The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 1 No 3 - December 1968

Huldeblyk aan wyle Brigadier C. L. Borain, DSO, MC, VD, DB,
Skenkersverteenwoordiger op die Raad van Kuratore van die S.A. Nasionale Oorlogsmuseum

Suid-Afrika het een van die mees uitnemende soldate verloor met die afsterwe van Brig. Clifford Ernest Borain, DSO, MC, VD, DB, te Potchefstroom op die 2lste Julie, tien dae na die afsetting van 'n been - die gevolg van 'n ontploffing in 'n mynveld te Bardia, in Januarie 1942.

Big. Borain, wat op 3 Januarie 1892 in Durban gebore is, het sy militere loopbaan op die ouderdom van sestien begin as 'n beuelblaser in die Natal Mounted Rifles, Aktiewe Burgermag. In 1913 is hy oorgeplaas na die Durban Light Infantry as 'n weerman. Hy het kommissierang in 1914 gekry en het aan die Duits Suid-Wes Afrika Veldtog deelgeneem. Met die afloop van hierdie veldtog het hy vrywilliglik aansoek gedoen om oorsese diens en het saam met die 6de S.A. Infanteriebataljon in Oos Afrika diens gedoen. Hier is hy twee maal in oorlogsberigte eervol vermeld en die Military Cross is aan hom toegeken toe hy bevel aanvaar het van sy Kompanie te Wami Rivier (daar sy Kompaniebevelvoerder gedood is) en hy met bekwaamheid en durf tot 200 tree van die vyand se loopgrawe gevorder het en sy posisie behou het sonder om terug te val. Die sitasie lui soos volg: ,,Te alle tye 'n bekwame en onverskrokke jong offisier, onverstoorbaar onder vuur en 'n voorbeeld aan almal". Hy is daarna tot Kaptein bevorder en het na Brittanje vertrek waar hy by die King's Royal Rifles aangesluit het en diens gedoen het in Frankryk tot aan die einde van die vyandelikhede. Met sy terugkeer na Durban het hy weer beheer van die ingenieursfirma J.E. Brown en Seun oorgeneem (later James Brown Structural and General Engineers, Durban). Hy het ook weer by die Durban Light Infantry aangesluit, eers as Adjutant, toe Kompaniebevelvoerder in 1921, Tweede-in-Bevel in 1928 en Bevelvoerder, met die rang van Luit-Kol. in 1930 Toe hy afstand doen van die bevel van die Durban Light Infantry, is hy aangestel as Brigadebevelvoerder, 7de Infanteriebrigade (ABM). Vanaf 1936 tot 1940 was hy Ere Aide-de-Camp aan die Goewerneur-Generaal.

Met die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog, is hy oorgeplaas na die Stafkorps en aangestel as Assistent- Direkteur van Infanterie-opleiding buite en behalwe sy pligte as bevelvoerder van die 7de Infanteriebrigade. In 1940 is hy aangestel as Brigadebevelvoerder, 3de Infanteriebrigade. Hy het sy brigade, as deel van die 2 S.A. Divisie, met groot onderskeiding aangevoer tydens die koorsagtige dae na die slag van Sidi Rezegh en veral gedurende die twee hoofaanvalle op Bardia. Die tweede aanval is op 31 Desember 1941 geloods en het die Oorgawe van daardie vesting tot gevolg gehad.

Vir sy uitnemende diens is hy in oorlogsberigte eervol vermeld, die Distinguished Service Order toegeken en twee maal die Koninklike aanprysing ontvang.

In Januarie 1942, terwyl hy op 'n verkenningstog was naby Bardia, is hy ernstig gewond as gevolg van 'n ontploffing in 'n mynveld. Hy is bewusteloos aangetref met ernstige hoof- en rugbeserings, en albei bene verpletter. Dit is merkwaardig dat die mediese personeel sy lewe, maar veral sy bene kon red. Die een been het hom geweldig laat ly en hy het tot sy afsterwe 'n aantal operasies daarvoor ondergaan.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika, is hy aangestel as Vestingbevelvoerder van Port Elizabeth en in Oktober 1942 as Vestingbevelvoerder van die Kaap.

Na die oorlog is hy by die Direktoraat van Demobilisasie ingedeel waar hy as Voorsitter van die Algemene Uitvoerende Komitee onder Luit-Gen. Geo. E. Brink, CB, CBE, DSO, gedien het.

Hy is in 1951 op die Raad van Kuratore van die S.A Nasionale Oorlogsmuseum aangestel en het, tot met sy afsterwe, in hierdie hoedanigheid 'n belangrike rol in Museumsake gespeel.

Suid-Afrika het beslis 'n uitnemende soldaat verloor met die afsterwe van Cliff Borain.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org