The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 1 No 1 - December 1967

DIE BELEG VAN POTCHEFSTROOM
16 DESEMBER - 21 MAART 1881

deur Maj. S.W.J. KOTZE

Inleiding

Die steeds groeiende ontevredenheid met die Engelse bewind het sy klimaks bereik toe meer as 5,000 Transvaalse burgers op 8 Desember 1880 by Paardekraal (Krugersdorp) besluit het om met wapengeweld hulle vryheid terug te wen.

Ook in Potchefstroom, die oud-Transvaalse hoofstad, het die spanning hoog begin loop. Die Boere het hulle nie langer aan die Britse regering onderworpe geag nie, belastings is nie betaal nie en gewapende burgers het verhoed dat hulle leiers gearresteer word. Lt.-kol. R.W.C. Winsloe, Royal Scots Fusiliers word uit Pretoria gestuur om bevel van die garnisoen in Potchefstroom oor te neem en hy kom op 12 Desember daar aan.

Situasie

By sy aankoms vind Winstoe alles nog rustig en kry hy kans om die hele situasie in oënskou te neem. Sy garnisoen bestaan uit die volgende eenhede:

"N" Battery 5 Brigade Royal Artillery (2 x 9 Pr. Kanonne) Berede Infanterie van die Royal Scots Fusiliers C en D Kompanies van dieselfde regiment Kommissariaat en Mediese Afdelings.

Die detail van die mag was as volg:

Eenheid Offisiere Manskappe Totaal
Royal Artillery 2 43 45
Royal Scots Fusiliers Mounted Infantry 2 24 26
Royal Scots Fusiliers 4 125 129
Kommissariaat 1 7 8
Medies 1 4 5
Totaal 10 203 213

Die Britse kamp was net buite die dorp aan die westekant daarvan en langs die kamp is daar 'n begin gemaak met die bou van 'n fort, 25 tree in vierkant. Op daardie stadium was dit egter nie veel meer as net 'n sloot nie. Winsloe het egter dadelik aan die werk gespring en die fort-mure hoer laat opbou. Na drie dae was die sloot diep uitgegrawe en die los grond aan die binnekant opgebou tot 'n muur ongeveer 5 voet breed en 3 voet hoog.

Intussen het die Britse Administrasie in Potchefstroom feitlik geheel en al tot stilstand gekom en is gewapende burgers gereeld in die dorp gewaar. Winsloe het 20 man gestuur om die landdroskantoor te bewaak en nog 20 om die tronk te beset.

Die beleg begin

Op 16 Desember was die garnisoen gereed vir enige gebeurlikheid. Die twee 9 ponders was in vlak geskutkuile (2 voet diep) op die Noord-oostelike hoek van die fort ingegrawe en met sakke mielies beskut. Die res van die kamp is afgebreek.

Teen ongeveer 0900-uur nader 'n berede patrollie Boere die Britse kamp. Toe hulle ongeveer 150 tree van die kamp was, beveel Winsloe 'n seksie van die Mounted Infantry om die Boere tegemoet te ry en hulle te waarsku om nie nader te kom nie. Die Boere draai egter terug na die dorp en toe die Britte die eerste huise nader, word daar meteens op hulle geskiet. Die Mounted Infantry klim af en beantwoord die vuur en Komdt Robbertse word gewond tydens hierdie skermutseling. Die Mounted Infantry jaag hierop terug na die kamp en spoedig was almal binne die fort gereed vir aksie.

Nie lank hierna, begin die Boere ook 'n aanval op die Landdroskantoor en vorder ook in die rigting van die kerkhof om vandaar die fort te bestook. Artillerievuur uit die fort en dwarsvuur vanaf die tronk laat die Boere egter terugval na die dorp.

Op 17 Desember duur die aanval sporadies voort maar konsentreer die Boere hoofsaaklik op die Landdroskantoor wat dan ook die volgende dag oorgee, nadat Kapt. A.L. Falls gedood is. Tydens die wapenstilstand wat hierop volg, stel Lt-kol Winsloe die Boere in kennis dat hy hom nie gebonde voel aan die oorgawe wat deur die spesiale kommissaris, Maj. Clarke, onderteken is nie. Hierdie besluit van Winsloe het die lot van die fort en sy inwoners vir die volgende drie maande bepaal, want daardie nag laat Winsloe ook die tronk stilweg ontruim (ongevalle 1 gedood en 3 gewond) en word die fort finaal tot homself toegewys.

Die Fort

Die binneplein van die fort was 23 tree vierkant met die 3 voet hoe walle verder met sandsakke opgebou vir 'n verdere 2 voet. Buite om was daar natuurlik die sloot wat 'n ekstra hindernis vir die aanvaller sou wees. Snags is daar deurgaans gewerk om die walle in stand te hon. Veral die sandsakke is gereeld deur die Boere stukkend geskiet en reën het verder tot die verswakking daarvan gelei.

Die veld om die fort was baie ruig en daar het ook 'n land mielies gestaan wat uitstekende dekking aan die aanvaller sou bied indien hy wou probeer om die fort ongesiens te nader. Winsloe het 'n paar maal probeer om die gras af te brand, sonder sukses, aangesien dit die groeiseisoen was.

Kol. Winsloe was deurentyd bekommerd oor die binneverdediging van die fort. Indien die Boere die fort sou stormloop en tot op die walle vorder, sou verdere weerstand selfmoord wees. Daar is egter 'n plan gemaak; snags het 'n man uit die fort gesluip na waar die Britse kamp gestaan het. Hy het dan 'n ketting aan een van die waens vasgemaak en teruggekruip na die sloot waar die res van sy makkers dan die wa tot in die sloot gesleep het. Daar is die wa uitmekaar gehaal, stuksgewys die fort binne gedra en weer aanmekaar gesit. Op hierdie wyse is 5 waens uiteindelik in 'n sigsag patroon oor die binneplein van die fort geplaas, die buik vol grond gelaai en verder met sandsakke gepak om sodoende die fortwalle ook effektief van binne te kon verdedig.

Verder was daar 5 kloktente vir siekes, 1 kloktent as 'n hospitaal, 'n markee-tent vir store, die ammunisiekar en die skuiling vir die vroue en kinders, wat bestaan het uit sakke mielies wat so gepak is dat dit 'n skuiling van 9 voet vierkant by 5 voet hoog gevorm bet. Bo-oor was 'n seil gespan maar dié was spoedig so vol gate geskiet, dat dit nie juis die reen uitgehou het nie. Die tente was weliswaar ongeveer 1.5-2 voet diep ingegrawe maar ook die boonste gedeeltes het gereeld onder die Boere se koeëls deurgeloop en splinters van die tentpale het soms ongevalle veroorsaak.

Op 'n stadium was daar bykans 300 mense binne dié beperkte ruimte en 'n mens kan moeilik 'n voorstelling maak van hoe hulle dit vir 3 maande kon uithou.

Mense in die Fort

Behalwe die 213 offisiere en manskappe (nota 1) het daar ook nog 48 burgerlike vlugtelinge in die fort kom skuiling soek (nota 2). Verder was daar nog 61 Bantoe wa-drywers (nota 3) wat die totaal op 322 te staan bring (nota 4).

NOTAS:

  1. Sluit ook die 20 man in wat by die Landdroskantoor in die slag gebly bet.
  2. 37 Burgerlikes het tydens die beleg weer die fort verlaat.
  3. Op 23 Januarie het 39 Bantoes ook die fort verlaat.
  4. 2 Manskappe (Broers Nelson) het tydens die beleg uit die fort ontsnap en na vele omswerwinge in Natal uitgekom.

As die 21 man wat later die magasyn beset het, ook afgetrek word, kan daar met alle sekerheid gese word dat daar inderdaad nooit minder as 200 mense binne die fort was nie.

Die Waterprobleem

Een van die eerste dinge wat die Boere gedoen het, was om die waterkanaal af te sluit wat die Fort geheel en al sonder water sou laat. Winsloe het egter so iets voorsien en dadelik met die grawe van 'n put begin. Op 'n diepte van 30 voet het die put egter maar net 9 gelling water per dag opgelewer. Die eerste 3 nagte is daar egter in geslaag om die kamp se waterkarre by 'n fontein, ongeveer 1,200 tree van die fort, te gaan volmaak. Ook die perde en trekdiere (76 perde, 121 muile en 147 osse) is onder eskort na die fontein gestuur. Die Boere het egter spoedig hieraan ook 'n einde gemaak.

Op 19 Desember bring 'n reënstorm tydelik verligting maar op die 2lste was die diere (wat in 'n kampie net buite die fort gehou is) alreeds vir 36 uur sonder water en word hulle (behalwe 1 perd en 'n paar melkkoeie) vrygelaat en dadelik deur die Boere gevang. Dieselfde middag reën dit weer. Intussen het Winsloe 'n beloning van R50 uitgeloof vir die persoon wat eerste water sou vind. 'n Paar seksies het ywerig begin grawe totdat een op 15 voet diepte sterk water oopgrawe. Spoedig was die put byna tot bo vol en was die waterprobleme vir goed opgelos.

Voedsel

Benewens die aanvanklike waterprobleem, was voedsel die ander groot bekommernis. Daar was geen vars vleis nie en selfs die perdevleis wat hulle vir Kersdag wou braai, het sleg geword en moes weggegooi word. Luukshede soos koffie, tee, suiker, ens. het baie gou opgeraak en basies het die dieet bestaan uit mielies en kafferkoring wat as perdevoer bedoel was. Vanaf 22 Januarie het die rantsoene bestaan uit 1.5 lb. mielies per man per dag. Op 18 Maart is dit verminder na 1 lb. plus .5 lb. kafferkoring en 'n lb. ingemaakte vleis op alternatiewe dae.

'n Klein hoeveelbeid koringmeel is gehou om brood mee te bak vir die siekes en gewondes. ('n Bakoond is sommer in een van die walle gegrawe). Ten spyte van hierdie skamele dieët, het daar slegs 'n paar gevalle van skeerbuik voorgekom, hoofsaaklik omdat die manne groen gras en jong mielieplante saam met hulle kos gekook het.

Die vuurmaakhout het op 15 Januarie opgeraak, maar gelukkig was daar nog 12 muil- en ossewaens buite die fort wat snags vir vuurmaakdoeleindes afgetakel is.

Met die oorgawe op 20 Maart was daar nog net 1,600 lb. mielies en 5,006 lb. kafferkoring oor; 25 lb. ingemaakte vleis en 16 lb. rys is vir die siekes uitgehou.

Dit was vir die Boere moeilik om te begryp hoe die Britte dit kon regkry om so lank te kon hou sonder om weens voedseltekort te kapituleer. Selfs Gen. Joubert het uit Natal geskrywe en Cronjé aangemaan om sy beleg met meer erns aan te pak. Van Cronjé se antwoord kan afgelei word dat Joubert beweer het dat die Boere nie die beleg baie ernstig opneem nie en dat voedsel na die fort gesmokkel word. So skryf by " ... U Ed moet niet gelooven dat er rondom het kamp door juffrouwen enz. gewandeld wordt"!

Medies

Kol. Winsloe was beslis geluklig om 'n mediese offisier en 'n aantal ordonnanse in die fort te hê. Die dokter het veral baie goeie werk gelewer en het selfs een nag 'n gewonde se arm geamputeer. Die man het heeltemal gesond geword ten spyte van die feit dat die operasie in taamlik primitiewe omstandigbede uitgevoer is. Onder andere het die lanternlig die boonste deel van die tent so duidelik verlig, dat dit die ideale skyf vir die Boere gevorm het en is die tent letterlik vol gate geskiet.

Die versameling van reënwater en afval uit die fort, het die sloot buite om uiters onhigiënes gemaak en daar is dan ook snags gepoog om die sloot leeg te skep. Desnieteenstaande het daar siektes soos maagkoors uitgebreek, hoewel dit nooit algemene afmetings aangeneem het nie. Later het gangrene ook ingetree en het die meeste ongevalle onder gewondes dan ook gedurende die laaste tien dae van die beleg voorgekom. Later was al die tente vol gewondes en siekes en is die mees aansteeklike gevalle in uitgrawings in die slootwal buite die fort geplaas.

Moraal

Gesien in die lig van die uiters beperkte beweegruimte, swak kos en vervelige daaglikse roetine, kan dit besef word dat die behoud van die troepe se moraal 'n uiters belangrike faktor was. Dit was veral die ouer soldate wat hier 'n belangrike rol gespeel het, deurdat hulle die jongeres besig gehou het met staaltjies uit ander veldslae waaraan hulle deelgeneem het en die sing van soldate-liedjies. Na aandete was daar dan ook elke aand gesels oor die dag se gebeure en is daar veral lewendig bespiegel oor die koms van 'n ontsettingsmag. Daar is tot aan die einde geglo dat Gen. Colley hulle wel sal kom ontset en hierdie geloof het hoofsaaklik tot die hardnekkige weerstand gelei. Daar is ook van die begin van die beleg alreeds 'n spesiale wag georganiseer, wie se taak dit was om die omliggende randjies dop te hou vir seine van so 'n mag. Hulle het ook 'n heliograaf gemaak van 'n handspieeltjie waarmee hulle kon terugsein.

Die artilleriste het ook vir die fort 'n Union Jack uit hulle jasvoerings gemaak en die vlag het vir meer as twee maande oor die fort gewapper - weliswaar vol koeëlgate, maar steeds 'n simbool van Britse weerstand.

Die moraal van die beleërde troepemag het dan ook goed gehou en selfs so laat as 10 Maart was die moraal so goed dat die Britse soldate aan die Boere sein waar hulle kanonskote tref!

Daaglikse Roetine

Die fort-inwoners het spoedig hulself na 'n daaglikse roetine geskik. Teen ongeveer 07.00-uur is ontbyt genuttig en daarna word die fort se oppervlakte gevee en die dreinering nagegaan. Hierna volg die kolonel se inspeksie met alle soldate in aksie-stellings. Na die inspeksie word 'n paar man in hulle posisies gelaat om die Boere se vuur te beantwoord terwyl die res hulle self besig hou. Elke man se wapen en ammunisie word op sy plek by die verskansing gelaat. Die siekes en lig-gewondes het elke dag sandsakke gemaak - hiervoor is enige denkbare materiaal gebruik, bv. al die tente wat nie binne die fort opgeslaan is nie, is opgesny vir hierdie doel. Snags is 'n werkspan dan aangesê om die sakke met grond te vul en die verskansings weer te verbeter.

Teen ongeveer 17.00-uur word wagparade gehou, hoewel die wagte eers na donker gepos word. Sowat 'n uur voor donker word aandete genuttig waarna die offisiere en die dames nog 'n rukkie sit en gesels voordat lg. na hulle skuiling gaan vir die nag.

'n Paar buiteposte was met loopgrawe aan die fort verbind en hier het wagte ook posgeneem om vroeë waarskuwing te kon gee in die geval van 'n nagaanval. Op maanlig-nagte is hierdie wagte egter nie gepos nie. Die offisier van diens het op 'n stoel in die middel van die fort posgeneem, met sy beuelblaser langs hom op die grond. Een van die offisier van diens se pligte was om saans seker te maak dat elke man by sy aangewese plek langs die verskansing slaap, met sy geweer binne bereik. Een maal is die alarm gemaak vir toets-doeleindes. Elke weerbare man was gereed om 'n aanval af te weer nog voor die laaste beuelnote weggesterf het en Kol. Winsloe het sy manne belowe om hulle nie weer verniet uit die slaap te wek nie.

Die offisier se diensbeurt was twee uur en Kol. Winsloe het gereeld die beurt van 02.00-04.00 waargeneem; moontlik het hy 'n aanval net voor eerste lig verwag. Almal moes dan ook "klaarstaan" van net voor eerste lig tot na sonop, waarna die daaglikse roetine hom weer herhaal het.

Die Verloop van die Beleg

Na die geveg op 17 Desember was dinge betreklik stil tot op 1 Jannarie 1881. Op die nuwe jaar begin die Boere 'n hewige bestoking op die fort. Vir meer as 'n uur skiet die Boere vanuit bome, huise se dakke en agter die tuinmure onverpoosd op die fort. Hulle gebruik ook 'n ou skeepskanon wat nog 'n soliede projektiel van ongeveer 5 pond skiet, maar dié word spoedig stilgemaak deur die Britse 9 Ponders.

Op 3 Januarie word die magasyn, ongeveer 200 treë van die fort, deur Luit. C.F. Lindsell en 20 man beset. 'n Loopgraaf word ook gegrawe om dit met die fort te verbind. Ten spyte daarvan dat die Boere die magasyn met hulle kanon tot op deurhoogte in puin gele het, is die magasyn tot aan die einde beset.

Bedags het die Boere gereeld hulle loopgrawe verbeter en op 'n stadium binne 100 treë van die fort gekom. Die nag van 7 Januarie stuur Winsloe 'n patrollie van een offisier en 6 man om ondersoek in te stel na die Boere se werkery agter die begraafplaas-muur. Die patrollie vind dat die Boere ook daar besig is met ingrawings. Hulle skiet op die Boere en val dan terug onder dekkingsvuur vanuit die fort.

Hoewel die Boeremagte oor 'n sterk oormag beskik bet, het hulle besef dat 'n direkte aanval op die fort groot verliese sal veroorsaak. Hulle was dus tevrede om die fort te beleër met die hoop dat gebrek aan kos en ander faktore die Britte spoedig tot oorgawe sou dwing.

Op 16 Januarie stuur die Boere 'n seinberig in kode, onder die witvlag, na die fort. Dit was veronderstel om van 'n ontsettingsmag afkomstig te wees en daarin word Winsloe meegedeel dat hy die volgende oggend 'n aanval op die Boerestellings moet loods - die ontsettingsmag sou terselfdertyd 'n aanval uit die teenoorgestelde rigting doen. Winsloe het die saak egter nie vertrou nie en ten spyte van 'n realistiese skyngeveg deur die Boere, het hy nie die fort verlaat nie!

Teen 22 Januarie het die Boere se grawery hulle so na aan die fort gebring dat Winsloe besluit om die 18 man in die betrokke loopgraaf daar uit te jaag. Hy loods dus 'n aanval op die loopgraaf. Ten koste van 3 ongevalle (1 gedood) word 4 Boere gevang en 'n aantal gewond terwyl die res van die Boere op die vlug slaan. Later word die gevangenes uitgeruil vir 4 Britte wat met die oorgawe van die Landdroskantoor gevang is. Die Britte leen hulle draagbare om die Boere-gewondes mee te vervoer en uit dankbaarheid word dit die volgende dag onder 'n witvlag na die fort teruggestuur tesame met vrugte vir die Britse gewondes!

Op die oggend van 10 Maart lewer die Boere hewige vuur van alle kante op die fort met die hoop om die Britse garnisoen finaal tot oorgawe te dwing. Die Boerekanon skiet meer as 80 skote waarvan ten minste die helfte die fort tref en aansienlike skade aan die verskansings aanrig. Die volgende oggend herhaal die Boere die bombardement en nog 25 treffers word deur hulle kanon aangeteken.

Na 3 maande begin Winsloe nou besef dat die Britse magte elders ook met sterk weerstand te doen moes he, aangesien daar nog geen teken van 'n ontsettingsmag is nie. Op die nag van 17 Maart stuur hy dus 'n spioen om die dorp te probeer bereik en informasie te bekom. Die spioen slaag daarin om nie alleen deur die Boerelinies te kruip nie, maar keer die volgende nag op dieselfde manier terug met die skokkende nuus van Majuba. Winsloe besef nou dat verdere weerstand nutteloos is en die oggend van die 19de hys hy die wit vlag en in 'n brief aan Cronje vra hy om onderhandelings aan te knoop. Die Boere stem gretig in en wit vlae word ook aan hulle kant gehys en 'n tent word by die watervoor, ongeveer halfpad tussen die fort en die Boerestellings opgeslaan.

Die middag stap Luit-Kol. Winsloe en twee van sy offisiere dan uit die fort, vergesel van 'n tolk en ontmoet Kmdt. Cronjé en 4 van sy senior manne in die tent. Die Boere trakteer hulle gasvry met sigare en drank en daarna begin die onderhandelings. Cronjé eis algehele oorgawe maar Winsloe is nie daarvoor te vinde nie en dreig om eers al sy artillerie-ammunisie te gebruik om die dorp plat te skiet, voordat hy oorgee. Die byeenkoms gaan uiteen met die belofte van beide kante om die volgende oggend weer te vergader.

Op 20 Maart word daar tot 'n ooreenkoms gekom en om 09.00-uur op 21 Maart 1881, word die vredesooreenkoms onderteken; kortliks kom dit op die volgende neer: Die Britse garnisoen word toegelaat om met volle eerbewys uit die fort te marsjeer terwyl slegs die manskappe hulle wapens moet neerlê. Die garnisoen word dan toegelaat om na Natal te reis met die plegtige belofte dat hulle nie weer die wapen teen die Boere in die betrokke stryd sal opneem nie (wat toe reeds verby was!). Verder laat hulle hul kanonne agter maar neem dié se ammunisie saam om aan die Vrystaatse Regering te oorhandig vir bewaring tot die einde van die vyandelikhede.

Presies om 12.00-uur op 23 Maart, lei luit-kol. Winsloe dan sy garnisoen uit die fort onder die geklank van drom en trompet, tussen rye gewapende Boere wat 'n erewag vorm, om so finaal die einde van die beleg van 96 dae te maak.

Die beleg van die garnisoen het die volgende Britse verliese tot gevolg gehad:

. Offisiere Onder-offisiere Manskappe Vroue Kinders Totaal
Gesneuwel of aan wonde beswyk 1 2 19 2 0 24
Dood aan siekte 0 1 3 0 1 5
Gewond 5 6 40 2 0 53
Totaal 6 9 62 4 1 82


Die gedenkteken in die Kerkhoffie net langs die fort.

Vandag is die grondwal van die fort nog sigbaar, met die kerkhoffie en netjiese gedenkteken daarnaas. Ook die magasyn is na die beleg weer opgebou en staan vandag nog. Die Klerksdorpse spoorlyn maak sy draai knap langs die oorblysels van die fort en volgens bewering het Pres. Paul Kruger persoonlik verbied dat die spoorlyn deur die fortjie sou loop. Vir die besoeker dien hierdie oorblyfsels as stilswyende getuienis van roemryke militêre pligsbesef in 'n hopelose situasie, wat vandag, byna 'n eeu later, nog respek en bewondering moet afdwing.


Die Magasyn soos dit vandag daar uitsien.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org