(Kopiereg Voorbehou)
Deur ARTHUR BLAKE
Hierdie ongelukkige toestand het ontstaan deurdat, behalwe vir die tydperk waarin die Zuid-Afrikaansche Vliegerskorps aktief was, die Unie nie 'n lugeenheid van sy eie gehad het nie. Etlike duisende van ons volksgenote het dus in die Britse Royal Flying Corps en Royal Naval Air Service asook die latere Royal Air Force gedien. Die feit dat die manne in die magte van 'n ander land opgeneem is, bemoeilik navoringswerk daar stukke moeilik te bekom is.
Hoekom is navorsingswerk oor die periode belangrik? Die optrede van hierdie manne het die tradisie geskep waarop die Suid-Afrikaanse Lugmag voortgebou het. In later jare het van hulle ook 'n rol gespeel in die ontwikkeling van ons eie lugmag en dié van Rhodesië en Brittanje. Dit is dus belangrik dat gegewens oor hierdie pioniers vir die nageslag bewaar word.
In samewerking met dr. Frank Mitchell van Kaapstad, het ek reeds inligting oor Kaptein Andrew Weatherby Beauchamp-Proctor, VC, DSO, MC (balkie), DFC, gepubliseer (sien hoofstuk drie Vlieghelde van Suid-Afrika, Nasionale Pers 1966 en Kommando, Januarie en Februarie 1964). Onlangse navorsingswerk het my in staat gestel om voorlopige inligting te verstrek oor 'n ander lid van die groep pioniers -- Kaptein Ian Vernon Jeffrey Pyott, DSO.
Kaptein I.V.J. Pyott, DSO.
Laasgenoemde sal in Suid-Afrika se lugvaartgeskiedenis onthou word vir sy vernietiging van een van Duitsland se reuse Zeppelin lugskepe -- 'n episode wat vandag helaas feitlik vergeet is.
Die lugskip verskil van die ballon in die opsig dat die gasselle wat dit in staat stel om te vlieg in 'n onbuigbare raamwerk aangebring is. Anders as in die ballon, bly die vorm van die lugskip onveranderd, al wissel die druk van die gas in die selle. Die vaartuig is dus stewig genoeg om met 'n praktiese stuurapparaat en enjins vir aandrywing toegerus te word.
In die jare voor die Eerste Wêreldoorlog toe die vliegtuig se drakrag en betrouhaarheid nog streng beperk was, het die Zeppelin groot ondersteuning geniet. In teenstelling met die vliegtuie van destyds, kon die lugskepe betreklik groot vragte dra en was hulle in staat om langafstande af te lê. Die Duitse vloot het 'n aantal Zeppelins aangeskaf vir verkenningsdoeleindes en om as bomwerpers te dien.
Kort na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het Duitse vliegtuie die Kanaal oorgesteek en 'n paar klein bommetjies oor Suidelike Engeland gelos. Dit was egter gou duidelik dat die vliegtuig nie in staat was om enige merkwaardige skade aan te rig nie, en die taak van lugaanvalle op Brittanje is aan die Zeppelins opgedra. Gedurende die 51 aanvalle wat gevolg het, is 5,806 bomme gelos. Hoewel die skade wat die projektiele aangerig het, nie vergelyk kan word met die verwoesting wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit die lug gesaai is nie, was die Zeppelins tog verantwoordelik vir die dood van 557 mense en skade aan eiendom ten bedrae van meer as drie miljoen rand. In Londen alleen is geboue ter waarde van R 1,760,000 verwoes.
Wat egter die meeste skade gely bet onder die lugaanvalle, was die moraal van die burgerlike bevolking. In 1915 is die owerhede in Londen genoodsaak om spesiale teenmaatreëls te tref. 'n Netwerk van lugafweergeskut en soekligte is opgestel, en Suidelike Engeland is verdonker. Lugeenhede is uit Frankryk teruggeroep, en ander is op die been gebring om die bedreiging af te weer.
Die lugstryd is bó Brittanje aangeknoop, en in 1916 het die verdedigingsmaatreëls sukses behaal. 'n Aantal van die lugskepe is vernietig, en die aanvalle het verminder van 22 in 1916 tot 7 in 1917 en slegs 4 in 1918. Een van die manne wat 'n Zeppelin neergehaal het, was Kaptein Pyott.
Hy is op 31 Augustus 1895 gebore, en nadat by onderrig ontvang het by die Grey-Instituut in Port Elizabeth, is hy as ingenieur opgelei in Edinburgh, Skotland.
Die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek terwyl Pyott nog in Brittanje was. Hy het by die Britse leer probeer aansluit, maar aangesien hy 'n duim korter was as die vereiste lengte vir rekrute, is sy aansoek van die hand gewys. Na die teleurstelling het by na sy vaderland teruggekeer. Die drang om aan die stryd deel te neem was egter te sterk, en in 1915 is hy as manskap by die Heavy Section, Machine Corps, ingesweer.
Kort daarna het hy aansoek gedoen vir oorplasing na die Royal Flying Corps, en is na Oxford gestuur vir sy teoretiese opleiding. Hierna is Pyott verplaas na Edinburgh waar hy sy eerste vlieglesse in die ouderwetse Maurice Farman "Short Horn" ontvang het. Verdere opleiding het op Montrose in Skotland gevolg waar die Suid-Afrikaner kennis gemaak het met die Avro 504 en die Martinsyde S-1 jagter. Voordat hy vir diens by Eskader nommer 36 aangemeld het, het hy gevorderde opleiding op Catterick in Noord-Engeland ontvang.
Eskader nommer 36 is in Februarie 1916 gestig om die Zeppelin aanvalle te bestry. Die hoofkwartiere van die eenheid was in Newcastle, terwyl die vleuels op Seaton Carew, Hylton en Ashington gevestig was. Pyott is as tweede-in-bevel van die afdeling op Seaton Carew aangestel. Hier het hy 'n aantal B.E. 2C-verkenners aangetref wat met 'n Lewis-masjiengeweer, vuurpyle en staal Rankin valspiese gewapen was.
Die taktieke wat teen die Zeppelins gebruik is, was om die valspiese op die lugskip af te gooi om die gasselle te beskadig, of om die hoogs-ontvlambare gas aan die brand te steek. Beide die valspiese en die vuurpyle was egter mislukkings. Die meeste van die Zeppelins wat in die slag gebly het, is aan die brand geskiet met ligspoorpatrone, en spesiaal ontwerpte Brock- en Pomeroy-koeëls.
Vroeg in Oktober 1916 het Pyott verneem dat die Zeppelin L-31 bo Londen vernietig is. Die lugskip is deur soekligte opgespoor, waarna tweede Luitenant W. J. Tempest dit in sy jagter aangeval het. Onder die lyke wat op Potters Bar, waar die L-31 neergestort het, aangetref is, was dié van Kapitanleutnant Heinrich Mathy, die kranigste Zeppelin aanvoerder van die Duitse vloot.
Die dood van Mathy was 'n swaar verlies vir die Duitsers, en in die weke wat gevolg het, was daar nie verdere aanvalle op Engeland nie. Die lugskepe het hulle tot verkenningsvlugte oor die Noordsee beperk, totdat die weersomstandighede ongunstig geword het.
Op 27 November 1916 het die weerprofete voorspel dat toestande geskik sou wees vir aanvalle op Noord-Engeland en Suid-Skotland. Bevele is dadelik na die Nordholz-lugskipbasis van die Duitse vloot gestuur om tien Zeppelins in gereedheid te bring.
Nordholz is geleë tussen die mondings van die Elbe- en die Weserriviere aan die Kus van Noord-Duitsland. Die lugreuse wat daar gestasioneer was, is gehuisves in ses reuse loodse elk tussen 600 en 850 voet lank en tot bykans 120 voet hoog. Een van die kolossale strukture, die Hertha, was op 'n draaitafel gebou sodat die loods beweeg kon word om met die windrigting aan te pas. Die gebou het sowat vier duisend ton geweeg.
Die Zeppelins het gewag tot dit donker was en toe die Noordseekus oorgesteek. Die maan het helder geskyn en Kapitanleutnant van die Reserwe, Max Dietrich, gesagvoerder van die L-34, kon tot twintig myl ver sien. Die vaartuig waarin hy in die rigting van die Britse kus gevlieg het, was 644 voet 8 duim lank en het 'n deursnee van 78 voet 5 duim gehad. Die negentien gasselle in die aluminiumraamwerk het 1,949,600 kubieke voet waterstofgas bevat. Die L-34 is deur ses masjiene aangedryf, en met 'n vrag van 34 ton het dit 'n topsnelbeid van 64 myl per uur gehad.
Net na middernag het Dietrich die Engelse kus noord van Hartlepool oorgesteek. Die verdedigingstelsel was gereed en soekligte is aangeskakel om die lugreus op te spoor en dit vir die kanonne en jagters te verlig. Toe die lang ligvingers om die L-34 begin te draai, het Dietrich 'n paar bomme laat los, en weer in die rigting van die kus gedraai. Die Zeppelin was toe 9,500 voet bo die grond. Nog bomme is neergelaat toe die lugskip oor West Hartlepool gevlieg het, en vier mense is gedood.
Intussen het Pyott sy eerste patrollievlug van die aand voltooi en hy het weer op Seaton Carew neergestryk. Hoewel dit baie koud was in die lug, is hy beveel om weer op te styg en tussen Middlesborough en Sunderland te patrolleer. Om 11.22 het hy in sy B.E.-2C van Seaton Carew vertrek.
Na sowat 'n uur in die lug, het Pyott 'n groot lig 'n paar honderd voet onder hom gewaar. Die voorwerp het soos 'n maan gelyk, maar dit was in werklikbeid die L-34. Pyott se amptelike verslag van die vlug lui: ,,Ek het die Zeppelin tussen Sunderland en Hartlepool gesien waar dit deur 'n soeklig op Castle Eden verlig is. Dit het in 'n suidelike rigting na my toe gevlieg. Ek was toe op 9,800 voet en die lugskip 'n paar bonderd voet laer. Ek het na die Zeppelin gevlieg, op in reghoekige koers geduik, en onder die middelste gedeelte van die lugskip se romp verby gevlieg. Gedurende die duikbeweging het ek op die doelwit geskiet. Daarna het ek in oostelike rigting gedraai, en die lugskip het dieselfde koers ingeslaan. Ons het toe vir ongeveer vyf myl 'n parallelle koers ingeslaan en ek het 71 koeëls afgevuur. My skatting van die lugskip se spoed was dat dit teen sowat sewentig myl per uur gevlieg het. Ek het op die bakboord gedeelte van die Zeppelin gemik en het 'n klein gloeiende kolletjie gewaar op 'n plek waar my ligspoorkoeëls die romp getref het. Eers het ek gedink dat dit 'n masjiengeweer was wat op my geskiet het, maar die vlamme het gou versprei totdat die hele Zeppelin aan die brand was."
'n Zeppelin
'n Ander lugskip -- die L-35 -- was slegs agt myl van die toneel af, en die bemanning het die einde van hulle makkers aan boord van die L-34 gesien. Toe die reuse hoeveelheid waterstof eers vlam gevat het, het die Zeppelin gou in 'n kolossale vuurmassa verander en grond toe geval. Gas wat uit die vernietigde selle gelek het, het agter die L-34 uitgestroom en 'n lang stert van vuur in die lug agtergelaat.
Die brandende wrakstukke het amper ook vir Pyott en sy vliegtuig laat verongeluk. Die Suid-Afrikaner moes inderhaas van die massa vlamme en kwaai hitte wegduik. Die L-34 het so kwaai gebrand dat 'n vlieënier wat 136 myl daarvandaan was, die vuurmassa gesien het! Net so gou as wat die brand ontstaan het, is dit ook geblus. Die swart gebrande wrak van die lugreus het in die see geval naby 'n pier aan die mond van die Teesrivier by West Hartlepool.
Toe Pyott op Seaton Cerew neerstryk, kon hy nie uit die oop kajuit klim nie. Die grondstaf het gedink dat hy in die geveg gewond is, maar toe hulle sien dat hy geen wonde opgedoen het nie, maar feitlik verkluim was, het hulle hom skouerhoog van die vliegtuig gedra.
Intussen is nog twee Zeppelins ook deur die verdediging onder vuur geneem. Die L-21 is naby Norwich deur drie vliegtuie opgespoor en neergeskiet. Lugafweervuur het die L-22 getref en tot so 'n mate beskadig dat die bemanning slegs na die grootste gesukkel die Zeppelinbasis op Hage bereik het.
Ander lugskepe wat die noorde van Engelend daardie nag aangeval het, het omgedraai toe hulle die einde van die L-34 gesien het. Deur slegs een Zeppelin neer te skiet het Pyott dus die hele Duitse aanval laat misluk.
Vir sy daad is hy die Distinguished Service Order, (of DSO) toegeken. Die Suid-Afrikaner het in Desember 1916 na Londen gereis waar hy die onderskeiding van Koning George die Vyfde in Buckingham Paleis ontvang het.
Daar die Zeppelin aanvalle in 1917 drasties verminder het, is baie van die vlieëniers, wat soos Pyott in Brittanje gestasioneer was vir verdedigingsdoeleindes, na ander eenhede oorgeplaas vir diens in Frankryk. Hy het Seaton Carew verlaat en hom by Eskader Nommer agtien gevoeg wat toegerus was met die de Havilland DH-4 bomwerper. Die eenheid se taak was om belangrike doelwitte agter die Duitse stellings te bombardeer.
Duitse swaar bomwerpers op 'n vliegveld in Noord-Frankryk.
Na die mislukking van die Zeppelins, is die taak van lugaanvalle
op Brittanje aan hierdie tipe vliegtuig opgedra
Na etlike maande diens is hy na Engeland teruggeroep om opleiding in die twee-motorige Handley Page 0/400 bomwerper te ontvang. Daarna was hy op Duinkerken in België gestasioneer vanwaar hy aan nag-bomaanvalle deelgeneem het. Destyds is grootskaalse lugaanvalle op Duitsland beplan en die Suid-Afrikaner is na Stonehenge in suidelike Engeland oorgeplaas ter voorbereiding vir die lugoffensief. In die lente van 1918 het die Duitsers egter deur die geallieerde stellings in Frankryk gebars, en die planne is verydel. Pyott is inderhaas na Frankryk gestuur om die Duitse offensief te help stuit. Hy is by Eskader Nommer 27 gevoeg wat met die de Havilland DH-9 bomaanvalle uitgevoer het. 'n Paar maande voor die wapenstilstand het Kaptein Pyott siek geword, en is in 'n hospitaal in Brittanje opgeneem. Op 11 November 1918, toe die wapenstilstand in werking getree het, was hy nog daar.
Kaptein Pyott is kort daarna uit die Britse Lugmag onstlaan en het by die Suid-Afrikaanse Lugmag as Kaptein in die reserwemag aangesluit. Hy is vandag 'n bekende Suid-Afrikaanse sakeman.
Die skrywer erken die samewerking van Kaptein I. V. J. Pyott en Nasionale Pers Bpk., laasgenoemde vie toestemming om 'n illustrasie uit ,,Vlieghelde van Suid-Afrika" te gebruik.
BRONNEGIDS
"The Zeppelin in Combat", deur Douglas H. Robinson. (G. T. Foulis, Londen 1962)
"The War in the Air" (ses dele) deur Sir Walter Raleigh en H. A. Jones (Oxford University Press)
"Per Ardua" deur Hilary St George Saunders (Oxford University Press 1944)
"Fighter Aircraft of the 1914-1918 War" (Harleyford Publications)
"Reconnaissance and Bomber Aircraft of the 1914-1918 War" (Harleyford Publications)
"Histoire De L'Aeronautique" deur Charles Dollfus en Henri Bouche (Editions Saint-Georges. Parys, 1936)
"Squadron Histories, R.F.C., R.N.A.S. and R.A.F. 1912-1959" deur Peter Lewis (Putnam, Londen, 1959)
Die Encyclopaedia Brittannica.
Return to Journal Index OR Society's Home page
South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org