The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 1 No 2 - June 1968

Modderfontein Dinamietfabriek in die Tweede Vryheidsoorlog

deur K. Köhler

Vertaal deur C.J.W. de Bruin

Die een-en-negentig jarige Meneer Louis Kley het in 'n opgewekte stemming op 'n Sondag in Januarie 1966 die Casino klubgebou binnegekom en versoek om sy handewerk te besigtig, wat sewentig jaar vroër by die oprigting van die gebou, verrig is.

Hierdie besoek het gelei tot 'n tweede ontmoeting wat plaasgevind het aan huis van Meneer Kley se dogter en skoonseun, Meneer en Mevrou Wolter, van Sunnyside, Pretoria. Hier het Meneer Kley die verhaal vertel van sy vroëre verbintenis met die Fabriek.

Na 'n seereis van ses weke vanaf Duitsland en byna net so 'n oneindige treinreis vanaf die kus, het die geselskap, bestaande uit homself as Duitse skrynwerker tesame met drie ander skrynwerkers en twee messelaars, teen middag op 'n dag in April 1895 op die klein stasietjie Zuurfontein in Transvaal -- die moderne Kempton Park, gearriveer.

Daar het die Hollandse stasiemeester, Meneer Knutzen die wapad wat weswaarts lei aangewys. Dit was met 'n groot tuisverlange dat die groepie bouers die vier myl stap na die plaas Modderfontein aangepak het. Hulle is vanaf die Nobel Krummelfabriek te Hamburg in Duitsland uitgestuur vir die oprigting van 'n reuse nuwe Suid-Afrikaanse fabriek.

By hulle aankoms op die plaas was die manne op hulself aangewese, maar die volgende dag het lede van die bestuur vanaf Johannesburg met 'n wavrag tente en lewensmiddele aangekom. Daardie middag het die Duitsers hul eerste Transvaalse donderstorm ondervind, asook die dwaasheid van swak ingerigte slaaptente. Moeilike dae het gevolg met min geriewe, maar toe die verloop van sake onder die aandag van meneer E. Lippert, 'n maatskappyverteenwoordiger in Johannesburg, gebring is, is 'n geskikte som geld aan die manne te Modderfontein beskikbaar gestel.

Gedurende die tentstadium het hulle een oggend op pad werk toe 'n makker vermis. Na ondersoek, is vasgestel dat hy voor sy tent lê -- sonder twyfel dood.

Die Veldkornet van die distrik, genaamd Duvenage, is ontbied. Hy was 'n groot en energieke man en het streng gelyk met 'n welige bos baard. Hy het teen middag te perd aangekom en ondersoek ingestel. Die uitslag was dat die persoon met 'n pik vermoor was. Die saak is oorhandig aan die Transvaalse Staatspolisie, maar sover vasgestel kon word, is die moord nooit opgelos nie. 'n Kleinseun van die Veldkornet is tans voorman in die Fabriek se vervoerafdeling.

Treinvragte hout, afkomstig uit Duitsland, het intussen vanaf Port Elizabeth by Elandsfontein aangekom, vanwaar die materiaal, wat uitsluitlik vir fabriekskonstruksie gebruik is, deur ossewaens na Modderfontein vervoer is.

Werk is in alle erns aangepak om in die behoeftes van die Randse myne te voorsien en 'n sylyn is aangele wat die Fabriek met die hoofspoorlyn te Zuurfontein verbind het.

Die dienste van 'n Italiaanse kontrakteur is verkry vir die oprigting van Dam I vir die voorsiening van water aan die fabriekskompleks. Die onderneming het byna skipbreuk gely, toe runderpes uitbreek en trekosse vir slegs veertien van die oorspronklike veertig skotskarre deurgehaal is. Maar die teespoed is oorkom toe die taak met behulp van muile en donkies voltooi is.

'n Baan, vir 'n spel, ,,skittles", wat op daardie tydstip baie populer was en groot vermaak verskaf het, soortgelyk aan Amerikaanse rolbal, is aan die noorder oewer van die dam opgerig. Die wenners is beloon met 'n koolkop of 'n bossie wortels -- wat dui op die relatiewe waarde in daardie tyd.

Gedurende 1895 het President Kruger en 'n Staats Artillerie lyfwag aangekom vir die amptelike opening van die fabriek: Die President en sy geselskap is voor die plegtigheid getrakteer met 'n besigtigingstoer. Hy was hoogs geinteresseerd in wat verrig is en sy pittigheid en vriendelikheid het opgeval.


Die aankoms van President Kruger vir die opening van die
Modderfontein Dinamietfabriek, 1895

Meneer Kley onthou nog goed van 'n amusante voorval in verband met die President. Die hoofskeikundige het 'n salpeter-proses in Fabriek I in die heuwelfabriek beskryf en die apparaat met water gevul vir demonstrasiedoeleindes. Die skeikundige het verduidelik hoe die plofstowwe vervaardig word en hoe so 'n mengsel skadeloos gestel word deur dit in 'n tamaai tenk met water in die kelder van die gebou te dompel as tekens van gevaar gespeur word, nl. romerige kleur van mengsel en dampe wat uit die mengsel styg. Om te demonstreer het hy die veiligheidshefboom 'n pluk gegee en het 'n vloed water in plaas van plofstof soos wat die President en sy gevolg verwag het dit sou wees, met 'n sidderende plons in die keldertenk beland. Die President en gevolg was soos blits by die nooduitgang uit en het ewe bedaard geweier om weer binne te gaan. Die besoek van die President was maandelank die hoofonderwerp van talle gesprekke.

Kort na die openingsplegtigheid, het die Fabriek ten volle begin produseer en groot hoeveelhede plofstowwe aan die myne gelewer.

Vier van die oorspronklike ses bouers het na voltooing van Fabriek III hul dienste beëindig. Meneer Kley is egter deur meneer Carstens, die fabrieksingenieur omgepraat om te bly en rekrute te werf.

Fabriek I is op daardie stadium deur 'n ontploffing verwoes en weer is hout uit Duitsland bestel, maar op so 'n manier bewimpel dat al die houtwerk van die Casino teen die koste van die herbouing van Fabriek I gegaan het. Vakmanskap op sy beste wat uit daardie periode dateer tref ons vandag nog in die Casino aan, waar Louis Kley beslag gegee het aan sy vaardigheid. Sy oorspronklike werk, die ingelegde houtplafonne, wek steeds bewondering by elkeen wat dit besigtig.

Een van die grootste ontploffingsongelukke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, het kort daarna op Braamfonteinstasie te Johannesburg plaasgevind toe 'n treinvrag plofstowwe ontplof het. Die ontploffing is duidelik in Modderfontein gehoor en 'n stof- en rookwolk was oor Johannesburg sigbaar. Die volgende dag is werknemers toegelaat om die gevolge van die ongeluk te besigtig. Meneer Kley was lid van die fietsbrigade wat afgesit het na die ramptoneel.

Na voltooiing van die maatskappy se hospitaal by Springkell naby die Johannesburg ,,hek" is meneer Kley toegelaat om langverlof te neem wat 'n bootreis om die Oos-kus van Afrika ingesluit het.

By sy aankoms in Zanzibareiland het hy verneem van die Anglo-Boere-oorlog. Na sy vakansie was hy oortuig daarvan dat Suid-Afrika sy nuwe Vaderland is en het hy besluit om terug te keer na Transvaal.

Na meneer Kley se aankoms in Lourenco Marques het dit veel oortuigingsvermoë geverg om die outoriteite aan Portugese-, sowel as Boerekant, van sy nie-militêre voornemens te oortuig. Hy het egter daarin geslaag en kon spoedig terug rapporteer te Modderfontein.

Die Britse magte het kort na sy terugkeer in 1900 die Fabriek beset tydens hul opmars na Pretoria. Terwyl gevegte rondom die Fabriek gewoed het, het alle werksaamhede tot stilstand gekom en werknemers het geleentheid gekry om verksillende gevegte dop te hou. Op een stadium het meneer Kley by Edenvale-rant onder skoot van die Britse artillerie gekom.

Die Boere het aanvalle op die agterhoede uitgevoer vanuit 'n posisie by Elandsfontein suid-oos van die Fabriek met hulle beroemde kanon ,,Long Tom", wat van sodanige kaliber was dat dit die Britse leer op 'n afstand gehou het vanaf Boksburg tot in Germiston en tot sover as die oostelike dele van Johannesburg. Na die besetting van Modderfontein deur Generaals French en Baden-Powell is alle produksie gestaak, behalwe plofstowwe.

'n Deel van die Britse magte het bestaan uit die opmars van Lord Roberts vanaf Natal deur die Oos-Vrystaat na Transvaal. Lord Roberts het by die Jukskeirivier kamp opgeslaan na die val van Johannesburg. Modderfontein is in 'n omsingelende beweging hiervandaan en vanaf Germiston met hehulp van artillerie beset. Modderfontein is slegs deur berede Boere-kommando's en met behulp van ,,Long Tom" verdedig en laasgenoemde kon natuurlik nie die Britse ,,Horse Artillery", bygestaan deur berede sowel as voetsoldate, terughou nie. Dit was egter sekondêre gevegte, aangesien die Britse hoofmag se hoofdoel Johannesburg-Halfweghuis-Pretoria in die weste was en ten ooste die Germiston-Peetoria spoorlyn.

Berede groepies versterkings van die Vrystaat Kommando het op daardie stadium aangesluit by die Boeremagte te Modderfontein en is hartlik verwelkom. Die Boere Kommandant het die versterkings in die voorste linie geplaas onder sy persoonlike bevel, dog , sy manne gewaarsku om hulle perde gereed te hou vir 'n vinnige terugval langs Edenvale-heuwel (suid en suidwes van Modderfontein) vanweë die getalle oorwig en aangesien beweeglikheid van die grootste belang was. Sy beperkte magte het 'n tweede linie gevorm wat volle gebruik kon maak van die ruwe terrein wat steek vanaf die skyfskietbaanplaas tot by die Falkenberg-heuwel in die ooste.

Intussen het die Boerebevolking Modderfontein ontruim met die doel om met ossewaens en perdekarre terug te val of na Pretoria of na Oos-Transvaal oor Bronkhorstspruit. Die groot ,,uitlander"-bevolking is deur beide kante as neutraal beskou en is in vrede gelaat om voort te gaan met werksaamhede by die Fabriek.

Die slag het kort voor elfuur in die oggend 'n aanvang geneem en aanvanklik het die Boere-skerpskutters 'n hoë tol geëis, maar vanweë die getalle oorwig is hulle gedwing om noordwaarts na Springkell Hospitaal en vandaar onder dekking van inheemse bosse na die Italiaanse dorpie te Modderfontein terug te val. By Springkell Hospitaal is die Britse magte gekonsolideer en is die opmars na die Fabriek voortgesit.

Die Boere-magte het intussen hulle posisies in die tweede linie ingeneem terwyl 'n lang stofwolk die uittog van die Boerebevolking van Modderfontein oor Kaalfontein na die noordooste aangedui het.

Na die besetting van die Fabriek is die Boere agtervolg. Die Boere Kommandant het sy benarde posisie besef: Met sy beperkte magte kon hy nie die fabriek verdedig nie. 'n Geslote geveg was buite die kwessie, aangesien hy geen teenvoeter vir die ,,British Horse Artillery" gehad het nie. Dit was belangrik om die eenheid en beweeglikheid van sy magte te handhaaf. Hy was verplig om binne die trefafstand van ,,Long Tom" te opereer. Die gevaar het bestaan dat die Britse mag by Halfweghuis hom van die weste af kon afsny. Slegs 'n beslissende slag teen die Britse magte sou die burgerlike bevolking van Modderfontein geleentheid gee om die betreklike veiligheid van Bronkhorstspruit te bereik.

Die tweede linie is opgestel langs Klipfonteinrif (die huidige Kelvinviewkruispad terrein) waar die Boere 'n lokval in die lang dekgras gestel het, terwyl hulle perde versteek was in die vlei ten weste van die huidige Birchleigh. Die ligging was geskik vir 'n berede aanval aangesien die Britse ruitery reeds 'n halwe dag aan gevegte deelgeneem het en indien hulle die steilte vanaf Dam I na die Klipfontein-area sou aanpak sou hulle nie opgewasse wees teen die vars aanvallers nie. Die Britse magte was duidelik teen die laat-middagson gesilhoeëtteer toe hulle die klein plato bereik, toe tref akkurate geweervure op kort afstand die maklike skyf. Baie ongevalle is gely en die opmars gestuit, terwyl die vlugtendes veiligheid kon bereik by kommando's in Bronkhorstspruit omgewing. So het die kommandant in een doel geslaag.

Die daaropvolgende dag het die twee groepe weer slaags geraak op Kaalfonteinstasie, waar die Boere 'n paar ongevalle gely het en nog krygsgevangenes, waaronder ook Vrystaters, gevange geneem is, waarvan sommige na Ceylon in die Ooste en ander na Bermuda in die Wes Indiese Eilandgroep gestuur is.

Daarop het die Boere Kommandant daarin geslaag om onder dekking van die nag weswaarts te beweeg deur die Britse linie na die weste van Halfweghuis, waar hy in die veiligheid van die boswêreld sy kommando wou herorganiseer. Hy het ook die gedagte om Modderfontein te herower getroetel.

Die Britse ongevalle is in die Modderfonteinse begraafplaas te ruste gelê. Die slagoffers van die vroeëre botsing is in die klein begraafplaas suid-wes van die plaas Longmeadow (deel van Modderfontein) se dam begrawe asook teen die rif af in die rigting van die Italiaanse dorpie soos hulle gesneuwel het.

Enkele jare na die oorlog het die Fabrieksbestuurder meneer Cullen gereël vir die herbegrafnis van die gesneuweldes in die plaaslike kerkhof.

Kolonel (later Lord) Baden-Powell was in beheer van Modderfontein en het in die Fabrieksbestuurder se woning tuisgegaan. Hy het die fabriek gefortifiseer ter beveiliging teen verdere aanvalle. 'n Fort is opgerig op Vlagpaalkoppie net agter die huidige opvoedkundige sentrum, asook 'n reeks loopgrawe om die rif te beskerm. Verder is langs die noorder oewer van Dam I loopgrawe opgerig asook doringdraadheinings om die skool, fabriek en kantore. Wat beskou kan word as die eerste landmyne is snags op die paaie gele en uitkykposte is gebou op strategiese plekke soos Falkenbergheuwel in die suid-ooste oor die vlei teenoor die Slagdoppiefabriek en op Klipfontein-heuwel.


Baden-Powell se Fort - Vlagpaal Koppie
(Die oorspronklike holte vir die Vlagpaal is nog daar)

Louis Kley het toe verneem dat 'n sekere meneer Gent, Alfred Beit se wildbewaarder op die plaas Frankenwald ten weste van Modderfontein, bouwerk beplan. Mnr. Gent vertel verder dat sy vader landgoedopsigter was van Kanselier Otto von Bismarck van Duitsland. Op die plaas, wat later aangekoop is deur Afrikaanse Springstowwe en Chemiese Nywerhede Beperk, is daar toe 'n huis, 'n skuur en 'n skietklubgebou opgerig deur die Duitse bouers van Modderfontein.

Tydens Generaal Baden-Powell se verblyf in die Fabrieksbestuurder se huis het hy dikwels saam met menere Gent en Beit bokke, tarentale en hase in die bosse en veld van Frankenwald gejag.

Van die Britse troepe wat vanaf Kaapstad oor Kimberley aangekom het, het 'n groot behoefte aan goeie voedsel ondervind en het geredelik 'n blik beskuitjies -- so groot as 'n vier gallon paraffienkan -- geruil vir 'n vars brood. Vars groente en vleis het ook 'n groot aanvraag ondervind, wat goed voorsien is deur boere ten weste van die Fabriek in die omgewing van Klipfontein en Mooifontein.

Onmiddellik na die aankoms van die verskeie regimente het elkeen 'n beurt gekry om in Dam I te gaan bad. Drie soldate het so tragies aan hulle einde gekom by die maalpoel, waar die huidige pompstasie is, en is in die begraafplaas te Modderfontein begrawe.

Meneer Kley is deur meneer Gent genader om Bantoe-arbeiders te werf, aangesien daar 'n verslapping in die boubedryf was en meneer Kley het ingewillig. Daar was egter 'n permit nodig om die Fabriekseiendom te verlaat om die nodige werwingswerk aan die Witwatersrand te doen. As gevolg van een of ander misverstand het die plan deur die mat geval. Meneer Kley het ongelukkig op 'n ongeleë tyd by Generaal Baden-Powell opgedaag. Die Generaal was halfpad geskeer toe die versoek om 'n permit aan hom gerig was en het toe sondermeer die permit botweg geweier.

Generaal Baden-Powell het die Boy Scout tak te Modderfontein gestig; vermoedelik die tweede oudste tak van die Beweging na die van Kimberley, aangesien die tak te Booysens tot niet gegaan het.

Die Boere-kommando by Halfweghuis het veral snags begin optree en die Britse magte hoofbrekens besorg. Wagte moes ligloop vir skerpskutters en verskeie kere is perde en vee op Fabriekseiendom met behendig uitgevoerde rooftogte gebuit. Selfs lewendehawe van die Masterson Melkerye, tussen die Fabriek en Frankenwald, is so weggevoer. Gelukkig vir Generaal Baden-Powell was die Boere Kommandant nie bewus van die generaal se jagtoere by Frankenwald nie, aangesien laasgenoemde feitlik sonder beskerming ontspan het.

Ander gevegte wat naby Modderfontein plaasgevind het, was op 10 Januarie 1901 toe Generaal Beyers met Generaals Kitchener en Paget in die Helspoort-Schierpoortvalleie van Magaliesburg gebots het. Om te verhoed dat hy omsingel word, het Generaal Beyers ooswaarts tussen Johannesburg en Pretoria na 'n punt tien myl noord van Johannesburg, met ongeveer twaalfhonderd man en 'n aantal kanonne, beweeg. Hy was vasbeslote om die spoorlyn tussen Kaalfontein en Zuurfontein (Kempton Park) oor te steek en het albei stasies gelyktydig aangeval en terselfdertyd sy magte tot net noord van Modderfontein verskuif. Twee myl suid van Kaalfontein is die spoorlyn deur sy kommando opgeblaas en het die oortog ooswaarts met sy kommando en voorraadwaens plaasgevind. Later die middag is die kommando agtervolg deur troepe wat in Germiston gestasioneer was.

Meneer Kley het die gebrek aan voldoende werk erg vervelend en frusterend gevind en na deeglike oorweging besluit om na Pretoria te verhuis, waar hy as boukontrakteur opgetree het, en 'n belangrike rol gespeel het in die heropbou na die oorlog. So suksesvol was hy in die boubedryf dat hy in 1929 verkies is tot President van die Meester Bouersvereniging en daarna 'n lewenslange erelid was. Hy het baie beroemde en geskiedkundige geboue, skole en huise in die Hoofstad opgerig.

Met meneer Louis Kley se afsterwe in Oktober 1966 het ons 'n hoogs gerespekteerde pionier verloor, maar dink in dankbaarheid terug aan sy nalatenskap.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org