Deur KMDT. JAN PLOEGER, MA, M.Ed, D Phil
In die noordweste van die huidige Duitse Bondsrepubliek, tussen die Ems- en die Weserriviere, lê die Teutoburgerwoudbergreeks, die laaste natuurlike skeiding tussen die vlaktes wat verder noordwaarts uitstrek tot by die Noordsee en die bedrywige Ruhrgebied wat in die suide begrens word deur die Ryn, die hoofslagaar van die vasteland van Wes-Europa.
Een van die hoogste punte van die Teutoburgerwoudberge is die Grotenburg, naby die skilderagtige stadjie Detmold, en daar verrys die gedenkteken ter nagedagtenis aan Hermann, of Armin, deur die Romeine Arminius genoem, die Germaanse leier wat in die ver verlede daarin geslaag het om eenheid onder die toenmalige stamme te bring en in 'n driedaagse veldslag, in September van die jaar 9 na Chr., drie Romeinse legioene onder aanvoering van Varus, te verslaan.
Die Teutoburgerwoud is bekend deur sy pragtige natuurskoon.
Op die agtergrond is die Hermanngedenkteken sigbaar.
Germanieë, die landstreek noord van die Ryn, het die Romeinse heersers ontelbare moeilikhede besorg. Militêre ekspedisies is onderneem om die Germaanse stamme tot gehoorsaamheid te dwing en om die gebied tussen die Ryn en die Weser tot 'n deel van die magtige Romeinse ryk te maak. Tydelike verdeeldheid onder die stamme het die kanse van die Romeine begunstig totdat die jong vors van die Cheruske, Hermann of Armin, in die Romeinse geskiedenis bekend as Arminius, opgestaan en eenheid gebring het.
Armin het reeds op jeugdige leeftyd in die Romeinse diens getree; aan krygsverrigtings deelgeneem; Romeinse burgerreg verwerf en daarna na sy geboortestreek teruggekeer om die verset teen die Romeinse indringers te organiseer.
Varus, wat voor sy koms in die Ryngebied heerser oor Sirië was, het in 9 na Chr. met 3 legioene, ongeveer 18,000 man, oor die Ryn getrek om 'n opstand teen die Romeinse gesag te probeer onderdruk en is deur die vyf-en-twintig-jarige Hermann verslaan. Na sy neerlaag moes die Romeinse aanvoerder kies tussen krygsgevangeskap en die dood. Hy het die laaste gekies en homself met sy eie swaard om die lewe gebring.
Die mislukte optrede van Varus het ongetwyfeld baie daartoe bygedra dat die uiteindelike noordgrens van die Romeinse ryk deur 'n natuurlike afskeiding, die waters van die Ryn en die Donou, gevorm is, met daartussen - in Suid-Duitsland - 'n verdedigingsgordel van versterkte poste.
Die Hermannslag van 9 na Chr. het tot die Duitse volksverbeelding bly spreek en veral gedurende die jare wat aan die Duitse eenwording onder Bismarck voorafgegaan het, het hierdie gebeurtenis nie alleen as 'n besieling gedien nie, maar terselfdertyd as 'n waarskuwing wat die gevolge van tweedrag en verbrokkeling van kragte kan beteken.
Hierdic gedagtes kom tot uiting in die volgende woorde wat op die swaard aangebring is wat die Hermannfiguur,
'n skepping van die beeldbouer Ernst von Bandel, selfbewus omhoog hou en wat, in vertaalde vorm, lui:
Duitse eenheid is my krag, my krag is Duitsland se mag.
En hierdie uitspraak bring ons by die ontwerper-boumeester van 'n reusagtige, indrukwekkende monument wat, ten spyte van teenslae, op die Grotenburg, in die Teutoburgerwoudgebergte, opgerig is deur Ernst von Bandel.
Die woongebiede van die Germaanse stamme tentye van die veldslag.
Die gedenkteken verrys waar die woord ,,Denkmal" (gendenkteken) staan.
ERNST VON BANDEL
ERNST VON BANDEL - die skepper-bouer van die Hermanngedenkteken.
Ernst von Bandel sou die skeppende kunstenaar word wat 'n indrukwekkende monument sou ontwerp en bou wat aan die gedenkwaardige slag in die Teutoburgerwoud sou herinner. Gebore in 1800 het hy reeds op negentienjarige leeftyd sy eerste sketse ontwerp vir 'n toekomstige gedenkteken ter nagedagtenis aan Armin (Hermann), die legendariese oorwinnaar van die Romeinse leërskare.
In 1834 het Von Bandel aan die hof van koning Wilhelm IV van Hannover begin werk. Twee jaar later, by geleentheid van 'n besoek aan een van die hoogste gedeeltes van die Teutoburgerwoudgebergte, die Grotenburg, het hy besef dat dit die enigste geskikte plek vir sy droommonument sou wees. Terug in Hannover het hy aan 'n model begin werk; in 1837 met sy gesin na Detmold, in die nabyheid van die Grotenburg, getrek en van Leopold van Lippe, die toenmalige heerser oor Lippe, toestemming verkry om met die bou van die monument te begin. 'n Organisasie is gestig om fondse oor die lengte en breedte van die toenmalige Duitse ryk in te samel. Op 9 Julie 1838 het Von Bandel met die uitvoering van sy werksaamhede begin -- 'n reusetaak wat hy in 1875 sou voltooi!
In Oktober 1838 was die fondament gereed waarop die onderbou van die monument en daarna sou die indrukwekkende gestalte van Armin verrys!
Op 'n koperplaat, wat 'n gepaste plek in die fondament gekry het en wat vandag nog deur die besoeker gesien kan word, het Von Bandel o.m. sy voorneme bekend gemaak om 'n standbeeld op te rig, gewy aan Armin, die bevryder van Duitsland, 'n standbeeld wat tewens 'n vermaning sou wees in verband met die Duitse eenheid!
In 1846 was die ondervoetstuk van die toekomstige standbeeld gereed en daarmee is Von Bandel se werksaamhede voorlopig beëindig. Nie alleen was die fondse uitgeput nie, maar ook het Von Bandel sy persoonlike besittings opgeoffer vir die verwesenliking van 'n ideaal. Sestien jaar sou die ondervoetstuk van die standbeeld op die Grotenburg staan en wag voordat Von Bandel weer sou verskyn.
DIE MONUMENT VOLTOOI
Terwyl 'n bekommerde en verarmde Von Bandel en sy gesin teruggegaan het na die stad Hannover om daar 'n bestaan te maak, het die kunstenaar nie moed verloor nie. Eendag sou hy die gedenkteken op die Grotenburg voltooi en met hierdie wete het hy tekeninge en modelle vir sy toekomstige Arminfiguur bly ontwerp, verander en verbeter.
In 1862 het 'n nuwe organisasse in Hannover tot stand gekom. Vriende en begunstigers het daarvoor gesorg dat Von Bandel sy eie ateljee in Hannover gekry het. Omdat hy geen bekwame kopersmid kon vind nie, het die twee-en-sestigjarige kunstenaar daarin geslaag om hierdie gespesialiseerde vak te bemeester en met behulp van 'n aantal medewerkers met die vervaardiging van onderdele van die reusagtige beeld begin. Die lengte van die swaard sou ongeveer 21 voet bedra; toe die skild gereed gekom het, het dit 2,300 pond geweeg!
Von Bandel het van die staanspoor af besluit om die verskillende onderdele van die standbeeld deur 'n ysterraamwerk te vestig en het tot 1872 met die vervaardiging daarvan besig gebly. Daarna is alles na die Grotenburg vervoer en onder toesig van die ontwerper-smid-boumeester opgestel. In Julie 1875 was die beeld voltooi.
Sewe-en-dertig jaar het verbygegaan en op daardie dag in Julie kon 'n man van 75 jaar met trots en dankbaarheid die verwesenliking van 'n lewensideaal aanskou.
Die Hermanngedenkteken.
(Foto: Inter Nationes, Bonn.)
Ook tydens die afgelope dertien jaar bet die gevaar gedreig dat sy arbeid meer as eenmaal onderbreek sou word. Daar was so 'n moontlikheid tydens die oorlog tussen die Duitsers en die Dene oor Sleeswyk-Holstein en tydens die krygsverrigtings van 1866, maar in daardie jare bet Von Bandel 'n beroep op die Duitse jeug gedoen. Die geld het gekom, die werk kon voortgesit word! Na die oorlog van 1870-1871 het die Hannoveraanse organisasie 'n beroep op die Duitse parlement gedoen en is 'n bepaalde bedrag vir die voltooiing van die monument op die Grotenburg goedgekeur.
Aan al hierdie en soveel ander moeilikhede en ligpuntjies moes Von Bandel gedink het toe hy op daardie gedenkwaardige dag by sy werkhut naby die gedenkteken gestaan het!
Op 16 Augustus 1875 het Duitsers uit alle oorde na die Grotenburg gestroom om aanwesig te wees by die inwyding van die gedenkteken. In bewoë woorde het keiser Wilhelm, uit naam van die dankbare Duitse volk, hulde gebring aan Ernst von Bandel en hom 'n jaargeld aangebied om die kunstenaar in staat te stel om in Italië 'n kunswerk te voltooi. Maar Von Bandel se kragte was verteer, sy skepping op die Groteburg het sy energie verbruik. Sy verblyf in Italië was kort van duur. Hy het na Duitsland teruggekeer en op 25 September 1876 die ewige rus ingegaan.
Temidde van die houtbosse op die Grotenburg, staan die gedenkteken, gewy aan Armin of Hermann, die Germaanse leier uit die newels van die ver verlede, die man wat bewys het waartoe eendragtige samewerking in staat was in sy dae en in die fel bewoë dae waarin ons lewe!
En in ons verbeelding rys Ernst von Bandel op, die wilskragtige, die skepper, wat soveel moeilikhede oorwin en nog die voorreg geniet het om die verwesenliking van sy groot ideaal te mag aanskou!
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org