Vandag geniet hierdie deeltjie van die munisipale gebied van Scheemda veral bekendheid deurdat daar sedert 1795 die wecirc;reldbekende klokgietery van die agtereenvolgende verteenwoordigers van die Van Bergen-geslag gevestig is.
In die ver verlede het daar, op 'n hoogte van ruim 4m bo die seespieël, 'n klooster gestaan. Volgens dr. W. de Vries beteken die pleknaam Heiligerlee ,,heuwel van die heiliges", m.a.w. die heuwel of hoogte van die monnike (1), terwyl in die volksmond die ou gehugsbenaming ,,Kloosterholt", d.w.s. die klooster se bos, nog voortlewe.(2)
In die omgewing van hierdie klooster was daar, eeue gelede, 'n verraderlike moeraswêreld en meer as eenmaal is die kloosterheuwel deur 'n militêre bevelvoerder benut om deur die keuse van die terrein 'n voorsprong op sy teenstander te behaal.
Dit het die aanvoerder van 'n krygsmag ondervind wat in 1536 deur koning Christiaan van Denemarke na dié gebied gestuur is en by Heiligerlee deur die aanvoerder van Karel V, Georg Schenk van Tautenburg, verslaan is.(4) In die geskiedenis van die Nederlande, en dit geld ook vir die militêre geskiedenis, het Heiligerlee tot vandag toe bekendheid verwerf deurdat die eerste veldslag van die Tagtigjarige Oorlog (1568-1648) op 23 Mei 1568 in die onmiddellike nabyheid van die klooster gelewer is.
Die Slag van Heiligerlee (23 Mei 1568)
In 1568 het, as gevolg van menigvuldige oorsake,(5) 'n
vasberade minderheid van die toenmalige bevolking van die
toenmalige Nederlande, onder leiding van prins Willemn van
Oranje, teen hul heerser, koning Filips II, in opstand gekom.
Vanuit Duitsland het prins Willem (1533-1584) in 1568 'n veldtogplan begin ontplooi met die doel om die Spaanse strydkragte, deur die Nederlande op verskillende plekke binne te val, tot kragverdeling te probeer dwing. Daarna was hy van plan om 'n gunstige geleentheid af te wag om die vyandelike hoofmag op 'n beslissende wyse te verslaan. In stilte het hy die hoop gekoester dat hy, deur hierdie optrede, die geledere van die aanhangers van die rewolusie of opstand tot dade sou prikkel.
Van 'n vyftal invalle, waarvan die vernaamste op Brussel en omgewing gemik was, het vier misluk. Die inval in die latere provinsie Groningen met 'n gewapende mag van huursoldate onder aanvoering van twee van sy broers, die grawe Lodewyk en Adolf van Nassau, het weliswaar tot die oorwinning by Heiligerlee, maar slegs tot 'n tydelike sukses gelei.(6)
Skildery wat graaf Adolf van Nassau, die oorwinnaar van die
slag by Heiligerlee (23 Mei 1568), voorstel.
- Kopiereg-foto: Nederlands Leger- en Wapenmuseum.
Op 6 April 1568 het graaf Lodewyk van sy broer Willem, in sy hoedanigheid as onafhanklike heerser van die prinsdom Oranje (in Frankryk), 'n lasbrief om troepe te werf ontvang. Op 22 April van dieselfde jaar het graaf Lodewyk, met twaalf ruiters en sewentig voetgangers, van die stad Emden in die rigting van die Nederlandse grens opgeruk, 'n dag later dié grens oorskry en op 24 April oor ongeveer 300 man beskik. Hy het die kasteel op die dorpie Wedde beset, as hoofkwartier ingerig en daar die opbou en organisasie van sy troepemag voortgesit. Op 27 April het graaf Lodewyk oor 700 man beskik en op 2 Mei sy hoofkwartier na die stadjie Appingedam verskuiwe.
In die verdedigingstelling te Heiligerlee het graaf Lodewyk oor 3900 voetgangers, onder wie 'n aantal Noordduitsers en Wale, en 300 ruiters beskik; terwyl die sterkte van die teenstanders, onder aanvoering van graaf van Aremberg, vermoedelik ongeveer dieselfde was.
Met verbygaan van die verloop van die slag op 23 Mei 1568, word hier slegs vermeld dat graaf Adolf van Nassau, 'n broer van graaf Lodewyk en prins Willem van Oranje, in die loop van die geveg gesneuwel het. Ongeveer 1700 Spaanse huursoldate het tydens die slag om die lewe gekom, terwyl graaf Lodewyk se verliese op veertig gesneuweldes en 200 gewondes geskat is.(8)
Die Agtereenvolgende Monument
Waar, binne die raamwerk van die Nederlandse geskiedenis,
die slag van Heiligerlee as 'n eersterangse gebeurtenis
met vêrstrekkende gevolge beskou kan word, is dit eienaardig
dat dit jare geduur het voordat 'n gedenkteken op of naby
dié gedenkwaardige slagveld verrys het.
In 1825 het die onderwyser J. F. Beins, van die naburige
dorp Hoogezand, die eerste plan beraam om 'n gedenknaald
te Heiligerlee op te rig. Geld is ingesamel, 'n terrein is
kosteloos verkry en op 24 Augustus 1826 is die sandsteengedenknaald
met die opskrif
,,Den onoverwonnen Held/
ADOLF, GRAAF VAN NASSAU, /
Hier ter plaatse /
voor's Lands Vrijheid /
gesneuveld /
den 23 Mei MDLXVIII/
Door 't dankbaar nakroost opgericht /
MDCCCXXVI",
onthul.(9)
Op 23 Mei 1868 het kroonprins Willem van Oranje die eerste steen van 'n toekomstige, tans nog bestaande monument gelecirc; wat deur die Groningse skilder J. H. Egenberger (1822-1897) ontwerp en deur die beeldbouer J. Geefs, (1808-1885), van Antwerpen, vervaardig is.
Die onthulling van die standbeeld het op 23 Mei 1873 gevolg. Koning Willem III, vergesel van sy seun, sy broer en sy oom, het na Heiligerlee gekom en eersgenoemde het die onthullingsplegtigheid verrig.
Drie jaar later is die monument deur die staat oorgeneem.(10)
'n Afbeelding van die monument wat naby die slagveld van Heiligerlee,
prov. Gronigen, Nederland, opgerig is ter herinnering aan die slag en
graaf Adolf van Nassau. Die Nederlandse maagd en die Nederlandse Leeu
beskerm die sterwende oorwinnaar.
'n Plaaslike komitee het die voortou in 1968 geneem en o.m. die medewerking van die Nederlandse Generale Staf verseker.
Op 23 Mei 1968 is 'n gesamentlike kerklike herdenkingsdiens gehou, terwyl die spel ,,De Slag bij Heiligerlee" opgevoer is.
Op 24 Mei is, in die kasteel Ennemaborgh, te Midwolde, 'n historiese tentoonstelling, ingerig deur die ,,Sectie Krijgsgeschiedenis en Ceremonieel" van die Hoofkwartier van die ,,Koningklijke Landmacht", 's-Gravenhage, geopen en het sowel 'n historiese militeˆre optog as 'n parade van 44 Pantserinfanteriebataljon ,,Johan Willem Friso" en 'n taptoe plaasgevind.
Die feestelikhede, wat o.m. deur 'n besoek van prins Bernhard van die Nederlande opgeluister is, het op 29 Mei 1968 ten einde geloop.(11)
Besoekers kom en gaan by die standbeeld en in die Nederlandse volkslied, die ,,Wilhelmus van Nassouwe", kom - as 'n ewige herinnering aan graaf Adolf van Nassau - die volgende reëls voor:
Graef Adolff is ghebleven,
In Vrieslandt in den Slach,
Zijn Siel int eewich Leven
Verwacht den Jongsten dach.(13)
1. Groninger plaatsnamen, (Groningen-Batavia, 1946), p.45.
2. Hierdie benaming kom o.m. voor in Th. Fockens, Wegwijzer door Groningen, (Delfzijl, 1879), p.63.
3. K. ter Laan, Groninger Eneyclopedie, (Groningen, 1954), deel I, p. 293.
4. Ibid., p. 113.
5. O.m. I Schöffer A Short History of the Netherlands, (Amsterdam,
1956), p.50 e.v., van dieselfde skrywer die artikel ,,De Nederlandse
Revolutie", en, in Britain and the Netherlands, (Groningen, 1964), die
belangrike bydrae "Protestantism in Flux during the Revolt of the
Netherlands", pp.67-83. Sien ook P. Geyl, Geschiedenis van de Nederlandsche
Stam, (Amsterdam, 1930), deel I, veral pp. 423-493.
6. Sien i.v.m. besonderhede oor die slag o.m. I. L. Uyterschout, Beknopt
overzicht van de belangrijkste gebeurtenissen uit de Nederlandsche Krijgsgeschiedenis
van 1568 tot heden, (Kampen, 1933), p. 18 e.v., en veral J. G. G. M. Hamm,
De overwinning bij Heiligerlee geschetst in haar
militair-historische en politiek-cultureele betekenis, (Leiden, 1947).
7. Sien onder 6, p. 142 e.v.
8. Hamm, t.a.p., p. 170.
9. J. H. Timmer en F. C. Oostman, Uit Winschoten's Verleden, (Winschoten, 1950), pp. 296-297.
10. Sien onder 3, p.293.
11. Volledige besonderhede in Programma herdenking 400 jaar slag bij
Heiligerlee van 23-28 Mei 1968.
12. Jan Poortenaar, Wilhelmus van Nassouwe, (Naarden, s.j.), derde druk,
pp.28-29. In sy teksverklaring (p. 29) teken dr. P. Leendertsz aan
dat die vertaling, in hedendaagse Nederlands, van die betrokke
gedeelte soos volg lui: ,,Zoo is Graaf Adolf bij Heiligerlee gesneuveld.
Zijn ziel wacht in de zalige gewesten den grooten Oordeelsdag".
Vrieslandt: In 1568 het Groningen alleen betrekking gehad op die
naam van die stad en nie op die omliggende gebied nie, aldus
dieselfde skrywer Die Nederlandse volkslied het in 1568 ontstaan en
was aanvanklik 'n lied van die opstandelinge. Die teks word toegeskrywe
aan Filips van Marnix van Sint Aldegonde (1540-1598),
terwyl die wysie oorspronklik aan 'n Franse soldatelied behoort het
en later deur die Nederlander Valerius bewerk is. In 1932 is die
,,Wilhelmus" amptelik as die Nederlandse volkslied aanvaar.
Return to Journal Index OR Society's
Home page