deur KMDT. JAN PLOEGER, M.A., M.Ed., D.Phil.
Die strategiese belangrikheid van Duinkerke was reeds tydens die Tagtigjarige Oorlog (l568-l648) aanleiding vir stadhouer Maurits van die Nederlandse Republiek om, ter wille van handels- en skeepvaartbelange, in 1600 met ongeveer 20 000 man, waaronder 3 000 ruiters, deur die Suiderlike Nederlande (tans België, in 1600 deur Spanje bestuur) na die hawestad Duinkerke op te ruk. Maurits se plan was om die vesting Nieuwpoort te beleër om op dié wyse die pad na Duinkerke oop te kry. Laasgenoemde voorneme is verydel deurdat aartshertog Albertus op die strand by Nieuwpoort tussenbeide getree het (2/7/1600). Weliswaar is die slag van Nieuwpoort deur die Republikeinse troepe gewen, maar prins Maurits het sy oorwinning nie uitgebuit nie.
Hierdie insluiting van Nieuwpoort, aan die monding van die IJzer, was die sesde beleëring wat Nieuwpoort vanaf 1213 moes verduur. Franse aanslae het in 1647, 1658, 1677, 1745, 1793 en 1794 gevolg en in 1914 het die Duitsers 'n vergeefse poging aangewend om Nieuwpoort in te neem. In 1940 het hulle die stad gebombardeer en beset, terwyl vanaf 10 September 1944 Geallieerde troepe deur Nieuwpoort opgeruk het nadat die sluise en 'n brug deur die ,,Belgische Militaire Weerstandsorganisatie" (BMWO) onderskeidelik ontmyn en herstel is.
Met betrekking tot die verlede van Duinkerke word hier slegs genoem dat hierdie hawestad in 1662 deur Lodewyk XIV aan Frankryk toegevoeg en vervolgens deur die bekende vestingboukundige Vauban versterk is. Hierdie militêre versterkings is kragtens 'n bepaling van die Utrechtse verdrag van 1713 afgebreek. In 1783 is nuwe verdedigingswerke gebou wat gedurende die 19e eeu deur ander vervang is wat in Mei 1940 en tydens die Geallieerde insluiting (1944-1945) nog diens gedoen het.
Die Koning-Albert-monument, Nieuwpoort, W-Vlaandere.
Foto: Gemeentebestuur van Nieuwpoort/Lucien De Bosschere, Markt 9, Nieupoort.
Terwyl die bevryding van België in 1944 begin het, het 'n groot aantal Belge besluit om die toenmalige Geallieerdes verder by te staan. Agtereenvolgens is die volgende Inf. brigades gevorm: 2 Brigade ,,IJzer", 3 Brigade ,,Rumbeke" (gevorm in Maart 1945, van April-September 1945 vir opleidingsdoeleindes in Noord-Ierland), 4 Brigade ,,Steenstrate" (gevorm in Maart 1945, in Noord-Ierland vanaf einde April-Oktober 1945), 5 Brigade ,,Merkem" (gevorm in April-Mei 1945, in Noord-Ierland van Mei-Oktober 1945), en 6 Brigade ,,Deinze" (gevorm deur 3 Fusiliersbataljons wat in Britse of Kanadese militêre diens was, vertoef in Noord-Ierland na die einde van die krygsverrigtings in Europa).
Die Britse oorlogsmonument, Nieuwpoort, W-Vlaandere.
Foto: Gemeentebestuur van Nieuwpoort.
Op 4 Augustus 1914 het Duitse troepe die Belgiese grens oorskry en spoedig het, met Visé België as noordelike en Mühlhausen (Elsas) as suidelike uitloper van 'n uitgestrekte front, die Duitse opmars na Parys begin. Sowel die Belgiese Maaslinie as die front van die Belgiese veldleër (Herenthals-Diest-Thienen-Namen-Dinant) is deurbreek en op 20 Augustus het die hoofstad van België (Brussel) in Duitse hande geval. Tussen 25 en 28 Augustus het die Duitsers die Franse noordgrens oorskry, op 29 September is met die insluiting van die vesting Antwerpen begin en op 9 Oktober het die kapitulasie van hierdie belangrike steunpunt gevolg. Daarna het Duitse magte begin om die gebied tussen die Schelde en die Noordsee-kus te beset. Gent, Brugge en Oostende is ingeneem, terwyl die Belge en hul bondgenote teruggeval het. Waar sou hulle, in 'n gebied wat geen natuurlike terreinafskeidings gebied het nie, kon standhou?
Op hierdie vraag het 'n tweetal Belge, Karel Louis Cogge en die Nieuwpoortse skipper Hendrik Geeraert, antwoord gegee.
Die Ijzer-gedenkteken, Nieuwpoort, West-Vlaandere.
Foto: Gemeentebestuur van Nieuwpoort.
Gedenkteken van Nieuwpoortse oorlogslagoffers, 1914-1918, 1940-1945.
Foto: Gemeentebestuur van Nieuwpoort, West-Vlaandere.
Suid-Afrikaners het o.m. aan die derde slag om Ieper (Julie-November 1917) deelgeneem.
Nieuwpoort en omgewing is ryk aan monumente. Ongetwyfeld is die IJzer-monument, opgerig naby die IJzersluise en deur die beeldbouer Pieter Braecke vervaardig, die belangrikste. Die hooffignur is 'n vrou wat die Belgiese kroon beskermend in haar hande hou, terwyl die vier beelde aan die voet van die gedenkteken die weerstand ('n blinde, 'n gewonde, 'n siek en 'n weerbare soldaat) voorstel. By dieselfde sluise (6 in getal) staan ook die Britse oorlogs-monument en die Koning Albert-monument. Laasgenoemde monument is deur argitek Julien De Ridder ontwerp, op 24 Julie 1938 ontbul en is van oriënteringstafels voorsien. 'n Tiental panele, met allegoriese voorstellings voorsien, is deur Karel Aubroeck vervaardig. Hierdie kunstenaar het ook die ruiterstandbeeld van koning Albert gemaak. Ander monumente wat die aandag trek, is die volgende: Die gedenkteken van 81 Territoriale Franse Infi Div., die gedenkteken van die Nieuwpoortse oorlogslagoffers 1914-1918, 1940-1945 deur Pieter Braecke, die gedenkplaat aan die ruine van die Saint Laurenstoring ter nagedagtenis aan die ,,Sapeurs-Pontonniers", die nasionale monument van die Belgiese vissers, op l3/7/l958 deur prins Albert onthul; die gedenkplaat van die opnemingsdiens van die artillerie en die gedenkteken van die Belgiese Militêre Weerstandsorganisasie.
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org