deur C.C. Eloff
Vir Vrystaatse burgers langs die grens met Basoetoland was die tydperk wat die oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke voorafgegaan het, vol vertwyfeling en onrustige afwagting. Terwyl daar by baie 'n soort oorlogs-psigose posgevat het omdat hulle bevrees was dat die Basoeto as Britse onderdane hulle aan die kant van hul beskermheer sou skaar en die Vrystaat onverhoeds kon binneval,(1) het ander Vrystaters weer juis in Basoetoland veilige asiel gaan soek. Feitlik vir die duur van die oorlog het hulle in groot getalle - en om uiteenlopende redes - 'n heenkome in die Britse protektoraat gevind.
Veral sommige Engelssprekendes het hulle as gevolg van die dreigende wapenbotsing in 'n dilemma bevind; die vooruitsig om teen hul Britse 'landgenote' te moes veg, het party laat terugdeins en huiwerig gemaak om krygsdiens te verrig. Baie het gevolglik die oe gevestig op Basoetoland waar hulle kon gaan skuil om aan hierdie netelige situasie te ontsnap. Namate die oorlog gevorder het, is Engelssprekende Vrystaters na bewering gedwing om aktiewe militere diens te verrig ten spyte van die onderneming wat die regering glo tevore gegee het dat hulle nie verplig sou word om direk by die stryd betrokke te raak nie - en dus noodgedwonge teen Britse 'medeburgers' hoef te veg. Eerder as om dit te doen, het hulle besluit om hul toevlug tot Basoetoland te neem.
Reeds voor die oorlog het talle 'verengelschde Afrikaners' begin om hulle besittings op swaargelaaide waens en karre na die aangrensende Basoetoland te karwei, terwyl groot troppe vee uit Vrystaatse oosgrensdistrikte ook daarheen gejaag is.(4) Na die Britse militere suksesse gedurende die eerste helfte van 1900 het die stroom vlugtelinge vinnig aangegroei toe veral wapen-neerleers (die sogenaamde 'Hendsoppers') na die buurstaat uitgewyk het.(5) Ook burgers wat op parool losgelaat was en die eed van getrouheid/neutraliteit afgele het, is in die loop van 1901 deur Britse offisiere na Basoetoland gestuur om hulle daar skuil te hou. Hierdie mense - meestal vrouens, kinders en enkele bejaarde mans - kon nie toegelaat word om op plase aan te bly nie uit vrees dat hul lewens in gevaar gestel kon word tydens Britse dryfjagte en opruimingsoperasies in distrikte langs die Basoetolandse grens.(6)
Blankes in die Vrystaat is ook deur ander oorwegings gelei om hulle as vlugtelinge na die oostelike buurstaat te begeef. Om te voorkom dat hulle gevang en na Britse konsentrasie- of krygsgevangekampe gestuur word, het baie Vrystaters by die Basoetolandse regering om asiel aangeklop.(7) Ander het weer om materiele redes en uit eiebelang na Basoetoland gevlug. Feitlik sonder uitsondering het hierdie vlugtelinge soveel vee, graan en ander besittings as moontlik met hulle saamgeneem om te verhoed dat dit deur Boeremagte of Britse troepe opgekommandeer, gekonfiskeer of vernietig word. Sodoende het hulle gehoop om hul eiendom te beskerm en veilig te hou sodat hulle na afloop van die oorlog nie tot die bedelstaf sou geraak nie.(8)
Groot getalle Vrystaatse Nie-Blankes uit veral die oosgrensdistrikte het ook na Basoetoland uitgewyk. Een van die redes hiervoor was glo dat hulle vir hul veiligheid in 'n oorlog tussen Blankes gevrees het. Daarbenewens is hulle vee (meestal osse en perde) na bewering dikwels sommer willekeurig deur Boere opgevorder of verbeurd verklaar met die gevolg dat hierdie Nie-Blankes, eerder as om dit te moes verduur, met hul besittings in Basoetoland gaan wegkruip het.(9)
Die omvang van hierdie vlugtelingverskynsel kan aan die hand van enkele statistieke bepaal word. Sowat anderhalf jaar nadat die oorlog uitgebreek het, was daar al l 845 Blanke vlugtelinge in Basoetoland; van hierdie groep was 892 manlik en 953 vroulik.(10) Teen Julie 1901 het 2 043 Vrystaters hulle in Basoetoland bevind; ruim die helfte van die 886 volwassenes was mans bo die ouderdom van sestien jaar en daar was 1 157 kinders. Altesaam meer as 138 000 stuks vee was in daardie stadium ook in Basoetolandse grensdistrikte; die waens en karre wat aan vlugtelinge behoort het, het onderskeidelik 252 en 262 beloop. (Vergelyk die Tabel).
Getal | persone | Vee | en | ander | eiendom | saamgeneem | na | Basoetoeland | ||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Distrik waar gevestig | Volwassenes | Kinders | Beeste | Skape | Bokke | Perde | Donkies/ Muile | Waens | Karre | Distrik/dorp van herkoms |
Berea | 64 (39 mans) | 80 | 2324 | 1236 | 732 | 195 | 29 | 43 | Nie vermeld | Ficksburg; Ladybrand; Winburg |
Leribe | 241 (151 mans) | 329 | 7318 | 7928 | 2361 | 750 | 95 | 72 | 74 | Bethlehem; Ficksburg; Fouriesburg; Ladybrand; Senekal |
Mafeteng | 321 (156 mans) | 422 | 5147 | 62433 | 1308 | 668 | 88 | 64 | 98 | Ladybrand; Rouxville; Smithfield; Wepener |
Maseru | 126 (65 mans) | 178 | 1577 | 2321 | 325 | 86 | 109 | 35 | 21 | Ficksburg; Ladybrand; Wepener |
Mohaleshoek | 134 (72 mans) | 148 | 3920 | 36773 | Nie vermeld | 397 | 7 | 38 | 69 | Rouxville; Smithfield; Wepener; Zastron |
TOTAAL | 886 (483 mans) | 1157 | 20286 | 110691 | 4726 | 2096 | 328 | 252 | 262 |
* Statistieke en ander besonderhede verwerk uit S. 3/2/2/1 : Return of European Refugees and Stock, 1901Groottotaal
Persone 2 043
Vee 138 127
Aan die einde van 1901 was daar reeds 2 193 Blanke Vrystaatse vlugtelinge in Basoetoland, te wete 523 mans, 458 vrouens, 556 seuns en 656 dogters.(11) Vroeg die volgende jaar het 452 manspersone tussen sestien en sestigjaar hulle nog in die protektoraat bevind.(12) Kort voor die einde van die oorlog het 1 944 Vrystaters (535 volwasse mans, 567 volwasse vrouens en 842 kinders) steeds in Basoetoland geskuil. Die totale getal vee van vlugtelinge het toe op 97 721 te staan gekom.(13) 'n Opvallende ooreenkoms by feitlik al bierdie vlugtelinge was dat hulle tot die Oos-Vrystaatse grensgemeenskap behoort het en Hollandssprekendes (Afrikaners) was.
Na raming het die getal Vrystaatse Nie-Blankes wat hulle teen Maart 1901 in Basoetoland bevind het, 5 660 beloop; bykans die helfte van hulle is verblyf in die distrik Berea aangebied.(14) Sowat drie maande na die vredesluiting was daar nagenoeg 1 500 van hierdie mense in Basoetoland en hulle het bykans 5 000 diere in hul besit gehad.(15)
Vlugtelinge is oor die algemeen redelik goed behandel. Terwyl baie hul intrek onder primitiewe omstandighede in strooise moes neem wat deur Basoeto's tot hul beskikking gestel is, het meer gegoede vlugtelinge met Basoetohulp huise vir hul gesinne opgerig. Aan party uitgewekenes is weer verblyf in dorpe soos Masero en Mafeteng en by sendingstasies soos Morija gebied.(16) Die meeste is toegelaat om hulle vee te behou en in baie gevalle het die Basoetolandse regering gratis lewensmiddele en selfs klerasie aan behoeftige vlugtelinge voorsien. Rantsoene in die vorm van skaapvleis en kruideniersware is byvoorbeeld dikwels aan hulle uitgedeel.(17) Die owerheid in Basoetoland sowel as die Christian Mansion Fund in Kaapstad het ook gereeld fondse aan amptenare in die verskillende distrikte beskikbaar gestel om vlugtelinge finansieel te ondersteun en mediese dienste en verblyf aan die hulpbehoewendes onder hulle te verskaf.(18)
Op maatskaplike gebied het die vlugtelinge insgelyks betreklik goeie behandeling geniet. Eredienste is van tyd tot tyd by sendingkerke vir hulle gereel en jongmense het selfs katkisasieklasse bygewoon waar hulle deur 'n medevlugteling onderrig is.(19) Die onderwys en opvoeding van kinders het eweneens nie agterwee" gebly nie want in September 1901 is ' n vlugtelingskool in Morija geopen. Die Basoetolandse regering het geldelike bystand vir die instandhouding daarvan bewillig en was bereid om 'n deel van die onderwyser se salaris te betaal.(20) In Mafeteng en Tsieta's Nek is vir 'n ruk lank ook onderwys aan 'n klompie vlugtelingkinders gegee.(21)
Die teenwoordigheid van die Vrystaters en hulle groot troppe vee in Basoetoland het sekere probleme meegebring. 'n Vraagstuk wat feitlik deurgaans bestaan het, was die feit dat Basoeto's se weiveld en landerye deur die duisende stuks klein- en grootvee tot snuif getrap is. As gevolg daarvan het Basoetokuddes agteruitgegaan; talle diere was boonop met longsiektes of runderpes besmet, wat die gevaar laat ontstaan het dat Basoeto's se vee ook die siekte kon opdoen.(22) Baie vlugtelinge is voorts daarvan aangekla dat hulle vee van Vrystaatse burgers wat op kommando was vir laasgenoemde - saam met hul eie diere - na die buurstaat gejaag het. Daardeur het hulle Boere wat nog aktief aan die stryd deelgeneem het, inderdaad gehelp deur hulle vee onder Basoetobeskerming te plaas sodat dit nie in die hande van Britse troepe kon val nie.(23) Sommige uitgewekenes het weer tot die ander uiterste oorgegaan deur Boere wat kommandodiens verrig het se vee in die Vrystaat met die hulp van Basoetohandlangers te gaan steel. Sodoende het hulle hul eie kuddes in Basoetoland probeer aanvul.(24) Sulke dade het gewoonlik tot wraakoptrede deur hulle landgenote aanleiding gegee: Boere het naamlik die grens oorgesteek en hul regmatige eiendom opgeeis of by vlugtelinge probeer afneem.(25)
'n Beskuldiging wat herhaaldelik teen vlugtelinge ingebring is, was dat hulle lewensmiddele, klerasie en medisyne aan Boerekommando's in die Vrystaat (Oranjerivier-kolonie) verskaf het. Veral sedert die tweede helfte van 1901 is baiekeer aangevoer dat burgers wat nog by die oorlog betrokke was, deur uitgeweke Vrystaters van kruideniersware, meel, klere, komberse en skoeisel voorsien word. Daar is na bewering van Basoetotussengangers gebruik gemaak om die proviand na Boere en hul gesinne deur te smokkel. Partymaal is die goedere deur vlugtelinge self na laers of kontakpersone in die Vrystaat geneem. Vir hierdie ondersteuning is vlugtelinge glo ruimskoots deur hul landgenote vergoed.(26) Verskerpte grensbeheermaatreels deur die Basoetolandse owerheid het mettertyd egter 'n einde aan sulke praktyke gemaak.(27)
Met die sluiting van die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 het die oorlog ook vir die vlugtelinge in Basoetoland ten einde geloop. Gedurende die eerste drie weke in Junie het die repatriasie van hierdie persone dus begin en teen die einde van die maand het nog net 140 Blanke uitgewekenes hulle in Basoetoland bevind (teenoor die bykans 2 000 aan die einde van April 1902).(28) Die stroom vlugtelinge wat na Ficksburg teruggegaan het, was so groot dat repatriasiebeamptes daar ernstige probleme ondervind het om almal gelyktydig te hanteer en te hervestig.(29) Teen November 1902 het die oorblywende groep Blanke vlugtelinge en die oorgrote meerderheid van die Nie-Blankes reeds na die Oranjerivier-kolonie (en hul tuistes) teruggekeer.(30)
Vrystaters wat in Basoetoland gaan skuiling soek het, word deur een skrywer geklassifiseer onder 'n groep bekend as 'Hendsoppers; dit wil se persone wat die stryd voor die be-eindiging van die oorlog gewonne gegee het.(31) 'n Tydgenootlike waarnemer bestempel hierdie vlugtelinge as mense wie se gewetens 'niet suiwer' was,(32) terwyl Basoeto's na hulle verwys het as sankwellas - vir baie uitgewekenes 'n skeldnaam en 'n woord met 'n bybetekenis van veragting of hoon.(33)
Die feit dat Vrystaatse burgers met hulle vee en ander eiendom in Basoetoland gaan skull het, het hulle uiteraard in staat gestel om na die vredesluiting met hierdie besittings na hul tuistes of plase terug te keer. Vergeleke met die 'Bittereinders' en lojale Vrystaters wat aansienlike materiele verliese gely het, kon die uitgewekenes dus hulle boerdery- en ander bedrywighede in die na-oorlogse periode met relatief min probleme voortsit. Sommige het hulself nie net verryk deur in die oorlog vee van hulle bittereinder-medeburgers te steel nie - baie gerepatrieerde vlugtelinge het glo ook van hul vee en ander eiendom tydelik in Basoetoland agtergelaat en dan op 'n oneerlike wyse skadevergoeding in die Oranjerivier-kolonie geeis (en ontvang!) vir verliese wat hulle sogenaamd gely het.(34)
Op grond van die 'verraad' wat vlugtelinge teenoor die vaderland gepleeg het en die onetiese gedrag waaraan party hulle skuldig gemaak het, was 'Bittereinders' in die voormalige Boererepubliek met 'n gevoel van wrewel en selfs bitterheid jeens hierdie uitgewekenes vervul. Baie het gevolglik drasties en openlik uiting aan hul gevoelens gegee deur weiveld op plase van wapenneerleers, wat na Basoetoland gevlug het, aan die brand te steek; sulke 'afvalliges' is selfs gewaarsku dat hulle vir hul verraderlike gedrag gestraf sou word sodat hulle na hul tuistes terugkeer.(35)
Doelbewuste en volgehoue pogings na afloop van die oorlog deur politieke leiers in die Oranjerivier-kolonie om versoening tussen onder andere hierdie groepe teweeg te bring, het nietemin daartoe bygedra dat rou oorlogswonde gaandeweg geheel is en die bittere gevoelens deur vergewensgesindheid en verdraagsaamheid getemper is.(36)
Ten opsigte van die verhouding tussen Boer en Basoeto het die Anglo-Boereoorlog in sekere opsigte ook tot positiewer gesindhede en groter welwillendheid gelei. Soos die Franse sendeling Frederic Christol dit in 1902 gestel het:
'Let us forget the quarrels and the hatreds of the past and joyfully regard the picture of the present hour which is so encouraging: hundreds and thousands of Boers have fled to Basutoland with their wives, their children, their herds and sometimes even their furniture. The Basuto have received them with simplicity and dignity ... the Boer refugees have lived in perfect harmony with the Blacks ... God grant that the past may be forgotten for ever and the future create happy relations between these two races between whom so much misunderstanding has hitherto prevailed.'(37)
VERWYSINGS
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org