Published on the Website of the South African Military History Society in the interest of research into military history

Copyright Suzanne van den Bergh. June 2006.


OUMA SE STORIES
HOOFSTUK 4
van GISTER en VANDAG

SKOOLDAE

Toe my ouers na Johannesburg verhuis het in 1935 was ek reeds 'n ou gesoute leerling in Vryburg, waar hulle die Kaap-Provinsie se leerplanne gevolg het. Skaars begin in Graad I, word ek gesê ek is te ver gevorder vir die res van die klas (ek kon alreeds lees) en hulle sal my toets vir Graad II. Ek sit hier, met voor my, 1935 se rapport van Johann Rissik Skool, wat my heel eerste skool in Johannesburg was, en dit dui aan:

Nie sleg vir 'n ses-Jaar-oud kind nie. Maar die patroon wat daar gestel is, het ek in 'n leeftyd nog nooit verander nie: altyd die jongste, en slimste en armste kind in die klas.

In daardie eerste skooljaar in Johannesburg is dit 'n verskriklike winter, die sneeu lê dik, kinders kry nie genoeg kos by hulle huise nie, en daar sien ek my heel eerste gesnyde winkelbrood. Die bakkery se groot trok kom elke dag by die skool aan, laai mandjies vol brode af, en 'n aantal barmhartige tannies kook tamaaie groot potte sop, alle soorte: boontjie, tamatie, lensies, ertjie en groente, en al die kinders bring hulle eie blikbekertjie saam skooltoe, dan word daar aan elkeen 'n snytjie van die heerlike vars brood saam met 'n beker sop uitgedeel. Te lekker, en ons kleintjies onder mekaar wensdink dat dit tog net eenkeer twee snye van die veerligte brood moet wees. In die somer kry almal blokkies kaas (vreeslik klein gesny) tesame met 'n handvol grondboontjies en rosyne. Daarvoor moet elke kind een pennie (ong. twee sent) per week betaal, en sovele kere het die kinders nie 'n pennie om te betaal nie, dan skryf hulle dit op jou rapport "Geen Kaasgeld Ontvang" - seker bang ons bestee dit op lekkers, maar as ek vandag terugdink aan daardie tyd is ek oortuig daardie onnies het almal Sielkunde I gedruip!

In 1940 is ek in Std.VB, ouderdom 11j. 3m. - gemiddelde ouderdom van die klas l3j. 3m. en my klasposisie is tweede uit 34. In daardie jare was 'n hoërskool tot matriek net in Engels beskikbaar, Afrikaanse skole oor die algemeen het almal by Std.8 opgehou (hou die Afrikaner arm-blanke op sy plek), maar met 'n groot gesukkel het die Afrikaanse gemeenskap die ou Deutsche Schule in Twiststraat, Hillbrow, gehuur om daar met die Helpmekaar Afrikaanse Meisieshoërskool 'n geleentheid te bied vir bekwame leerlinge om moontlik matriek te behaal. Omdat ek skrander and hardwerkend was, het Brixton se skoolhoof, Mnr. D.P. Terburgh en klasonderwyseres Mev. Frylinck my ingeskryf vir Helpmekaar se toelatingseksamen (ek dink hulle het ook die nodige fooie vir my betaal) en alhoewel die mededinging baie straf was (daar was honderde meer aansoeke as beskikbare plekke) het ek wel 'n plek gekry om Std.6 daar te begin in 1941. En dit is net daar waar my ellende begin het. My pa was al aan die begin van die oorlog in uniform, teen Junie 1940 was hy op pad na Oos-Afrika, en toe daardie Helpies en hulle onderwysers hoor dat my pa "vir die Engelse veg" was die gort gaar.

Die hoofmeisie - en na 61 jaar het ek nog nie die pes se naam vergeet nie, was Engela van der Spuy, met 'n sadistiese streep waaraan ek vandag nag somtyds wonder. Die sogenaamde "ontgroening" was iets vreeslik - en vir my het hulle alles driemaal erger gedoen. Ek onthou en ruik nounog die duiwelsdrek en knoffel mengsels wat hulle daagliks in my keel afgedwing het, en jy moes mooi loop of daardie lot "Afrikaner dames" keer jou vas in die waskamers en daar vang hulle allerhande booshede aan. Hou in gedagte dat ek steeds net 11 Jaar oud was, ek sou einde Maart eers 12 word, maar wat ek alles moes verduur was verskriklik. Die onderwysers het saam gehelp om my te verniel en verneder - al sou ek ook hoe hard werk om goed te doen, daar word 'n stewige persentasie afgetrek "omdat jou pa met die Engelse heul".

Aan die einde van die jaar het ek geweier am terug te gaan; wat nou, ek is net 12 Jaar oud, dan my maar by die Engelse skaar. Toelating gevra en gekry by die Johannesburg Commercal High School, my ma het vir 'n beurs gevra en gekry en in die nuwe skooljaar is ek daar gevestig, waar ek binne dae my voete gevind het en gou uitgeblink het. Al die vakke was so in my kraal, English, Afrikaans, Shorthand (my wonderlikste vak), Typewriting, Bookkeeping, Arithmetic, Commerce met die beste onderwyseresse wat enige kind ooit gehad het; elkeen was 'n deskundige op sy vak, en kon boonop al hulle kennis en ervaring oordra aan 'n Jong klomp tienerdogters. Geld was natuurlik altyd 'n kwessie, maar my ma het gesorg dat ek alles wat nodig was gekry het.

Std.7 en 8 het baie voorspoedig gegaan, maar vanweë die geldtekort kon ek nie langer op Commercial vertoef nie, en ons soek na 'n klein privaatkollege waar ek teen my eie spoed kon werk (en dit was nogal vinnig). Mrs. Drennan's Commercial College was net die plek vir my. Sy was 'n besondere briljante onderwyseres, in Londen gekwalifiseer by die Pitman's Institute, en omdat my pa "on active service" was gee sy sommer 'n 50% afslag - waar am die ander 50% vandaan te kry? My ma doen aansaek vir beurse (het enige ander ma al ooit soveel vir 'n kind gedoen?), maar sonder sukses.

Sy vra vir die Rotarians van Johannesburg am te help, en hier kry ek "peet-familie" uit die boonste rakke. Hulle is Mnr. & Mev. Wrightsan, ouerige, welgestelde besigheidsmense en die Rotarians is een van hulle baie gemeenskapsdienste. Hulle borg my vir 'n hele jaar se kollege. Hulle neem my uit na gesellighede, en omdat hulle so goed is vir my werk ek nog harder om hulle nie teleur te stel nie. In die Junie 1944 eksamen kon ek al my St.~9 vakke aflê, en aan die einde van die jaar al die Senior en Diploma vakke, met Shorthand 160 w.p..m.., en ek is steeds nog net 15 jaar oud. Waar gaan 'n Afrikaner-kind 'n werk kry? Mnr. Wrightsan beywer homself weer in my belang. Op hulle Rotariër byeenkomste verneem hy of daar iemand is wat 'n baie Jong kind 'n kans sal gee.

Een van sy mede-Rotariërs is Reginald Frank Kennedy, die Hoofbibliotekaris van die Johannesburg Openbare Biblioteek. Hy is 'n Oxford Don, 'n geweldige geleerde man, kort gelede in SuidÄAfrika aangekom om hierdie vername pos te beklee. Hy ken nie 'n woord Afrikaans nie, en hy dink dit is 'n goeie idee om iemand aan te stel met 'n kennis van Afrikaans en wat sy alledaagse korrespondensie kan vertaal. Ek kry die pos as 'n junior snelskrif-tikster (stenographer) vanaf 2 Januarie 1945, en die eerste dag toe ek aanmeld word ek ook aan Mnr. Kennedy in sy weelderige kantoor voorgestel. Nog nooit in my hele lewe so 'n pragtige omgewing gesien nie, mariner vloere, elke muur vol boekrakke met glasdeure, alles glimmend blink, swaar houtdeure met koperhandvatsels en skarniere, en ons tiksters se kantoor is die ene swierige weelde.

Mnr. Kennedy groet baie vriendelik, hoop ek sal gelukkig wees, en 'n positiewe bydrae maak in die sekretariële kantoor, en toe ek wil loop sê hy "You really are very young - I hope your mother remembered to pin your hanky to your knickers before you left home this morning! My beskrywing van hemel op aarde - 'n werk in die Stadsbiblioteek!

My ideaal was om die 180 en 200 w.p.m. shorthand-eksamen af te lê dit vat my 16 jaar om daarby uit te koin, net 'n paar maande voordat Carel gebore is in 1961. Omdat nie baie mense vir hierdie eksamen inskryf nie, kon ek dit nooit bekostig nie (baie kinders) want nie alleen meet die eksamen-lokaal gehuur word nie, maar die kandidaat moet self betaal vir die opsiener en die persoon wat die toets moet lees. En natuurlik is daar die fooie wat betaal meet word per uur vir jou privaatonderwyser (in my geval dieselfde Mev. Drennan van my kollege-dae). Met agterna wysheid is ek verstom dat ek so 'n reusetaak kon aanpak met drie kinders en 'n vierde goed op pad. Dit was 'n enorme hoeveelheid studie en oefen, maar ek was nog nooit oor daardie harde werk spyt nie - ek wil net bysê dat ek in ver meer as 40 jaar se kantoorwerk nooit eenkeer vir iemand gewerk het wat teen so 'n hoe speed kon lees nie, praat nie eers van dink nie. En onthou as jy by sulke hoe spoed kom, waar alles natuurlik onvoorbereide werk is, moet jy kan 200 w.p.m. skryf, maar ten minste 300 w.p.m. kan dink.

En net gister loop ek driemaal na die gangkas om iets te haal, maar kom elke keer le& hande terug - waar is daardie flinkdink nou?

OUMA SE STORIES van GISTER EN VANDAG

SMOUSE

Vandag bel 'n man en verneem na een van ons, en dadelik herken ek sy soort stem as dié van 'n Sammy. Carel lag en sê, jislaaik mammie, watse ding is 'n Sammy?

Toe ek klein was, omtrent agt jaar oud (ong. 1936/37) was daar min winkels en omtrent geen privaat vervoer nie (niemand het motorkarre besit nie), sodat elke tweede of derde dag 'n Sammy rondgeloop het in ons woonbuurt, met 'n hout nekstuk ('n soort juk) wat hy op sy skouers dra, waaraan twee tamaaie groot mandjies vasgemaak was, en hieruit het hy (altyd sommer klaar effens verlep) "n verskeidenheid van vrugte en groente aangebied: piesangs (shilling a bunch) met twaalf of meer aan elke bos, mangoes, papajas, tamaties, aartappels, uie, somtyds wortels en beet ook. Stukke waatlemoen wat maar 'n bietjie gevaarlik was om te koop, want teen die tyd dat Sammy by ons uitkom is alles al warm. Hou in gedagte dat dit donkiejare was voor die verskyning van cling-wrap, wax-wrap, aluminium foil en allerhande soorte clings en foils.

'n Sammy was nooit iets anders as 'n Indiër nie, sulke maer, bedrukte mense, maar vreeslik taai en loop myle elke dag em hulle groentetjies te verkoop.

Die Sammy wat vandag gebel het het darem al verder gevorder in die lewe, want ek verneem hy is 'n Superintendent in die polisie; die stemmetjie is nog dieselfde.

NOG SMOUSE

Nag 'n gereëlde smous was die "cheapjacks", gewoonlik so 'n praterige Engelsman, ook met 'n harnas om die nek, en 'n soort plat skinkbord affêre (kompleet met 'n toevou deksel) daaraan vas, en hy spesialiseer weer in 'n menigdom negosie soos skoenveters, Minora skeermeslemmetjies, naalde en spelde, hakies en ogies, vingerhoede, bruin en swart broeksknope, kopseerpille, en enige ander kleinighede wat hy aan kon dink om in sy "winkel" te laai. En as jy nie dadelik kry wat nodig is nie, haal hy ewe plegtig 'n potlood en 'n boekie uit sy sak en maak 'n aantekening, en volgende keer as hy aanklop bied hy jou "order" aan met 'n swierige gebaar. En kon hulle praat! Aanmekaar, sonder ophou of tussen-in asemhaal, vertel hy jou van die hoë gehalte van sy voorraad, hy klink netsoos 'n afslaer by 'n vendusie, en as jy nie keer nie gee hy op die plek 'n demonstrasie van die een of ander artikel.

Twee ander gereelde smouse was die "bottle-bag" man en die "Anything to Sell" man. Die bottle-bag man het net handel gedryf in lee bottels, en die "anything to Sell" het net ou klere, skoene, lappe ens gekoop - ek kan nie onthou dat hy ooit iets verkoop het nie. Hierdie soort smouse was nooit anders as 'n Jood uit middel-Europa nie, veral Poland, netsoos die "cheapjacks" altyd 'n Engelse cockney was, terwyl die Sammy net Indiërs was, en 'n Charlie altyd 'n Sjinees.

NOG DIENSTE

Soos gesê, 'n Charlie was altyd 'n Sjinees, en die besondere een van wie ek kennis gedra het was die winkelier wat 'n besigheidjie bedryf het net om die hoek vanwaar ons gewoon het. Hy was so naby en verkeer was amper onbekend, dat ons ma ons dikwels gestuur het om 'n kleinigheid te koop. Draf gou na Charlie toe, sê ma, en kry n halwe brood of 'n koekie suurdeeg, of "a slice of butter". Daardi.e dae kos botter omtrent 1 / 3d. (one shilling-and-threepence = ong. 25 sent). (Dit is nou vir 1 lb (pond) ong 450 gram). Niemand wat ons ken het sulke groot somme geld om sommer 'n hele pond botter te koop nie, en Charlie ken 'n goeie besigheidsgeleentheid as hy hom sien - hy sny met die kaasmes (baie skerp) so 'n pond botter in dun skyfies, sê nou maar tien of so skyfies uit een pakkie botter, en hierdie skyfies verkoop hy teen 'n prys wat uiteindelik viermaal soveel is as jy die botter sou koop per pond.

Hy maak ook fish-and-chips; en vir hierdie heerlike kos vra hy 6d. (sixpence = 10 cents) - twee klein stukkies vis en 'n paar aartappel skyfies, met sout en asyn, maar dit gebeur op baie seldsame geleenthede. Ek was al op hoërskool toe kom ek eers agter dat die naam van 'n koeldrank wat ons daardie jare by Charlie gekoop het, by name "Poppola Pop" was in werklikheid Popular Pop - wat sou 'n vyf-jaar-oud kind weet van spelling, en die Pop proe tog maar altyd dieselfde.

En later jare lees ek dat al hierdie Sammys en Charlies wat so besigheid gemaak het verwant was aan die ingeboekte arbeiders wat ou Paul Kruger so ingevoer het vanaf die vreemde om hier in die myne en suiker-plantasies te kom werk. En op die klok toe hulle inboektyd verstreke was los hulle dit net daar en begin vir hulle-self te werk.

D I E N S T E

In die tyd waarvan ek vertel (omtrent 1936-1939) was 'n baie gewilde diens die slagter se Boy met 'n yslike, vierkantige mandjie voor op die fiets vasgemaak. Hy kom elke dag op sy roete, gewoonlik vroeg in die oggend. Die mandjie is hoog gelaai met opgemaakte pakkies vleis, elkeen in bruin papier toegedraai, met 'n naam en adres daarop geskryf.

Jy kry jou vleis soos bestel, en hy gee vir jou sy "order book" en daarin skryf jy die datum, jou vleisbestelling, en jou naam en adres. Jy en jou bure was dan natuurlik altyd op hoogte van sake van wat almal gister geëet het, of van plan was om more te eet, en of jy gladnie eet nie - wat in daardie swaar depressie-dae nogal dikwels gebeur het.

Die slagter was seker 'n baie eerlike man, want ek het nooit gehoor dat iemand iets terugstuur of kla nie. Môre is Boy weer voor jou deur, en so gaan dit rustig voort. As ek daardie dae vergelyk met vandag se malle gejaag met miljoene rande se motorkarre na al die duur inkopiesentrums, supermarkte ens wat nodig geag word net om 'n stukkie vleis en 'n brood in die huis te kry, dan verbaas ek my met hoe min ons klaargekom het.

Nou moet julle ook in gedagte hou dat telefone en motorkarre nie algemeen beskikbaar was nie. Ons alledaagse vervoermiddel was tremkarre wat op spore op 'n vasgestelde roete geloop het. Baie goedkoop in vergelying met vandag se vervoer (alhoewel openbare vervoer omtrent heeltemaal verdwyn het in ons land). Ek was seker so 9 of 10 jaar oud toe ek vir die eerste keer - vir die een of ander noodgeval - vir my ma 'n telefoonoproep moes maak maar ek kon nie kop of stert van die hele proses maak nie, toe vra ek maar vir die man in die winkeltjie om my daarmee te help!

Maar terug by die beskikbare dienste. Ek verlang nounog na die "grocery order book". Ook weer 'n tamaaie vierkantige mandjie voor op 'n fiets, en hierdie man kom elke dag na jou huis met jou eie, persoonlike boekie waarin jy al die items neerskryf en die gewig of hoeveelheid benodig. Die winkelier maak die hele bestelling op: suiker, meel, mieliemeel, rys, ens word uitgeweeg uit groot 100-lb sakke (ong 45 kg), en word in bruin papiersakkies toegemaak. Koffie en tee kom in pakkies met 'n naam op (dis nou die los teeblare, ek praat van die dae voor teesakkies). Kaas word van 'n yslike ronde kaas afgesny (die Cheddar was altyd gemaak in growwe gaasdoek) en apart geweeg - sulke heerlike krummelrige kaas, met in rooierige geel kleur - ek kan dit nounog proe. Die winkelier skryf langs elke item die prys, en onderaan die bladsy maak hy 'n sommetjie om te wys wat jy skuld, en dié sommetjie skryf hy in die groot boek wat hy in die winkel hou. Aan die einde van die week gaan jy winkel-toe om te betaal vir wat afgelewer was.

Winkeliers in die algemeen was baie lief om met vyf of tien sjielings (omtrent R1 of R2) 'n "fout" te maak met die bedrag se oordra na die volgende bladsy, so jy moes jou "order book" baie noukeurig dophou. Een Vrydagaand was julle oupa nie in 'n baie goeie luim nie; hy tel die syfers in die boekie op en kom agter dat die winkelier weer 'n fout maak van amper £2 (sowat R5). Hy sê vanaand gaan ek hierdie bokker 'n goeie les leer. Hy vat die ou groot ronde mandjie met die twee handvatsels en pak die hele ding vol: suiker, rys, meel, tee, allerhande botteltjies, botter en heel bo-op die eiers. Hy wag net mooi tot dit pouse word by die Roxy fliek. Die hele winkel is stampvol mense wat kom koop: koeldranke, sigarette, roomyse, Russians & Chips, alles wat te ete is. Daardie dae word lekkers nog los verkoop, vanuit sulke groot glashouers, lyk te pragtig die hele toonbank vol alle soorte sjokolade (ek was veral versot op Maraschino Brandy Cherries) en dié moet nog uitgehaal word, dan in 'n bruinpapier-sakkie, en geweeg word. Dit gaan wild in die winkel.

Toe dit op die besigste is loop oupa in en sê vir die man, vat jou goed terug, jy steel my geld, dis elke week se ding dat jy my wil verneuk. Ou Kokkoris praat mooi, maak verskonings, "can't we talk this over tomorrow", maar oupa sê as jy dit nie wil terugvat nie dan GEE ek dit terug, en hy gooi die hele lot uit op die vloer. 'n Vreeslike gemors, want die ou man was baie kwaad, en hy het baie hard gegooi!

Nog 'n ander groep wat ons gereëld besoek het, was plaasboere met waens getrek deur lang spanne osse, wat vragte vol perskes en ander plaas-produkte hier kom verkoop het.

Daar was geen mark vir die boere se produkte nie, en Ouma Catharina van den Bergh het meer as eenmaal 'n groot groentemandjie vol perskes gekoop vir 'n half-kroon (= 2/- 6d. = twee sjielings en sikspens = ong. 50 sent). Ek sou skat so 'n groot mandjie het maklik 'n inhoud gehad van l0 of 12 kg perskes. Almal word dan ingespan om die perskes te skil, en sy maak bottels vol "can" soos sy dit altyd genoem het. Elke perske moet dan ook op 'n spesiale manier patroontjies gesny word sodat dit baie fancy vertoon as dit op die koskas se rakke staan. Ek kan nie onthou dat ek ooit een van daardie bottels geproe het nie - ek dink dit was maar net vir "show".

Vroeër jare het dit nog dikwels gebeur dat skaapwagters 'n hele kudde skape deur die strate aanjaag na Newtown se slagpale, en van die skape het altyd "uitgesak", sodat Ouma Catharina meer as eenmaal 'n lekker skaap by die veewagter gekoop het vir 5/- of 7/6 (vyf sjielings of seven-and-six = Rl of Rl-50). Sy slag die skaap skelmpies af en gebruik hom op, huidjie en muidjie - tot die vel word gedroog en gebrei om 'n lekker voetmatjie voor 'n bed te maak.

KERKBASAAR (ong. 1935/36)

Tiekies en sikspense (dit is nou 2,5 sent en 5 sent) kon daardie dae nog baie koop, al was hulle maar skraps ander ans klomp. Die wêreldwye depressie het toe nog steeds alles oorheers, en mense kon nie saveel as 'n potlood of 'n botteltjie ink bekostig nie. Maar 'n Tiekie kon baie lekker dinge nog koop, en party mense praat vandag nag van 'n "tiekie-boks" as hulle bedoel 'n publieke telefoon. Vir 'n sikspens kry jy 'n poenskop haarsny, en julle oupa Chris het so tweemaal 'n jaar so 'n haarsny gekry, gewoonlik die dag voor die skool weer begin, waar hy met kaalvoete en khaki-klere in die stof rondgerol en baklei het.

Die groot gebeurtenis van elke jaar was die kerk se Tiekie-aand. Dit was die amptelike naam en was as sulks geadverteer. Ek onthou nounog wat alles daar uitgestal was. Oupa Wilhelm van den Bergh (oupa Chris se pa) is die hoofouderling en hy loop op en af deur die mense, hande agter die rug, en kyk almal aan uit die hoogte, lig nooit 'n hand om met iets te help nie maar baie gou om te praat as alles net nie perfek reg is nie.

Ouma Catharina van den Bergh is die hoof-nyweraar en maak elke jaar al die wors self, sulke yslike skottels vol en dit was nog voor mense enige geriewe gehad het soos yskaste of vrieskaste. Die heerlikste smaaklikste wors, die hele omgewing ruik daarna. Dit is nou behalwe die melkterte wat sy vir dae lank bak.

Van die ander tannies maak emmers vol pannekoek deeg (twee vir een tiekie, met baie suiker en pypkaneel, geen suurlemoen nie), en die baie tafels met primusstofies wedywer met al die ander lekker goed vir klandisie: daar is varsgebakte brode, tuisgemaakte beskuit, versierde koeke, bakke vol alle kleure Jellies, vla en vrugteslaai en die pragtigste handewerk: doilies met kraletjies versier, die mooiste borduurwerk - na al hierdie jare wonder ek hoekom daar nooit breiwerk of klerasie gesien was nie? My eie familie het aan dieselfde kwaal gely, maak hekelwerk en borduurwerk sonder einde, maar nooit iets nuttig soos 'n trui of serp of klere nie.

Soos die naam van die kermis aandui het alles net 'n tiekie gekos, miskien was dit net vir eetgoed, en het die handwerk meer gekos.

Vroeg in die oggend was die braaivleisvure klaar aangepak, reg vir aansteek, en by middag se kant kan jy orals die lekker vuurrook ruik. Daardie heerlike worsgeur - niemand kon vir Kittie van den Bergh kers vashou met die wors nie. Ouma se speserye-resep het ek in 'n vroeër hoofstuk gegee, sodat julle self kan probeer wors maak. Dis nou die speserye-resep van die Vrystaatse plaas voor die Anglo-Boereoorlog, en wat van Voortrekker oorsprong is.

Die winter toe Kayo gebore is, Julie 1957, het ek en oupa self 'n klein tuisnywerheid begin met wors en biltong maak. Ons het begin deur net vir onsself 'n bietjie biltong te maak, en dan wors van die afval vleisies, maar baie gou het ons vriende en kennisse ons lastig geval om vir hulle ook te maak - net sowel want hulle was besig om ons bankrot te eet aan die lekker vleis.

Voor ek my kom kry is dit sommer 300 pond gewig (ong. 150 kg) van vleis wat ek self elke week sny en bewerk.. Oupa hang op en soek die droeës uit. Ons was gou bekend en het baie vaste bestellings gehad. Dr. Jeff Lazarus, wat Kayo "afgelewer" het was veral versot op die biltong en het 'n paar maal 'n week by ons aangery om biltong te koop.

Ek moet net bysê dat dit gladnie so 'n grap was om 300 pond yskoue vleis in die hartjie van die winter te bewerk nie. Ons het naderhand 'n biltongsnyer aangeskaf, plus 'n baie goeie klein skaaltjie en 'n messe-staal om my messe mooi skerp te hou. Ons het ook 'n vleismeuletjie met 'n stopper gehad vir die wors.

Toe Ouma Catharina kom kyk na haar nuwe kleinseun was haar kommentaar "Vir hierdie rammetjie sal daar in die hele wêreld nooit genoeg vleis of biltong wees nie" - ware woorde.

Die skaaltjie met die messestaal en vleismeul is nog alles in my huis na 46 Jaar, as iemand dit miskien vir 'n gedagtenis wil he.

Copyright Suzanne van den Bergh. June 2006.

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org