The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 3 No 3 - Junie 1975

Potchefstroom en die Eerste Vryheidsoorlog
16 Desember 1880 tot 21 Maart 1881

deur G.N. VAN DEN BERGH

Hierdie artikel is die teks van 'n bespreking wat deur Kommandant, Professor G.N. van den Bergh van die Departement Geskiedenis, Potchefstroomse Universiteit, en Bevelvoerende Offisier, Regiment Potchefstroom Universiteit (Burgermag), aan die S.A. Krygshistoriese Vereniging in Junie 1974 gelewer is.

Die gebeure te Bronkhorstspruit, Amajuba, Pretoria en Potchefstroom vorm sonder twyfel die militêre swaartepunte van die Eerste Vryheidsoorlog. Die eerste twee botsings was veldslae van hewige en korte duur terwyl laasgenoemdes uitgerekte beleërings was wat vir die hele ongeveer drie maande van die oorlog geduur het.

Bronne oor die Oorlog, en in besonder oor die Beleg van Potchefstroom, val hoofsaaklik in vier kategorieë uiteen; amptelike kontemporere korrespondensie aan beide kante; geskrifte van ander waarnemers; beskrywings in Nederlands en Engels wat tussen die Eerste en die Tweede Vryheidsoorlog die lig gesien het en, in die atmosfeer van spanning wat daar tussen Brittanje en die Republiek geheers het, hoogs bevooroordeeld is; en ten slotte meer resente wetenskaplike studies waaraan daar, minstens wat die Beleg van Potchefstroom betref, 'n besondere skraal oes is. Dit is verder opvallend dat die beste van die ongeveer twee dosyn werke wat oor meer as 90 jaar geskryf is, veral uit die oogpunt van 'n militêre analise, die werk is van 'n dame, Lady Blanche St. John Bellairs,(1) eggenote van die Britse militêre bevelvoerder in Transvaal pas voor en gedurende die Oorlog.

(1) The Transvaal War, 1880-1881. London, 1885. Heruitgawe deur Struik, Kaapstad, 1972.

Diplomatieke voorspel

Ten einde die posisie van Potchefstroom in die Oorlog reg te begryp is dit noodsaaklik om vooraf aandag te skenk aan toestande wat ook elders in Transvaal geheers het onmiddellik voor die aanvang van vyandelikhede. Behalwe vir die Potchefstroomse gewes moet die soeklig ook op Pretoria en Paardekraal val, elk waarvan sy eie besondere bydrae tot die koms van die Oorlog gemaak het.

Omdat die anneksasie van Transvaal deur Shepstone in 1877 om redes nie onmiddellike verset van die kant van die Burgers uitgelok het nie, het Imperiale gesagvoerders in Londen, Kaapstad en Pretoria verkeerdelik geglo dat die anneksasie deur die Transvalers as 'n voldonge feit aanvaar is. Hierdie houding van gerustheid is versterk deurdat Lanyon, wat Shepstone as administrateur van Transvaal opgevolg het, en generaal Colley, die militêre opperbevelvoerder in Suid-Afrika, daarvan oortuig was dat die Transvalers ,a cowardly people' was wat nie tot vasberade verset in staat was nie. Veral Lanyon kon enkele dae voor die uitbarsting nog deur niks en niemand tot ander insae gebring word nie. Sy gerustheid was aansteeklik en is uiteindelik deur die militêre owerhede gedeel. Hierin lê die hoofrede opgesluit vir die uiteindelike onvoorbereidheid van die militêre oral in die gebied soos veral weerspieël in troepe verspreidheid en gebrek aan gevegskondisionering.

Daarenteen het verset teen die Britse bewind algaande en openlik toegeneem, eers lydelik toe gehoop is om die Republiek langs vreedsame weë te herstel, maar sedert die begin van 1880 met 'n toenemende bewuswording dat alleenlik wapengeweld sou slaag.

Wat die oorsake van die Oorlog betref het Potchefstroom 'n unieke tweeledige rol gespeel. In die loop van 1880 het sekere boere van die Gatsrand en Schoonspruit wyke hulle belasting slegs onder toenemende protes betaal. Hierdie houding van verset is benadruk toe ongeveer 300 gewapende manne naby die dorp saamgetrek het as protes teen die inhegtenisname van oud-president M.W. Pretorius op 'n aanklag van hoogverraad. Dit was 'n ondubbelsinnige demonstrasie dat die Wes-Transvalers 'n nuwe tydperk van verset betree het.

Hierop het die Bezuidenhout-wa-episode gevolg. Bezuidenhout, 'n boer uit die distrik, moes 27 pond-10 sjieling-0 pennies aan plaasbelasting betaal. Omdat die bedrag nie in verhouding was met die grote van die plaas wat hy bewoon het nie, het by betaling geweier. In 'n landdroshofsaak is die bedrag gevolglik reggestel na 14 pond-0-0, maar Bezuidenbout is vir 'n verdere 8 pond-0-0 aangeskryf vir hofkoste. Vanselfsprekend het hy verseg om hierdie verdere bedrag te betaal. Sy wa is gevolglik gekonfiskeer om ter vergoeding van die uitstaande bedrag opgeveil te word. Op die dag van die geregtelike verkoping, 11 November 1880, was die atmosfeer onder die ongeveer 100 boere wat op die markplein voor die landdroskantoor vergader het gelade. Toe die balju, Moquette, met die verkoping wou begin het van die toeskouers onder leiding van hulle aanvaarde segsman, Piet Cronjé, nader gestaan, hom van die wa afgestamp, dit na 'n span osse daar naby gesleep, dit ingespan en, onder die magtelose aanskoue van die amptenare en die handjievol polisie, daarmee vertrek.

Landdros Goetz, wat deeglik bekend was met die gemoedere van die Potchefstroomse omgewing, het die regering in Pretoria aangeraai om dadelik daadwerklike stappe te neem om sy kwynende invloed en gesag te versterk. Op sy beurt het Cronjé vir oud president M.W. Pretorius en oud-vise-president S.J.P. Kruger, die leiers van die republikeinse saak, op hoogte van die gebeure gestel.

Alle oë was hierna op Potchefstroom gerig. Die politieke spanning wat vinnig besig was om breekpunt te bereik het nou om die wa-episode, die eerste volbloed verset teen Britse gesag, gewentel. Aan die kant van die regering het Goetz se brief dadelik reaksie uitgelok. Eerstens is kaptein Raaff van die Kwartiermeestersafdeling na Potchefstroom gestuur om 'n plaaslike mag te rekruteer met die uitsluitlike opdrag om die belhamel, Cronjé, te arresteer. Raaff, 'n jong maar knap en ervare offisier, het spoedig onder die handjievol lojaalgesinde inwoners 'n spesiale polisiemag van ongeveer 25 konstabels byeen gehad, maar telkemale tevergeefs probeer om Cronjé op sy naby gelee plaas en elders te oorreed om homself oor te gee. Wat hom opgeval het was dat elke keer dat hy by Cronjé uitgekom het, daar 'n toenemende aantal gewapende burgers by hom was, eers 42, toe ongeveer 100 en op 24 November tussen 300 en 400.

First map

Ook die Boereleiers het verwikkelinge in Potchefstroom met besorgdheid dopgebou. Anders as Lanyon, wat in die relatief rustige en pro-Britse atmosfeer van Pretoria daarvan oortuig gebly het dat die beroeringe in Potchefstroom 'n bloot plaaslike opstootjie was, het by die Boereleiers nie dieselfde illusies geheers nie. Hulle vrees was eerder dat die Potchefstroomse pot sou oorkook voordat al die voorbereidings vir die naderende vryheidstryd gereed was. Om so 'n gebeurlikheid te verhoed het Paul Kruger met Cronjé op 23 November naby Ventersdorp samesprekings gevoer. Hier het hy die volgende dag ook met Raaff, wat vir die soveelste keer gepoog het om Cronjé te arresteer, afgespreek om die koloniale sekretaris, Hudson, wat juis in Potchefstroom besig was met 'n ondersoek na die onluste van twee weke vroeër, op die 28e op 'n naby geleë plaas te ontmoet. By dié ontmoeting was die Cronjé-seksie se gemoedere so gaande dat Kruger vir Hudson aangeraai het om liewer na Potchefstroom terug te keer. Hy het die koloniale sekretaris egter meegedeel dat die Volksvergadering wat vir 8 Januarie by Paardekraal belê was na 8 Desember vervroeg is weens die plofbare toestand in Potchefstroom en hom die versekering gegee dat hy sy invloed sou gebruik om die gemoedere tot dan in bedwang te hou.

Britse militêre voorbereidings

Die ontmoeting met Kruger en die aanskoue van die opgewonde Burgers het Hudson tot Raaff se siening oorgehaal, naamlik dat die toestand in Potchefstroom veel erger was as wat in Pretoria geglo is. Hudson se bevindings, onderskraag deur 'n tweede brief van Goetz aan Lanyon, het gelei tot die aanstelling, aan die begin van Desember, van 'n Spesiale Kommissaris vir Potchefstroom met omvattende burgerlike en militêre magte. Hy was majoor Clarke wat hom reeds as diplomaat en soldaat teen Sekhukhune in Oos-Transvaal onderskei het. Maar Lanyon was steeds daarvan oortuig dat sake in Wes-Transvaal met 'n paar harde woorde en 'n militêre ,presence' reggestel kon word en beide hy en Clarke het Raaff se ore gewas vir sy onvermoeë om Cronjé op sy plek te sit.

Die militêre ,presence' is voorsien deur die versending van 'n afdeling troepe na die dorp. Na ontvangs van Goetz se rapport van 11 November oor die wa-episode het Lanyon op advies van kolonel Gildea, bevelvoerder van die Pretoria-garnisoen, besluit om die troepe na Potchefstroom te stuur as 'n magsdemonstrasie. Gevolglik is 'n kompanjie van die Royal Scots Fusiliers, helfte van hulle berede troepe en twee negeponder geskut van die Royal Artillery tesame met 'n kommissariaatseksie en 'n eenheid van die Mediese Korps, almal in Pretoria gestasioneer, vroeg die oggend van die 14e na die ou Hoofstad van Transvaal versend waar hulle in die vroeë middag van die 18e aangekom het. Twee dae later is hulle versterk deur 'n verdere kompanjie van die Fusiliers vanuit Rustenburg wat die totaal gereelde troepe in Potchefstroom op 10 offisiere en 203 ander range, waarvan 49 artilleriste was, te staan gebring het.

Aangesien hierdie die eerste Britse mag was wat gedurende die Vryheidsoorlog aangeval sou word, moet die redes vir hulle sending na Potchefstroom in korrekte perspektief gesien word.

Dit is duidelik dat geen werklike militêre optrede met hulle beoog is nie. Hulle sending was ,a showing of the Flag' om ,all misguided persons' in en om Potchefstroom met Britse gesag te beindruk en tot hulle sinne te bring. Dit was nie die bedoeling dat die troepe fisies in die onluste moes ingryp nie, dit was die taak van Raaff en sy burgerpolisie wat gelyktydig met die koms van die troepe aangestel is. Lady Bellairs, wat uit hoofde van haar eggenoot se aanstelling, hieroor deeglik ingelig moes gewees het, merk duidelik maar sinies op dat die troepe gestuur is ,in the belief that its presence would alone suffice to exercise such a moral restraint as would cause the arbitrary decisions of the government to be respected.'

Dat die troepe nie bedoel was om te veg nie, of selfs nie om die dorp te beset nie, blyk verder uit verskeie ander sake. Eerstens is die troepe uitgerus as ,a field column' met voldoende rantsoene vir slegs een maand vir 100 man, hoewel daar tekens is dat die voorrade later aangevul is. Maar dit val veral op dat die troepe aanvanklik onder bevel was van majoor Thornhill, 'n artilleris, en dat die bevel nie voor 12 Desember aan brevet-luitenant-kolonel Winsloe oorgedra is nie. Dit was minder as vier dae voor die uitbreek van vyandelikhede. Nóg Thornhill, nóg Winsloe, wat pas uit Natal aangekom het, was enigsins op hoogte met die plofbare politieke toestande in Potchefstroom. Thornhill het op ongejaagde wyse sy roetine instruksies ,to intrench himself outside the town and form a similar defensive position to those occupied at the permanent outposts' uitgevoer. Toe Winsloe vier weke later opdaag het hy gevind dat Thornhill sy instruksies baie letterlik uitgevoer het deur aan die weste kant van die dorp ongeveer 400 meter van die naaste wonings af, kamp op te slaan en daar, ooreenkomstig sy instruksies, 'n vlak loopgraaf gegrawe het, maar dit in die belaglik onvoldoende formaat van ongeveer 30,5m vierkant, 'n taak wat seker nie veel langer as 'n dag kon geneem het nie. Omdat daar 'n dorpswatervoor tussen die kamp en die dorp deurgevloei het, is met die verdere roetine opdrag om 'n waterput te grawe nie eens 'n aanvang gemaak voordat Winsloe 24 dae later sy opwagting gemaak het nie. Maar ook Winsloe, ten spyte van die ervaring wat hy in die Krimoorlog en by Ulundi opgedoen het, was gerus genoeg om op die aand van sy aankoms met sy offisiere 'n sosiale besoek aan die Portugese konsul, kavalier Forssmann, te bring waar hulle deur die dames van die huis op sang onthaal is en planne bespreek het vir 'n bal. Voorwaar 'n gees van onbesorgdheid.

In skrille kontras hiermee staan die besorgdheid van Raaff en Goetz. Eersgenoemde het twee spioene, Van der Linde en Woite, onder die Boereleiers by die Paardekraal-byeenkoms, wat teen dié tyd in volle swang was, laat indring en van hulle, waarskynlik pas na die bevelsoorname van Winsloe, sekere en skriftelike berig ontvang van die krygsvoorbereidings wat daar gemaak is. Dit was heelwaarskynlik die voorlegging hiervan aan Winsloe en Clarke wat hulle van hulle gerustheid laat afsien het. Indien dit wel die geval was, het dit daartoe aanleiding gegee dat Winsloe in een opsig opgetree het en in 'n ander nagelaat het om op te tree. Beide beslissings bevraagteken sy vermoeë tot gesonde militêre oordeel.

Eerstens is hy, moontlik onder invloed van Clarke, en in opdrag van Lanyon, oorreed om sekere sleutelgeboue aangrensend aan die kerkplein te fortifiseer en wapens, ammunisie en voedsel daar op te berg. Hierdie kompleks het bestaan uit die landdroskantoor en sy buitegeboue, die aangrensende Algemene Boerewinkel en die Criterion Hotel, almal geleë aan die westelike kant en suid-westelike hoek van die kerkplein. Wat sy oogmerke hiermee was is moeilik te bepaal. Was dit 'n teken van minagting vir die opstandelinge se vermoë om die dorpsadministrasie oor te neem deur die landdroskantoor te beset, of was dit 'n ernstige poging om die mark- en aangrensende kerkplein, die middelpunt van die dorp, die vyand te ontsê, en indien wel, waarom? Indien dit 'n poging was om die middedorp te beheer was die beslissing om die landdroskantoor te gebruik as die spil waarom die verdediging moes wentel slegs die tweede beste keuse. Die Hervommde Kerk, wat die middel van die twee pleine beheer het, het 'n veel beter defensiewe posisie gebied. Dit was 'n stewige en ruim konstruksie met goeie uitsig en vuursones na alle rigtings. Die enigste nadeel van die kerk was dat dit geen ontsnappingsroete gebied het nie, maar dit geld eweneens vir die landdroskantoor en aangrense geboue.

Daar word retrospektief as apologie vir Winsloe aangevoer dat hy die kerk om peïteitsoorwegings nie vir so 'n doel wou aanwend nie. Hoe dit ookal sy bly die feit dat indien hy die kerk nie in sy verdedigingsopset wou betrek nie, hy liefs die plein gladnie moes probeem verdedig het nie. Soos dit was het die landdroskantoor, winkel en hotel slegs die suid-westelike hoek van die kerkplein beheer en was van agter geheel en al onbeskermd.

Die besetting van dié kompleks het Winsloe ook genoodsaak om 'n ander gebou te betrek ten einde enigsins verbintenis tussen die landdroskantoor en die kamp, wat 800m uit mekaar was, te bewerkstellig. Dit was die klein tronkie van ongeveem 20m vierkant aan die rand van die dorp. Die uiterlike indruk van stewigheid wat die 3m hoë" mure aan die agterkant geskep het en die feit dat dit in ope sig van die fort geleë was, kon nie daarvoor vergoed dat dit 'n voIle 500m van die landdroskantoor af was nie, met heelwat boorde, mure en huise tussenin. Hierdeur is die doel met die besetting heeltemal genegeer. Nóg by die landdroskantoor nóg by die tronk was daar enige water.

Aan die negatiewe kant het Winsloe niks gedoen aan die hoogs ontoereikende voorbereidings wat vir bykans 'n maand in die kamp geheers het nie. Dit geld in besonder vir die ligging, fisiese omvang en graad van voltooiing van sy verskansing.

Boere militêre voorbereidings

Op 13 Desember 1880, 'n dag nadat Winsloe op pad na Potchefstroom binne 8km daarvandaan verbygereis het, is die Zuid-Afrikaansche Republiek by wyse van 'n proklamasie te Paardekraal herstel en is 'n voorlopige regering aangestel. Die eerste taak hierna was om die proklamasie te laat druk sodat die inhoud daarvan onder die algemene publiek se aandag gebring kan word ten einde spoedig militêre steun vir die stryd wat moes volg te bekom en om buitelandse diplomatieke simpatie te werf. Die enigste drukkery wat vir die doel aangewend kon word was die van Borrius. Die feit dat sy drukkery juis in Potchefstroom was, het opnuut, en heel toevallig, dié dorp weer in die gedrang gebring.

Die taak om die drukkery as ,staatsdrukkery' te beset en te bewaak is, om bykans vanselfsprekende redes, aan die leier van die Wes-Transvaalse opstandelinge, Cronjé, opgedra. Op 14 Desember, toe Winsloe nog besig was om sy trommels uit te pak en sy formele drag af te stof vir die Forssmann-bal, het Cronjé met tussen 400 en 500 burgers met die voorlopige regering se proklamasie van Paardekraal vertrek.

First photo

Generaal P.A. Cronjé

Hoewel besef is dat die regeringsoorname nie sonder moeite sou kon geskied nie, en hulle krygsstrategie reeds op 'n beleëring van die vele Britse garnisoene in Transvaal ingestem was, het die nuwe regering tog gehoop om die herstel van die Republiek bloedloos te verkry, of minstens om nie die direkte oorsaak van vyandelikhede te wees nie. Enersyds is Cronjé, nou verhef tot die rang van generaal, voorsien van 'n sterk mag om die druk van die proklamasie te verseker en andersyds voorsien met ,stipte order, dat die patrouille ('n onderskatting van sy gewapende mag) rustig en niet aanvallender wijse zal te werk gaan.' Hierdie opdrag is uitdruklik aan hom voorgelees.

Dus gaan ook Cronjé na Potchefstroom sonder vaste voorneme om te veg, maar tog met 'n duideliker omskrywing van taak en optrede as waarmee Winsloe toegerus was. Ook andersins was Cronjé beter voorbereid vir die vyandelikhede wat voor die deur was as sy opponent. Eerstens het hy en sy manne oor 'n sielkundige voorsprong beskik wat die produk was van die voorafgaande maande se kondisionering. Daarenteen was die moraal van die Britse troepe oral in Suider Afrika laag soos weereens nêrens beter blyk as uit die woorde van Lady Bellairs, wie se uitspraak oor die swak dissipline van die Britse troepe verdoemend is nie. Siviele misdrywe was algemeen onder hulle en die ,,Deserters Report" van Oktober 1880 het nie minder nie as 241 name bevat. Haar toeskrywing van die verveeldheid en algemene roes aan die feit dat die troepe op afgeleë garnisoendiens na die Sekhukhune-oorlog van 1879 geplaas is word grotendeels deur ander bronne onderskryf.

Ook het Cronjé 'n getalle oormag gehad wat na die aanvang van die stryd verder versterk is sodat hy op een stadium sowat 2 000 burgers onder sy bevel moes gehad het. Aansienlike getalle van hulle het hy egter aan kommandant-generaal Joubert afgestaan vir optrede in Natal, maar op geen stadium was daar minder as 400 burgers aktief in Potchefstroom nie. Hierteenoor was die Britse sterkte spoedig na aanvang van die beleg tot minder as 200 gereduseer.

In die derde plek was die 2 000 tot 3 000 inwoners van Potchefstroom feitlik uitsluitlik republikeinsgesind waardeur Cronjé se burgerlike administrasie probleme ten tye van die beleg tot 'n minimum beperk sou wees. Na die rekrutering van Raaff se spesiale polisie het geen verdere vrywilligers hulle vir diens by Winsloe aangemeld nie.

Cronjé se voorhoede is om ongeveer 11h00 op 15 Desember deur Raaff se verkenners noord van die dorp gewaar. Kort na 13h00 het die hoofmag die Mooirivierbrug oorgesteek en noord van Wasgoedspruit, nog steeds buite die beboude gebied, voor oud-president Pretorius se huis gehalt. Cronjé is met ongeveer 100 man direk verder die dorp in om sy hoofopdrag, die besetting van Borrius se drukkery, uit te voer terwyl 'n aantal klein patrollies die dorp sonder weerstand deurkruis het. Toe geen onmiddellike reaksie van die kant van die Britse mag volg nie is die hoofmag gelas om af te saal en by Pretorius se huis kamp op te slaan.

Behalwe vir Raaff se verkenners is die aankoms van die Boeremag waargeneem vanaf 'n hotel naby die drukkery deur majoor Thornhill wat op die punt gestaan het om per koets na Pretoria te vertrek noudat hy bevel oor die garnisoen aan kolonel Winsloe afgestaan het. Hy het hom dadelik landdroskantoor toe gehaas om Clarke te waarsku en van daar na Winsloe by die kamp waar hy die res van die beleg gebly het. Eers op ontvangs van die nuus van Thornhill, dus meer as twee uur nadat Cronjé se voorhoede deur Raaff se verkenners waargeneem is, is die gereedstaan alarm geblaas.

Winsloe se ontsteltenis was sonder twyfel baie groot. Soos vooraf beplan is die landdroskantoorkompleks, Boerewinkel en Criterion Hotel deur majoor Clarke en kaptein Raaff tesame met 'n derde offisier, kaptein Falls, en ongeveer 20 troepe en 'n gelyke getal van Raaff se polisie beset, terwyl 'n verdere 22 troepe onder luitenant Dalrymple-Hay en 'n senior kommissariaatamptenaar, Bunne, in die tronk geplaas is.

By die kamp, wat op effens hoër grond as die dorp geleë was, is die groot aantal tente inderhaas afgeslaan en alle beweegbare uitrusting binne die klein vierkant van die verskansing geneem. Nou is vir die eerste keer pikke en grawe gegryp en met mening aan die werk gespring om die walle van die patetiese verskansing te vergroot, kanonskuilings te grawe en die waterput te voltooi.

Nadat hulle skrik enigsins bedaar het, het Clarke en Raaff laat die middag na die drukkery gery om Cronjé weer vir oulaas te konfronteer. Hy het hulle van sy opdrag meegedeel en hulle is terug om vanuit die beleërde landdroskantoor as 'n leë ampsgebaar 'n brief aan Borrius te rig om hom teen die publikasie van sedisieuse geskrifte te waarsku.

Hoewel die verwagte aanval nie gematerialiseer het nie is beheer oor die dorp sonder stamp of stoot aan Cronjé oorgegee en binne die bestek van 'n uur was daar oral Boerepatrollies en wagte terwyl die Britte agter 'n lae grondhoop en gebarrakkeerde vensters die ergste verwag het.

Uit die mond van talle simpatiseerders het Cronjé spoedig volledige inligting bekom oor die besetting van die landdroskantoor en tronk terwyl hy lank reeds op hoogte was met die bedrywighede in die kamp.

Cronjé het ten aanvang al sy aandag bestee aan die druk van die proklamasie. So groot was sy besorgdheid hieroor dat hy sy hoofkwartier in die Central Chambers, wat net oorkant die straat van die drukkery af was, geneem het, maar so seker was hy oor sy beheer van die toestand dat hy vir die volgende twee dae voor die drukkery op 'n rystoel sit en pyprook het. Dit was in opvallende teenstelling met die koorsagtige bedrywighede in die Britse kamp.

Die gevegte by die landdroskantoor en tronk

Die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog is op 16 Desember in Potchefstroom gevuur. Dat dit juis op Dingaansdag moes wees is deur die Boere as 'n goeie voorbode gesien. Toe 'n voorbarige Boerepatrollie tussen die tronk en fort deurgery het en tartende opmerkings gemaak het teenoor die Britse offisiere wat buite die fort besig was met ontbyt, is 'n luitenant met 'n aantal berede troepe deur Winsloe gestuur om hulle te verdryf. In die proses is skote deur die Britte aan die randgebied van die dorp afgevuur en die patrolliebevelvoerder, kommandant Robbertse, in die arm verwond. Die feit dat die Britte die eerste skote afgevuur het is 'n feit waaroor die Transvalers heelwat ophef sou maak maar is van weinig meer as akademiese belang. Vir die aanvang van vyandelikhede was daar teen die tyd genoeg provokasie aan beide kante. Terwyl kommandant Robbertse na die huis van dr. Poortman geneem is vir behandeling het twee lede van die patrollie die nuus aan Cronjé gaan rapporteer. Die spoed waarmee die Generaal van sy pyp en rystoel afgesien en tot aksie oorgegaan het is prysenswaardig. Binne 'n kwartuur was al die burgers uit die kamp voor die hoofkwartier opgestel waar Cronjé hulle in vier afdelings verdeel het; een om die drukkery te bewaak; twee om onder aanvoering van veggeneraal Kock na die markplein te beweeg om die landdroskantoor aan te val en een onder Cronjé se aanvoering om vanaf die begrafplaas die fort dop te hou en die tronk onder skoot te neem. Die Eerste Vryheidsoorlog het begin.

Binne driekwartuur nadat Robbertse verwond is het Kock se manne op die markplein vanuit noorde in Kerkstraat aangery gekom. Clarke, wat vroeër 'n waarskuwing uitgereik het dat die Boere van die omgewing van die landdroskantoor moes wegbly, het dadelik vanuit sy versterkte posisies vuur geopen. Die Boere het agter die kerk en Kaapsche Bank skuiling gesoek en die vuur ewe flink beantwoord. Kaptein Falls is feitlik onmiddellik deur 'n toe deur noodlottig getref asook 'n vrywilliger polisieman waarna sandgevulde possakke gebruik is om die deure en vensters verder te versterk. Ook is 'n aanvang gemaak met die grawe van 'n waterput deur die vloer van die kantoor. Origens het die twee kante mekaar vir die res van die dag en die volgende uitgevoel terwyl die Boere die omgewing deeglik bespied het. Pogings van Clarke om deur middel van vlagseine artillerievuur vanaf die fort op die Boerestellings neer te bring was nie suksesvol nie. Gedurende die nag van 17/18 Desember het die Boere die onverdedigbare agterkant van die kantoor geëksploiteer. Hulle het stelselmatig nader gekom tot binne 4m van die een hoek. Van hier het hulle brandende bolle van skaapwol en terpentyn gemaak, op die rietdak van die landdroskantoor gegooi en uiteindelik daarin geslaag om dit aan die brand te steek. Dit was genoeg vir Clarke en om 09h00 die oggend van die 18e het hy sonder verdere verset oorgegee. 'n Formele akte van oorgawe is in die huis van prokureur Buskes onderteken, die twee offisiere na die Royal Hotel geneem vir aanhouding en die ander range, waaronder daar nege gewondes was, is in die huis van Forssmann, wat in die kamp gaan skuiling soek het, opgesluit. Die lyke van die twee gesneuweldes is deur die Boere in 'n vlak graf in 'n hoenderhok agter die kantoor ontdek en voorlopig herbegrawe.

Een van die klein tragedies wat met die oorgawe gepaard gegaan het was die ontdekking aan Clarke se persoon van die spioenasierapport wat Woite aan Raaff gerig het. Op grond hiervan is Woite en Van der Linde deur die krygsraad ter dood veroordeel en gefusilleer.

Intussen het ook die klein groepie troepe in die tronk 'n moeilike tyd deurgemaak. Hulle is van drie kante bestook en die hoë mure het nie die verwagte beskutting teen kleingeweervuur gebied nie omdat dit nou geblyk het dat hulle van ongebrande stene gebou was. Die val van die landdroskantoor het in elk geval die voortgesette besetting van die tronk sinneloos gemaak en gedurende die nag van die 18e het luitenant Dalrymple-Hay sy troepe, insluitende die gewondes, suksesvol na die fort onttrek. Slegs 'n gesneuwelde is agtergelaat. In beide die landdroskantoor en die tronk het die Boere groot hoeveelhede wapens, ammunisie en voedsel aangetref waarvan veral laasgenoemde in die dae wat voorgelê het baie in die fort gemis sou word.

Die volgende dag was 'n Sondag en, soos op alle Sondae hierna, is 'n skietstilstand aan beide kante gehandhaaf.

Die beleg van die fort

By verre die belangrikste van die militêre bedrywighede het gewentel om die beleg van die fort.(1) Dié het basies uit 'n vierkant met die punte in die hoof windrigtings bestaan. Ten aanvang van die oorlog was die walle waarskynlik net hoog genoeg om aan 'n staande man skuiling te bied en met een of twee lae sandsakke gekroon. Grond vir die wal is uit 'n sloot aan die buitekant daarvan gegrawe. Vir die volle 95 dae van die beleg moes onverpoosd snags aan die walle gewerk word, beide om hulle te verhoog en om die aansienlike reën- en gevegskade te herstel, sodat hulle 'n uiteindelike hoogte van ongeveer 3m bereik het. Hierdeur het die binnemate van die sye van die aanvanklike 30,5m tot nie meer as 22m nie gekrimp. 'n Verdere bewys van die oorhaastigheid waarmee die vestingwerk afgehandel moes word is die feit dat albei die negeponder Armstronggeskut wat buite die hoofwal op die noordelike hoek ingegrawe was om slegs die dorp te dek, met die opwerping van die wal afgesluit geraak het en nie later herontplooi kon word om ook die suid-oostelike en suid-westelike sye van die fort te dek nie.*

(1) Die fort kan, wat sy hoofuitleg betref nog herken word en sal eersdaags gerestoreer word.

*Nota: Hierdie kanonne was nie ,Armstrong-geskut' nie. Die Armstrong agterlaai kanonne is reeds in 1871 deur die Royal Gun Factory 9-ponder getrokke voorlaaikanonne vervang. Redakteur

Die dorpswatervoor was tussen 250 en 300m van die fort af en kon na die uitbreek van die gevegte nie langer benut word nie. Gevolglik moes eers een en later 'n tweede waterput gegrawe word wat gelukkig die onontbeerlike minimum hoeveelheid modderwater vir bestaan in die warm son gelewer het. Die waterkarre kon ook af en toe gevul word met die aansienlike hoeveelheid reent wat geval het. Vanaf die 19e is begin met voedselrantsoenering. Aanvanklik was daar heelwat geblikte vleis, 'n hoeveelheid meel en drank sowel as groot hoeveelhede mielies wat vir perdevoer bedoel was. Maar teen die einde van die beleg was 1,5 kg mielies en 0,1 kg geblikte vleis elke tweede dag die enigste voedsel. Behalwe vir die groot hoeveelheid eetware wat met die val van die landdroskantoor en tronk in Boerehande beland het, is die voedselprobleem gedurende die eerste paar dae aansienlik verswak deurdat kaste vol blikkiesvleis saam met enige ander bekombare voorwerp op die lae skanswal gepak moes word om dit te versterk en groot hoeveelbede daarvan is deur vyandelike vuur onbruikbaar gemaak.

Aanvanklik egter was die ernstigste probleem die groot bevolking van die fort. In teenstelling met die kalmte wat gedurende die 16e en 17e in die Boere kamp geheers het, moes Thornhill en Winsloe toe reeds ernstige bedenkings gekoester het oor die doeltreffendheid van hulle voorbereidings. Behalwe dat die verskansings - waaraan later die vleiende naam van fort gegee is - en waaraan hulle op hierdie stadium ten volle gekompromitteer was, beide vir doeltreffendheid en gerief gans te klein was, het dit 'n aardige kosmopolitiese bevolking moes huisves. Na ontruiming van die fort was daar nagenoeg 190 troepe, 60 Bantoe drywers en bediendes en 48 lojale burgerlikes van beide geslagte wat hulle in die loop van die 15e vir beskerming kom aanmeld het en waardeur die inwonertal van die klein vierkant op 322 te staan gekom het. Verder is plek opgeneem deur vyf kommissariaatwaens en 'n aantal ammunisiewaens, ambulanse en waterkarre waarvoor daar plek gemaak moes word tussen die vyf opgeslane kloktente. Slegs die perde en osse is buite die ,sardien-blik' gelaat. In aanmerking geneem dat die ruimte binne die fort op sy grootste 'n area van nie meer as 930m2 beslaan het nie, was daar die waens, tente en ander voorrade buite rekening gelaat, 'n digtheid van een persoon per minder as 3m2. Vir die dames moes boonop aparte geriewe en beskutting voorsien word. Selfs nadat die Bantoes, moontlik onder subtiele druk van Winsloe, die fort verlaat het (sommige om die Boereskutters ten prooi te val) en op 24 Desember, met die toestemming van Cronjé, deur 30 burgerlikes gevolg is, sou sulke toestande van saamgedruktheid onhoubaar gewees het. Die verklaring vir die vermoeë van die beleerdes om 96 dae uit te hou sonder om mekaar te vertrap, moet onteenseglik gesoek word in die vermoeë om ook buite die walle van die fort te kon leef. Enersyds was daar die sloot, wat weldra die afmetings van 'n grag aangeneem het en wat in verhouding met die opbou van die walle aangaande vergroot is. Daar is op gewys dat laasgenoemde uiteindelik 'n hoogte van ongeveer 3m bereik het. Die vorm van die sloot was natuurlik nie bloot die omgekeerde van die wal nie, maar sou vlakker gewees het as wat die wal hoog was, net diep genoeg om die diere wat in die begin daarin saamgetrek was te beskut. Indien aanvaar word dat op die buitenste rand hiervan ook een of twee lae sandsakke gepak was, stel dit die gemiddelde diepte van die sloot op ongeveer 1,5m en beteken dit dat die breedte nagenoeg 4m moes gewees het. Op 21 Desember, nadat hulle vir geruime tyd sonder water was, is die diere losgelaat en moet dit aanvaar word dat die sloot, wat naastenby so ruim was as die fort - wat op sy beurt al kleiner geword het na gelang die wal van buite steeds hoër gemaak is, daarna deur sommige van die troepe betrek is. Verder is 'n aantal skietslote vanuit die hoofsloot na buite gegrawe hoofsaaklik om as nagluisterposte te dien, maar ook hulle kon bedags beman gewees het. Verder is 'n groepie manne vanaf begin Januarie in die naby geleë kruithuis geplaas. Ten slotte was sommige van die artilleriste seker voortdurend by hulle kanonne aan die buitekant van die wal. Alles in aanmerking geneem was die drukte binne die vier mure van die fort mettertyd aansienlik verlig.

Om egter tot die ongerief by te dra het dit buitengewoon baie gereent waardeur die walle verspoel het, 'n proses wat nie verhelp kon word deur die bykans duisend sandsakke wat deur die vrouens, siekes en gewondes van tentseil vervaardig en met mielies gevul is nie omdat dié deur die Boere aan flarde geskiet is. Daar was geen dreinering nie en die stagnante water moes met die hand uit die fort en sloot geskep word. Selfs die hospitaaltent is deur 'n menigde koeëlgate onwaterdig gemaak. Die enigste vertroosting van die baie reent was dat daar nooit 'n werklike tekort was aan drink- en kookwater nie. Vuurmaakhout, later van die waens verkry, was, soos alle ander artikels, gerantsoeneer. Die stank van dooie diere buite die fort, opsetlik deur die Boere vir die doel gedood, het die lewe verder versuur. Oor die onhigiëniese latrine toestande kan slegs gegis word. Die warm son gevolg deur gietende reën, gebrek aan voldoende voedsel en die eentonigheid van die rantsoene, feitlik onleefbare engte, gebrek aan deeglike higiëne en akkurate vyandelike vuur ten spyt, is 'n gees van blymoedigheid deur die garnisoen vir 95 dae gehandhaaf en daar is geen getuienis dat ernstige dissiplinêre probleme ontstaan het nie. Later het maagaandoenings en koors epidemiese afmetings aangeneem en, ten spyte van die aandag van twee militêre en een siviele geneesheer, 'n aantal lewens geëis. Om skeurbuik te bekamp is groen gras gekook en die water gedrink of is dit saam met fyngestampte mielies opgedis.

Ongeag al die ontberings van die garnisoen het die fort vir Cronjé 'n stekelrige turksvy gebly wat hy nooit mooi geweet het hoe om aan te pak nie. Sonder twyfel was die aangewese taktiese set gewees om, te midde van die eerste dag se verwarring, die onvoltooide fort met sy groot bevolking stormenderhand te verower; iets wat Winsloe toegegee het sou slaag en wat hy en sy offisiere ten volle verwag het. Maar so 'n optrede was teen die uitdruklike opdragte waarmee Cronjé by Paardekraal weg is. Toe die Britte self op die 16e die Boere die stryd aangesê het kon dié taktiek bes moontlik nog geslaag het, maar Cronjé was te ingesteld op die aftakeling van die twee maklike doelwitte om aan hierdie moontlikheid ernstige oorweging te skenk. Dit is ook onwaarskynlik dat hy vir so 'n maneuver meer as 360 burgers kon aanwend. Eers na die verowering van die tronk op die 19e dag het hy volle aandag aan die fort gewy. Hy het toe, en op verskeie kere daarna, probeer om die tronk letterlik plat te skiet, maar die groot afstande van die naaste huise en die kerkhof na die fort en die agting wat die twee negeponders ingeboesem het, het alle hoop op sukses langs die weg op 'n vroeë stadium uitgeskakel.

'n Tweede middel was om self 'n kanon aan te wend. Vir die doel is 'n ou voorlaaier skeepskanon (sommige bronne beweer dat dit Ou Grietjie van Bloedrivier faam was) uit 'n agterplaas in Lichtenburg gehaal, deur die plaaslike grofsmit nagesien, op wiele gemonteer en gevegsvaardig verklaar. Kruit was daar genoeg en 'n groot hoeveelheid lood, in Klerksdorp gerekwistreer, is in koeëls van ongeveer 2kg gegiet en met die hand afgewerk en met prysenswaardige akkuraatheid, maar min indringingsvermoë, oor afstande van tussen 500 en 1 000m aangewend tot groot irritasie van die beleërdes. Buitengewone lelike en onverklaarbare verwonding van troepe in die fort wat nie aan direkte vuur blootgestel was nie en wat verkeerdelik aan die gebruik van dum-dumkoeëls deur die Boere toegeskryf is, dui moontlik op die gebruik van skroot wat deur die kanon op 'n hoë koeëlbaan in die fort in geskiet is.

Algaande het die taktiese toestand uitgekristaliseer in 'n uitgerekte en konvensionele beleg met 'n dienooreenkomstige afname in die skietwerk en 'n toename in geniebedrywighede. Die beleërdes het hulle fort versterk en hulle gebied uitgebrei deur die ou kruithuisie, ongeveer 200m noord-wes van die fort, wat hulle met 'n loopgraaf bereik het, in hulle verdedigingsopset te betrek. Ook Cronjé het deur gebruik van loopgrawe gepoog om die fort nouer in te sluit. Die duidelike beweegrede was om die fort ook van die kant verste van die dorp af te kon bestook, maar dit is ook moontlik dat hy die loopgrawe as 'n naby geleë en beveiligde afspringplek wou gebruik in 'n vertraagde poging om die fort te bestorm.

Teen die einde van die jaar is 'n aanvang gemaak met die eerste Boere loopgraaf wat deur die kerkhof in die algemene rigting van die kruithuis uitgestoot is. Bewerings dat die Boere krygsgevangenes gebruik het om in die loopgrawe te werk is grondeloos vir geen beter rede nie as dat almal van hulle met die uitsondering van die twee offisiere, op Kersdag, dus min of meer gelyktydig met die aanvang van die grawery, na die OVS gestuur is. Pas voor of pas na hierdie tyd is 'n aanvang gemaak met 'n tweede loopgraaf suid van die fort. Ter beskerming van die grawers is bale wol en metaalpype voor die werkspanne uitgestoot waarteen selfs die kanonne nie veel kon vermag nie. Na gelang die loopgrawe nader aan die fort gekom het, het die Boere, deur gate en gleuwe in houtstompe gesny, hulle gewere op vaste nagskietposisies vasgeklem en heelwat las aan die werkspanne wat snags die fortwalle herstel het besorg.

Die Boere loopgrawe het genoeg kommer in die fort gaande gemaak om minstens twee uitvalle daarop uit te lok. Gedurende die nag van 7 Januarie het luitenant G.F. Lindsfell met vyf vrywilligers die skansgrawers in die kerkhof aangeval en groot konsternasie veroorsaak en op 22 Januarie is die suidelike loopgraaf, wat reeds tot agter die fort gevorder het, oordag oor 'n afstand van 200m deur 11 man onder aanvoering van luitenant Dalrymple-Hay bestorm. In die proses is vier Boere gevang, maar die Britte het self drie gewondes opgedoen waarvan een die volgende dag oorlede is. Dit is enigsins verbasend dat geeneen van die twee Britse offisiere amptelike erkenning vir hulle ondernemingsgees ontvang het nie.

Teen die einde van Februarie was die fort feitlik geheel en al deur die loopgrawe omsingel wat heelwat bykomstige irritasie vir die Britte beteken het, veral daar die kanonne nie verskruif kon word om die loopgrawe onder skoot te neem nie.

Dit is nie onwaarskynlik nie dat 'n bykomstige oogmerk wat Cronjé met die loopgrawe gehad het die bereiking van die kruithuis voor die Britte was. Toe die Britte met hulle korter en reguiter loopgraaf hom in die opsig voorgespring het, het hy die beste van die saak gemaak deur sy eie ,fort' in 'n lyn tussen die Britse fort en die kruithuis op te rig ongeveer l00m aan die ander kant van laasgenoemde. Dit het die voordeel ingehou dat sy eie kanon bo-oor die kruitbuis in die reguit loopgraaf kon afskiet terwyl hy self teen vuur immuun was. Die Boere ,fort' het slegs uit 'n 4m hoë wal bestaan wat as kanonplatvorm moes dien. Alles was hiermee gereed toe die Britte die stryd gewonne gegee het.

Cronjé het ook van sielkundige oorlogvoering gebruik gemaak. Hy het gesorg dat die garnisoen gereeld by wyse van die Staatscourant, nog steeds deur Borrius uitgegee, ingelig bly oor die verslegtende militêre toestande vir die Britte. Ook op die muur van die ontruimde tronk is 'n stukkie propagande geverf.

Nog 'n taktiese set was misleiding. Hy het naamlik deur middel van 'n vals boodskapper Winsloe onder die indruk probeer bring dat Bellairs op pad was om hom te ontset en dat Winsloe op 'n gegewe sein 'n uitval uit die fort moes maak om by Bellairs aan te sluit. Die Boere toneelspel was goed maar Winsloe te uitgeslape om vir die set te val.

Die enigste oorblywende metode om die Britte tot oorgawe te dwing was uithongering. Dit was die minste riskante strategie wat al hoe aantrekliker geword het na gelang Boere militêre welslae elders opgehoop het en Winsloe se vooruitsig op ontsetting dienooreenkomstig skraler. Onder hierdie besef kon Cronjé maar weer rustig op die rystoel voor sy hoofkwartier gaan sit en pyprook en wag. Die uitslag van die beleg was teen die einde van die jaar nie langer in die weegskaal nie sodat hy moontlik op 'n vroeë stadium reeds afgesien het van alle verwagtinge om die fort op 'n ander wyse tot oorgawe te dwing. Voortaan was die grawe van die loopgrawe weinig meer as 'n afleiding vir die Boere wat net so verveeld was as die vyand in die fort. Die enigste ernstige oogmerk wat dié onderneming nog gehad het was om die fort heeltemal te isoleer want dit het in die laaste stadium van die beleg duidelik geword dat voedsel die garnisoen in klein hoeveelhede bereik het. Sy strategie van uithongering word ook weerspieël in sy weiering om, na ongeveer drie maande van beleg, die handjievol dames wat in die fort was toe te laat om na hulle huise te gaan. Sy uitgangspunt was dat Winsloe die verantwoordelikheid vir die dames aanvaar het en dit nie van hom kon afskuif nou dat sy voedselvoorrade uitgeput geraak het nie.

Die tydsame optrede van Cronjé en die sekere wete dat tyd aan sy kant was het dan ook die deurslag gegee in Winsloe se besluit om die vlag te stryk. Sy manne was lank reeds weinig meer as geraamtes wat slegs deur prysenswaardige dissipline en deursettingsvermoë die vyand trotseer het. Die een ding waarop Winsloe vir drie maande gehoop het, versterkings uit Natal, is die nek ingeslaan met die nuus van die neerlaag en dood van Colley. Daar was nóg die middele nóg die sin aan verdere verset.

Op 19 Maart het hy 'n onderhoud met Cronjé gevoer en die volgende dag eervol gekapituleer.

Diplomatieke nasleep

Een vraagstuk wat gedurende die laaste dae van die beleg opgeduik het, verdien verdere toeligting. Generaal Joubert en generaal Wood, Colley se opvolger, het op 5 Maart tot 'n wapenstilstand ooreengekom. Alle Boerebevelvoerders is onmiddellik hiervan in kennis gestel. So ook Cronjé. Die wapenstilstandsooreenkoms het gestipuleer dat Boerebevelvoerders voedselvoorrade, wat vanuit Natal aan beleërde Britse garnisoene gestuur sou word, ongehinderd na hulle bestemmings sou deurlaat. Met die aankoms van die voedsel sou die wapenstilstand 'n aanvang neem en vir agt dae duur. Saam met die kopie van die ooreenkoms wat Cronjé op 12 Maart ontvang het, was 'n dekkingsbrief van Kruger waarin juis hierdie artikel beklemtoon was en Cronjé opgedra is om vyandelikhede voort te sit tot tyd en wyl die voedsel uit Natal opdaag en dit is presies wat Cronjé gedoen het. Winsloe het egter op die 19e 'n kopie van die wapenstilstandsooreenkoms ter insae gehad. Volgens oorlewering is dit óf vir hom in die fort ingesmokkel, óf het dit per ongeluk in sy hande beland. In die lig van Cronjé se beleid om Winsloe op hoogte te hou van Britse terugslae en weens die ondubbelsinnigheid van die bepalings aangaande die voortsetting van vyandelikhede is daar egter geen rede waarom die betrokke Staatscourant nie met opset deur Cronjé aan hom gestuur kon gewees het nie. Dit was dan ook betekenisvol dat Winsloe juis op hierdie stadium die onderhoud met Cronjé gevoer het waarna reeds verwys is en toe hy verseker is dat die voedsel nog nie aangekom het of opsetlik deur Cronjé vertraag word nie, het Winsloe, na samesprekings met sy offisiere, die volgende dag oorgegee. In werklikheid het die voedsel vir die Potchefstroom garnisoen eers drie weke later aangekom weens die onbegaanbaarheid van die Vaalrivier-driwwe.

Daar was dus niks ongereeld aan die wyse waarop Cronjé die beleg voortgesit het of die wyse van Winsloe se oorgawe nie. Nogtans het die voorval 'n diplomatieke nasleep gehad toe die Koninklike Kommissie wat die oorhandiging van gesag aan die Republikeinse regering moes reël die saak op 20 Junie bespreek het. Om nie die herwonne onafhanklikheid van die Republiek enigsins in die gedrang te stel nie, het die Boereleiers by die vergadering aan die hand gedoen dat Britse troepe die fort weer vir 'n tydjie moes beset al sou oorgawe nie op gereëlde wyse geskied het nie. Die aanbod kom enigsins lagwekkend voor, maar wat belaglik is, is die feit dat die Kommissie die aanbod aanvaar het! Generaal-majoor Buller is gevolglik teensinniglik met 'n kompanjie uit Natal gestuur om die fort weer simbolies te beset, die Britse vlag te hys en daarna weer die lang pad terug Natal toe te vat. Hy self het die episode beskryf as ,comic opera' en inderdaad was die hele Britse houding met die aangeleentheid een van ,ons sou die stryd nooit verloor het as julle dit nie vooraf gaan staan en wen het nie.'

Besluit

Dit is moeilik om by wyse van nabetragting die Britse debakel in Potchefstroom te verskoon. Dit beteken egter nie dat die skuld daarvoor op Winsloe se rekening geplaas kan word nie. Sy algehele onvoorbereidheid - geestelik, takties en kommissariaat gewys - was slegs 'n weerkaatsing van wat oral in Transvaal die geval was onder die Britse magte en was die gevolg van oormoedige selfvertroue en minagting van die Boere wat geheers het in die offisiersmenasies en die sitkamers van die administrateurswoning in Pretoria. Verder moet ter versagting van Winsloe aangevoer word dat hy nie lank genoeg in Potchefstroom, of, wat dit aanbetref, in Transvaal was om enigsins 'n ander beeld as die aanvaarde een van die milite're en politieke toestand te vorm nie, altans nie voordat dit te laat was om oorwoë voorbereidings te kon tref nie. Die gevolg was dat hy uit die staanspoor die inisiatief aan Cronjé afgestaan het. Sy laaste en mees onverskoonbare flater, en een wat deurgaans die aandag van kommentators ontglip, was sy beslissing om die Boere die stryd aan te sê op 16 Desember deur kommandant Robbertse se patrollie agterna te laat sit op 'n tydstip toe die fort alles behalwe voltooid was. Indien hy met 'n opponent te doen gehad het wat meer ondernemingsgees as Cronjé gehad het, of indien Cronjé op daardie oomblik oor net nog 100 man beskik het, kon die stryd om Potchefstroom nog daardie selfde dag beklink gewees het. Tydens die beleg self het Winsloe sy ervaring en staal beter kon toon, al was dit maar hoofsaaklik in 'n passiewe rol. Selfs die enkele gevalle van durf wat deur die garnisoen aan die dag gelê is het hulle oorsprong by die inisiatief van betreklik jong luitenante gehad.

Cronjé het ewe-eens nie veel durf aan die dag gelê nie, maar, anders as sy teenstander beskik oor 'n koue en korrekte waardasie van die basiese elemente van die taktiese en strategiese toestand. Bowenal het Cronjé se voorbereidheid en Winsloe se onvoorbereidheid meegebring dat die stryd gewen en verloor was voordat die eerste skoot geklap het. Tog het Cronjé, geoordeel aan sy onindrukwekkende optrede tydens die Tweede Vryheidsoorlog, geen nuttige lesse uit die stryd in Potchefstroom geleer nie. Veral opvallend is dat die aanwesigheid van die burgerlikkes in die fort, wat uiteindelik vir Winsloe 'n verleentheid was en wat Cronjé so knap uitgebuit het, 'n vingerwysing was wat hy hom verbygegaan het en sy eie oorgawe by Paardeberg 20 jaar later was juis op hom afgedwing deur die aanwesigheid van groot getalle vrouens in sy laer.

Tussen Cronjé en Winsloe het deur gaans die grootste mate van agting geheers. By een geleentheid het Cronjé mediese voorrade na die fort gestuur en by 'n ander vars vrugte, 'n houding wat, volgens Winsloe, die angel uit die stryd geneem het. Sy mening oor die Boere was dat ,they are a fine, manly, sturdy race, such as I would like to live among. Who can blame them for fighting for independence?'

Na die oorgawe en voor die garnisoen se vertrek na die neutrale OVS is Winsloe en sy manne in die Royal Hotel op 'n feesmaal getrakteer en vir hulle uithouvermoë bewonder en geloof.

Aan Britse kant is 27 gedood en 31 verwond terwyl die siekes aan die einde 52 getel het. Boere verliese was ongeveer helfte hiervan.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org