The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 1 Nr 2 - Junie 1968

DIE ONTWIKKELING VAN DIE BEGRIP GESKIEDENIS EN DIE STUDIE VAN MILITêRE GESKIEDENIS*

Deur KOMMANDANT DR. JAN PLOEGER, D.PHIL.
Militêre Historikus SAW, SAW Argief, Pretoria

*Teks van 'n lesing, op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging, Johannesburg, en met amptelike toestemming, op 2 Maart 1967 op Johannesburg gehou.

1. Inleiding

Waar ons almal belang stel in die beoefening van die geskiedenis as 'n wetenskap en in die besonder van die militere geskiedenis, daar is dit ongetwyfeld van pas om ons 'n oomblik te besin oor 'n aantal vrae wat in die verband van tyd tot tyd in ons gedagtes opkom.

Daar is, soos met betrekking tot elke vak wat beoefen word, 'n oneindige verskeidenheid van vrae wat elkeen van ons aan homself kan stel en ek kan u die versekering gee dat, namate ons verder in die beoefening van die vak vorder, die hoeveelheid vrae beslis nie afneem nie.

Daar is ewewel 'n aantal basiese vrae waaraan ons ons aandag vanaand wil wy. Hulle is die volgende:

2. Die betekenisomskrywing van die woord geskiedenis en die opkoms van die geskiedenis as 'n wetenskap

Kortliks kan die betekenisomskrywing van die woord geskiedenis soos volg geformuleer word:
Geskiedenis is iets wat gebeur het, dit is die verhaal of verslag oor iets wat gebeur het, dit is die totaal van die kennis oor die verlede, en die wetenskap wat die kennis probeer vasstel en oordra.

Wanneer u, met hierdie omskrywing en die uitbreek van die Eerste Wereldoorlog in 1914 in u gedagtes, die verskillende aspekte oordink dan kom u tot die volgende gevolgtrekkings:
Die uitbreek van die Eerste Wereldoorlog is geskiedenis omdat dit in die verlede gebeur het. Geskiedenis is ook die verhaal oor die Eerste Wêreldoorlog. Wanneer ons dink aan die totaal van die kennis oor die verlede waaroor ons as mense beskik dan word die totaal ook geskiedenis genoem, terwyl dit ook geld vir die besondere wetenskap wat dié kennis probeer vasstel en op 'n wetenskaplik verantwoorde wvse wil oordra.

Dit spreek vanself dat die verkryging van kennis oor die verlede afhang van die soort vrae wat in dié verband gestel is of word. Dit is dus onder meer afhanklik van die belangstellingsrigting en die ontwikkelingspeil en die besondere aard van 'n bepaalde groep of groepe wat dergelike vrae stel.

Primitiewe volke is deurgaans tevrede met mondelinge mededelings aangaande die verlede wat van geslag tot geslag oorgedra word. Westerse volke sal, as gevolg van hul besondere belangstellingsrigtings, dikwels ander vrae ten opsigte van die verlede stel as Oosterse volke. Ook moet daar onthou word dat ons voorouers dikwels ander vrae ten opsigte van die verlede gestel het as ons wat in 'n ander tydperk lewe. Hieruit kan dus afgelei word dat die aard van die vrae wat deur 'n bepaalde groep gestel word ook gebind is aan die tyd waarin die vrae gestel is of word.

Wanneer ons binne die raamwerk van die Westerse mens bly dan merk ons, ten opsigte van die belangstellingsrigtings, met ander woorde met betrekking tot die beoefening van die geskiedenis, onder meer die volgende verskynsels op:
Die Grieke het veral belang gestel in die staatkundige verlede, terwyl sommige Romeinse skrywers soos Livius op hul beurt veral belang gestel het in die roem en die grootheid van die Romeinse ryk.

Vroeg-Christelike skrywers, soos Augustinus, het die Kerk en godsdiens op geskiedkundige gebied nagegaan, terwyl beoefenaars van die geskiedenis ten tye van die Reformasie die geskiedenis van die Kerk bestudeer het om bepaalde rigtings te regverdig of te veroordeel. In hierdie besondere geval merk ons dus duidelik die ontwikkeling van 'n kritiese houding ten opsigte van sekere aspekte van die verlede op.

In die 17e eeu is die geskiedenis meer as eenkeer in diens van die verheerliking van bepaalde persone gestel deur hulle met soortgenote uit die oudheid te vergelyk, terwyl in ander gevalle van kennis aangaande die verlede gebruik gemaak is om 'n bepaalde betoog te versterk.

Die 18e eeu was, ten opsigte van die beoefening van die geskiedenis, sterk gekenmerk deur 'n uitgesproke verlange na die verlede en op dié wyse kon - op letterkundige gebied - die historiese roman sowel in die 18e as in die 19e eeu tot bloei kom.

Terselfdertyd is daar strenger maatstawwe ten opsigte van kritiek en die metode van geskiedskrywing ingevoer terwyl die beoefenaars van die geskiedenis ook hul belangstellingsveld aanmerklik begin verbreed en verdiep het. Op dié wyse is sommige geskiedskrywers in die rigting van kultuur- en volsgeskiedenis gelei.

As gevolg van hierdie en ander faktore is die 19e eeu dié tydperk waarin die geskiedenis sy erkenning as 'n wetenskap verkry het en die beoefening daarvan op 'n wetenskaplike grondslag geplaas is, terwyl terselfdertyd die historiese benadering onder meer ook sy plek in die wetenskaplike studie van tale verkry het. Terselfdertyd merk ons op dat uiteenlopende belangstellingsrigtings op historiese gebied tot toespitsing op bepaalde onderdele soos politieke geskiedenis, konstitusionele geskiedenis, ekonomiese geskiedenis, kultuurgeskiedenis, militêre geskiedenis, en aanverwante rigtings soos argeologie, historiese aardrykskunde, genealogie en heraldiek lei.

Ons eie eeu is veral gekenmerk deur die voortskrydende verdieping in bogenoemde en ander rigtings, deur die verdere ontwikkeling van wetenskaplike navorsingsmetodes en die deurvoering van steeds strenger wordende wetenskaplike kritiese maatstawwe.

Al hierdie en ander faktore het vanselfsprekend 'n heilsame uitwerking op die gehalte van die beoefening van die geskiedenis, sowel as op die resultate wat daaruit voortvloei, maar dit skakel nie die menslike tekortkomings uit nie.

3. Tekortkomings en hedendaagse probleme

Waar die mens onvolmaak is daar sal die resultate van sy werksaamhede, op watter gebied ookal, onvolmaak bly en hierdie tekortkomings word ook in die neerslag van sy geskiedkundige werksaamhede weerspieel. Tereg het prof. G. T. Renier dan ook in sy werk History. Its Purpose and Method (1956) verklaar:

Daar is, behalwe hierdie tekortkoming, ook ander probleme waarmee elke eerlike beoefenaar van die geskiedenis te kampe het. Reeds Johann Wolfgang Goethe het in dié verband verklaar dat elke geslag die behoefte sal voel om die wereldgeskiedenis opnuut te skrywe, terwyl die bekende Britse historikus prof. G. M. Trevelyan hom soos volg uitgespreek het: Met betrekking tot Goethe se uitspraak kan ons opmerk dat elke geslag die geskiedenis, met ander woorde die verlede, op sy eie, spesifieke wyse, aanvoel; terwyl ons ten opsigte van Trevelyan se stelling ook met 'n spesifieke sienswyse te doen kry.

Ons vestig ten slotte ook u aandag op 'n uitspraak van die Nederlandse geskiedskrywer-filosoof wyle prof. J. Huizinga, wat onder meer verklaar het:

By hierdie gedagte het een van ons bekendste geskiedskrywers, prof. F. A. van Jaarsveld, ongetwyfeld aandagtig stilgestaan toe hy verklaar het: Van prof. K. Jaspers is die volgende betekenisvolle uitspraak afkomstig wanneer hy verwys na die verskuiwings wat as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog die tradisionele geskiedenisbeeld vervang het: Die hedendaagse Westerse koloniale geskiedskrywing is onder meer gekenmerk deur veranderde maatstawwe soos onder meer duidelik blyk uit prof. B. H. M. Vlekke se voorwoord tot 'n hersiene uitgawe van sy gesaghebbende werk Nusantara. A History of Indonesia. (The Hague - Bandung, 1959) waarin hy verklaar het: 'n Tyd gelede is daar in die Wes-Duitse tydskrif Ost-Probleme (Bonn, jg. 19, nr. 2, 27/1/1967) 'n polemiek tussen Russiese en Amerikaanse geskiedskrywers gepubliseer ten opsigte van die verwerping en verdediging van die grondslae van die hedendaagse Russiese geskiedskrywing ten opsigte van die norme wat die Westerse demokrasies stel.

Uit hierdie paar voorbeelde sal dit vir ons dan ook onder meer duidelik word dat elke tydperk nie alleen op sy eie, spesifieke vrae aan die beoefenaars van die vak geskiedenis stel nie, maar dat elke periode ook sy eie besondere sienswyses, eise en probleme aan ons stel. Dit is o.i. goed dat dit só is, want slegs op dié wyse sal die soekende en denkende mens tydens sy aardse pelgrimstog daartoe gedwing of aangespoor word om met hernude inspanning en toewyding voort te gaan op die paaie van die verlede wat, bewus of onbewus, 'n deel van sy eie wese vorm.

Dit spreek vanself dat met hierdie paar voorbeelde slegs hier en daar aangedui is waaroor elke beoefenaar van die geskiedenis hom vandag en more sal moet besin. Laat hierdie vraagstukke u ewewel nie ontmoedig nie. Laat ons voortgaan met ons werk as brûebouers en sowel die volgende gedagte van prof. James T. Shotwell as dié van prof. F. A. van J aarsveld onthou en oorpeins:

Laat ons dan voortgaan met die studie van die geskiedenis om op daardie wyse, onder die leiding van die Allerhoogste, ons taak as brûebouers te vervul en om ons eie lewe sowel as dié van ons medemense te verryk.

4. Die studie van militére geskiedenis

In die loop van die 19e eeu het, as een van die spesifieke studierigtings van die geskiedenis op 'n wetenskaplike grondslag, die amptelike beoefening van die militêre geskiedenis en -geskiedskrywing in verskillende lande soos Frankryk, Engeland, Duitsland en Nederland begin, terwyl ons eie land in die 20e eeu hierdie voorbeeld gevolg het.

Hierdie ontwikkelingsgang het voortgekom uit die besef wat sowel in regeringskringe as by indiwiduele navorsers en belangstellendes ontstaan het dat die beoefening van militêre geskiedenis van nasionale- sowel as internasionale belang is. Tereg is die vraag gestel of dit moontlik sou wees om sonder bestudering van die militêre geskiedenis van 'n volk by benadering 'n vollediger algeronde beeld van so 'n volk se verlede verkry kon word, terwyl die volgende beskouings ook 'n beslissende rol ten opsigte van dieselfde aangeleentheid gespeel het en nog speel:
Dit is bekend dat die algemene beginsels van oorlogvoering teruggaan na die verlede. Weliswaar verskil die moderne wyse van oorlogvoering veral as gevolg van tegniese ontwikkelings van dié van die verlede, maar sekere outydse beginsels het behoue gebly en dit is vir elke student in die militêre geskiedenis, m.a.w. vir die toekomstige militêre leiers, van belang om die ontwikkelingsgang van die strategiese- sowel as van die taktiese beginsels te ken. Op dié wyse sal hulle met 'n mate van noukeurigheid kan oordeel, en indien nodig en waar moontlik tot sekere gevolgtrekkings kan kom wat betrekking het op die verdediging van die Vaderland en wat met voordeel aangewend kan word. Ook sal hulle waardevolle lesse uit die militêr-historiese en krygskundige verlede kan leer en, indien nodig, met voordeel kan toepas.

Deur die beoefening van die militêre geskiedenis, sowel deur militêre- as siviele persone, word die kennis van die militêre verlede meer bekend by die volk. Op dié wyse word die volk meer bewus van die belangrikheid van sy weermag wat sowel in tye van vrede as in oorlog 'n dienende - en as gevolg van sy samestelling - 'n volksomvattende organisasie is.

Op dié wyse word daar 'n hegte band tussen 'n volk en sy weermag gesmee waardeur bestaande bande en die besef versterk word dat verwaarlosing van die militêre slaankrag van 'n volk die onbelemmerde voortbestaan van sy vryheid en onafhanklikheid ernstig kan benadeel.

Ten slotte kan 'n volk uit sy militêre verlede, en met betrekking tot verrigte heldedade, moed en pligsgetrouheid, nie alleen sy nasionale trots versterk en veredel nie, maar terselfdertyd ook krag en besieling vir die toekoms daaruit put.

Van baron Von Freytag Loringhoven is die volgende kernagtige uitspraak afkomstig:

In sy voorwoord tot Katharine Chorley, Armies and the Art of Revolution, het kapt. Liddell Hart onder meer gesê: Uit hierdie aanhalings blyk op oortuigende wyse die waarde van die studie van militêre geskiedenis.

Daar is verskillende benaderings ten opsigte van die beoefening van die studie van militêre geskiedenis. Ek wil veral nadruk lê op die waarde van die verryking van kennis waar dit ons eie militêre verlede betref. Nie alleen is u as 'n landsburger verplig om eers ons eie verlede te ken voordat u u belangstelling verder laat uitstrek nie, maar dit bied u terselfdertyd die voordeel dat die boustowwe vir u studie makliker bekombaar is.

U kan onder meer aandag wy aan die herkoms en ontwikkelingsgang van ons militêre uniforms. U kan met die studie van ons militêre gedenktekens begin. U kan ons voormalige slagvelde of diverse museums in ons land besoek. Ons land beskik nog oor outydse verdedigingswerke, oor wapens en militêre kentekens wat in die verlede gebruik is, oor regimente met 'n langer of korter verlede. U kan 'n klein maar waardevolle boekery oor militêr-historiese onderwerpe begin opbou, u kan onder meer ou koerante en tydskrifte in ons biblioteke raadpleeg en - met betrekking tot die militêre verlede van die Zuid-Afrikaansche Republiek die Transvaalse Argiefbewaarplek in die Uniegebou, Pretoria, besoek en daar dokumente bestudeer. Uit hierdie voorbeelde blyk dit duidelik dat daar ongetwyfeld, sowel vir die vakkundige as vir die belangstellende leek, nog 'n groot aantal moontlikhede bestaan om u beskikbare tyd ook op hierdie gebied op 'n waarlik opbouende en leersame wyse te benut en uself en ander te kan verryk.

5. Norme waaraan 'n militêr-historiese navorser en/of skrywer moet voldoen

Ten slotte, nadat u besluit het om u studievelde af te baken, 'n aantal vereistes waaraan 'n vakkundige geskoolde militêre historikus o.i. moet voldoen:

Slot

Met die oog op laasgenoemde vereistes hang dit in 'n groot mate van u werkgebied af om te kan bepaal aan watter vakkundige vereistes u as belangstellendes behoort te voldoen ten einde van u werk 'n sukses te kan maak, bevrediging daarin te kan vind en genot daaruit te kan put.

Vir my was dit slegs moontlik om hier en daar u aandag daarop te vestig, maar met die wete dat elke mens, en dit geld ook vir elke navorser, bo alles oortuig moet wees van die diepe besef van die betreklike van die menslike vermoens en sy absolute afhanklikheid van die mens teenoor sy Skepper as die begin en die einde van alles, wens ek u almal sukses toe met u militêre-historiese navorsing.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org