The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 7 No 4 - Desember 1987

Kommandant Jan Vorster, alias Jan Pieter Retief, Kaapse Rebel

deur Dr P.W. Vorster, DVD

Na die beëindiging van die Tweede Anglo-Boereoorlog op 31 Mei 1902 kon die Transvaalse en Vrystaatse burgers na hul woonplekke terugkeer. Die krygsgevangenes in oorsese kampe is so spoedig moontlik gerepatrieër. Met die Kaapse rebelle wat hul goed en bloed vir die twee Boererepublieke opgeoffer het, was dit egter nie die geval nie. Nadat hulle die wapen neergelê het, is hulle vir hoogverraad aangekla. Die wat die amp van veldkornet of vrederegter in die Kaapse goewerment beklee het of die rang van kommandant in die rebelle- of Boeremagte gehad het, is swaar gevonnis (meestal gevangenisstraf).
Die ander is wel op aanklag van hoogverraad skuldig bevind, dog het slegs hul stemreg vir vyf jaar verloor en is vrygelaat. Die rebelle wat voor vredesluiting gevonnis is, moes hulle straf uitdien. Baie van die rebelle wat in die buiteland was - veral dié wat offisiersrange beklee het - was huiwerig om terug te keer uit vrees dat hulle op hoogverraad tereg moes staan. Die van hulle wat selfs na 'n jaar of langer na vredesluiting teruggekom het, is steeds aangekla.

Die na-oorlogse ontberinge van die Kaaplandse rebelle het dus veel langer as die van hul republikeinse strydgenote geduur. Hoewel daar al heelwat aandag aan die deelname van die Kaapse kolonianers aan die Tweede Anglo-Boereoorlog geskenk is(1), is daar sover bekend nog min studies oor die lotgevalle van individuele rebelle gedoen. In hierdie artikel word die oorlogswedervaringe van een van die Noordkaaplandse rebelle, naamlik kommandant Jan Vorster van die distrik Hay, aangebied.

Casper Jan Hendrik (Jan), die oudste kind van Tjaart Johannes Vorster (1826-1896) en Lasya Wilhelmina Vorster (1830-1898), is op 25 Mei 1846 op die plaas Rietvlei in die distrik Middelburg (K.P.) gebore. Hy tree op 18 Julie 1864 in die huwelik met Magdalena Petronella Vorster (1848-l879) en hertrou op 30 Augustus 1880 met Heiletjie Maria Sophia Venter, gebore Vorster, weduwee van J A Venter. In 1892 verhuis Jan Vorster en sy gesin van Middelburg na Griekwaland-Wes waar hy hom op die plaas Waterstroomvlei tussen Postmasburg en Griekwastad (distrik Hay - tans distrik Postmasburg) vestig.(2)

Photo 1

Casper Jan Hendrik (Jan) Vorster (1846-1925)

Rebellekommandant van die distrik Hay
Na die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 het die gewapende magte van die Republiek Oranje-Vrystaat die Noordoos-Kaapkolonie en Griekwaland-Wes binnegeval. President M T Steyn het op advies van regter J B M Hertzog 'n proklamasie uitgevaardig waarvolgens die gebiede slegs beset en onder Vrystaatse beheer geplaas is. Dit het dus nie anneksasie beteken nie. Die betrokke Vrystaatse offisiere het egter die besetting wel as anneksasie beskou en daarvolgens opgetree.(4) Die goewerneur van die Kaapkolonie, sir Alfred Milner, het die republieke dan ook onverwyld van anneksasie van dele van die Kaapkolonie beskuldig.(5)

Vroeg in November 1899 het regter Hertzog en kommandant J Jordaan Griekwaland-Wes binnegeval en op 11 November die dorpie Barkly-Wes onder Vrystaatse militêre beheer geplaas. Binne 'n week is die Vrystaatse vlag deur Jordaan ook op Campbell, Griekwastad en Postmasburg gehys.(6) Met die aankoms van die Vrystaters op 17 November op Griekwastad is hulle deur 'n aantal boere van die distrik Hay verwelkom. Laasgenoemde het hulle van meet af aan as Vrystaatse burgers beskou en die wapen teen die Britse magte opgeneem. Op 'n vergadering wat die boere van die distrik dié aand gehou het, is offisiere vir die verskillende veldkornetswyke van die distrik gekies en hulle sou voortaan ook die krygsraad van die rebelle uitmaak. Jan Vorster is as veldkornet vir wyk 4 (Blinkklip) verkies.(7) Teen Januarie 1900 het hy reeds die rang van kommandant beklee en rebelle sover as Olifantshoek in Brits-betsjoeanaland gewerf.(8) Net soos die ander rebelle-offisiere het hy ook die burgers in sy wyk in die naam van die 'goewerment van die Oranje Vrystaat' opgekommandeer om by die rebellemagte aan te sluit of om aan hulle lewensmiddele te lewer.

Fabersput en Wes-Transvaal
Onder oopperbevel van generaal P J de Villiers was Jan Vorster een van die aanvoerders van die Griekwaland-Wes rebelle wat op 30 Mei 1900 'n Britse mag onder sir Charles Warren op die plaas Fabersput naby Campbell aangeval het. Die rebelle het egter die geveg verloor en verdere weerstand het verbrokkel. Die meeste van hulle het dan ook gedurende Junie 1900 hulle wapens neergelê en oorgegee. Sowat vyftig - onder andere Jan Vorster - het egter besluit om die stryd voort te sit en is saam met generaal De Villiers na Wes-Transvaal om by generaal J H de la Rey aan te sluit.(9) Naby Wolmaransstad het Jan Vorster egter van generaal De Villiers afskeid geneem(10) en hom as Transvaalse burger by die Potchefstroomse kommando van generaal P J Liebenberg gevoeg.

Jan Vorster het waarskynlik reeds met generaal Liebenberg kennis gemaak toe laasgenoemde die eerste paar maande van 1900 in die Noord-Kaap opgetree het om die Britse magte te verdryf en om rebelle te werf. Met behulp van die rebelle van die distrik Hay het hy dan ook op 15 Februarie 1900 Prieska beset.(11) Op 30 Maart 1900 was generaal Liebenberg die voorsitter van 'n krygsraadsvergadering van die rebelle van die distrik Hay op Griekwastad.(12) As kommandant was Jan Vorster lid van die krygsraad.

In April 1900 het generaal De La Rey vir Liebenberg teruggeroep met die opdrag om die spoor- en telegraafverbindinge tussen Krugersdorp en Klerksdorp te ontwrig. Verder moes sy kommando die Britse troepe in die gebied so lastig val dat daar nie 'n sterk mag Noord van die Vaalrivier kon saamtrek om die deurtog van generaal C R de Wet uit die Vrystaat na Wes-Transvaal te verhoed nie.(13) Gedurende Junie tot Augustus het Liebenberg soveel welslae in die Potchefstroomgebied behaal dat die Britse opperbevel lord Methuen beveel het om dadelik van Rustenburg na Potchefstroom op te ruk om die strategies belangrike spoorlyn tussen Krugersdorp en Klerksdorp te beveilig.(14) Methuen het op 29 Julie op Potchefstroom aangekom. Amery beskryf Methuen se tog tussen Bankstasie en Potchefstroom as 'a running fight with Boers watching the railway and road from the hills near Welverdiend'.(15) Methuen kon egter nie daarin slaag om verdere aanslae van Liebenberg op die betrokke spoorlyn te voorkom nie. Ook kon die sterk Britse magte Noord van die Vaalrivier nie verhoed dat generaal De Wet op 6 Augustus die Vaalrivier by Schoemansdrif oorsteek en die Wes-Transvaal binneval nie.(16)

Gevangeneming en verbanning na Ceylon 1900-1902
Dit was waarskynlik tydens een van die daaglikse skermutselinge tussen Liebenberg se patrollies en die Britse troepe dat Jan Vorster op Sondag, 5 Augustus 1900, by Potchefstroom (dit kon in die dorp of distrik gewees het) gevang is. Hy het sy naam as Jan Pieter Retief, woonagtig te Johannesburg, opgegee.(17) Hy is as Transvaalse burger saam met ander krygsgevangenes na die militêre kamp by Groenpunt gestuur. Vandaar is hy as Jan Pieter Retief (nommer 11388) saam met 13 Boer-offisiere en 247 burgers op 3 September 1900 met die skip City of Vienna na Ceylon vervoer waar hulle op 25 September aangekom het.(18) Vanaf die Colombohawe is hulle na die groot krygsgevangekamp Diyatalawa geneem waar hy hut 51 tot in Julie 1902 bewoon het.

Photo 2

Diyatalawa-kamp, Ceylon, voltooi in Augustus 1900. Dit is beplan vir 2 500 gevangenes maar is later vergroot om 5 000 persone te huisves. Die sinkhutte was 36,40m lank, 6,06m breed en 3,64m hoog. In die begin is daar 61 man, later 56 persone in een hut gehuisves.

Gedurende die bykans twee jaar in ballingskap het hy verskillende briewe aan familielede in Suid-Afrika geskryf. Sommige van die briewe het behoue gebly en word tans in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein bewaar. Al die briewe het hy as J P Retief onderteken en hoewel al die korrespondensie van krygsgevangenes streng gesensor is, het die Britse owerheid nooit sy ware identiteit vasgestel nie - daarvoor was hy te uitgeslape! Die meeste briewe het by aan sy 'neef' B J Vorster van die plaas Waterstroomvlei gerig. Hierdie 'neef' is egter niemand anders as sy eie seun nie! Een van sy briewe (17 April 1902) skryf hy aan mevrou H Vorster en spreek haar aan as 'waarde en geliefde tanta' terwyl sy in werklikheid sy eggenote is. In sy briewe maak hy soms melding van sy terugkeer na die Transvaal. In sy laaste brief (24 Julie 1902) vra hy vir mejuffrou H van der Walt van Wildfontein of sy vrou nog in die Transvaal op Vlei is. Hier sinspeel hy natuurlik op sy plaas Waterstroomvlei in Griekwaland-Wes. In al sy briewe spreek hy sy vurige verlange na en diepe bekommernis oor sy vrou en kinders uit. Daarin getuig hy ook van sy onwrikbare geloof en vertroue in sy hemelse Vader. Hy praat ook sy naasbestaandes moed in en troos hulle met Bybeltekste.

Verblyf in Nederland
Na die vredesluiting op 31 Mei 1902 het Jan Vorster besef dat hy nie saam met die ander krygsgevangenes dadelik na Suid-Afrika kon terugkeer nie. Sy ware identiteit sou dan bekend word en hy sou as kommandant van die rebelle van die distrik Hay vir hoogverraad aangekla word. Dat sy vrese nie ongegrond was nie blyk uit die feit dat 41 van die Ceylon-krygsgevangenes by hulle aankoms in Suid-Afrika as Kaapse rebelle verhoor en gestraf is.(19)

Op 24 Julie 1900 skryf hy vanaf die Ragama-kamp, naby Colombo, aan mejuffrou H van der Walt van Wildfontein dat hy van die 'outoriteite' toestemming ontvang het om die volgende week met die skip Selaka na Holland te vertrek, waar hy hom by vriende in Amsterdam sou aansluit. Hy sou na dieselfde plek as waar 'Hendrik' hom bevind, gaan.

Mejuffrou H van der Walt, vir wie by as 'tante' aanspreek, is die dogter (Hester) van sy suster Lavina (1856-1939) wat met Johannes Hendrik Stephanus (Hendrik) van der Walt (1853-1903) van die plaas Wildfontein, distrik Middelburg (K.P.) getroud is. Die 'Hendrik' in sy brief is dus sy swaer wat reeds in 1900 as Kaapse rebel na Holland uitgewyk het.

Dit kan dus aanvaar word dat by in oorlegpleging met Hendrik van der Walt besluit het om eers na Holland te gaan om te sien hoe die Kaapse regering na die oorlog teenoor die rebelle in die buiteland sou optree. Van der Walt het waarskynlik ook reëlings getref dat Jan Vorster se oortog van Ceylon na Holland betaal word. Ook meld hy in sy brief dat hy die enigste Afrikaner tussen die Hollanders sou wees en dat die reis sowat vyftig dae sou duur.

'n Maand na die Vrede van Vereeniging is die krygsgevangenes in Ceylon in kennis gestel dat die wat op eie koste kon gaan dadelik na Suid-Afrika kon terugkeer. Die ander moes wag totdat die nodige vervoerreëlings vir hulle getref is. Vir vrylating moes hulle almal 'n verklaring van trou aan die Britse kroon onderteken. Ses-en-sewentig Hollanders (meestal van die Ragama-kamp) wat aan Boerekant geveg het, is deur bemiddeling van die Nederlandse Konsul in Ceylon na Holland gerepatrieer. Jan Vorster was deel van hierdie groep wat op 28 Julie 1902 met die Selaka vanaf Colombo vertrek het. By Padang is hulle na 'n ander Hollandse skip oorgeplaas wat deur die Suez-kanaal direk na Amsterdam gevaar(20) en omstreeks die einde van September daar aangekom het. Op 'n poskaart van 17 Oktober 1902 aan sy dogter gee Jan Vorster sy adres as dié van mejuffrou Anna Mooij, Ter-Haarstraat 15, Amsterdam aan. Volgens 'n poskaart van 3 November 1902 aan hom gerig, was hy toe 'n inwoner van die 'Afrikaner Tehuis' in Overtoom, Amsterdam.

Nederlanders wat die Boere in Suid-Afrika goedgesind was, het in 1900 'n 'Christelijk Nationaal Boeren-Comité' gestig om hulp aan die Kaaplandse rebelle wat na Holland uitgewyk het, te verleen. Hierdie Boerekomitee het in Augustus 1900 'n groot herehuis by Nieuwe Herengracht 143, die eiendom van die Gereformeerde Kerk Amsterdam, tot die beskikking van die uitgewekenes gestel en ook finansiële bystand verleen. Hierdie huis is die 'Afrikaans Tehuis' genoem. Daar was by geleentheid sowat sestig Afrikaners in die tehuis. In Mei 1902 het die diakonie van die Gereformeerde Kerk Amsterdam die tehuis vir ander doeleindes benodig en die sowat twintig inwoners wat toe nog oor was, is na 'n tweede Afrikaanse tehuis aan die Overtoom (nommer 191) oorgeplaas. Na die vredesluiting het die meeste Kaaplanders na Suid-Afrika teruggekeer sodat daar aan die einde van November nog net vier in die tehuis oorgebly het. Dit is trouens aan die begin van Desember gesluit.(21)

Amnestie
Tydens die vredesonderhandelinge in Mei 1902 het die Boereafgevaardigdes 'n sterk pleidooi vir amnestie aan die Kaapse en Natalse rebelle gelewer. Die Kaapse regering het die onderneming gegee om onder sekere voorwaardes aan die versoek van die Boereleiers te voldoen.(22) Kort na vredesluiting het die Kaapse goewerneur in 'n proklamasie wat hy op 11 Junie 1902 uitgevaardig het die amnestievoorwaardes uiteengesit. Die rebelle wat 'n amp van vrederegter of veldkornet in die Kupse goewerment beklee het of die rang van kommandant in die rebelle- of burgermagte gehad het, sou egter van die amnestievoordele uitgesluit wees. Hulle sou egter deur 'n gewone siviele hof verhoor word. Die vonnisoplegging sou aan die diskressie van die hof oorgelaat word behalwe dat die doodstraf nie opgelê sou mag word nie. In die proklamasie word voorts gemeld dat die jurisdiksie van die spesiale (militêre) howe, ingestel ingevolge die 'Indemnity and Special Tribunals Act, 1900' op 12 April 1901 verstryk het. Rebelle wat na dié datum, maar voor 10 Julie 1902, gevange geneem is of oorgegee het, sou deur die gewone (siviele) howe verhoor word. Alle Britse onderdane wat nie voor of op 10 Julie 1902 hulle wapens neergelê het nie, sou die amnestievoordele verbeur.(23) Strydig met die versekering wat in die proklamasie gegee is en selfs na die opheffing van die krygswet in September 1902 het die spesiale howe steeds voortgegaan om rebelle te verhoor en te vonnis. So het die spesiale hof in Oktober 1902 in Kimberley swaar strawwe aan 'n aantal Griekwaland-Wes-rebelle opgelê.(24) Berigte oor hierdie verhoor moes vir Jan Vorster so afgeskrik het dat hy bevrees was om na Suid-Afrika terug te keer. Hierdie spesiale howe het egter teen die einde van 1902 opgehou funksioneer.

Joseph Chamberlain, koloniale sekretaris van die Britse regering, het hom tydens sy besoek aan Suid-Afrika in 1902-1903 besonder beywer om versoening tussen Boer en Brit te bevorder. Hy het in Februarie 1903 in Kaapstad samesprekings met Jan Hofmeyr, leier van die Afrikanerbond, gevoer om Hofmeyr se samewerking vir sy konsiliasiebeleid te verkry. In ruil hiervoor het Hofmeyr die vrylating van die Kaapse rebelle (die sogenaamde politieke gevangenes) as voorwaarde gestel. Chamberlain was so gretig dat sy versoeningsbeleid moes slaag dat hy op die vooraand van sy vertrek op 23 Februarie 1903 belowe het om Hofmeyr se versoek te steun.(25) Chamberlain het ongetwyfeld tydens sy onderhandelinge met Hofmeyr ook die aangeleentheid met die Kaapse goewerneur en regering bespreek. Kort na sy vertrek na Engeland het sir Pieter Faure, koloniale sekretaris, by die prokureur-generaal laat vasstel aan welke politieke gevangenes daar genade kon verleen word met die oog op die versagting van hul vonnisse.(26) Na Chamberlain se terugkoms in Engeland skryf hy op 26 Maart 1903 aan Hofmeyr: 'You have already seen that amnesty to which you have attached so much importance has been conceded.(27) Die 380 rebelle in die Tokai-gevangenis is inderdaad op 21 Maart 1903 vrygelaat.(28)

Hoewel hierdie amnestieverlening nie ipso facto op die Kaapse rebelle wat toe nog in die buiteland verkeer het van toepassing was nie, het dit tog aan hulle die vrymoedigheid gegee om huis toe te kom. Die versoeningsbeleid van Chamberlain het ongetwyfeld baie daartoe bygedra dat die houding en optrede van die Kaapse owerheid teenoor die rebelle in die buiteland mettertyd matiger geword het. In Januarie 1905 is die versekering aan dié rebelle gegee dat hulle nie meer vervolg sou word nie. Hulle moes net skriftelik erken dat hulle hoogverraad gepleeg het en sou dan slegs vir vyfjaar ontkieser word.(29)

Terugkoms
Op 15 Julie 1903 het Jan Vorster en twee ander Kaaplanders, Mattheus J du Plessis van Cradock en Mechiel Jacobus Pretorius van Middelburg, in Kaapstad aangekom. Hulle het hulle die volgende dag aan die resident-magistraat oorgegee. Jan Vorster het in sy verklaring gemeld dat hy op 4 Desember 1899 by die Vrystaatse magte aangesluit het, op 28 Julie 1902 na Europa vertrek het en op 15 Julie 1903 teruggekom het. Die landdros het hom op borgtog van 250 pond sterling vrygelaat op voorwaarde dat hy hom na sy tuiskoms by die resident-magistraat op Griekwastad moes aanmeld om verhoor te word. Hy het op 3 Augustus in die hof op Griekwastad verskyn. Verskillende persone wat destyds saam met hom gerebelleer het, het getuig dat hy vanaf November 1899 tot Junie 1900 as veldkornet aan die rebellie deelgeneem het en dat hy gedurende die tyd nie enige oorlogmisdaad gepleeg het nie.(30) Die hof het hom ongetwyfeld aan hoogverraad skuldig bevind maar dit is nie bekend wat sy vonnis was nie. Moontlik het die hof in aanmerking geneem dat hy byna twee jaar lank in gevangenisskap in Ceylon deurgebring en daarna vir bykans 'n jaar in Holland vertoef het. Hy was dus altesaam drie jaar van sy plaas en huisgesin afwesig. Net soos in die geval van ander rebelle is sy stemreg hom waarskynlik ook vir vyf jaar ontneem. Deur wetgewing het al die Kaapse rebelle egter hul stemreg in 1906 teruggekry.

Besluit
Kommandant Jan Vorster was al taamlik bejaard (53 jaar) toe hy in November 1899 uit meegevoel met die twee Boere-republieke se stryd teen Groot-Brittanje aanvoerder van die distrik Hay se rebelle geword het. Hy het beslis baie opgeoffer vir die saak waarvoor hy die wapen opgeneem het. Die twee jaar in ballingskap in Ceylon was op sy leeftyd vir hom waarskynlik 'n swaar beproewing wat hoë eise aan sy geloofs- en Godsvertroue gestel het. In feitlik elke brief uit die Diyatalawakamp maak hy melding van sy intense verlange na sy land en familie en kla dat hy so min van sy geliefdes hoor - iets wat hom diep bekommer het. Ook op stoflike gebied is by swaar deur die oorlog getref. Geen wonder nie dat hy die res van sy lewe stil en rustig op sy plaas Waterstroomvlei deurgebring het en nie meer aktief aan die politiek deelgeneem het nie. Hy is op 1 Februarie 1925 in die ouderdom van 78 jaar en 9 maande na 'n veelbewoë lewe oorlede en op sy plaas begrawe.

Die Kaapse kolonialers wat hulle aan die kant van die twee Boere-republieke geskaar het en groot ontberinge deurgemaak het, is vandag haas 'n vergete geslag. Min van hulle kleinkinders leef nog. Behalwe 'n paar klein aandenkings wat die rebelle uit die gevangeniskampe met hulle saamgebring het, is die herinneringe aan hulle oorlogswedervaringe vinnig besig om in die vergetelheid te verdwyn. Dit is dus te betreur dat daar nie meer van die rebelle se lotgevalle opgeteken is nie want daarsonder word die rykgeskakeerde vaderlandse geskiedenis beslis verarm.

Voetnote

1. Kyk onder meer C J S Strydom, Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog Kaapstad, 1943; C D Naude, Die smaad van die Kaaplandse Afrikaner, in J H Breytenbach (red.), Gedenkalbum van die Tweede Vryheidsoorlog (Kaapstad, 1949), pp. 471-585; J H Snyman, Die Afrikaner in Kaapland 1899-1902, Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis 42(2), 1979; P H R Snyman, Postmasburg en die Tweede Vryheidsoorlog, Krygshistoriese Tydskrif 6(6), Des. 1985.
2. P W Vorster, Geslagregisters van lidmate van die Gereformeerde Kerk van Postmasburg 1883-1899 (ongepubliseerde manuskrip, Pretoria, 1982), p.74 (Afskrif in die RGN-biblioteek, Pretoria).
3. Goevernements Courant van den Oranjevrijstaat, 20.10.1899 (Proklamasie 544 van 14.10.1899); CM van den Heever, Generaal J B M Hertzog (Johannesburg, 1943), p.87.
4. J H Snyman, op. cit., p.67
5. C Headlam (red), The Milner papers II: South Africa 1899-1905 (Londen, 1933), pp.92-93.
6. L S Amery (red.), The Times history of the war in South Africa 1899-1902, II (Londen, 1902), p.297; Van Den Heever, op. cit., p.87; P H R Snyman op. cit., p.204.
7. Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (KAB), AG3407: Voorlopige ondersoek, Kroon teen P J Snyman op aanklag van hoogverraad, Verklaring van J J Broekhuizen, 15.9.1900.
8. P H R Snyman, Olifantshoek - oase van die Langberg (Pretoria, 1986), p.24
9. Amery (red.), The Times history ... IV (Londen, 1906), pp.232-235.
10. KAB, 1/GSD 1/27 High Treason (remitted) Hay: Records of Proceedings in Criminal Cases, 1903 Jan.- 1903 May. Getuienis van Jacob du Preez, 3.8.1903.

11. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek III (Kaapstad, 1977) pp.536-537; P H S van Zyl, Die helde-album van ons vryheidsstryd (Johannesburg, 1944), p.163.
12. KAB, AG3407: Verklaring van J J Broekhuizen, 15.9.1900.
13. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek III, pp.536-537.
14. Amery (red.), The Times history ... IV, pp.256-257.
15. Ibid., p.422.
16. Ibid., p.432.
17. Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria (TAB), SO/POW 77: List of Transvaal prisoners of war and prisoners of war at Ceylon.
18. TAB, SO/POW 79: Alphabetical roll of the prisoners of war in Ceylon between Aug. 8, 1900-Nov. 30, 1901.
19. R L Brohier, Boer prisoners of war in Ceylon 1900-1902 (Afskrif van TAB-manuskrip in Biblioteek van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing), p.43.
20. Ibid., pp.3842.

21. R C de Jong, het Afrikaans Tehuis in Amsterdam 1900-1902, Zuid-Afrika 58 (11/12) Nov/Des 1981, pp.170-171.
22. J.D. Kestell en D E van Velden, The peace negotiations between Boer and Briton in South Africa (Londen, 1912), pp.136-137; Van den Heever, op. cit., p.187.
23. Cape of Good Hope Gazette, 1 Julie 1902. (Proklamasie 100 van 11 Junie 1902).
24. Cape of Good Hope, List of persons found guilty of high treason, Kimberley, October 1902 (Kaapstad, 1902); TAB, A32 1, J B M Hertzog-versameling.
25. J. Amery, The life of Joseph Chamberlain IV; 1901-1903 (Londen, 1951), pp.377-378.
26. KAB, AG2060 nr. 288A, High treason prisoners at Tokai.
27. J. Amery, op. cit., p.379; J H Holmeyr en F W Reitz, The life of Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) (Kaapstad, 1913, p.587.
28. Hofmeyr en Reitz, op. cit., p.585; De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land 24.3.1903; KAB, TOK 1/2, 23.3.1903.
29. South African News, 13.1.1905 (berig: 'Cape Rebels').
30. KAB, 1/GSD 1/27: Record of proceedings.


Added by e-mail editor:
Ek het die uitstekende artikel oor Kommandant Jan Vorster op die Internet gelees en onthou dat ek fotos van hom en sy vrou Lasya Wilhelmina gesien het. Indien u sou belangstel, dit is beskikbaar by:
http://general.rau.ac.za/chemistry/vorster/fotos.htm
With thanks to Roelf Vorster: 2000/05/15.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org