The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 1 Nr 6 - Junie 1970

'n Verdere bydrae tot die reeks ,,Monumente wat tot ons spreek"

Deur KMDT. JAN PLOEGER, M.A., M.Ed, D.Phil

"It is announced by Supreme Headquarters that strong forces of the First Allied Air-borne Army were landed in Holland this afternoon."

Hierdie amptelike bekendmaking, wat op 17 September 1944 wêreldkundig gemaak is, het beteken dat operasie ,,Market Garden" begin bet. Langs 'n noordelike roete oor Schouwen-Duiveland en langs 'n suidelike roete oor Antwerpen-Gheel het 'n luglandingsleër bestaande uit 1 Britse Luglandingsdivisie en 82 en 101 Amerikaanse Luglandings- divisie, in totaal ongeveer 2,800 vliegtuie en 1,600 sweefvliegtuie, die gebied tussen Eindhoven en Arnhem genader.



Oorsigskaart van Operasie ,,Market Garden",
ontleen aan genl.-maj. R.E. Urquhart:
De Slag om Arnhem (Leiden, 1954/8, p16.)

Die bedoeling van hierdie grootskaalse operasie was om tussen Eindhoven-Veghel, Grave-Nijmegen en Nijmegen-Arnhem 'n aantal ,,eilande" te vorm wat deur 2de Britse Leër tot 'n korridor gevorm moes word om die brughoof aan die noordekant van die Ryn by Arnhem te versterk. Vandaar sou 'n gedeelte van die mag opruk na die IJsselmeer in 'n poging om die weste van Nederland van die ooste te skei, terwyl die hoofmag in die omgewing van Nijmegen die Duitse Westwall sou verbysteek.


Die Airborne Monument, Oosterbeek, Nederland, is op 17 September 1946 deur H.M. Koningin Wilhelmina van die Nederlande onthul. Dit verrys naby Hotel Hartenstein, die eertydse hoofkwartier van genl.-maj. Urquhart. Die tafrele op die monument stel voor: Die landing (o), die vrouens van Oosterbeek wat die gewondes versorg (S), die samewerking tussen gelande troepe and die Nederlandse versetsbeweging (W) and die laaste weerstand (N).

Die suil word bekroon deur die Vryheid, omring deur voorstellings van die geloof, die geregtigheid, die huislike atmosfeer, die hoop en die liefde.

Die monument is deur die inwoners van Oosterbeek aan genl.-maj. R. E. Urquhart, CB, DSO, aangebied en in 'n Nederlandse brosjure is in dié verband verklaar:
,,Steen zal blijven getuigen van wat in de harte van alle Oosterbekers leeft:
Eerbied voor de helden der Airborne, die hier streden en vielen ook voor onze vrijheid."
(Its stones will bear lasting witness to what lives on in hearts of everyone in Oosterbeek. Admiration and honour for the heroes of the First Airborne Division who fought and died here in the cause of Freedom.

Indien hierdie operasie sou slaag dan sou 'n Duitse teenaanval deur die Nederlandse provinsie Brabant uitgeskakel word, terwyl terselfdertyd 'n groot aantal natuurlike hindernisse in die vorm van riviere en kanale - wat dalk groot vertragings vir 2de Britse Leër sou kan meebring - buite rekening gelaat kon word.

101 Amerikaanse Luglandingsdivisie het tussen Eindboven en Grave geland, 82 Amerikaanse Luglandingsdivisie het tussen Grave en Nijmegen neergestryk, 1 Britse Luglandingsdivisie se doelwit was Arnhem.

Lede van 82 Amerikaanse Luglandingsdivisie het die Maasbrug by Grave en die brug oor die Maas-Waalkanaal by Nijmegen verower en op 20 September 1944 die strategies belangrike Waalbrug by Nijmegen, mede deur die heldhaftige optrede van die Nederlandse versetstryder J. van Hoof, onbeskadig in besit geneem.(1)

Ten opsigte van 1 Britse Luglandingsdivisie, wat in 'n benarde posisie begin verkeer het, het hierdie vertraging o.m. meegebring dat Britse tenks eers op laasgenoemde dag in die Betuwe, die streek tussen Nijmegen en Arnhem, kon opereer. Tenkgevegte by Elst het gevolg en Duitse artillerievuur aan die suidekant van Arnhem het die Britse opmars tot stilstand gebring. Tewens het die Duitsers die Rynbrug by Arnhem onklaar gemaak.

101 Amerikaanse Luglandingsdivisie het nie daarin geslaag om die brug oor die Zuid-Willemskanaal, by Son, onbeskadig te bemagtig nie. 'n Noordbrug moes gelê word wat 36 uur vertraging vir die voorhoede van 2de Britse Leêr beteken het.

Die verloop van die krygsverrigtings waarby 1 Britse Luglandingsdivisie betrokke was, is o.m. deur genl.-maj. R. E. Urquhart, CB, DSO, in sy werk, ,,Arnhem", beskrywe waarvan in 1958 'n Nederlandse vertaling met die titel ,,De slag om Arnhem" (Leiden) verskyn het.

Sy troepe het op 17 September 1944 in die streek Oosterbeek-Arnhem geland en 10,095 troepe, waaronder 'n klein aantal Nederlanders en 'n gedeelte van 1 Poolse Valskermbrigade, het aanvanklik met welslae opgetree. Verraste Duitse eenhede het hulleself herstel, artillerie- en ander versterkings ontvang, die Rynbrug by Arnhem herower en die aanvallers in die rigting van Oosterbeek teruggedrywe. 3,490 van hulle het daarin geslaag om in die nag van 25 September 1944 die Ryn oor te steek.(2)

Tussen Oosterbeek-Laag en Westerbouwing het laasgenoemdes aan 'n gewisse ondergang ontkom terwyl 3,000 gewondes in Nederlandse hospitale en Duitse noodhospitale agtergebly het. Meer as 1,200 Britse en Poolse soldate het gesneuwel, terwyl aan Duitse kant meer as 3,400 soldate gesneuwel het of gewond is.(3)

Soos bekend is, as gevolg van verskeie faktore, het operasie ,,Market Garden" nie tot die begeerde resultaat gelei nie. Andersyds was dit nie 'n volslae mislukking nie, aangesien die Geallieerdes 'n gewaagde sprong uitgevoer het waarby hulle 'n verbindingslyn van ongeveer 90-100 km. daargestel en behou het. Deur hierdie korridor te verbreed (Turnhout, Reuzel, Vessem, Hees, Oss, Wessem, Groeningen) is die flanke van die korridor op doeltreffende wyse versterk sodat vyandelike teenaanvalle met welslae afgeweer kon word.

Dit sou tot 14 April 1945 duur voordat Geallieerde troepe weer in Arnhem sou verskyn.(4)


Na die hoeksteenlegging. Langs die hoeksteen, die kenteken van
1 Britse Luglandingsdivisie met 'n bybehorende krans.


**********

Op 17 September 1945 is, naby die swaar beskadigde Eusebiuskerk, 'n monument in Arnhem onthul waarop staan 17 September 1944. Dit is 'n gedeelte van 'n suil wat afkomstig is uit die totaal verwoeste Paleis van Justisie wat, voor die gevegte van die Septemberdae (1944) aan die Arnhemse ,,Grote Markt" gestaan het. Dit is opgerig op dié plek by die Rynbrug waar 'n groepie Britse Luglandingstroepe vier dae 'n verbete stryd gevoer het.

Op 17 September 1946 het 1,700 Oosterbeekse skoliere vars blomme op die graftes van hulle gelê wat aan die slag om Arnhem deelgeneem bet. Aan genl.-maj. Urquhart is, op dieselfde dag, die Luglandingsmonument op Oosterbeek opgedra ofskoon hierdie gedenkteken as gevolg van gebrek aan boumateriaal nog nie heeltemal voltooi was nie.(5)

Jare het verbygegaan. Jaarliks is byeenkomste by die monument op Oosterbeek gehou. Voor ons lê 'n eksemplaar van 25th Airborne Pilgrimage Memorial Edition, uitgegee deur die Oosterbeekse nuusblad, ,,Hoog en Laag" (jg. 39), en gedateer September 1969.

'n Gedenkdiens is in die eeu-oue kerkgebou van die Nederlands Hervormde gemeente Oosterbeek gehou. Een van die sprekers het aangekondig dat dié pelgrimstog na Arnhem en Oosterbeek, die vyf-en-twintigste (die eerste is in 1945 gebou), die laaste amptelike saamtrek is, maar dat jaarliks nog 'n groot aantal deelnemers in September verwag word.

Ds. Ph. W. Bergkotte het o.m. die kennisgewing m.b.t. die eerste offisiele saamtrek op 25 September 1945 voorgelees waarin, in die inleiding, die volgende vermeld is: ,,In this battle British soldiers and Dutch civilians shared the same dangers. This cemetery will remain as an imperishable link between the citizens of Oosterbeek and Arnhem and the First Airborne Division. It will set a seal on the friendship of the peoples of Holland and Britain, and thus - please God - contribute to the brotherhood of mankind."

Ook genl.-maj. R. E. Urquhart, CB, DSO, het die skare toegespreek, terwyl kol. S. Jachnik, van die toenmalige 1 Poolse Valskermbrigade, o.m. verwys het na die offers wat tydens die slag om Arnhem gebring is.

Uit die herdenkingrede van biskop A. A. Buchanan, MA, haal ons die volgende gedagtes aan: ,,Their glorious efforts and courage set an example to all of us, treasured since then in our hearts and preserved by this monument. May it stand for ever in a free country."(7)

AANTEKENINGE:

1. Van Hoof het, terwyl hy as gids in 'n Britse tenk opgetree het, gesneuwel. 'n Monument by die Waalbrug herinner aan sy heldedaad. In 1946 is hy deur H.M. Koningin Wilhelmina met die hoogste Nederlandse militêre onderskeiding (die Militairê Willemsorde) vereer. Van Amerikaanse kant is, op 5.l 1.1946, die Medal of Freedom aan hom toegeken.

2. Burgemeester Ch. G. Matser in Ten Geleide, De Slag am Arnhem. Op p.193 neom genl.-maj. Urquhart 8,905 offisiere en manskappe en 1,100 sweefvlieëniers wat geland het. Van hulle het 2,163 teruggekeer. Verder: 160 Pole, 75 lede 5 Dorset Regt. Oor die lotgevalle van die Poolse brigade o.m. Marek Swiecicki, Roode Duivels in Arnhem! (Amsterdam, 1945).

3. Johan van der Woude in ,,De slag om Arnhem geanalyseerd", Nieuwsblad van het Noorden, Groningen, 21.9.1963. Sien ook, in ander verband, ,,De mythe van de verrader van Arnhem", Elseviers Weekblad, Amsterdam, 14.7.1962.

4. Sien m.b.t. die tydperk 25.9.1944-14.4.1945 o.m. Tien jaren. Kroniek van de belangrikste staatkundige en wetenschappelijkê feiten in de jaren 1938-1948, Amsterdam-Brussel, 1948, pp. 428-433.

5. Besonderhede o.m. in Pen Gun, 26.9.1946, onder die opskrif ,,Oosterbeek en Arnhem herdenken".

6. Meer besonderhede in Hoog en Laag, Oosterbeek, 25.9.1969

7. Foto's en berigte kom o.m. ook voor in De Telegraaf, Amsterdam, 17.9.1969. 'n Krans is o.m. gele deur H.M. Koningin Juliana en S.K.H. Prins Bernard van die Nederlande. Eersgenoemde het, op dieselfde dag, 'n krans aan die voet van die oorlogsmonument by die Waalbrug (Nijmegen) gelê.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org