Meer as honderd-en-sestig jaar skei ons van die gedenkwaardige seeslag van Trafalgar, een van dié kragmetings ter see waarin Engeland se toenmalige betwiste heerskappy ter see teenoor Napoleon en sy Spaanse bondgenoot herbevestig is, maar andersyds een van sy beroemdste vlootvoogde, Lord Nelson, verloor het.
Die admiraalskip van lord Nelson was nie die eerste wat hierdie naam gedra het nie. Sy oudste voorganger was die Great Christopher, 'n oorlogskip van ongeveer 800 ton, wat met 59 kanonne bewapen was en in 1578 oor 'n bemanning van 330 matrose, 40 kanonniers en 160 soldate beskik het. As 'n blywende herinnering aan die Protestantse oorwinning in Skotland het koningin Elizabeth in 1562 opdrag gegee dat die Great Christopher van nou af as die Victory bekend staan. In 1585 was hierdie skip in die stryd teen die Spaanse Armada betrokke om in 1606 vir verdere diens afgekeur te word.
Die volgende Victory is in 1620 op Deptford te water gelaat en het o.m. 'n rol gespeel in die drie agtereenvolgende see-oorloë tussen Engeland en die Nederlandse Republiek. Tydens De Ruyter se aanslag op die Medway het die Victory aan vernieling ontsnap. Afkeuring vir verdere diens het in 1690 gevolg en in die volgende jaar is die Royal James, 'n skip van 1,485 ton en 'n bemanning van 754, herdoop as die Victory.
Dié oorlogskip het o.m. deelgeneem aan die seeslae van Barfleur en La Hogue, is in 1695 herbou en tydens herstelwerk deur brand verwoes (1721). Sy opvolger, wat in 1737 gebou was, het in 1744 tydens 'n storm naby die Scilly-eilande vergaan en daarna is tot 1 759 gewag voordat die Britse Admiraliteit besluit het om die kiel van die toekomstige vlagskip van lord Nelson te lê.
Die bou van hierdie skip was, veral wanneer daar op sy afwerking gelet word, 'n opeenvolging van allerlei vertragings. Ontwerp deur Thomas Slade en gebou op Chatham het die te waterlating van die Victory in Mei 1765 plaasgevind nadat die uitgawes tot £63,176 gestyg het. Met 'n waterverplasing van 3,500 ton kan hierdie skip, waarvan die romp jarelank vasgemeer gelê het by Upnor, met 'n latere ligte kruiser vergelyk word. Haas om die skip te voltooi was daar nie, maar die uitbreek van die vyandelikhede tussen Engeland en Amerika in 1776 het 'n verandering van beleid beteken en op 8 Mei 1778 het die eerste seereis van die Victory 'n aanvang geneem.
Ons kry 'n indruk van die grootte van hierdie aanwins van die toenmalige Britse vloot deur te let op die volgende afmetings: Die lengte van die kiel was 151 voet, die lengte van die kanondek 186 voet, die grootste breedte 51 voet en die diepte van die ruim onder die laagste dek 21 voet. In 1805, die jaar waaraan ook die reeds genoemde gegewens ontleen is, was die Victory van 104 vuurmonde voorsien. Die eerste kaptein van hierdie driemaster was sir John Lindsay en in die komendejare sou die Victory nie alleen 'n belangrike rol in die stryd om die mag ter see tussen Engeland en Frankryk speel nie, maar ook sou sy naam blywend aan dié van Horatio Nelson verbind word.
H.M.S. Victory
NELSON SE LOOPBAAN
'n Jaar voordat die kiel van die Victory gelê is, is Horatio Nelson in Burnham-Thorpe, in Norfolk, gebore om op twaalfjarige leeftyd sy seemansloopbaan aan boord van die Raisonnable te begin. Besonderhede omtrent die jare kan o.m. gelees word in Robert Southey se klassieke ,,Life of Nelson" (herdruk 1962) en in die meesterlike biografie van Oliver Warner, ,,A Portrait of Lord Nelson" (Londen, 1958) waarin ook die daaropvolgende besonderhede aangaande Nelson se lewensloop uitvoerig beskryf is. Die jong Horatio het vervolgens, nou aan boord van 'n koopvaardyskip, 'n reis na Wes-Indie onderneem, daarna weer na die Britse oorlogsvloot teruggekeer om vervolgens na adelbors aan boord van die Carcass aan 'n wetenskaplike ekspedisie in die Noordpoolgebied deel te neem. Nog in dieselfde jaar (1773) het hy aan boord van die Seahorse van Spithead na Indie vertrek en sy verskyning aan die Kaap gemaak.
Gedurende sy verblyf in Indië het sy gesondheidstoestand sodanig te wense oorgelaat dat Nelson, wat inmiddels as bevare seeman bevorder is, na Engeland teruggestuur is. In 1776 het hy sy bevordering as luitenant ter see gevolg, in 1780 het hy deelgeneem aan 'n ekspedisie na Nicaragua om in dieselfde jaar sy bevordering as kaptein te ontvang. Hy het bevel gevoer oor die fregat Albemarle, 'n skip wat die vorige jaar van die Franse verower was, en aan kruistogte aan die Amerikaanse kus deelgeneem.
In 1784 het Nelson weer 'n besoek aan Wes-Indie gebring en hom daarna aan die diens onttrek. Die verloop van die Franse Rewolusie het die gevoelens in Engeland en Frankryk alhoemeer opgesweep en in 1793 het die Franse oorlogverklaring teen Engeland die begin van 'n jarelange worsteling beteken.
As kaptein van die Agamemnon het Nelson tot die oorlog toegetree, deelgeneem aan die blokkade van die Franse oorlogshawe Toulon, sy oog verloor tydens 'n geveg by Calvi (Korsika), kragte met die vyand gemeet in die seeslag by kaap St. Vincent (1797), as 'n admiraal sy regterarm verloor tydens die bestorming van die baai van Santa Cruz en in 1798 die Franse landingsvloot in die baai van Aboukir (Egipte) vernietig. In 1801 het hy deelgeneem aan die vlootbombardement van die Deense hoofstad Kopenhagen om na die vrede van Amiens te besluit om hom op sy landgoed Merton te gaan vestig. Soos bekend was dié vrede nie blywend nie. Op 18 Mei 1803 is Nelson se vlag aan boord van die Victory gehys ... ruim twee jaar later, op 21 Oktober 1805, het die Britse vloot die seemag van Frankryk en Spanje tydens die seeslag van Trafalgar vernietigend verslaan.
Tydens hierdie geveg het die Spaanse vise-admiraal Alava sy lewe verloor, is die Franse opperbevelhebber admiraal Pierre Villeneuve gevange geneem, terwyl Engeland een van sy grootste seehelde verloor het. Op die dag van sy heengaan het lord Nelson o.m. in sy dagboek geskrywe: ,,May the Great God whom I worship Grant to my Country and for the benefit of Europe in General a great and Glorious Victory, and may no misconduct in anyone tarnish it, and may humanity after Victory be the predominant feature in the British Fleet. For myself individually I commit my life to Him Who made me, and may His blessing light upon my endeavours for serving my Country faithfully. To Him I resign myself and the just cause which is entrusted me to Defend . . ."
VERDERE LOTGEVALLE VAN DIE VICTORY
Lord Nelson se stoflike oorskot rus in die bekende St. Paul-katedraal in Londen, die Victory is in 1814 o.m. besigtig deur die oorwinnaars van Napoleon. Van 1823-1830 het die ou slagskip diens gedoen as 'n wagskip in die hawe van Portsmouth, in 1840 is dit na Gosport oorgebring waar dit tot 1922 sou lê. Herstelwerk het van tyd tot tyd gevolg, die oorspronklike maste is deur ander vervang en in 1921 is eindelik met die insameling van fondse begin om die Victory van 'n dreigende ondergang te red. Doeltreffende restourasie het gevolg en op dié wyse is 'n kosbare monument gered. In 1939 bet die Tweede Wêreldoorlog gevolg en is die Victory afgetuig, in 1941 het beskadiging deur 'n bom gevolg. Die aangerigte skade kon herstel word en in 1946 is die ou oorlogskip weer opgetuig en trek dit tans jaarliks gemiddeld 250,000 besoekers. Lesers wat meer besonderhede in verband met die Victory en sy voorgangers wil verneem, kan verwys word na Kenneth Fenwick se standaardwerk, ,,H.M.S. Victory" (Londen, 1959), 'n betroubare, wetenskaplik gedokumenteerde gids, waarin o.m. die volgende passende reels voorkom:
,,The Fathers in Glory do sleep
that gathered with thee to the fight,
But the Sons shall eternally keep
The tablet of Memory bright."
Suid-Afrika bewaar 'n aandenking aan die Victory, die eikehout van die ampstaf van die stadsraad van Kaapstad is afkomstig van lord Nelson se voormalige vlagskip.
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org