The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 2 Nr 3 - Junie 1972

DIE MONUMENT TE WATERLOO
'n verdere bydrae tot die reeks
,,Monumente wat tot ons spreek"

deur Kmdt. JAN PLOEGER, M.A., M.ED., D.PHIL.

Ongeveer 18 km suid van Brussel, aan die hoofpad wat oor Nijvel (Fr. Nivelles) en Quatre Bras die vernaamste verbinding met Charleroi en Maubeuge (Fr.) vorm, lê die dorpie Braine-l'Allaud, wat aangrensend is aan die noord-oostelike kant van die munisipaliteit van Waterloo.

'n Geskiedkundige kaart toon oortuigend aan dat hierdie deel van België, sowel as die landstreke ten suide daarvan in die verlede meer as eenmaal die slagveld van Europa was. In hierdie verband is dit voldoende om na plekname soos Seneffe, Fleurus, Bergen (Fr. Mons), Jemappes en Gembloers (Fr. Gembloux) te verwys. Tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het, ook met betrekking tot die optrede van ons landgenote, name soos Ieper en die Kemmelberg wêreldwye bekendheid verwerf.

Tydens die jongste wêreldoorlog (1939-1945) het dieselfde gebiede weereens die aandag van die wêreld getrek.

NAPOLEON VERTREK VAN ELBA

Terwyl die kongres van Wenen nog oor die toekoms van Europa beraadslaag het, het Napoleon op 1 Maart 1815 te Golfe-Juan geland om op 20 Maart in Parys te verskyn. Vyf dae later het die geallieerdes (Engeland, Oostenryk, Pruise en Rusland) die verdrag van Chaumont gesluit. Napoleon sou van nouaf tot 'n finale uitslag van die militêre kragmeting beveg word. Ander lande, waaronder Nederland, is gevra om by die nuwe verbond aan te sluit.

Op 4 April het die hertog van Wellington in Brussel verskyn, en op 25 April 1815 tree koning Willem I van die Nederlande (Nederland + die hedendaagse België) tot die verdrag van Chaumont toe. Op 3 Mei neem sy seun, later koning Willem TI, die bevel van die gesamentlike Nederlandse krygsmag oor wat twee dae daarna deur sy vader onder die hertog van Wellington gestel word. In totaal het die Engels-Nederlandse krygsmag ongeveer 110 000 man getel, terwyl die mag onder veldmaarskalk Blücher ongeveer 116 000 man sterk was.

Hierdie magte was suid van Brussel saamgetrek, maar ongelukkig was die frontbreedtes en -dieptes van die leëringsgebiede nie bevorderlik vir 'n vinnige konsentrasie nie. Weliswaar het die twee leiers afgespreek om, in geval van 'n veldslag, 'n strategiese vereniging te vorm, maar die verwesenliking hiervan kon nie onder alle omstandighede gewaarborg word nie.

Napoleon, wat aan die hoof van 'n krygsmag van 23 000 man op 15 Junie die Frans-Nederlandse grens oorgesteek het, was vasberade om enige konsentrasiepoging van die kant van sy teenstanders te probeer verydel en het op grond hiervan, sy opmarsrigting Charleroi-Quatre Bras-Brussel bepaal.

Op 15 Junie het Nederlandse eenhede (8 000) die Franse opmars by die belangrike kruispunt Quatre Bras gestuit nadat sterk Britse versterkings hulle in die loop van die dag te hulp gesnel het. Die volgende dag is 'n deel van Blücher se mag by Ligny verslaan. Daarna het die hertog van Wellington besluit om van Quatre Bras na Mont St. Jean terug te val om daar, met gebruikmaking van terreinvoordele, die vyand af te wag.

In hierdie omgewing het dan die volgende dag die slag van Waterloo ontbrand, 'n slag waarvan die hertog volgens die hoofartikel in The Times van 23 Junie 1815 getuig het:
"Never before was I obliged to take such pains for victory, and never before was I so near being beaten."

First photo

Hierdie boom simboliseer die oorsprongklike een waaronder die hertog van Wellington op die gedenkwaardige 18e Junie 1815 sy bevele gegee en die verloop van die slag gadegeslaan het.
Op die agtergrond die ,,Leeu van Waterloo"
Foto:
Belgisch Instituut voor Voorlichting en Documentatie, Brussel

DIE SLAGVELD EN DIE MONUMENTE

Wie ou kaarte van die slag raadpleeg, sal sien dat die benaming ,,slag van Waterloo" nie in alle opsigte korrek is nie aangesien 'n gedeelte van hierdie militêre botsing ten suide van Waterloo, m.a.w. binne die huidige munisipale gebied van Braine -l'Alland, plaasgevind het. Binne die huidige grense van laasgenoemde gebied verrys nie alleen die heuwel met die monument in die vorm van 'n leeu nie, maar lê ook die plaaswoning Mont St. Jean wat as 'n veldhospitaal ingerig was.

Second photo

Die Belgiese monument, naby die slagveld van Waterloo. Hierdie gedenkteken is opgerig ter herinnering aan die Belgiese offisiere en manskappe wat onder die hertog van Wellington gedien en gesneuwel het.
Foto:
Belgisch Instituut voor Voorlichting en Documentatie, Brussel

Daar is 'n groot aantal monumente op en naby die historiese slagveld.

By die dorpie Waterloo is die gedenksteen waaronder die linkerbeen begrawe was van vleueladjudant lt.-genl. lord Uxbridge oorspronklik begrawe was. Tydens die slag is hierdie offisier, wat die Britse en Nederlandse kavallerie aangevoer het, gewond. Sy been is afgesit en het tot na die dood van lord Uxbridge (later markies van Anglesey), in 1854, in hierdie graf gerus. Daarna is dit na Engeland oorgebring. In dieselfde omgewing verrys die tempel wat ter herinnering aan die slag gewy is en waarin o.m. gedenkplate ter nagedagtenis aan die hertog van Wellington, die prins van Oranje en genl. Baron van Merlen, bevelvoerder van 1 Suid-Nederlandse Brigade, aangebring is. Die huis waarin die hertog van Wellingtonse hoofkwartier van 17-18 Junie 1815 gevestig was, is duidelik herkenbaar vanweë die opskrif ,,Au Quartier Général de Wellington" en is tans as 'n museum ingerig.

Die plaashuis Mont St. Jean vorm vanaf die noorde die grens van die slagveld, terwyl aan die oorkant van die hoofpad die heuwel van 45 m hoogte en 520 m in omtrek verrys wat met die monument met die bekende ,,Leeu van Waterloo" bekroon is. Ongeveer 300 000 m3 grond is in kruiwaens van die slagveld aangery om hierdie indrukwekkende hoogte te maak op die plek waar die prins van Oranje gewond is. Daar is in 1823 met die grondwerk begin. In 1826 was alles voltooi. Die monument is volgens 'n ontwerp van die beeldhouer J. F. Vangeel deur die firma Cockerill te Seraing gegiet. Die gewig van die geheel bedra 28 000 kg en op die voetstuk staan gegraveer XVIII JUNI MDCCCXV.

Aan die voet van die monument is 'n indrukwekkende panorama van die slag. Dit is eers in 1912 in gereedheid gebring.

Die plaaswoning Mont St. Jean is reeds genoem. Oorspronklik het hierdie gebou aan die Orde van die Tempeliers behoort. Dit is in 1778 deur die Maltesers herbou en was tydens die slag as 'n Britse veldhospitaal gebruik.

Daarna volg 'n groot aantal monumente soos die Belgiese monument (in 1914 opgerig), die monument ter gedagtenis aan die Hannoverane (1818) en die Gordon-monument (1817) ter gedagtenis aan die Vleueladjudant van die hertog van Wellington wat op die plek ernstig gewond is en die volgende dag in die hertogse hoofkwartier beswyk het.

Naby hierdie gedenksuil ter herinnering aan sir Alexander Gordon is 'n boom wat in 1958 geplant is ter herinnering aan 'n soortgelyke voorval waartydens die hertog van Wellington 'n gedeelte van die slag gelei het. Die oorspronklike boom is reeds in 1818 aan 'n Engelsman verkoop wat dit na Londen laat vervoer en stukkies hout as aandenkings aan liefhebbers verkoop het.

Naby die plaaswoning ,,la Papelotte" staan 'n monument ter herinnering aan korpskommandant kol. graaf Schwerin wat op hierdie plek gesneuwel het.

'n Plaashuis wat ook 'n rol tydens die slag gespeel het, is ,,d'Hougoumont" met gedenkplate aan die mure en sy indrukwekkende kerkie op die binneplein wat in 1856 van Engelse kant herstel en as herinneringsentrum ingerig is.

Meer as 3 000 offisiere en manskappe is in hierdie omgewing gewond of het hier gesneuwel. Omstreeks 1912 het naby die geskiedkundige plaaswoning ook 'n monument verrys ter herinnering aan die Franse wat hier gesneuwel het.

Belangrik is ook die ou herberg ,,la Belle Alliance" waar die hertog van Wellington en veldmaarskalk Blücher mekaar na die oorwinning ontmoet het, die Pruisiese oorlogsmonument en die gedenkteken wat in 1904 opgerig is ter herinnering aan Napoleon se laaste gardetroepe.

Third photo

Links: Die monument wat ter nagedagtenis van lt.-kol. sir Alexander Gordon, aide-de-camp van die hertog van Wellington, opgerig is. Tydens die slag het hierdie offisier, wat die hertog probeer beskerm het, gesneuwel.

Regs: Die monument ter ere van die Hannoverane wat onder die hertog van Wellington gedien en tydens die slag die hoogste offer gebring het.
Foto:
Belgisch Instituut voor Voorlichting en Documentatie, Brussel

Napoleon se hoofkwartier was in die rigting van Genappe, in die plaashuis ,,du Caillou" gevestig. Dit is tans as 'n museum ingerig.

Fourth photo

Die monument van die gewonde adelaar laat die besoeker terugdink aan die Franse wat tydens die slag van Waterloo gesneuwel het. Op hierdie plek het die res van die keiserlike garde verbete weerstand teen diestrydkragte van die Verbondenes gebieg.
Foto:
Belgisch Instituut voor Voorlichting en Documentatie, Brussel

Verder suidwaarts is die monument ter herinnering aan genl. Duhésme, die bevelvoerder van die ,,Jeune Garde Impériale", en op Quatre Bras die Belgiese oorlogsmonument (1926) en die gedenkteken ter herinnering aan Friedrich Wilhelm, graaf van Brunswyk en Lüneburg wat aan die hoof van sy troepe tydens die geveg op Quatre Bras (16 Junie 1815) gesneuwel het.*

*Die skrywer betuig sy opregte dank aan prof. W. de Pauw, Belgiese Ambassade, Pretoria, vir die gewaardeerde hulp m.b.t. foto's en sekere onmisbare gegewens.

Return to Journal Index OR Society's Home page
 

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org