: the Anglo-Boer War 1899-1902 (Harlow, 1980), pp.186-209.
79. DOYLE, p. 649; PRELLER, p. 141; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp. 130-131.
80. ibid., p. 131; SABW III, p. 510; VAN ZYL, p. 321.

81. H C J PIETERSE (red.), Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan (Kaapstad, 1941), pp.236, 290.
82. ibid., pp. 297-299; VAN ZYL, p.337; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 131; GRANT, p.282.
83. W K HANCOCK, Smuts I: The Sanguine Years 1870-1919 (Cambridge, 1962), pp. 133-138; W K HANCOCK en J VAN DER POEL (reds.), Selections from the Smuts papers 1: June 1886 - May 1902 (Cambridge, 1966), pp.422-424.
84. PIETERSE, pp.800-80l; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.131.
85. L M FOURIE, Die militêre loopbaan van Manie Maritz tot aan die einde van die Anglo-Boereoorlog (M.A., Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, 1975), pp.51-68, 109-110.
86. ibid., p. 111; STIRLING, p.254; R. DE KERSAUSON DE PENNENDREFF, Ek en die Vierkleur (Johannesburg, s.a.), p. 108.
87. DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp.179-180; PIETERSE, pp.301-802; PRELLER, p.156.
88. FOURIE, pp. 112-113; PIETERSE, p.302; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p. 180; List of casualties in the South African Field Force, from 1st July, 1901 to Dec. 1901, p.88.
89. P A PYPER, Generaal J. C. Smuts en die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) (M.A., Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, 1960), pp.102-104; HANCOCK, p. 141; HANCOCK en VAN DER POLL, pp.497-498; FOURIE, pp.116-118; J A SMITH, Ek rebelleer (Kaapstad, 1939), pp.96, 99-100.
90. HANCOCK en VAN DER POEL, p.497; PRELLER, p. 158; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, p.204.

91. DE KERSAUSON DE PENNENDREFF, p.102; VAN ZYL, p.369.
92. AMERY, V, p. 546.
93. VAN ZYL, p. 369.
94. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein: Die herinneringe van kmdt Jacob Petrus (Japie) Neser uit die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (ongepubliseerde getikte manuskrip), pp. 83-85.
95. AMERY, V, p. 593.
96. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein: Die herinneringe van kmdt Jacob Petrus (Japie) Neser uit die Anglo-Boerooorlog, 1899-1902 (ongepubliseerde getikte manuskrip), pp.85-88: DE KERSAUSON DE PENNENDREFF, pp.139-140; O T DE VILLIERS, Met Steyn en de Wet in het veld: avonturen, ervaringen en indrukken (Amsterdam, 1903), pp.245-246.
97. ibid., 249-252; DE WET, VAN DOORNIK en DU PLESSIS, pp.267, 270; C DE JONG, A biography of Robert de Kersauson, a French volunteer with the Boer commandos, Militaria 6 (2), 1976, p.19.
98. Gedenkalbum, pp.440-442; DE VILLIERS, p. 251.
99. AMERY, VII (London, 1909), p.l5.
100. SABW III, p.511; De Volkstem, 16.10.1914, p.2.
101. SABW III, p.511.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org