The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 3 No 6 - Desember 1976

Die walaer in verskillende lande en tydperke

deur C. de Jong

Die walaer of waburg wat in Suid-Afrika baie bekend is, het ’n lang voorgeskiedenis in die Ou Wêreld. Toe in voorhistoriese tyd die wa met trekdiere in gebruik geneem is, het spoedig geblyk dat dit nie slegs as vervoermiddel en huis op wiele of slaapplek nie, maar ook vir verdediging geskik was. In ’n kring of reghoek getrek en met kettings aanmekaargebind het waens aan mense en huisdiere beskerming teen roofdiere en vyande gebied. Reeds skrywers in die Oudheid vermeld dat volkstamme op trek walaers vir hul verdediging gevorm het. In die Bybel lees ons dat die Israeliete snags laer uit voorsorg teen die Fillistyne en ander vyande opgestel het, onder meer in 1 Samuel 17 vers 20 en 26 vers 6-7. Julius Caesar skryf in hoofstuk een van sy bekende werk De bello gallico (Oor die Galliese oorlog) dat die Keltiese stam die Helvesiers uit die huidige Switserland afkomstig nà ’n vergeefse aanval op die Romeinse leër teruggetrek het na ‘the laager where the baggage was stocked.’(1). Nie toevallig gebruik die vertaler in Engels hier die woord ‘laager’ wat die Britte in Suid-Afrika leer ken het en wat hulle vir Afrikaans hou(2). Caesar vervolg: ‘At the laager, fighting actually continued until late at night. For the enemy had made a barricade of the wagons, and rained down missiles on all who approached; some also wounded our men with spears and javelins discharged low down between the wagons and between the wheels. After a long struggle we captured the laager and the baggage it contained ...’(3).

Dit is ’n beskrywing van die toepassing van die walaer as basis vir aanval op die vyand, vir terugtog en verdediging en moontlik uitval, asook van beskieting uit die laer nie slegs van bo op die waens nie maar ook van onder hulle, soos ons ook by veel later skrywers lees.

Ook stamme van die Germane, Slawe, Hunne en ander volke in Europa op trek, en by geleentheid die Romeine, het die walaer gebruik. Die Britse krygshistorikus J.F.C. Fuller skryf: ‘Not only by the Kelts, also the Germanic tribes, the Slav East European tribes of various races and occasionally the Romans used the wagon camp for defence. This author states about the Goths: “Their method of fighting, like that of the Huns, and later of Zisca in the fifteenth century and the Boers in the nineteenth, was founded on their wagon-forts or laagers. Ammianus says that they would form up in circles (masses) with their wagons for a rampart, as if enclosed in a space between city walls. From these slow-moving fortresses by a preconceived signal the predatory bands dispersed for plunder, and on orders from their leaders like fire-darts returned with winged speed to their wagon city” ’(4).

Die vraag rys of Ammianus Marcellinus se uitdrukking ‘slow-moving fortresses’ verwys na ’n misvatting wat ons ook by later skrywers vind, naamlik dat die waburg in digte formasie van bespanne waens beweeg vir aanvallende doel.

’n Ander Romeinse skrywer, Ennodius, deel die volgende oor die Gote onder Theoderik die Grote en hul inval in Italië in 488 n.C. mee: ‘Waar hierdie trekkers uitspan of oornag, trek hul hulle waens in ‘n kring en span beesvelle aan die buitekant, om hulle te beveilig teen die pyle van die vyand.’(5) ’n Historikus in ons eeu, T. Hodgkin, berig oor die Gote: ‘We see the Goths in their great round encampment of wagons, which they called a “carraggo”, and with which their Dutch kinsmen in South Africa have made us familiar under the name of “Lager camp”(6). Na die onbesliste veldslag by Châlons tussen Gote, hul bondgenote en die Hunne onder Attila het Attila hom teruggetrek en sy leër in ’n walaer verskans.(7) Die volgende belangrike episode in die walaer se geskiedenis is die Hussiete-oorlog 1419-36. Dit was ’n godsdienstig-nasionale stryd van die Tsjegge teen Duitse heersers volgend op die marteldood van hul godsdienstige leier Johannes Huss. Die Tsjeggiese edelman Jan Zischka (1360-1424), ‘n ervare militêr, was hul leier. Hy het die walaer as taktiese middel aangegryp om te vergoed vir die tekortkomings van sy volksleër. Die sterkste aanvalswapen in sy tyd was die geharnaste ruitery wat die voetvolk onder die voet storm. Die walaer het die ruiters genoop om af te klim en te voet te storm waarby hul swaar harnas hulle belemmer het.

Weens onkunde t.o.v. van die Tsjeggiese taal en verkeerde teksuitleg het die eertyds bekende krygshistorikus Max Jähns ’n geheel verkeerde beeld van Zischka se taktiek gegee. Hy beskryf hoe die walaer in vier linies langsaan mekaar optrek, dat die waens uitsluitend vir militêre doel dien — wat alles waar kan wees — en aanvallend optree deur in die vyandelike geledere te bring en dele daarvan afsny om te isoleer en te vernietig(8).

Hiervan is waar dat Zischka die walaer wat voorheen meestal as beskerming vir nonkombattante en vee gedien het, tot ’n taktiese wapen omvorm het sonder nonkombattante op trek. Hy het die walaer — wat op sigself slegs vir verdediging kan dien — tot basis van ’n aanvalsoorlog gemaak, soos Andries Pretorius met sy Wenkommando op sy veldtog teen Dingaan in Desember 1838 gedoen het.

Die skerpsinnige en kritiese Duitse hoogleraar in krygsgeskiedenis Hans Delbrück het die opvatting van die walaer as aanvalswapen weerlê, Jähns op hierdie punt gekritiseer en betoog dat die walaer in beweging veels te stadig en te log is om vir aanvalsdoeleindes te gebruik. Sy belangwekkende opmerkings oor die Hussiete-walaer is hier ter sake. Hy beskryf hoe die Hussiete die eenvoudige geweerbusse van hul tyd op daarvoor bestemde waens gemonteer het om aanvallers te bestook, hoe beskermende planke met skietgate op die waens aangebring is en hoe planke onder die waens gehang is om te belet dat vyande daaronder kruip. By die Voortrekkers het doringtakke onder die waens gevleg en veghekke wat op las van Andries Pretorius gemaak is, dieselfde funksie vervul.

Delbrück vermeld die volgende kenmerke van die Hussietevolksleër wat ons ook by die Voortrekkers aantref. ’n Minimum aan tug en militêre dril was nodig om die volksleër tot ’n doeltreffende wapen te maak en die moraal is verhoog deur godsdienstig-nasionale geesdrif. Die volksleër se basis was die walaer. Dit is waar moontlik op ‘n koppie getrek en grond is buite die laer uitgegraaf en teen die wawiele opgehoop om die laer in te graaf. Aan die voor- en agtersy is uitvalspoorte gelaat wat tydens aanvalle op die laer gesluit is met hekke of dergelike. Binne die laer het perde gereed gestaan om te bestyg en ’n uitval te waag wanneer die aanvaller terugtrek. Die taktiek was om die vyand se aanval op die laer uit te lok en hom daarin op te wag, hom terug te slaan en in ’n uitval te agtervolg en vernietig wanneer hy deur vergeefse stormlope ontmoedig wyk. Dit is bekend dat die aanval in groot formasie oor lang afstand en lang periodes te moeilik is vir min gedrilde en min gedissiplineerde volksleërs of milisies soos die Hussiete en Boere, en dat hul taktiek in beginsel verdedigend was, ookal was hul strategie aanvallend. Reeds Ammianus het daarop gewys dat die volksleër van die Gote swak in die aanval was en nie in staat was om vestings te bestorm en in te neem nie. Hy berig oor die Gotiese leëraanvoerder Fritigern: ‘he kept peace with walls’(9). Ons vind hierdie onvermoë terug by die Boereleër in die Tweede Vryheidsoorlog en welbeskoud ook in die Eerste.

Die walaer se beskerming het die volksleër die vertroue ingeboesem nodig om die stryd met ’n talryker en beter gedrilde vyand aan te bind. Delbrück waarsku teen die afbeeldings van walaers omdat hulle dikwels slegs fantasie van die kunstenaar of die onvervulde ideaal van taktici weergee. Dit geld met name vir die redelik talryke krygskundige verhandelinge uit die l5de, l6de en l7de eeu.

Die vuurwapen wat eers die walaer versterk het, het later sy gevaarlikste teenstander geword. Dit is duidelik dat die walaer, van hout en linne saamgevoeg, nie bestand is teen die geskut wat die walaer inmekaar en aan die brand kan skiet nie. Daarom is in die l7de eeu die betekenis van die walaer in Wes-Europa verminder, waarskynlik as gevolg van die versterking van die geskut se vuurkrag(10). Verskansings van grond en klippe het die walaer as bolwerk van verdediging in die veld vervang en die laers het hulle ingegraaf (11). Die graaf het die belangrikste wapen van die soldaat na die musket geword.

In Oos-Europa het die walaer se betekenis egter in die l6de eeu toegeneem weens die groot plek wat beweeglike, ligbewapende ruiterskare op die uitgestrekte vlaktes van Hongarye, Pole en Rusland in die oorlogvoering ingeneem het, toe die Turke se invalle die lande in beroering gebring het(12). Eers in die 18de eeu het die walaer ook daar sy betekenis verloor.

Die beleërde walaer van vors George Rakoczi

Mnr. Robert Devereux beskryf ’n beleering van so ’n walaer tydens ’n min bekende episode in die verwarde geskiedenis van Oos-Europa in die l7de eeu. Na die verowering van Hongarye deur die Turke in 1526 het ’n deel van die land, Transsilvanië of Seweburge, sy onafhanklikheid ten dele herwin en in die 17de eeu ’n neiging tot uitbreiding deur verowering getoon. Vors George II Rakoczi, wat vanaf 1648-60 regeer het, het ’n kragtige poging aangewend maar geen geluk gehad nie. Hy het die kant van die Sweedse koning Karel X gekies toe die Sweed soos ’n roemvolle voorbeeld vir sy beroemde kleinseun Karel XII Pole binnegeval het. Hy het die Pole verslaan in ‘n segeryk veldtog, in Pools ‘Potop’, d.w.s. die Sondvloed, genoem.

George II het toe sy kans skoon gesien en Pole vanuit die suide ingeval om dele daarvan te verower; die Oekraine was toe grotendeels Pools. Die Turkse sultan het hom vergeefs gewaarsku. In die lente van 1657 het George II met 60 000 ‘semi-barbarians’(13) hom met die 17 000 Swede van Karel X te Sandomir verenig. Hy het tydelik Brest Litovsk beset. Maar ’n godsdienstig-nasionale oplewing soos Europese volke in benoudheid meermale beleef het, het die Pole tot hernude verset aangespoor. Ewemin as Karel XII na hom kon Karel X met sy klein leër die uitgestrekte land in bedwang hou. Hy moes uit Pole terugtrek en het in 1660 te Oliva by Danzig ‘n redelik voordelige vrede met die Pole gesluit.

Na die terugtog van Karel X moes George II in 1657 aan die verenigde Pole onder koning Jan Casimir, die Kosakke onder Poolse gesag en die Krim-Tatare die hoof bied. Die sultan wou naamlik sy eiegereide vasal vors George tot rede bring en het ’n ander vasalstaat, die Tataarse Krim, daartoe opdrag gegee. Die veldtog van die Krim-Tatare teen die Hongare is beskryf deur ’n Turkse offisier en diplomaat wat die veldtog meegemaak het. Sy naam is Evliya Chelebi en ’n deel van sy verslag is deur mnr. Robert Devereux uit Turks in Engels vertaal en in die hierna volgende bydrae gepubliseer.

George II Rakoczi het met sy leër ‘n walaer op die oewer van die rivier Gnezda, ’n systroom van die Dnjestr, by die stadjie Trembowla (tans Terebowlya) in die westelike Oekraïne getrek en met graafwerk en geskut uitvoerig versterk. Maar ná ‘n beleering van enkele dae het sy troepe honger en dors gely, die ry- en trekdiere het almal gesterf en George het in die nag met ’n handvol volgelinge heimlik pad gegee uit die walaer. Waarskynlik het hy die beleëraars omgekoop om hom deur te laat. Na ’n swaar en bloedige geveg het die Hongare en hul bondgenote in die walaer hulle oorgegee. George moes vrede met Pole en die sultan sluit en ’n boete van 1,2 miljoen gulden aan Pole betaal. Die sultan het hom afgedank, maar George het die besluit geignoreer, sy volk het hom gesteun en toe die vyande Transsilvanië binnegeval het, het hy weerstand gebied. Op 22 Mei 1660 het hy gesneuwel(14) en aldus dapper geboet vir sy misslae.

Die walaer in Suid-Afrika

Die geskiedenis van die walaer in Suidelike Afrika as taktiese middel vir verdediging moet nog geskryf word, hoewel dit van wesenlike betekenis in die geskiedenis van die subkontinent is en die wa op baie wapenskilde van provinsies en dorpe pryk. Ek hoop dat hierdie bydrae daartoe ‘n aansporing sal vorm.

Volgens Europese voorbeeld het die koloniste in die Kaapkolonie spoedig ná die stigting waar nodig laer getrek. Die eerste bewys sien ons op die bekende, ongekunstelde afbeelding van die kamp van goewerneur Simon van der Stel by die Koperberg in Namakwaland in 1685; die kamp is ’n ringvormige walaer(15). Aan die onrustige Oosgrens het die walaer algemeen as beskerming teen aanvalle deur Bantoes en Hottentotte gedien. Theal vermeld dat tydens die Eerste Grensoorlog (1779-81) kommandant Adriaan van Jaarsvelt voor die vertrek van sy kommando op 23 Mei 1781 die burgers se gesinne en bediendes vir hul veiligheid in laers geplaas het, ‘in a couple of laagers... formed by drawing up waggons in a circle and filling the spaces between the wheels with thorn trees’(16). Die toepassing van die walaer in die Groot Trek teen Bantoe-aanvalle, sowel vir verdediging (Vegkop 1836) as tydens aanvallende veldtogte (Bloedrivier 1838) is in groot trekke bekend. Andries Pretorius het as leier van die veldtog teen Dingaan in 1838 ’n groot bydrae tot die walaer gemaak.

Waar die walaer tydens aanvalsveldtogte teen die Bantoes agterwee gelaat is, was die gevolge meermale rampspoedig, byvoorbeeld by die inval deur Andries Hendrik Potgieter en Piet Uys in Zoeloeland in April 1838 waar hulle by Italeni verslaan is, en by die inval deur lord Chelmsford in Zoeloeland in Januarie 1879, toe sy invalsleër by Isandhlwana vernietig is.

Tot die einde van die l9de eeu is die walaer in Bantoe-oorloe toegepas, volgens ’n Duitse medikus ook in die Tweede Vryheidsoorlog, hoewel die Britse geskut aan die laer sy beskerming ontneem het. Dr K. Küttner van die Duitse Rooikruis ambulans het in Desember 1899 generaal Piet Cronjé se laer aan die Modderrivier besoek; hy sien dat die laer in lyn getrek is, d.w.s. in ‘n kring of reghoek opgestel. Hy merk op: ‘Diese Burenlager haben grosse Ähnlichkeit mit den Wagenburgen der alten Germanen, (17).

Nie alleen Suid-Afrikaners het die laer toegepas nie. Prof. Eric Axelson deel oor die tog van die Portugese offisier Barreto met ongeveer 650 soldate langs die Zambesi in 1572 mee dat hulle 30 waens bespanne met osse saamgeneem het. ‘Natives attacked them. When time permitted they moved their waggons into laager formation. In the first skirmish the muskets and arquebuses knocked their attackers over like "roosting crows"’ (18)

Die walaer in Noord-Amerika

Die ‘covered wagon’ of huifkar op twee of vier wiele, deur osse of muile getrek, was vir die kolonisasie van die Nuwe Wêreld ewe belangrik as in die Ou Wêreld. Maar in Noord-Amerika skyn dit in veel mindere mate vir verdediging as in Suid-Afrika gedien te hê; hoe dit in Suid-Amerika met die laer gegaan het, kon ek nie noukeurig vasstel nie, maar ek vermoed dat die situasie in hoofsaak dieselfde as in Noord-Amerika was. Daar is saans dikwels laer getrek, maar daar was minder roofdiere as in Afrika en as verdediging teen inboorlinge — die Amerindiane — was dit van beskeie betekenis. George R. Stewart beskryf ‘The Beleaguered Wagon Train’ soos hy dit noem, wat bekend is uit romans en films oor die Ver Weste of die Wilde Weste, op p. 322 van sy boek The California Trail: ‘The wagons are drawn in a circle. Around them gallop the Indians on their ponies, shooting arrows. From the shelter of the wagons the men fire their rifles. Children cower in the wagon boxes, and women crouch with them or load rifles for the men. Indian after Indian tumbles from his pony. It is one of the great American archetypes.’

Hy voeg egter daaraan toe: ‘I have never found it so recorded in the authentic sources.’ Hy vermeld slegs een voorbeeld van ‘n walaer deur op trek aangevalle koloniste gevorm in 1861. Die Sioux-Indiane het toe nie gestorm nie, maar die laer beleër totdat die koloniste deur honger en dors verswak was, oorweldig en uitgemoor is(19).

Hy meen dat die Amerindiane te slim was om te storm teen walaers en hulle bloot te stel aan vuurwapens van daarin verskanste koloniste; hulle het verkies om die bleekgesigte by verrassing op trek aan te val.

Daar was dus ’n opvallende verskil in taktiek tussen die bewoners van die Ou en die Nuwe Wêreld. Die verklaring is moontlik dat die Amerindiane jagters was wat nie gewoond en nie gewillig was om in geslote formasies teen vyande en veral nie teen versterkte posisies te storm nie; hulle het verkies om te besluip, rustig te wag en te oorrompel. Vir ’n massale, volgehoue openlike aanval in slagorde op ‘n vyand in goeie posisie en opstelling was hul tug en militêre oefening te gering. Dieselfde geld vir die Boerekommando’s, is reeds opgemerk.

Gevestigde volke in die Ou Wêreld wat van akkerbou en veeteelt geleef het, het ’n ander kultuur en gedissiplineerde, gedrilde leërs gehad wat walaers in slagorde bestorm het, soos die Pole en Tatare George Rakoczi se kamp by Trembowla in 1657 aangeval en tenslotte ingeneem het. Onder Bantoevolke in Afrika het die Zoeloes en Matabeles goed gedrilde en gedissiplineerde leërs op die been gebring.

Aangesien hulle geen vinnige rydiere en geen vuurwapens gehad het nie, was die walaer van die Voortrekkers ’n doeltreffende verdedigingsmiddel teen hul masssale stormlope in digte geledere. George R. Stewart is een van die Amerikaanse historici wat op die hoogte van die Groot Trek van die Afrikaners as die naaste parallel van die trek na die Ver Weste in Noord-Amerika is en vergelykings maak (20).

Ook die afbeeldings van walaers vir verdediging in die Verenigde State moet ’n mens wantrou indien hulle geen egte foto’s is nie. In die fraaie werk van Martin F. Schmitt en Dee Brown, Fighting Indians of the West (Charles Scribner’s Sons, New York-Londen 1948) staan dergelike afbeeldings op bls. 34 en 87. Die eerste stel waens in ’n kring getrek voor, waaragter soldate en burgers aanvallende Sioux op hul hitte beskiet; dit was by Fort Laramie in 1867; die afbeelding lyk aanneemlik. Die tweede stel voor hoe vierwielige huifwaens met muile bespan langsaan mekaar in linie na ’n Indiaanse tentekamp storm terwyl soldate op die waens staande op die verraste Indiane vuur; hierby plaas ek ’n vraagteken.

NOTE

  1. Caesar, The conquest of Gaul, translated by S.A. Handfort, Penguin book, Londen ens. 1953, p. 53.
  2. Laager is 18de-eeuse Nederlands, laer is Afrikaans.
  3. Caesar, The conquest of Gaul, t.a.p. noot 1, p. 53.
  4. J.F.C. Fuller, The decisive battles of the Western World and their significance upon history, deel een, Eyre and Spottiswoode, Londen 1957, p. 269.
  5. Aangehaal deur G.S. Preller, Andries Pretorius, Lewensbeskrywing van die Voortrekker kommandant-generaal; Afrikaanse Pers-Boekhandel, 2de druk, 1940, p. 9-10.
  6. Aangehaal deur G.S. Preller, t.a.p. noot 5 p. 10, uit T. Hodgkin, Italy and its invaders, geen bls.
  7. Aangehaal deur G.S. Preller, t.a.p. noot 5 p. 10, uit T. Hodgkin, Italy and its invaders, deel 2, p. 132.
  8. Max Jähns, Geschichte des Kriegswesens, Leipzig 1880, p. 891; —Max Jähns, Geschichte der Kriegswissenschaften, Georg Olms, Hildesheim, deel een, herdruk van 1889 in 1963, p. 297, p. 752-755.
  9. Aangehaal deur Fuller, t.a.p. noot 4, deel een, p. 269.
  10. Hans Delbrück, Geschichte der Kriegskunst im Rahmen der politischen Geschichte, 3de deel, Das Mittelalter; W. de Gruyter, herdruk van 2de druk, Berlyn 1923, in 1964, Hoofstuk 4, Die Hussiten, p. 503-525.
  11. Johann Heinrich Zeller, Grosses Vollständiges Universal-Lexikon, Band 52, Leipzig-Halle 1747, herdruk Graz 1962, p. 614: in voce Wagenburg, Lateinisch Carrugo (Oos-Europa tabor). ‘Diese Art sich vor dem Feinde zu verwahren, ist heutigen Tages nicht sonderlich mehr in Gebrauch, ausser in dem hochsten Nothfallen und da man nicht Zeit gehabt hat, sich zu verschanzen. Bey den Turcken, Pohlen, Ungarn und Tartarn aber ist sie noch gebrauchlich. Die ubrigen Europaer pflegen gleich Linien oder Retrenchementen (skanse) aufzuwerfen.'
  12. Max Jähns, Geschichte der Kriegswissenschaften, Band 1, Georg Olms, Hildesheim, herdruk van 1889 in 1962, p. 756.
  13. Aldus R. Nisbet Bain, Slavonic Europe, A political history of Poland and Russia from 1447 to 1796, Cambridge University Press 1908, p. 226.
  14. Die inval deur George II Rakoszi in die Oekraïne as bybedryf van die inval deur Karel X van Swede in Pole in 1657 is min of meer uitvoerig beskryf in die volgende werke:
    Arminius Vambery, Hungary in ancient, mediaeval and modern times; T. Fisher Unwin, Londen 1887, p. 35 1-352.
    Denis Sinor, History of Hungary; George Allen and Unwin, Londen 1959, p. 197.
    Günther Wytrzens, Die goldene Freiheit der Polen, aus den Denkwürdigkeiten von Jan Chryzostow Pasek; Verlag Styria, Graz-Wenen-Keulen 1967, p. 25-27.
    Aleksander Greysztor, Stefan Kieniewicz and others, History of Poland; Polish Scientific Publishers, Warszawa 1968, p. 249.
  15. Hierdie voorstelling bestaan in verskeie reproduksies van twee afbeeldings, waaronder een in Van Riebeeck Festival-Fees 1952, Herdenkingsalbum — Pictorial souvenir, Cape Times Ltd, Parow 1952, p. 45, en een deur H. Claudius, onder meer afgedruk in Brian Aldridge, Die geskiedenis van Suid-Afrika in beeld; C. Struik, Kaapstad 1973, afbeelding 21.
  16. George MacCall Theal, History and ethnography in South Africa before 1795, deel 3,1910, p. 131.
  17. H. Küttner, Unter dem Deutschen Roten Kreuz im Südafrikanischen Kriege; Verlag S. Hirzel, Leipzig 1900, p. 61,67.
  18. Eric Axelson, ‘Portuguese pioneers in Southern Africa; in Lantern, Pretoria, Desember 1958, p. 127, aangehaal deur H.H. Curson, Two notes of South African military interest, in Africana Notes and News, Africana Museum Johannesburg, deel 14, Maart 1960-Desember 1961, p. 91; aangevul deur G. Tylden, ‘The origin of the laager’, in Africana Notes and News, deel 14, Maart 1960-Desember 1961, p. 159-160.
  19. George R. Stewart, The Californian Trail, 1841-1859: Eyre and Spottiswoode, Frontier Library, USA. 1962 — UK. 1964, p. 3 22-323.
  20. G.R. Stewart, t.a.p. noot 19, p. 125-126: ‘The covered-wagon migration across the plains and mountains was wholly American and is almost unique in history. The Great Trek in South Africa supplies the closest parallel. In numbers this exodus of the Boers was probably less than one tenth of its American counterpart, and the distance travelled was generally less than half. The Great Trek began in 1836, only five years before 1841. There is no evidence that it had any influence upon the American migration. The people of the United States may, therefore, rightly regard the covered wagon as one of their most cherished symbols — and may do so proudly.’

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org