The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 5 No 2 - Desember 1980

Die stryd tussen Boer en Brit in Transvaal 1877 - 1881

deur prof M.C van Zyl

Redakteurs nota: Prof M.C. van Zyl is hoof van die Departement Geskiedenis aan Unisa. Sy publikasies sluit in sy onlangse boek, 'Die protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners (1877 - 1880)', Pretoria, 1979.

'n Geweerskoot op 16 Desember 1880 in Potchefstroom het 'n gewapende botsing tussen Boer en Brit in Transvaal ingelui. Van Britse kant is dit beskou as 'n opstand, 'n Boererebellie teen die Britse gesag wat sir Theophilus Shepstone as verteenwoordiger van die Britse koningin op 12 April 1877 oor die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek afgekondig het. Daarenteen was dit vir die Transvaalse Boere 'n vryheidstryd, 'n onafhanklikheidsoorlog; die voortsetting van 'n penne- en woordestryd wat al 'n dag voor die anneksasie begin het toe die regering van die Republiek skriftelik teen die oorname van hulle land geprotesteer het.

Die protes en die protesbeweging wat daarop gevolg het, was die Transvaalse Afrikaners se antwoord op die Britse anneksasie van hulle land. Oor die redes vir die anneksasie is al baie geredeneer. Daar word selfs gepraat van ware redes en van skynredes. Die skynredes is aangevoer om die ware redes te verbloem. Dit is dan ook opvallend dat die redes wat in die Britse parlement, koerante en amptelike stukke vermeld is, verskil van die wat die Britse staatslui in vertroulike en private briewe neergepen het. Een goeie voorbeeld hiervan is lord Carnarvon, die Britse minister van kolonies, se bewering op 25 Maart 1879 in die Britse hoe-erhuis dat die Transvaalse anneksasie nie uit sy bekende federasieskema vir die Suid-Afrikaanse state en kolonies voortgevloei het nie.(1) Selfs 'n paar dae na die anneksasie, maar voordat die nuus Londen bereik het, het hy in die openbaar gese dat Brittanje nie in Transvaal geinteresseerd was nie en dat by boonop nie onwilliges in sy federasie wou he nie.(2) In die privaat was Transvaal egter vir Carnarvon 'the key of the position',(3) want as die Britse vlag oor Transvaal wapper, sou die Oranje-Vrystaat moes volg en sou dit hom nader bring, soos hy dit self op 13 Oktober 1876 geformuleer het, 'to the object and end for which I have now for two years been steadily labouring - the union of the South African Colonies and States'.(4) Wat ookal die ware redes vir die anneksasie was, moet dit aanvaar word dat Carnarvon se federasieskema een van die belangrikste oorwegings was.

Die Transvaalse Afrikaners was vierkantig daarteen gekant om tot 'n Suid-Afrikaanse federasie onder die Britse vlag toe te tree. Hulle was bevrees dat hulle daarmee hulle vryheid sou verloor. Die drang na vryheid was een van die redes waarom die Voortrekkers die Kaapkolonie in die dertigerjare van die vorige eeu verlaat het. Britse inmenging in die Suid-Afrikaanse binneland, eers in Natal en later in Transoranje, het nie alleen die vryheidsdrang aan bande gele nie, maar ook by talle, selfs by sommiges wat vir 'n aantal jare in Natal gebly en Britse gesag beproef het, duidelikheid gebring dat hulle nie onder die Britse vlag wou wees nie. Diegene het uitgewyk na Transvaal en daar die vryheidsgedagte nog verder aangewakker. Groot was die blydskap toe Brittanje in 1852 eers die Transvaalse en inh1854 die Vrystaatse onafhanklikheid erken het. Brittanje sou egter sy beleid van nie-inmenging in die binneland mettertyd heroorweeg.

Vir Brittanje was die suidpunt van Afrika vanwee-e sy strategiese ligging na die Ooste van besondere betekenis. Die behoud van die Kaapkolonie het egter geld gekos, iets waarvan die Britse belastingbetaler nie gehou het nie. Dit was een van die redes waarom Carnarvon gestreef het na 'n Suid-Afrikaanse federasie wat onder die Britse vlag 'n selfversorgende staat kon word. Na verskeie mislukkings om die federasiegedagte inslag te laat vind in veral die Boererepublieke, maar ook in die Kaapkolonie, het Carnarvon besluit om tot die daad oor te gaan en Transvaal Britse gebied te maak.

Eienaardig genoeg het die Transvalers nie die anneksasie gewapenderwys teengestaan nie. Op al die redes hiervoor word nie hier ingegaan nie.(5) Dis voldoende om daarop te wys dat die Uitvoerende Raad, bewus van sy onmag om 'n gewapende stryd met Brittanje aan te knoop en begerig om bloedvergieting te voorkom, besluit het om alle vreedsame middele te beproef om die anneksasie ongedaan te maak. 'n Formele protes is dus uitgereik en 'n afvaardiging benoem om hulle saak in Brittanje en Europa te gaan bepleit.(6)

Op sy beurt het staatspresident T.F. Burgers ook 'n protes uitgereik(7) en per proklamasie 'n beroep op die burgers gedoen om voorlopig onder protes in die anneksasie te berus sodat die afvaardiging sy werk behoorlik kon verrig.(8) 'Burgers het ons in Gods naam belet om wapengeweld te pleeg', was 'n tydgenoot se verklaring waarom die wapens nie opgeneem is nie.(9) Selfs Shepstone het erken dat Burgers 'n oorlog afgeweer het.(10) Hy het egter die rustige gedrag van die burgers in afwagting op die uitslag van die deputasie se besoek aan Londen verkeerdelik vertolk as berusting in die anneksasie.(11) Die protes self het hy afgewater as iets wat die regeringslede aangegryp het om bulle te vrywaar teen beskuldigings van hoogverraad(12) en vir die groot meerderheid burgers gedien het as 'n verskoning 'to accept quietly what they feel is the only means of saving themselves and the country'.(13) En tog het Shepstone nog voor die terugkeer van die deputasie bestaande uit Paul Kruger en dr. E.J.P. Jorissen, die spanning begin aanvoel.

Die terugkeer van die deputasie in Desember 1877 was inderdaad 'n belangrike gebeurtenis. Toe die mense verneem dat die sending onsuksesvol was, het die gemoedere opgevlam. In Pretoria wou Kruger die mense kalmeer, maar hulle het daarop aangedring om die protes teen Britse gesag voort te sit. 'n Versoekskrif moes opgestel en onderteken word om aan Carnarvon te toon dat die meerderheid teen die anneksasie gekant was.(14) Eintlik het hierdie besluit teen Carnarvon se wens ingedruis, want in Londen het hy telkens geweier om aan die deputasie se versoek te voldoen dat 'n volkstemming oor anneksasie gehou moes word.(15)

Dit is baie duidelik dat die volk hulle nie wou laat keer nie. Vir 'n tweede verslagvergadering op Noupoort in die distrik Potchefstroom was Kruger so skrikkerig dat hy vir Piet Joubert versoek het om die vergadering by te woon 'om my te helpen opdat onze zaken geen verkeerde loop mag nemen', want 'de menschen zyn oploopend'.(16) By hierdie vergadering sowel as die een in Pretoria is kommissies gekies om die memorie te hanteer. So het die Volkskomitee sy beslag gekry. Die ondertekening van die memorie, hoewel dit teen die uitdruklike wens van Carnarvon geskied het, het ongetwyfeld 'n uitlaatklep gebied vir die heethoofdiges en het die leiers in staat gestel om in die gees van die protes teen die anneksasie alles in die werk te stel om die onafhanklikbeid op 'n vreedsame wyse te probeer terugkry.(17)

Die uitslag was 'n oortuigende oorwinning vir die pro-onafhanklikes. Uit 'n moontlike 8 000 burgers het 6 591 hulle teen die anneksasie uitgespreek. Slegs 587 was ten gunste van Britse gesag, dog die meeste van hierdie name was nie handtekeninge nie, maar is deur die stemopnemers ingeskryf omdat op Noupoort besluit is dat diegene wat huiwerig was om teen die anneksasie te teken, se name opgeskryf moes word by die' wat Britse gesag verkies het.(19) In Pretoria is egter nie 'n soortgelyke besluit geneem nie. Daar kon dus meer mense ten gunste van anneksasie gewees het. Toe die' stemme getel is, was daar ook nog 'n paar lyste uitstaande. Die Volkskomitee het dus besluit om die name vir anneksasie te ignoreer en slegs te konsentreer op die 6 591 stemme uit 'n moontlike 8 000, die getal waarop Shepstone die aantal weerbare Blanke mans gestel het. Paul Kruger en Piet Joubert is gekies om as 'n afvaardiging die uitslag aan Carnarvon bekend te gaan maak.(19)

First photo

Commandant-General P.J. Joubert Member of Triumvirate and Commander of Transvaal Republic Forces. Born 20 January 1831 - Died 27 March 1900.

'n Jaar na die anneksasie was dit uit die ondertekening van die memories duidelik dat die meerderheid Transvaalse burgers hulle nie aan Britse gesag wou onderwerp nie. Op beskuldigings dat mense deur skrikaanjaging gedwing is om te teken hoef nie hier ingegaan te word nie, omdat dit min om die lyf het. Dit is belangriker om sekerheid te kry oor die vraag of die burgers van die begin af teen Britse gesag gekant was, of het hulle gedurende die eerste jaar van Britse bestuur 'n weersin daarin ontwikkel? Volgens historikus C.W. de Kiewiet 'there is something to be said for the contention that the blunder that led to Carnarvon's undoing was not the annexation, but the years of mischievous administration that followed it'.(20) So 'n veralgemening kan slegs waar wees as dit bewys kan word dat die meerderbeid die anneksasie op 12 April 1877 aanvaar bet. En dit is 'n moeilike taak, veral as in aanmerking geneem word dat die oorgrote meerderheid slegs 'n jaar daarna teen die anneksasie gekant was. Dit wil eerder voorkom of die meerderheid van die begin af teen die anneksasie gekant was, maar ingevolge die oproep van die Burgersregering onder protes daarin berus het om die uitslag van die deputasie se besoek aan Londen af te wag. Die negatiewe uitslag hiervan het hulle tot 'n openlike keuse gebring. Dit is wel waar dat die eerste jaar van Britse administrasie maar swak was en dat Shepstone weens allerlei probleme wat hy op die lyf geloop het, nie sy beloftes gestand kon doen nie. Dit het wel 'n klompie lojale Afrikaanssprekendes en veral die Engelssprekendes se ontevredenheid gewek, sodanig dat 'n petisie vir die verwydering van administrateur Shepstone onderteken is.(21)

Ook die tweede afvaardiging na Londen het misluk. Hierdie keer was die afgevaardiges gewapen met gegewens waaroor die eerste deputasie nie beskik het nie en was hulle in alle opsigte baie beter voorbereid om Carnarvon die loef af te steek. Carnarvon is egter intussen as minister van kolonies vervang deur sir Michael Hicks Beach, 'n man wat nog sterker teenstand as sy voorganger teen die Transvalers se versoek om onafhanklikheid gebied het. Hy wou nie dieselfde waarde as die deputasie aan die 6 591 handtekeninge heg nie, want baie van die ondertekenaars was volgens hom onbevoeg om oor so 'n belangrike saak te besluit en het buitendien onder dwang geteken. Boonop het hy Shepstone se redes vir die anneksasie, die skynredes, aanvaar ten spyte van die deputasie se argumente om die teendeel te bewys.(22)

Die mislukking van die tweede afvaardiging het die Boere daarvan oortuig dat hulle saak in Londen beswadder word deur die Britse amptenare in Suid-Afrika. Daarom sou daar voortaan gepoog word om hierdie mense tot 'n ander sienswyse oor te haal. Die eerste wat aan die beurt gekom het, was sir Bartle Frere, die Britse hoe-e kommissaris in Suid-Afrika. Frere se posisie in Suid-Afrika was so belangrik dat die Boere hom nooit kon verbygaan nie. Hulle het hom dan ook geken toe die eerste en tweede deputasies na Londen gestuur is en by hom gepleit om die Boeresaak te bevorder. Hoewel Frere niks met die Transvaalse anneksasie te make gehad het nie, moet dit egter in gedagte gehou word dat Carnarvon hom met 'n spesifieke doel na Suid-Afrika gestuur het. Hy moes sy federasiebeleid uitvoer en die eerste goewerneurgeneraalskap van 'n verenigde Suid-Afrika teen 'n salaris van 10 000 was die lokaas.(23) Carnarvon so opvolger, Hicks Beach, het ook 'n federasie voorgestaan en sy volle steun aan Frere toegese'.(24) Menslikerwys beskou, sou Frere dus die brood uit sy eie mond geneem het indien hy aan die Boere-eis van onafhanklikheid toegee. Boonop was hy 'n ervare amptenaar en ryksbouer wat die opdragte van sy regering lojaal uitgevoer het. Nogtans was die Boere in hulle ywer om op 'n vreedsame en konstitusionele wyse na hulle onafhanklikheid te streef bereid om hulle hoop en vertroue op 'n man soos Frere te vestig.

Frere het gemeen dat hy die ontevrede Transvalers kon sus deur hulle konstitusionele vryhede onder die Britse vlag aan te bied. Dit was nie 'n nuwe gedagte nie. Carnarvon en Hicks Beach het dit al onsuksesvol met die deputasies probeer. Frere was van plan om Transvaal te besoek om oor 'n konstitusie te beraadslaag. Die geskil oor die Transvaal- Zoeloelandgrens het egter sy besoek vertraag omdat hy eers in Natal moes aangaan. Daar het die tweede deputasie op hulle terugreis by hom aangedoen. Die meeste wat Frere aan die Boere wou gee was 'n grondwet met groot vryhede. Hy sou dit met hulle bespreek wanneer by Transvaal besoek.(21)

Op Wonderfontein, naby die huidige Carletonville, waar die tweede deputasie in Januarie 1879 aan 'n volksbyeenkoms verslag gedoen het, het dit duidelik geblyk dat die Volkskomitee en die byna 2 000 vergaderde burgers die protes teen die anneksasie sou voortsit. Hulle was bereid om tot die welvaart van Suid-Afrika met Frere mee te werk, maar die herroeping van die anneksasie was 'n voorvereiste. Hulle sou op Frere se besoek aan Transvaal wag.(26) Nog voordat Frere sy opwagting in Transvaal gemaak het, is Shepstone as administrateur van Transvaal deur Owen (later sir Owen) Lanyon vervang. Lanyon het vir die Boere en selfs vir die Engelse in Suid-Afrika geen goeie woord gehad nie en sou deur sy ongenaakbare houding bydra tot die verdere moeilikhede.

In Maart 1879 het meer as 4 000 burgers saamgetrek op die plaas Kleinfontein (by die huidige Benoni) op die pad tussen Pretoria en Heidelberg om Frere te ontmoet. Hulle het vir drie weke geduldig gewag totdat Frere hulle op 10 April bereik het. Twee dae later het hy met die Boereleiers naby Pretoria beraadslaag. Die onderbandelings het 'n dooie punt bereik, maar Frere het ingewillig om 'n memorie bevattende die Boere se versoek dat die anneksasie herroep moes word, aan die Britse koningin te stuur. Hy het ook onderneem om 'n juiste weergawe van sy onderhandelings met die Boere aan die Britse regering te besorg.(29) Hy het dit dan ook gedoen en selfs in 'n brief, wat by aan vyf Boereleiers getoon het, aan Hicks Beach geskryf 'that their representations are worthy of your earnest consideration.' (29) Dit het die Volkskomitee en die versamelde burgers tevrede gestel en hulle het die byeenkoms op Kleinfontein ontbind. In ander briewe het Frere dit egter duidelik gestel dat die meerderbeid Transvalers Britse gesag verkies.(30) Sy ervaring met die Volkskomitee en die Boerekamp van Kleinfontein het geen indruk op hom gemaak nie. Hy het wel die geweldige spanning wat daar geheers het, aangevoel en sy grootste begeerte was om die duisende gewapende burgers op Kleinfontein op 'n vreedsame wyse uiteen te kry.(31) Hierin het by geslaag. In sy poging om die Boere van hulle onafhanklikheidstrewe te laat afsien, het hy egter misluk.

In Londen is daar besluit om 'n antwoord op die memorie voorlopig agterwee-e te hou totdat die Anglo-Zoeloeoorlog be-eindig is. Die verantwoordelikheid vir hierdie oorlog is reg of verkeerd voor Frere se deur gele. Sy gesag as ho-e kommissaris in Transvaal, Zoeloeland en Natal is hom dus ontneem en toevertrou aan sir Garnet Wolseley, wat ho-e kommissaris vir Suidoos-Afrika geword het. Wolseley moes die oorlog be-eindig en die probleme met die Boere uitstryk.(32)

Die 46-jarige generaal-majoor sir Garnet Wolseley was 'n persoon wat geweet het wat hy wou he. Hy was 'n skitterende soldaat wat reeds op 26 jaar 'n luitenant-kolonel in die Britse leer geword het, maar hy was ook 'n 'egotist and a braggart'.(33) Nadat hy met die Zoeloes vrede gesluit het, het hy Transvaal met groot gedruis binnegekom en vertel 'that the annexation was forced upon us by circumstances over which we had no control, but having been done, it cannot and never will be undone... as long as the sun shines daily this (Transvaal) will continue part of Her Majesty's dominiums in South Africa'.(34) Hy het met sy aankoms in Pretoria skaars die ampseed op 29 September 1879 afgele', of hy kondig per proklamasie aan dat Transvaal vir ewig Britse gebied sou bly.(35) Alle twyfel oor Britse bedoelings moes die nek ingeslaan word. Wolseley was haastig om dinge in Transvaal reg te ruk, so haastig dat iemand opgemerk het: 'He wants to gallop through everything as if he was a God Almighty.'(36)

Ten spyte van alles het die Boere in groot getalle na die volksbyeenkoms op Wonderfontein opgeruk. Op 11 Desember 1879 het dit reeds geblyk dat sowat 4 000 burgers hulle onafhanklikheid wou terughe' en nie meer langer wou wag nie. Vir die verslaggewer van De Volksstem was dit duidelik dat die vroe-er-verdeelde Transvalers gegroei het tot "e'e'n volk, met een eigen geschiedenis en onverwrikbaar aan elkander gehecht door de heilzaamste deugd: vaderlandsliefde. Zoo wordt uit een slechte zaak dikwijls nog iets goeds geboren!"(42) Die middag van die l5de is tien besluite aanvaar. Die volk het te kenne gegee dat by nog nooit onder die Britse viag wou staan nie en die begeerte uitgespreek dat die Volksraad byeengeroep moes word sodat die wettige regering sy werksaamhede kon hervat. Elkeen het beloof om met die hulp van God mee te werk tot 'n kragtige regering, eerbied vir die wet, ontwikkeling en vooruitgang van die land, en om hulle regering tot die dood toe te verdedig. Op die 17de is 'n verdere besluit toegevoeg, naamlik dat die Volkskomitee in die belang van die land moes meewerk indien die Britse regering 'n vreedsame weg sou inslaan.(43)

Tot 'n vreedsame weg was Wolseley nie bereid nie. Hy het reeds vir Sekhukhune onderwerp en sou dit ook met die opstandige Boere doen. Sy eerste optrede was om M.W. Pretorius en W.E. Bok in hulle hoedanigheid as voorsitter en sekretaris van die Volkskomitee te arresteer nadat hulle die Wonderfonteinbesluite aan hom gestuur bet. Hy wou hulle aankla van hoogverraad. Hulle is gearresteer en uiteindelik op borgtog van 3 000 elk vrygelaat. In Potchefstroom het die aanhouding van Pretorius byna in 'n krisis ontaard.(44)

Voorts het Wolseley 'n regeringsgesinde Hollandse koerant, die Transvaalsche Volksvriend, opgerig om as 'n teenvoeter vir De Volksstem te dien. Hy het 300 uit sy eie sak betaal om die koerant vir die eerste ses maande aan die gang te hou.(45) Dit was nog nie die einde van Wolseley se planne om die protesbeweging lam te le' nie. Die verrassendste daarvan was om M.W. Pretorius 'n setel aan te bied in die Uitvoerende Raad wat hy beoog het om in te stel. 'n Volgende stap was om Bok en Pretorius se verhoor uit te stel, want met die verhoor hangende sou die mense te bang wees om die volgende volksbyeenkoms wat vir April 1880 bele' is, by te woon.(46)

Sy aanbod aan Pretorius, wat vir hoogverraad verhboorafwagtend was, het baie mense dronkgeslaan, maar vir Wolseley was dit logies dat hy daarmee bewys het dat hy toegeeflik wou wees teenoor almal wat gewillig was om sy regering lojaal te dien.(47) Eintelik was dit 'n vorm van omkopery en hy het dit immers self erken.(48)

Nadat Wolseley kroonkolonieregering in Transvaal aan die gang gesit het met die instelling van 'n Uitvoerende Raad op 23 Februarie en 'n Wetgewende Vergadering op 10 Maart 1880, albei met genomineerde lede, het hy sy taak as afgehandel beskou. Hy het geen verdere probleme van die kant van die Boere verwag nie. Toe die volksvergadering wat vir April 1880 bele' is, boonop uitgestel word, was Wolseley in sy noppies. 'Things have never looked better than they do now', was sy kommentaar.(49)

Vir die Boere, wat nog steeds op 'n antwoord op hulle memorie gewag bet, was Wolseley se optrede 'n skok wat hulle aangespoor het om te volhard in hulle strewe na onafhanklikheid. Ontevredenheid oor die optrede van amptenare, veral oor die insameling van belastings en die uitreiking van permitte vir ammunisie,hhet oral uitgeslaan. 'n Voorval op Middelburg illustreerhdie spanning wat geheers bet. Toe vyftig burgers op 8 Oktober 1879 die verhoor van J.H. Jacobs bygewoon het, het die waarnemende landdros dit goed geag omhWolseley se proklamasie oor die behoud van Britse gesag is Transvaal te laat voorlees. Dit het chaos tot gevolg gehad en die verhoor is vir 'n paar uur uitgestel. Ge-irriteer deur die proklamasie, asook deur die beperkings op ammunisie-aankope het die burgers op twee winkels toegeslaan en al hulle ammunisie onder dwang gekoop sonder om permitte daarvoor te toon. (37) Soortgelyke 'kopery' van ammunisie het op ander plekke gevolg. Die oortreders is slegs ligte boetes opgele', moontlik om 'n algemene opstand te voorkom. Wolseley was spoedig daarvan oortuig dat 'we are hated by 9/10 of the Boers with an intense hate'.(38)

Wolseley het voorts, in teenstelling met ander Britse amptenare, die moed van sy oortuiging gebad om te erken dat daar nooit 'n groot en invloedryke groep Boere ten gunste van anneksasie was nie. Hy het dus die anneksasie as 'a great political blunder' beskou.(39) Hy sou egter die laaste een wees om die onttrekking van Britse gesag aan te beveel, omdat dit Britse prestige, veral by die Swartes, sou skaad.(40)

Voordat Wolseley teen die Boere kon optree, moes hy eers die opstandige Pedikaptein, Sekhukhune, onderwerp. Wolseley was veral bekommerd oor die volksvergadering wat vir 10 Desember 1879 bele' is en hy het Lanyon opdrag gegee om die Boereleiers van die protesbeweging af te rokkel deur staatsposte aan hulle te bied. Hy was ook bereid om tot 50 te betaal vir inligting wat sou lei tot aanklagte teen persone wat van skrikaanjaging gebruik maak om die burgers by die volksvergadering te kry. Die Boere moes ook voorts afgeskrik word met 'n berig in die Transvaalse Argus dat die artillerie toegerus word met 'n nuwe en baie gevaarlike bom.(41)

Wolseley het die klimaat verkeerd gelees. Die protesbeweging was nie besig om dood te loop nie. Die volksvergadering is ook nie uitgestel omdat die protesbeweging laat vaar is nie. Dit is gedoen om nog eens 'n poging aan te wend om die onafhanklikheid op 'n vreedsame wyse terug te kry. Kruger en Joubert is na Kaapstad afgevaardig om 'n federasievoorstel wat voor die Kaapse parlement gele' sou word teen te werk. Daarby sou op die nuwe Britse eerste minister, W.E. Gladstone, 'n beroep gedoen word om hom te hou by die mening wat by voor die Britse verkiesing uitgespreek het dat hy teen die Transvaalse anneksasie gekant was en dit moontlik na sy bewindsaanvaarding sou herroep. Kruger en Joubert het wel in Kaapstad bygedra tot die mislukking van die federasieplan.(50) Die beroep op Gladstone was egter onsuksesvol.(51)

Na Wolseley se vertrek het generaal-majoor sir George Pomeroy Colley hom as ho-e kommissaris vir Suidoos-Afrika opgevolg. Colley was egter nie soos Wolseley ook goewerneur van Transvaal nie. Dit het beteken dat Owen Lanyon nou seggenskap verkry het. Lanyon het gemeen dat die Boere-agitasie besig was om dood te loop.(52) En tog was daar volop tekens dat dit nie die geval was nie. Kennisgewings wat Engelsgesindes belet het om op Boere se plase te kom het al meer in De Volksstem verskyn. 'Wij zijn het tergen moede en vol tot barstens toe', het 'n groepie burgers in die distrik Rustenburg gese(53) en daarmee waarskynlik die gevoelens van baie ander vertolk. Daar was ook heelwat probleme met die betaling van belastings. Vir Lanyon was die Boere egter 'n klomp grootpraters wat te lafhartig was om ooit tot optrede oor te gaan.

Lanyon se onvermo-e om die Boere se ware gevoelens raak te sien en sy begeerte om Transvaal se inkomste op te stoot, sou ruimskoots bydra tot die uitbreek van die oorlog. Hy het geen nuwe belastings gehef nie, maar op die effektiewe insameling van die bestaande belastings gekonsentreer. Hy het dan ook goeie resultate behaal, maar baie Transvalers het ongelukkig gevoel, want hulle het betaling van belastings beskou as onderwerping aan Britse gesag. Sommige was bereid om belastings te betaal indien dit op die kwitansie aangedui word dat hulle dit onder protes doen.(54)

In Potchefstroom het die belastinginsameling tot 'n openlike botsing aanleiding gegee. Pieter L. Bezuidenhout van wyk Schoonspruit is vir 27.5.0 aangeslaan, maar hy het slegs 14 aangebied, wat volgens sy kwitansies die bedrag was wat hy verskuldig was. Die landdros wou nie ingee nie en Bezuidenhout is voor die hof gedaag. Die uitspraak was dat hy net 14 moes betaal, maar hy is aangeslaan vir 8 hofkoste. Bezuidenhout het toe geweier om die gesamentlike bedrag van 22 te betaal, waarop op sy wa beslag gele is.(55) 'n Honderdtal Boere het op 11 November 1 880 verhoed dat die wa opgeveil word.(56)

Hierna het sake vinnig ontwikkel. Van regeringskant is 'n hele klomp maatree-els getref om die landdros se gesag te handhaaf en die belhamels aan die man te bring.(57) Aan Boerekant het dit duidelik geword dat die einde van vreedsame onderhandelings aangebreek het en die volksvergadering is na 8 Desember 1880 vervroeg. Op sy beurt het Lanyon 'n kennisgewing in die staatskoerant gepubliseer om die Boereleiers te waarsku teen wetsoortreding en die lojales te verseker dat Britse gesag gehandhaaf sou word.(58)

Op die bestemde dag het die burgers van heinde en ver saamgetrek op Paardekraal, die plaas waarop Krugersdorp later aangele is. Moontlik was daar uiteindelik 8 000 burgers byeen. Op 11 Desember is Kruger as vise-president versoek om die regering van die Republiek te herstel. Hy het dit op die l3de gedoen deur die Volksraad byeen te roep. By die geleentheid het die voorsitter van die Volksraad, C.J. Bodenstein, Kruger bedank vir sy gewilligheid om aan die stem van die volk gehoor te gee en hom verseker dat hulle by hom sou staan 'gereed tot den laatsten man om ons leven voor de afhankelijkheid van ons dierbaar vaderland op te offeren'.(59) 'n Driemanskap bestaande uit Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius sou die bestuur van die land voorlopig behartig.

Op 13 Desember 1880 is ook 'n proklamasie opgestel waarin die Boeresaak uiteengesit en die buitewereld kennis gegee is dat die onafhanklikheid van die Republiek herstel is.(60) Kommandant Piet Cronje' is die volgende dag met 'n sterk patrollie na Potchefstroom gestuur om die proklamasie by J.P. Borrius te laat druk. Voorts is Paardekraal verlaat en op die l6de is die vierkleur op Heidelberg gehys. Dit sou voorlopig die setel van die Boereregering wees.(61)

Voordat die burgers Paardekraal verlaat het, is 'n klipstapeling gebou en elkeen wat 'n klip gele' het, het 'n heilige gelofte afgele' om mekaar as broers die hand te reik, getrou aan hulle land en volk te bly en met die oog gerig op God tot die dood toe saam te werk vir die verkryging van hulle onafhanklikheid.(62) Dit was 'n verenigde volk wat hulle hier tot 'n gelofte verbind het. Van die verdeeldheid wat daar tevore in Transvaal was, was daar geen sprake meer nie. Die gemeenskaplike ideaal om hulle onafhanklikheid te herwin loop soos 'n goue draad deur die Boere se optrede sedert 11 April 1877, toe die protes uitgereik is. Hierdie ideaal was die band wat hulle verbind het en die verskeie volksvergaderings het hulle geleer om dinge saam te doen. In Desember 1880 was die tyd dus ryp om tot optrede oor te gaan.

In Pretoria het Lanyon, wat deur die Driemanskap versoek is om die sleutels van die staatskantore binne 48 uur sonder bloedvergieting te oorhandig,(63) op 18 Desember 1880 met 'n proklamasie geantwoord waarin die optrede van die burgers as rebellie bestempel word en die bevelvoerder van die troepe opdrag gegee is 'to vindicate the authority of Her Majesty's Government'.(64) Die oorlog was toe reeds aan die gang.

Die eerste skoot van die oorlog het op 16 Desember 1880 in Potchefstroom geklap toe 'n Boerepatrollie met 'n paar Britse soldate slaags geraak het. Wie die eerste skoot gevuur het, kan nie met sekerheid bepaal word nie.(65) Hierna het Cronje' Potchefstroom ingeneem en die troepekamp belee-er waar kolonel Winsloe oor 'n stuk of 140 man en 'n paar artilleriste met twee kanonne gesag gevoer het. Die Boere se strategie was dan ook daarop gemik om 'n konsentrasie van die verspreide troepemagte in Transvaal te verhoed. Alle troepekampe is dus belee-er. Voorts sou gepoog word om versterkings uit Natal voor te keer.

In Transvaal was daar nie voldoende troepe om die burgers die hoof te bied nie. Dit was in groot mate te wyte aan Colley en Lanyon se wanvertolking van die Boereplanne. Eintlik het hulle al gewoond geraak aan volksvergaderings wat altyd vreedsaam uiteen is, asook aan die talryke gerugte dat die Boere tot gewapende optrede sou oorgaan, maar waarvan daar nooit iets tereg gekom het nie. Dit het tot gevolg gehad dat Colley op 24 Augustus 1880 'n vermindering van die troepemag in Transvaal met een regiment aanbeveel het. Hy het dit wel nodig gevind dat 'n sterk mag in Pretoria gehou moes word met afdelings troepe by punte wat van strategiese en politieke belang was. Gevolglik is geree-el om twee en 'n kwart regimente infanterie, twee afdelings artillerie met vier kanonne, een kompanie Ingenieurs en 120 man berede infanterie in Transvaal te hou.(66) Later is nog 'n regiment uit Transvaal onttrek.

Met die uitbreek van vyandelikhede was daar troepesametrekkings in Pretoria, Potchefstroom, Standerton, Lydenburg, Wakkerstroom, Rustenhurg en Marabastad. In Marabastad het slegs 60 man van die 94th Regiment onder kapt. E.S. Brooke oorgebly nadat een kompanie na Pretoria ontbied is. Die troepe in Marabastad, bygestaan deur 30 vrywilligers en 50 basterpolisie, is deur kommandant Barend Vorster vasgepen. Ook in Lydenburg het daar slegs 'n stuk of 70 man onder luitenant Long oorgebly nadat die hoofkwartier en twee kompanies van die 94th Regiment na Pretoria vertrek het. Kommandant Piet Steyn het die Lydenburgse troepe vasgekeer. In Standerton was daar twee kompanies 94th Regiment and een kompanie 58th Regiment onder majoor W.E. Montague. Sy 350 man, wat aanvanklik deur 34 maar later deur 75 vrywilligers bygestaan is, het die wind van voor gekry van 'n aantal burgers onder kommandant Lombaard. Kommandant Van Staden het die 33 vrywilligers en 120 troepe onder kaptein Saunders in Wakkerstroom besig gehou. In Rustenburg is 72 man en 10 vrywilligers onder kapt. Auchinleck eers deur kommandant A. van der Walt en later deur kommandant C. Eloff belee-er.(67)

Die sowat 260 troepe wat onder kolonel Anstruther van Lydenburg af op pad was na Pretoria, het nooit hulle bestemming bereik nie. Kommandant Frans Joubert het hulle op 20 Desember 1880 met sowat 160 burgers by Bronkhorstspruit aangedurf en met gevoelige lewensverliese tot oorgawe gedwing. Hierdie klinkende oorwinning het nie alleen die Boere se moreel gestimuleer nie, maar ook die belee-erde Britse troepe in hulle dop laat kruip. Hoewel dit moeilik is om vas te stel wat die getalle van die burgers was wat die verskillende plekke belee-er het, is dit wel duidelik dat hulle getalle baie minder was as die' van die vasgekeerde troepe. In Pretoria het generaal H. Schoeman, bygestaan deur D. Erasmus, Hans Botha en Henning Pretorius met ongeveer 600 burgers sowat 1 000 man (troepe en vrywilligers) ingesluit.(68)

Die hoof-Boeremag was onder kommandant-generaal Piet Joubert en Nicolaas Smit op die Transvaal-Natalgrens waar hulle die versterkings uit Natal onder generaal Colley ingewag het. Toe Colley, wat bevelvoerder van die troepe in Natal en Transvaal was, in Pietermaritzburg van die vyandelikhede verneem het, het hy onmiddellik ree-elings getref om met al die beskikbare troepe na Transvaal op te ruk. Saam met die troepe in Transvaal sou hy dan beskik oor 'n mag van drie en 'n half regimente infanterie, agt kanonne en sowat 250 berede man, wat hy gemeen het moontlik voldoende sou wees om die oorlog te be-eindig.(69) Op papier lyk dit nie sleg nie, maar in die praktyk was dit 'n gelapte troepemag waarmee Colley wou deurbreek. Die sowat 1 400 man en 6 kanonne wat uiteindelik op 26 Januarie 1881 by Mount Prospect kamp opgeslaan het, was afkomstig uit verskeie regimente en haastig saamgeflans.(70) Met hierdie mag het hy op 28 Januarie die burgers op Laingsnek aangedurf en die onderspit gedelf. Colley was haastig om deur te breek om die belee-erde garnisoene in Transvaal te gaan ontset. Hy was veral bekommerd oor die troepekamp in Potchefstroom wat nie oor voldoende rantsoene beskik het nie. Sy oorhaastigheid het hom egter duur te staan gekom en sou hom later die hoogste tol laat betaal.

Na die nederlaag by Laingsnek moes Colley noodgedwonge op hulp wag. Versterkings het van 25 Januarie af in Durban begin aankom. Ook sir Evelyn Wood, wat as tweede in bevel aangestel is, was op pad na die front. Colley het beoog om van die versterkings onder sy eie bevel te voeg totdat hy oor 'n mag van 2 200 infanteriste, 450 kavalleriste en ses kanonne beskik. 'n Tweede kolon moes onder Wood op Newcastle versamel vir flankbewegings indien die Boere dit nodig sou maak. Colley wou teen 20 Februarie met sy opmars begin en deurdruk na Pretoria. Bellairs moes dan daarvandaan opruk om Potchefstroom en Rustenburg te ontset. Wood sou volg om Lydenburg te ontset en die orde in die distrikte Wakkerstroom en Utrecht te herstel, en indien nodig ook 'n mag aanvoer na Middelburg en Marabastad. 'You will... I am sure, understand that I mean to take the Nek myself!' het Colley op 4 Februarie aan Wood geskryf.(71)

Colley kan natuurlik nie stilsit in sy kamp by Mount Prospect nie. Hy moes voortdurend op die uitkyk wees ten einde 'n moontlike Boere-aanval op sy kamp af te slaan. Daarby moes hy sy verbindingslyn met Newcastle oophou, want vandaar sou die verwagte versterkings kom en het hy ook sy proviand gekry. Ook die gewondes is daarheen teruggestuur. Die Boere het hierdi kwesplek raakgesien en het probeer om hierdie verbindingslyn af te sny. Op sy beurt wou Colley dit nie toelaat nie. Dit het gelei tot die geveg by Schuinshoogte ook bekend as die slag van Ingogo, op 8 Februarie. Na 'n hewige geveg het die troepe in die donker die slagveld verlaat. Die Boere was in besit van 'n baie goei posisie maar moes dit weens 'n gebrek aan kommunikasie, veral as gevolg van die omweg wat gevolg moes word en die vol riviere en spruite, uiteindelik ook prys gee.

Vir Colley was Schuinshoogte nog 'n gevoelige terugslag. 'The gravity of his task was now evident', skryf sy biograaf. 'The mobility of the enemy; the extraordinary accuracy of their rifle fire; their coolness, courage, and instinctive knowledge of war, the inbred results of free country life in these stern uplands which had taught them in many a hard fight with man and nature all they knew of war... His little force was not able to prevail against the Boers.'(72)

Terwyl Colley op die versterkings gewag het, is die vredespogings voortgesit. Vir 'n man soos Paul Kruger was dit duidelik dat die oorlog slegs 'n demonstrasie van sy volk se vasberadenheid was. Hy sou nooit die oorlog enduit teen Brittanje kon volhou nie. Daarom was die erkenning van Transvaalse onafhanklikheid vir hom die hoofdoel.(73) Baie ander in Suid-Afrika en ook in Brittanje het vrede voorgestaan. Waar daar tevore niemand na die Boeresaak wou luister nie, was daar nou baie wat simpatiekgesind was. Buitendien het dit ook begin lyk of ander Afrikaners buite Transvaal tot die stryd wou toetree.

Intussen het Kruger aan Colley geskryf, wat op beurt weer met die Britse regering geskakel het. Op 21 Februarie het Colley aan Kruger geskryf dat die Britse regering bereid was om 'n kommissie te benoem wat volmag sou he' om selfregering vir Transvaal uit te werk as die Boere hulle verset staak. Kruger moes binne 48 uur antwoord. Dit kon hy egter nie doen nie omdat hy nie meer by Laingsnek was nie, maar in die omgewing van Rustenburg. Toe hy Colley se brief op die 28ste ontvang het, het hy dadelik geantwoord en die Britse voorstel aanvaar.(74) Dit was 'n dag na die slag van Majuba.

Colley het nie op 'n antwoord van Kruger gewag nie, ten spyte van die feit dat hy deur die Boere meegedeel is dat Kruger nie binne die vasgestelde 48 uur kon reageer nie. Die Boere het waarskynlik die 48 uur as 'n wapenstilstand beskou. Dit was egter nie die geval nie. Nog voor die slag van Majuba het Colley nie alleen verkenningstogte beveel nie, maar was daar ook kleiner skermutselings tussen die troepe en die burgers. Hieroor was die Boere nie baie gelukkig nie, maar hulle was wel op hulle hoede. Dat Colley graag 'n beslissende slag wou lewer, spreek duidelik uit 'n brief wat hy op 18 Februarie, die dag toe hy ook aan Kruger geskryf het, aan sir Garnet Wolseley gerig het: 'I am now getting together a force with which I think I could command success, but the Home Government seem so anxious to terminate the contest, that I am daily expecting to find ourselves negotiating with the "Triumvirate" as the acknowledged rulers of a victorious people; in which case my failure at Lang's Nek will have inflicted a deep and permanent injury on the British name and power in South Africa which it is not pleasant to contemplate.'(75) Buitendien kon Colley ook nie te lank wag op Kruger se antwoord nie, want vir die belee-erde garnisoene in Transvaal, veral in Potchefstroom, het die toestand daagliks verswak. Kruger se antwoord kon buitendien negatief gewees het.

Colley het sy onmiddellike begeertes, wat dit dan ookal mag wees, nooit verwesenlik nie. Sy troepe het 'n vernederende nederlaag op Majuba gely en hy het self met sy lewe geboet. Dit was die laaste botsing van hierdie oorlog. 'n Wapenstilstand is gesluit wat op 'n vredeskikking uitgeloop het. Die Transvalers het eindelik met die Pretoriase Konvensie hulle onafhanklikheid herwin, al was dit dan ook onder beperkende voorwaardes. So is 'n stryd in 1881 be-eindig wat sedert 1877 eers met die pen en later met die geweer gevoer is.

Verwysings:

  1. Hansard's Parliamentary Debates 244, Third Series, pp. l652-1653.
  2. Hansard 233, p. 1650.
  3. P.R.O. (Carnarvon Papers, Public Record Office, London) 30/6/23 nr. 3: Carnarvon - Shepstone, 11.10.1876.
  4. P.R.O. 30/6/33 nr. 1: Carnarvon - Frere, 13.10.1876.
  5. Kyk hiervoor M.C. van Zyl: Die Protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners (1877-1880), Pretoria en Kaapstad, 1979, pp. l4-18.
  6. U.R. (Uitvoerende Raad, Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria) 5, pp.583-586: Resolusie Uitvoerende Raad, 11.4.1877.
  7. S.S. (Staatsekretaris, Transvaalse Argiefbewaarplek) 233, p. 146 (R 1279/77): Protes deur Burgers, 11.4.1877.
  8. S.S. 233. p. 149 (R 1281/77): Proklamasie deur Burgers, 12.4.1877.
  9. H.J.C. Pieterse: Volksaltare of 'n Veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Persoonlike Herinneringe van P.C. Joubert, Kaapstad, 1948, p.13.
  10. C.O. (Colonial Office, Public Record Office) 879/13, African No.150, pp.149-150: Shepstone - Carnarvon, 16.1.1878.
  11. Vgl. o.a. C.O. 48/482 nr. 6699/77: Shepstone - Carnarvon, 25.4.1877.
  12. Shepstone Collection (Natalse Argiefbewaarplek, Pietermaritzburg): Shepstone - Bulwer, 18.4.1877 en briewe van dieselfde datum aan Frere en aan Carnarvon.
  13. C.O. 48/482 nr. 6211/77: Shepstone - Carnarvon, 17.4.1877.
  14. De Volksstem, 12.1.1878, buitengewone uitgawe.
  15. Vgl. bv. Britse Blouboek C. 1961, pp.32-34: Carnarvon - Kruger en Jorissen, 18.8.1878.
  16. Joubertversameling (Transvaalse Argiefbewaarplek) 25 nr. 2320: Kruger - Joubert, 12.1.1878.
  17. Vgl. C. 2100, pp.25-26: Kruger - Osborn, 31.1.1878.
  18. De Volksstem, 5.2.1878 en C. 2100: Notule en Kommissies, 28 en 29.1.1878.
  19. Vgl. C. 2144, pp. 102-103: Pretorius en Bok - Shepstone, 6.4.1878.
  20. C.W. de Kiewiet: The Imperial Factor in South Africa. A Study in Politics and Economics, London, 1965, p.94.
  21. Oor die probleem of die Britse administrasie tot ontevredenheid gelei het, kyk M.C. van Zyl: Die Protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners, hoofstuk 3.
  22. B.V. (Boeren Voormannen, Transvaalse Argiefbewaarplek) 2, pp.265-287: Hicks Beach - Kruger en Joubert, 6.8.1878.
  23. J. Martineau: The Life and Correspondence of the Right Hon. Sir Bartle Frere, Vol. II, London, 1895, pp.161-162 en 218.
  24. Hicks Beach Papers (Gloucestershire Record Office, Gloucester) PCC/22: Hicks Beach - Frere, 7.3.1878.
  25. C. 2367, pp. 1-2: Frere - Kruger en Joubert, (?).12.1878.
  26. M.C. van Zyl: Die Protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners, pp.94-98.
  27. Vgl. o.a. Lanyon Collection (Transvaalse Argiefbewaarplek) 12,pp.31-38 en 210-213: Lanyon - Vader, 6.2.1877 en 1.10.1877.
  28. B.V. 3, pp.36-49: Notule van Vergadering, 12.4.1879.
  29. C. 2367, pp.83-84: Frere - Hicks Beach, 17.4.1879.
  30. Vgl. bv. C. 2482, pp.13-17: Frere - Hicks Beach, 6.5.1879.
  31. Vgl. C.O. 291/2 nr. 8157/79: Nota deur Hicks Beach, 30.5.1879; en C.O. 879/15, African No.184, pp.4-6: Aantekeninge deur Frere, 23.4.1879.
  32. A. Preston (ed.): The South African Journal of Sir Garnet Wolseley, 1879-1880, Cape Town, 1973, p.7.
  33. G.E. Buckle: The Life of Benjamin Disraeli, Earl of Beaconsfield, Vol. VI, 1876-1881, London, 1929, pp.435-436: Beaconsfield - Victoria, 24.8.1879.
  34. Wolseley Papers (Central Library, Hove) S.A. 2, pp. 115-118: Wolseley - Stanley, 24/9/1879. Vgl. Hicks Beach Papers PCC/6/4: Wolseley - Hicks Beach, 25.9.1879.
  35. C. 2482, pp.342-343: Proklamasie deur Wolseley, 29.9.1879.
  36. Shepstone Collection: Offy Shepstone - T. Shepstone, 19.10.1879.
  37. C.O. 879/16, African No.204, pp.494-503: Lanyon - Wolseley, 24.10.1879 en bylae.
  38. Hicks Beach Papers PCC/6/9a: Wolseley - Hicks Beach, 28.10.1879.
  39. Ibid.
  40. Wolseley Papers S.A. 1, pp. 133-139: Wolseley - Lanyon, 30.10.1879.
  41. Wolseley Papers, S.A. 1, pp.163-164, S.A. 2, pp.159-165 en 172-175: Wolseley-Lanyon, l5.11.l879,9.11.1879 en 11.11.1879.
  42. De Volksstem, 16.12.1879.
  43. De Volksstem, 16 en 23.12.1879.
  44. M.C. van Zyl: Die Protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners, pp.139-140.
  45. Hicks Beach Papers PCC/6/17: Wolseley - Hicks Beach, 16.1.1880.
  46. Hicks Beach Papers PCC/6/18: Wolseley - Hicks Beach, 21.1.1880.
  47. C.O. 291/5 nr. 5453/80: Wolseley - Hicks Beach, 9.3.1880.
  48. A. Preston: The South African Journal..., p.205.
  49. Hicks Beach Papers PCC/6/27: Wolseley - Hicks Beach, 12.3 1880. Vgl. o.a. Wolseley Papers S.A. 1, pp.323-335: Wolseley - Herbert,30.1.1880; en Hicks Beach Papers PCC/6/24, PCC/6/26 en PCC/6/28a: Wolseley - Hicks Beach, 28.2.1880, 6.3.1880 en 1.4.1880.
  50. D.W. Kruger: Paul Kruger, Deel I, Johannesburg, 1961, pp. 193-194.
  51. Gladstone Papers (British Museum, London) Add. Ms. 44464, ff. 97-98: Kruger en Joubert - Gladstone, 10.5.1880, en ff. 219-220: Gladstone - Kruger enjoubert, 8.6.1880.
  52. Vgl. C. 2676, pp.64-65: Lanyon - Kimberley, 26.6.1880.
  53. De Volksstem, 20.7.1880.
  54. Vgl. bv. S.S.479, p.233 (R 4507/80): Ziervogel - Koloniale Sekretaris, 12.10.1880.
  55. De Volksstem, 7.12.1880: Verslag deur Cronje. Vgl. stukke in S.S. 492, pp. 278-289 (R 5296/80).
  56. S.S.492, pp.292-295 (R 5343/80 by R 5296/80): Goetz - Koloniale Sekretaris, 11.11.1880, 10h30 en 11h30. De Volksstem, 16.11.1880: Korrespondent, 12.11.1880.
  57. M.C. van Zyl: Die Protesbeweging van die Transvaalse Afrikaners, pp.153-159.
  58. C. 2783, pp.49-SO: Goewermentskennisgewing nr. 257, 1880, 6.12.1880.
  59. Staats Courant der Zuid-Afrikaansche Republiek, 12.1.1881: Volksraadnotule, 13.12.1880. Vgl. in dieselfde staatskoerant, Notule Uitvoerende Raad, 11.12.1880.
  60. De Staats Courant gedurende den Vrijheidsoorlog van 1881: Proklamasie, 16.12.1880.
  61. Staats Courant der Z.A.R., 12.1.1881: Notule Uitvoerende Raad, l4 en 16.12.1880.
  62. Staats Courant gedurende den Vrijheidsoorlog van 1881: Tweede Proklamasie, 23.12.1880.
  63. G.M. Theal: History of South Africa from 1873 to 1884, Vol. 11, London, 1919, pp. 115-116.
  64. De Staats Courant gedurende den Vrijheidsoorlog van 1881, p. xv: Driemanskap - Lanyon, 15.12.1880 (versend 17.12.1880).
  65. C. 2838, pp.15-16: Proklamasie deur Lanyon, 18.12.1880.
  66. Vgl. D.F. le Roux: "Die Beleg van Potchefstroom gedurende die Eerste Vryheidsoorlog", Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, S.A., 1976, hoofstuk 3.
  67. C.O. 291/6 nr. 15190/80: Colley - Kimberley, 24.8.1880.
  68. Vgl. J.H. Lehmann: The First Boer War, London, 1972, pp. 206-222; C.L. Norris-Newman: With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1, London, 1882, pp. 244-252; C.N.J. du Plessis: Uit de Geschiedenis van de Suid-Afrikaansche Republiek en van de Afrikaanders, Amsterdam-Pretoria, 1898, pp. 43-48; en J.D. Weilbach en C.N.J. du Plessis: Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheidsoorlog, Kaapstad, 1882, pp. 361-367.
  69. Vgl. J.H. Lehmann: The First Boer War, pp.185-201: C.L. Norris-Newmann: With the Boers..., pp.231-238; J.D. Weilbach en C.N.J. du Plessis: Geschiedenis van de Emigranten-Boeren..., pp. 244-361; en A.M. Davey: The Siege of Pretoria, 1880-1881, Archives Year Book for S.A. History, 1956, Part I.
  70. C.O. 291/13 nr. 1498/81: Colley - Minister van Oorlog, 19.12.1880.
  71. Vgl. W.F. Butler: The Life of Sir George Pomeroy-Colley, London, 1899, p.282.
  72. Ibid., p.295.
  73. Ibid., p.310.
  74. D.W. Kruger: Paul Kruger I, p.216.
  75. Ibid., p.225-227. W.F. Butler: The Life of ... Colley, pp.330-332, 344 en 357.
  76. W.F. Butler: The Life of ... Colley, p.343.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org