In die Corybiblioteek by die Universiteit Rhodes is ‘n relatief onbekende en ongepubliseerde dagboek wat handel oor die Sewende Oosgrensoorlog (1846—1847). Die dagboek wat ‘n belangrike en nuttige historiese bron is, is deur James Brownlee gehou vir die tydperk 18 April tot 12 September 1846.(1)
James Brownlee was die seun van die bekende Skotse sendeling eerwaarde John Brownlee, wat sendingwerk onder die Xhosa gedoen bet, eers by die Tyhume-sendinginstituut en sedert 1826 by die Buffelsrivier (later King William’s Town).(2) Sy ouer broer Charles bet later bekendheid verwerf as onder meer Kommissaris van die Ngqika (Gaikas) en as Minister van Naturelle Sake in die Moltenokabinet.(3)
James is in April 1824 op die Tyhume-sendinginstituut gebore,(4) maar hy en Charles het die grootste deel van hul jeugjare by die Buffelsrivier deurgebring. Hier, middein Xhosa-gebied, het hulle van kleins af Xhosa leer praat en bekend geword met die Xhosa se gewoontes en beskouinge. James en Charles is eers deur hul vader tuis onderrig, maar is later na die bekende skooltjie by Salem naby Grahamstad gestuur.(5) Dit was juis in Desember 1834, terwyl hulle van Salem op pad terug na die Buffelsrivier was, dat hulle regstreeks met die Sesde Grensoorlog te doen gekry het. Eerwaarde Brownlee het besluit om nie na die Kolonie uit te wyk nie omdat die Ntinde onder wie hy aan die Buffelsrivier sendingwerk gedoen het, nie van plan was om aan die oorlog deel te neem nie. Toe die stam egter in die loop van die oorlog die Buffelsrivier verlaat om na 'n veiliger deel te verskuif, is eerwaarde Brownlee en sy gesin aan vyandiggesinde Xhosa blootgestel. Na vreeswekkende ervarings en ontberings, het hulle tog daarin geslaag om veilig per voet na die sendinginstituut by Wesleyville en daarvandaan per wa na die Kolonie te gaan.(6)
Kort na hierdie gebeurtenis het beide James en Charles saam met die sendelinge van die American Board of Commissioners for Foreign Missions na Natal en Zululand gegaan om as tolke op te tree. Dit is bekend dat Charles teen die einde van 1835 Natal toe is, maar presies wanneer James daar aangekom het, is onseker. Teen die tweede helfte van 1837 was hy egter beslis reeds daar.(7) Terwyl hy in Zululand was, het hy en eerwaarde Venable in Februarie 1838 die traumatiese ervaring gehad om by Mgungundlovu op die tragiese moord op Piet Retief en sy makkers af te kom 'n paar uur nadat dit gepleeg is. Hierna het hy saam met die Amerikaanse sendelinge Zululand en Natal verlaat.(8)
James het in die paar jaar wat hierop gevolg het, gehelp met skoolonderrig aan swart kinders by die sendinginstituut van sy vader; hy het self ook verdere skoolonderrig in Kaapstad gekry en het daarna weer saam met sy oudste suster die skoolonderrig by die Buffelsrivier-sendinginstituut behartig.(9) In Februarie 1841 het James se vader namens hom aansoek gedoen vir die pos as tolk van die Luitenant-Goewerneur aan die Oosgrens, onder meer om hom in staat te stel om in Grahamstad sy studies voort te sit. Sy aansoek is sterk gesteun deur C.L. Stretch, die diplomatieke agent by die Ngqika.” Omdat geen inligting in verband met James vir die jare 1841—1845 opgespoor kon word nie, is dit nie bekend of hy in die betrekking aangestel was nie. Teen einde 1845 was hy egter op Cradock waar hy die posisie van markmeester beklee het.(10)
James het reeds die betrekking beklee toe die Sewende Grensoorlog uitgebreek en hy besluit het om hom by die Cradock Volunteers aan te sluit. Hulle het op 18 April 1846 vanaf Cradock vertrek. Kort hierna, op 28 April, is hy as offisier in die burgermag aangestel en vanaf 18 Julie 1846 as tolk van die Luitenant-Goewerneur, kolonel Hare.(12) Nadat die troepe in September 1846 uit Xhosa-gebied onttrek is, het kol Hare ernstig siek geword en bedank. Blykbaar het James toe ook bedank en in die Baviaansrivier-vallei gaan boer. Hy het hom egter nog beskikbaar gestel vir burgermagdiens.(13)
James se broer Charles het toe al vir ‘n tyd lank in die Baviaansrivier-vallei geboer. Blykbaar het hulle hul boerderyonderneming gesamentlik aangepak.(14) Charles is egter in November 1846 aangestel as klerk van die Kommissaris by die Ngqika en in Desember 1846 as assistent-kommissaris. ‘n Jaar later is hy tot volle kommissaris bevorder.(15)
Hierdie verwikkelinge het ook James se lewe beinvloed, want hy is op 15 Februarie 1848 as klerk vir sy broer aangestel.(16) Terwyl James in die nuwe hoedanigheid by Fort Cox werksaam was, is hy in ongeveer April 1850 in die huwelik bevestig met Maria Hockly, dogter van mev. Hockly van Cradock. Omdat James en Charles teen die einde van 1850 ‘n volgende grensoorlog te wagte was, het hulle vir Maria en ander familielede betyds na Cradock weggestuur.(17)
Toe die Agste Grensoorlog in Desember 1850 uitbreek, is Fort Cox deur die vyand beleër. James en Charles het eers teen ongeveer 17 Februarie 1851 na King William’s Town gegaan. Hier het James as tolk vir kol Mackinnon, Hoofkommissaris van Brits-Kaffrarië, opgetree en het hy verskeie ekspedisies vergesel. Op 28 Maart 1851 het James egter tragies gesneuwel toe hy en 'n klein groepie van 14 lojaalgesinde Swartes probeer het om beeste wat die vyand by King William’s Town buitgemaak het weer terug te kry.(18) Hy was toe slegs 26 jaar en 11 maande oud.(19)
Kort na sy afsterwe is sy eersteling-dogtertjie gebore. Sy vrou is later weer getroud met ene Edward Hughes.(20)
Die dagboek wat James Brownlee gedurende die Sewende Grensoorlog in ‘n harde-omslag-notaboek gehou het, bevat inskrywings vanaf 18 April tot 12 September 1846. Op grond van die posisie wat James in die tyd in die militęre magte beklee het, kan sy dagboek in drie fases ingedeel word.
Die eerste fase handel oor die tydperk 18 April tot 28 April toe hy by die Cradock Volunteers aangesluit en hulle te perd vanaf Cradock oor onder meer Tarkapos en Pos Retief na Fort Beaufort gery het. Die tweede fase dek die tydperk 28 April tot 18 Julie 1846 toe hy as offisier in die burgermag diens gedoen het. Op 28 en 29 April het James die volgende verduideliking gegee vir sy bevordering tot offisier:
‘I had a proposal from Mr Ayliff to return with himfor the purpose of raising a body of men of which he would take to command and I act as an officer under him. Agreed to it. Separated from the Cradock Volunteers with a great deal of reluctance ... The only inducement that made me return was the pay — I was out on Govt. duty without a salary and my business at a stand(still).’(21)
As burgermagoffisier het James ‘n soldy van 2/6 per dag gekry.(22)
In die tydperk toe hy diens gedoen het as burgermagoffisier was James, net soos in die voorafgaande fase, nie by amptelike militęre optrede teen die vyand betrokke nie. Tot ongeveer 19 Junie was hy met werwingswerk vir die burgermag besig. In die tyd het hy 'n groot gebied deurkruis en onder meer by die volgende plekke aangedoen: Blinkwaterpos, Pos Retief, Tarkapos, Baviaansrivier-vallei, Cradock, Koonappos en Fort Beaufort. Tydens een van sy besoeke aan die Baviaansrivier-vallei het hy en sy broer Charles en enkele ander boere van daardie omgewing 'n Xhosa-bende wat beeste geroof het, agterna gesit. Hoewel hulle op die bende afgekom het, kon hulle nie die beeste afneem nie omdat die vyand te goed bewapen en hulle te min was.
Nadat hulle op 19 Junie by Fort Beaufort aangekom het, het James en sy medeburgers by twee geleenthede opdrag gekry om voorradewaens te vergesel en te beskerm. By die eerste geleentheid is graan by Fort Armstrong gaan haal, terwyl hulle by die tweede geleentheid met ses waens na Grahamstad gereis het.(23)
Die derde fase van James se dagboek neem in aanvang met sy aanstelling op 18 Julie as die tolk van luitenant-kolonel John Hare. Sy soldy is daarmee na 7/6 per dag verhoog.
Kort ná sy aanstelling as tolk het die militęre magte op 27 Julie vanaf Fort Beaufort vertrek vir ‘n veldtog in Xhosa-gebied. Die eerste aand het hulle by Blokdrif en die tweede aand in die Amatola-gebied in die omgewing van die Tyhume-sendingstasie oornag. Waarskynlik omdat James die Xhosa-gebied so goed geken het, is hy dikwels, benewens vir sy funksies as tolk, ook gebruik om as gids op te tree of om dringende boodskappe na en van die Goewerneur se kamp te neem. Op 28 Julie is hy byvoorbeeld vir die doel na Maitland se kamp aan die Greenrivier, naby die Buffelsrivier, gestuur. Hoewel hy as veiligheidsmaatreël eers na sonsondergang vertrek het, het hy nogtans amper met die Xhosa in botsing gekom. Op die 3lste is hy weer met briewe van die Goewerneur aan Hare terug. Ook die keer is hy voorgele deur die Xhosa, maar het hy tog Hare se kamp veilig bereik. Op 6 September weer is hy na Blokdrif gestuur op die uitkyk na ‘n begaanbare roete met die oog op die terugtog van die troepe. James het intussen ook aan veldtogte deelgeneem en wanneer sy dienste benodig is, as tolk opgetree — soos toe hy op 15 Augustus ‘n boodskap aan die Ngqika-kaptein Maqoma oorgedra het.(24)
Wanneer James se agtergrond in gedagte gehou word, sou met reg hoe verwagtinge van sy dagboek gekoester kan word. Hy het immers verskeie faktore in sy guns gehad. Sy skoolopleiding het hom in die vermoe geplaas om sy waarnemings noukeurig te formuleer en aan te teken. Verder het hy 'n baie goeie kennis gehad van die omgewing waar die oorlog plaasgevind het en die verskillende groepe wat daaraan deelgeneem het, nl. die Xhosa, die Britse troepe en die Engels- en Hollandssprekende koloniste. Met die Hollandssprekende koloniste sou hy beslis as markmeester op Cradock in noue voeling gekom het, terwyl sy eie moeder Catherina de Jager van die Swellendamse omgewing, Hollandsprekend was.(25)
Daar is egter opvallende gebreke in die dagboek. Baie van die inskrywings is kernagtig, kripties en oorhaastig gedoen. Omdat hy verder baie rond beweeg het, het hy soms sy dagboekinskrywings laat agter raak en moes dan later op sy geheue staat maak om dit aan te vul. Baie belangrike besonderhede het so verlore gegaan. Op 22 Julie het hy byvoorbeeld al die inskrywings gedoen wat hy sedert 11 Mei nagelaat het. ‘n Ander frustrasie wat die leser ervaar, is dat hoewel James met van die belangrikste persoonlikhede van die oorlog in aanraking was, soms by meer as een geleentheid, hy feitlik geen inligting of mening oor hulle aangeteken het nie. Hierdie bekende figure sluit in sir Peregrine Maitland, luitenant-kolonel John Hare, luitenant-kolonel Henry Somerset, sir Andries Stockenstrom, eerwaarde Henry Calderwood, William Dods Pringle en Maqoma.(26) Van slegs Stockenstrom voorsien hy die leser van sy indrukke; hy skryf oor hom:
the night before was the first time I had the pleasure of seeing him, his feature very plain — fine fore head a great deal of fire in his eye a good speaker, he is a pleasant man to ride with, very communicative for a person of his station. (27)
Ten spyte van die gebreke en tekortkominge van die dagboek sal die noukeurige navorser tog ook waardevolle inligting daaruit kry. Daar is in die eerste instansie interessante gegewens wat die leser meer inligting gee oor die dagboekskrywer. So kom die leser tot die verrassende ontdekking dat James, ten spyte van sy sendingagtergrond, op hierdie tydstip geworstel het met geloofsekerheid. Op 22 April skryf hy dat een van die burgers met wie hy saam in die Cradock Volunteers was 'n hoofstuk uit die Bybel voorgelees het en dat ene Joseph Smith daarna baie treffend gebid het. Dan vervolg hy:
' — my heart was full — I envied him because he was a Christian I not.’(28)
Dit blyk verder duidelik uit die dagboek dat James amper met verlange teruggedink het aan sy sorgvrye kinderdae. Van die treffendste beskrywende dele in die dagboek is ingeskryf teenoor 29 Julie en 30 Augustus toe hy by die afgebrande ruines van onderskeidelik sy vader se sendinginstituut aan die Buffelsrivier en eerwaarde John Ross sn by Pine aangekom het. Hierdie tonele het aangename herinneringe van sy kinderdae opgeroep.(29) Die leser kom ook in die dagboek sterk onder die indruk van James se gehegtheid aan sy ouer broer Charles. Hy het by elke geleentheid wat hom voorgedoen het sy broer opgesoek en wanneer hy hom nie raakgeloop het nie, sy teleurstelling daaroor uitgespreek.(30)
Die noukeurige navorser sal in die dagboek interessante inligting vind wat nie in ander bronne beskikbaar is nie of wat aanvullend daartoe is. James het byvoorbeeld, hoewel hy net vir ‘n baie kort rukkie in die Cradock Volunteers gedien het, nuttige gegewens oor hulle aangeteken. Met hul vertrek vanaf Cradock op 18 April het hy die volgende inskrywing gemaak:
‘Our Company consisted of 35 in number, rather motley in appearance, some with huge Cavalry swords — others with pistols — characters and employments as various — Doctors, Lawyers, Preachers, Publicans, Carpenters, Wheelwrights, Tailors, Coblers, Sailors and mounted on horses belonging to as many breeds.’(31)
Hy gee ook ‘n interessante kykie na die maniere waarop hulle hul tyd verwyl het voordat met aktiewe oorlogvoering begin is. Terwyl hulle na die Tarkapos op pad was, is daar in die aand vure aangesteek om kos voor te berei. Later in die aand is oor en weer tussen die vure gekuier ‘... where we were entertained by singing, joking etc., most of the singers had brought with them a good allowance of Aqua Vitae, so that their spirits were in fine order.’(32) By ‘n volgende uitspanplek het hulle na ‘n miershoop teiken geskiet en op 22 April teken hy aan dat ‘... one of our Mess amused us by reading an account of Paddy — the great Irish Swimmer and several other stories.’(33) Op 24 April het hulle met ligte kavallerie-oefeninge begin en op Sondag 26 April ‘n diens by Pos Retief bygewoon wat deur die bevelvoerende offisier daar gelei is. Tussendeur is beurte gemaak met wagdiens.(34)
Afgesien van heelwat terloopse gegewens het James nie baie militęre besonderhede verskaf nie. Sy akkurate aanduiding van die omgewing waar luitenant-kolonel Hare(35) en die Goewemneur hul kampe tydens die veldtog in Xhosa-gebied gehad het, is egter ‘n nuttige hulpmiddel. Oor die lokaliteit van Maitland se kamp meld hy byvoorbeeid: ‘Two miles from where the Green River is crossed by the Graham’s Town road, we saw the wagons (belonging) to the Governor’s Camp moving up the river, this was the largest train of wagons I had ever seen in number 200.(36) By ‘n vroeëre geleentheid verskaf hy weer die volgende inligting oor Tarkapos in die Kolonie, ‘Some times called Fynn’s Post after Resident Agent for the Tambookie tribes, no sign of this being a Post excepting the Military who are stationed here.’(37)
Volgens James se dagboek was daar voortdurend probleme met die verskaffing van voorrade en rantsoene aan die burgermag.(36) As tolk van kolonel Hare, en dus as lid van die staande mag, het hy blykbaar nie meer probleme daarmee ondervind nie en verskaf hy selfs die volgende gegewens oor die voorsiening daarvan:
‘We are at present liberally supplied getting in addition to our 1 ˝ lb. meat a 3/4 lb. biscuit, 1 oz. Coffee, 3/4 oz. Sugar, 2 oz. Rice, 1 ˝ gill salt, ˝ gill vinegar per diem besides 1/4 lb. Tobacco and ˝ bar Soap per week.'(39)
Kort tevore is ‘n 3/4 ons koffie en 1 ons suiker per dag aan hom uitgereik.(40) Ten spyte van die voorrade wat hulle ontvang het, het die soldate uitgesien na ‘n meer gebalanseerde maaltyd. James het dus toe hy die voorradewaens na Grahamstad vergesel het van die geleentheid gebruik gemaak om teen 3/6 ‘n aandete by Tomlinson se herberg by die Koonappos te nuttig. Met die terugreis het hy dit weer gedoen, maar die keer was die prys reeds opgeskuif na 3/9!
Voetnote
1. Cory Library (Rhodes University), M.S. 14313, Diary of James Brownlee.
2. J.S. Bergh, Die Lewe van Charles Brownlee tot 1857 (ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif, U.S., 1977), pp. 9—25.
3. J.S. Bergh, Die Lewe van Charles Brownlee tot 1857 en Charles Brownlee, Reminiscences of Kafir Life and History.
4. K.A.B., M.O.O.C. 6/9/55 Death Notices, 1851, No. 1035, Death Notice of James Brownlee, 28/3/1851, np.
5. J.S. Bergh, Die Lewe van Charles Brownlee, pp. 21—24, 31—33; N.A.B., A/2/10: J. Brownlee — A. Grant, 21/9/1835.
6. Charles Brownlee, Reminiscences of Kafir Life and History, pp. 22—44; K.A.B., Z.L. 1/3/12 L.M.S.
Microfilm 14/3/C: J. Brownlee — W. Ellis, 14/3/1835.
7. N.A.B., A/2/10: J. Brownlee — A Grout, 21/9/1835; K.A.B., Z.L. 1/3/13 L.M.S. Microfilm 15/3/D: A
Grout — W. Ellis, 20/11/1837; N.A.B., A/4/59: Diary of Rev. George Champion, 26/11/1835,
7/12/1836; N.A.B., A/ill Minutes of Meetings, 9/8/1837; In possession of Prof. D.J. Kotze, typed
copy from Dr. Owen Phelps Stoke’s original: Diary of the Rev. Henry I Venable, 2/10/1835.
8. In possession of Prof. D.J. Kotze, typed copy from Dr. Owen Phelps Stoke’s original: Diary of Henry
I. Venable, 5/2/1838 — 7/2/1838, 17/2/1838 — 22/2/1838, 27/2/1838, 2/3/1838; Francis Owen:
Diary (edited by G.E. Cory in The Van Riebeeck Society, No. 7), 6/2/1838 — 8/2/1838, pp. 106—112.
9. K.A.B., Z.L. 11/3/14 L.M.S. Microfilm 16/5/A: Journal of a visit to several of the stations of the Society
in South Africa by Mrs Philip, 25/12/1838 and Z.L. 1/3/14 L.M.S. Microfilm 17/2/C: J. Brownlee — W.
Ellis, 5/10/1840 and Z.L. 1/3/19 L.M.S. Microfilm 25/3/D: J. Brownlee — J.J. Freeman, 21/5/1850.
10. K.A.B., L.G. 507: No. 139, J. Brownlee — H. Hudson, 8/2/1841, p. 136 and L.G. 399: C.L. Stretch —
H. Hudson, 16/2/1841, pp. 174—175.
11. Lyndoch (Bedford), Pringle Papers Box 5, Folder 18(b): Mrs Townsend, M.S. book entry, 19/12/1845;
Cape of Good Hope Almanac and Annual Register for 1846, p. 352 and for 1847, p. 286; K.A.B., C.O.
4389: W. Gilfillan, Return Shewing the Names ... in the Town of Cradock ... (enclosure to No. 14, W.
Gilfillan — Secretary to Government, 15/1/1846).
12. Cory Libr. M.S. 14313: Diary of James Brownlee, 18/4/1846, 29/4/1846, 14/7/1846, 19/7/1846, 21/7/1846.
13. Cory Libr. M.S. 14313: Diary of James Brownlee, 9/9/1846 — 12/9/1846 and M.S. 9127, Lovedale Collection:
W.R. Thomson — J. Ross, 25/1/(1848); K.A.B., G.H. 18/5: Memorial of 97 Burghers, Inhabitants of the Division
of Somerset — H. Pottinger, 9/3/1847; G.E. Cory: The Rise of South Africa IV, pp. 496—497.
14. Lyndoch (Bedford), Pringle Papers Box 1; Folder 12: C. Brownlee — (D. Mahory), 1/11/1851; Cory
Library M.S. 3068: C. Brownlee — J. Ross, 9/2/1848; J.S. Bergh: Die Lewe van Charles Brownlee, pp. 122—124.
15. J.S. Bergh: Die Lewe van Charles Brownlee, pp. 137, 142—143.
16. K.A.B. BK. 432: C. Brownlee — G. Mackinnon, 22/1/1849.
17. K.A.B., Z.L. 1/3/20 L.M.S. Microfilm 26/1/C: J. Brownlee — J.J. Freeman, 7/4/1851: Charles
Brownlee: Reminiscences of Kafir Life and History, pp. 5—6.
18. Extra to the Graham’s Town Journal, 1/4/1851 (Latest Intelligence from Head Quarters); Cory
Library M.S. 3261 and 3263: Journal of John Ross, 26/2/1851, p. 47 and 28/3/1851 — 31/3/1851, pp.
4—6; K.A.B., G.H. 28/63: C. Brownlee — Col. Jarvock, 30/12/1851 (end, to Despatch No. 15 of
16/1/1852); K.A.B., C.O. 4073: C. Brownlee — C.H. Darling, 14/8/1854 (enclosed to C. Brownlee —
W.R. Rawson, 14/8/1854); K.A.B., Z.L. 1/3/20 L.M.S. microfilm 26/1/C: J. Brownlee — J.J. Freeman,
7/4/1851; The Graham’s Town Journal, 1/4/1851 (Latest Intelligence From Head-Quarters)
and 5/4/1851 (The Late Mr Jas. Brownlee, and his death notice).
19. K.A.B., M.O.O.C. 6/9/55 Death Notices, 1851: No. 1035, Death Notice of James Brownlee, 28/3/1851.
20. Charles Brownlee, Reminiscences of Kaffir Life and History, pp. 5—6; H.E. Hockly (compiler): The
Hockly Family in South Africa (1820—1964), p. 22.
21. Cory Library, M.S. 14313: Diary of James Brownlee, 28/4/1846, 29/4/46.
22. Diary, 19/7/46.
23. Diary, 28/4/46 — 21/7/46.
24. Diary, 14/7/46, 19/7/46, 21/7/46 — 19/9/46.
25. J.S. Bergh: Die Lewe van Charles Brownlee, pp. 4—5, 7.
26. Diary, 27/4/46, 28/4/46, 6/5/46, 7/5/46, 10/5/46, 11/5/46, 25/5/46, 26/5/46, 14/6/46, 6/7/46, 29/7/46,
30/7/46 and 15/8/46.
27. Diary, 7/5/1846.
28. Diary, 22/4/1846.
29. Diary, 29/7/1846 and 30/8/1846.
30. Diary, 2/5/46, 6/5/46, 9/5/46, 10/5/46 — 14/5/46, 8/6/46, 15/7/46, 16/7/46 — 18/7/46, 20/7/46 — 21/7/46.
31. Diary, 18/4/1846.
32. Diary, 18/4/1846.
33. Diary, 22/4/1846.
34. Diary, 24/4/1846, 26/4/1846.
35. Diary, 26/7/1846, 27/7/1846.
36. Diary, 29/7/1846.
37. Diary, 20/4/1846.
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org