Published on the Website of the South African Military History Society in the interest of research into military history

Copyright Suzanne van den Bergh. April 2006.


OUMA SE STORIES
HOOFSTUK 2
OP 'n VRYSTAATSE PLAAS (1899-1902)

-16-

OORLOG EN VERWOESTING

Catharina Beatruks van den Berg (1888-1960) was gebore op 5 September 1888 op die plaas Frederiksrus, distrik Kroonstad, Oranje-Vrystaat. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het sy saam met haar ouers, broers en susters gewoon op die plaas Vredefontein, distrik Kroonstad. Sy was een van veertien kinders, waarvan drie seuntjies as babas oorlede is, dus met ses dogters en vyf seuns oorlewend.

Meer as vyftig jaar gelede (1952) vertel Catharina talle stories oor hulle dae op die Vrystaatse plaas, voor, gedurende en na die oorlog. Vredefontein was 'n baie groot plaas, met 'n gemengde boerdery. Daar was vir 'n paar jaar goeie reëns, en die Kroonstad distrik was een van die mooiste en mees beboude streke in die Vrystaat. Alles was geil en groen, met myle landerye aanmekaar, tuine en goedbewerkte plase en werwe, volop vee, perde, pluimvee (hoenders, eende, ganse en kalkoene) en swaarbelaaide vrugtebome. Dit was 'n rustige, landelike lewe, baie harde werk vanaf daglig tot laataande, met so nou-en-dan 'n besoek aan die dorp, gereëld na kerk en Nagmaal, met somtyds die groot geleentheid van 'n troue of 'n mondigwording waar die jong komp 'n bietjie kon dans en die musiek geniet, en ook om hulle klein vriendekring uit te brei. Catharina was 'n mooi kind, en was veral gesog om op te tree as blommemeisie by 'n troue, en het ook die eer te beurt geval om per geleentheid 'n baba by die kerk in te dra vir 'n doopplegtigheid. Verder was dit maar net 'n kuiertjie by naburige plase van familie en vriende want plaaswerk is veeleisend en vryetyd baie beperk. Maar in die lente van 1899 was dit net oorlogspraatjies.

In September 1899 is die burgers van die Oranje-Vrystaat gewaarsku - ingevolge die Kommandowet van Mei 1899 - om hulleself gereed te hou vir kommandodiens op die kortste moontlike kennisgewing. Die Kommandowet het bepaal dat elke burger tussen die ouderdomme van 16 en 60 gereed moet wees om te veg vir sy land. Die wet bepaal verder dat elke burger gereed moet wees met sy eie perd, saal en toom, 'n geweer en nie minder nie as 30 patrone (of 'n half-pond kruit en 30 koëldoppies), sowel as kos vir agt dae. Die wet het nie vasgestel hoeveel kos dit moet wees nie, of die aard daarvan; die burger moes self sorg vir kos vir agt dae en hy moet self weet hoeveel en wat hy vir agt dae sou nodig he. Dit was 'n vaste reël onder die burgers dat 'n deel sou besteen uit wors of biltong, miskien 'n soutribbetjie indien beskikbaar, brood, beskuit en ander noodsaaklikhede.

Op Vredefontein was almal druk besig om alles reg te kry vir Catharina se pa om ook by die Kroonstad-kommando aan te sluit, sowel as om te beplan vir sy lang afwesigheid vanaf die boerdery en sy familie.

-17-

Catharina se pa was Philippus Jacobus van den Berg, geb. 6-1-1857 oorl. 9-6-1926, en haar moeder was Anna Maria Magdalena Pretorius, geb. 23-1-1861, oorl. 18-6-1926. Hy was dus 42 jaar oud toe die oorlog uitbreek, en was alom bekend as Flip of Flippie, en haar moeder was 38 jaar oud.

Dit was ook nie lank nie voordat almal weg is vanaf hulle plase, net die vrouens en kinders bly agter, met hier en daar jong seuns van so 13 of 14 jaar nog op plase. Later in die oorlog was alle seuns bo 12 jaar saam met 'n pa of ouer broer of ander familie op kommando, maar daar is ou mans bo 65 jaar wat nie gesond genoeg was vir krygsdiens nie, en selfs van hulle was later kaalvoet deur die veld gejaag deur die khakis om hulle met dwang na die konsentrasiekampe te neem.

Dit duur nie lank nie voordat die eerste Engelse troepe hulle opwagting maak op die plaas, en hulle maak 'n groot ophef darvan om kwitansies uit te reik vir alles wat hulle vat - en hulle vat baie, net wat hulle oë sien - vee, pluimvee, melk, eiers, vrugte en groente, maar na 'n rustyd is hulle weer weg, sonder om enige noemenswaardige skade aan te doen.

Catharina het twee ouer susters gehad: Judith, die oudste, en Annie, alombekend as Mooi Annie, want sy was so mooi soos 'n pop, maar baie nukkerig, parmantig en met 'n hoogs ontplofbare humeur. Sy was toe so 17 jaar oud.

Op 'n dag toe die Engelse weer by die werf opdaag om proviand op te kommandeer, was Annie net weg na die sement-dam toe om water te gaan skep. Toe sy terugkom wemel dit van die Khakis, en soos ook te wagte is die mooi jong meisie dadelik die middelpunt van alle aandag. Die soldate lag en skerts, maak opmerkings, maar dit erg haar nie aangesien sy nie 'n woord Engels ken nie. Maar vir die een soldaat was haar stuurs houding te veel, spring van sy perd af en probeer om die emmer by haar te vat (Catharina het altyd gesê hy wou dalk net galant wees en wou die emmer water dra vir so 'n mooi meisie). Toe sy nie die emmer wil prysgee nie vererg meneer hom en skop die emmer uit haar hand, sodat al die water uitval. Annie is op die plek moordadig kwaad, maar terselfdertyd vreeslik bang en bloedrooi van verleentheid oor wat gebeur, maar binne sekondes herstel sy van die skrik, gryp die emmer en slaan daarmee die Khaki 'n geweldige slag in die gesig sodat jy net bloed sien loop. Gelukkig kom op daardie oomblik 'n offisier op die werf aan, verneem wat aangaan en berispe sy soldate streng omdat hulle weerlose vrouens en kinders molesteer. Hulle is gou weer weg, maar Annie was vir dae kwaad - sy sweer as sy 'n wapen sou gehad het sy hom morsdood sou skiet.

-18-

Na so drie of vier maande, toe die kommandos al hoe meer skade en doodsverliese aan die vyand berokken, is hulle nie meer beleefd of toegeeflik nie, hulle hele optrede en houding verander, en ons word vreeslik geteister. Catharina onthou die een dag besonder goed, want 'n groep Boere Verkenners kom aangestorm op die plaas om te waarsku dat almal moet vlug vir hulle lewens.

Almal help om 'n perdekar in te span en belaai met alles moontlik, soveel kas, klere, komberse ensovoorts as wat hulle haastig bymekaar kan raap. Die oudste dogter, Judith, het veral 'n buitengewone vrees vir 'n Khaki en sy gryp naderhand die leisels en begin wegjaag na die veiligheid van die rante, sonder om vir Catharina, Barend en Roelfie (twee jonger boeties) te wag, sodat hulle te voet moet vlug weg van die plaas af.

Binnekort is die Khakis op die werf en hierdie drie kinders is nog ver van veiligheid af. Catharina (sy was toe 11 jaar oud) sien dat hulle agternagesit word deur die soldate, en soos hulle vreesbevange weghardloop soek sy vir 'n wegkruipplek, maar daar is geen skuiling nie. So in die hardloop sien sy 'n ou erdvarkgat, en weet dat dit waarskynlik groot genoeg sou wees. Sy stoot vinnig vir Roelfie (hy is maar ses jaar oud en klein van postuur) met sy voete na onder in die gat, sodat sy gesiggie sowat ses duim onder grondvlak is, en sy val plat op die grand, bo-oor die opening van die erdvarkgat, en trek haar lang valerige rok oor haar bene en voete, en daar bid sy benoud dat die donderende perdehoewe hulle nie moet verpletter nie, totdat die laaste Engelse bo-oor hulle wegry sonder dat hulle gesien of beseer word.

Hulle weet natuurlik nie waar die res van die familie hulle bevind nie, en wag tot later in die dag wanneer hulle meen dat alle gevaar verby is voordat hulle teruggaan plaas-toe, waar hulle honger, beangs en half-verkluim tussen die riete in die water die hele nag wegkruip totdat die familie die volgende dag terugkeer.

Catharina was sekerlik 'n heldin in die ware sin van die woord om op so 'n jong ouderdom so vinnig te kan dink te midde van doodsgevaar en nog haar klein boetie se lewe ook te red, al sou dit ook moes wees ten koste van haar eie lewe.

En as julle nou wil weet wat van die derde kind geword het, en waar hy geskuil het, dit kan ek nie meer onthou nie. My aantekeninge wat meer as vyftig jaar gelede gemaak is terwyl Catharina my van die verlede vertel, se net "drie kinders vlug vir Khakis - Ma, Barend en Roelfie bly agter as Judith wegjaag met perdekar. Nege Verkenners weer honderde soldate af, sodat familie kan wegkom; kruip weg in erdvarkgat. Verkenners moes verder voort om ander plase te waarsku en kan nie help soek na die kinders".

-19-

Die aanstelling in Desember 1899 van Lord Roberts as die Engelse se Opperbevelhebber met Kitchener as sy Stafhoof verander die hele patroon van oorlogmaak. Die Engelse vind dat die vinnig-bewegende taktiek van die Boere-kommandos die oorlog onnodig uitrek en dat hulle 'n geweldige leër op die been moet hou om die klein Boere-eenhede te probeer vaskeer. Toe het die vyand meedoënloos geword. Solank die Boere-vroue op die plase gelaat is, sou die vegtende burgers geen gebrek aan voedsel en perdevoer hê nie. Die vroue is onwrikbaar daarteen dat die man moet "hendsop" en het dit 'n streng reël gemaak dat geen verraaiers of "hendsopper" of sy vrou en kinders ooit weer toegelaat sou word tot die gemeenskap nie, selfs nie ten tye van siekte of dood nie.

Kitchener besluit op 'n "scorched earth policy" soos reeds deur hom toegepas in Indië, en sy soldate word aangesê om letterlik niks op die plase te laat nie. Hulle reken nou meer op die gevolge van hongersnood as op hulle eie wapens en vermoeë. Bevele word gegee om alle kosware te verbrand of verniel, alle waens, karre, meules, ploeë, trap- en dorsmasjiene moet stukkend gebreek word, damme word opgeblaas, tot koffie-meultjies word gebreek sodat die vroue nie daarmee kan koring maal nie. Op een nabygeleë plaas word meer as 500 vrugtebome afgekap onder die ent-merk, sodat dit nooit weer sal dra nie. Hulle gooi klippe in die windpomp-skagte af, maar die vroue hou moedig aan om die stryd voort te sit. Die nuus van die strawwe nuwe wending van die oorlog het soos veldbrand versprei, en Vredefontein se mense is gewaarsku teen wat kom, sodat hulle alle moontlike voorbereidings kan maak vir hulle oorlewing.

In die herfs van 1900 was die oeste besonder goed, die beste vir 'n hele aantal jare. Omdat die mans almal afwesig is, was al die koring, mielies, kafferkoring en ander oeste en kossoorte gesaai en geoes deur die Boerevroue en hulle dogters en jong seuntjies, want teen hierdie tyd was alle plaasarbeid reeds weg. Op Vredefontein was alles volop - beeste, skape, alle lewendehawe was vet en gesond, melk, botter, eiers, pluimvee en groente was oorvloedig, maar al hulle volharding was nodig om meer of min vir alles te sorg. Daar was een skokkende insident toe 'n klein groepie soldate hulle opwagting gemaak het om kos en perdevoer te kommandeer, en hulle oplet dat Catharina se drie jonger boeties, tesame met seuns van 'n naburige plaas, oor die rivier probeer swem na veiligheid - die soldate het dadelik op hulle begin skiet, gelukkig sonder om iemand te tref. Dit was die mening van sommige Engelse offisiere dat die jong seuns te veel soos vegtende burgers gelyk het. Hulle sou ook kon oorlog maak - hulle was vol heldemoed en kon almal goed skiet en was bedrewe met perdry, op- en afsaal soos blits, en kon in alle opsigte vir hulleself sorg in die veld, maar hulle was nog almal onder 12 jaar oud en die burgers het geweier om hulle saam te neem op kommando. Catharina se moeder, Anna Maria, was vir 'n tyd genoodsaak om die seuns in meisiesklere aan te trek en hulle laat wegkruip sodra tyding gekry was dat die vyand opruk.

-20-

Die oudste dogter, Judith, was veral baie flink en slim om 'n plan te beraam, en binne minute nadat die Verkenners die tyding gebring het dat die Engelse na Vredefontein beweeg, het hulle al die nodigste besittings op 'n manier na die rivier gekry, waar daar 'n baie diep waterkuil was, en hierin het hulle soveel moontlik van die plaas-implemente, gereedskap, 'n ploeg, huishoudelike goedere soos borde, messegoed, potte en panne en drie perdekarre, volledig met disselbome, met osrieme in die water laat afsak, om sodoende iets te probeer red vir hulle voortbestaan.

Voor lank - soos op vorige geleenthede - kom dieselfde groep soldate onder 'n bevelvoerende offisier weer op die plaas aan, maar hierdie keer is hulle geduld klaarblyklik op. Hulle se die vroue en kinders moet sonder enige verdere hardkoppigheid hulle mans oorreed om wapens neer te lê of hulle gaan baie hardhandig optree. En toe die offisier wegloop sê hy so terloops vir een van sy onder-offisiere "These Boer women really are remarkable; we have been starving them for months, but they are still as fat as pigs".

Wat hy nie geweet het nie was dat almal wat dit kon doen soveel moontlik van hulle klere aangetrek het, sodat sommige tot drie stelle klere en kouse opmekaar aan het, net ingeval die vyand dit ook nog wou verbrand of konfiskeer.

Nie te lank daarna breek die dag aan waar hulle weer opdaag op die werf, dieselfde offisiere en soldate as voorheen, en sonder aarseling word almal aangesê om die huis en elke buitegebou te ontruim. Die huis waarin die familie toe gewoon het was nuutgebou, dele daarvan nog onklaar, en van naburige plase se families het in die ou plaashuis ingetrek, terwyl ander weer in skure en buitegeboue saamgewoon het om sodoende groter veiligheid te verseker asook om die beste gebruik te maak van arbeid, voorrade kos, medisynes en ander lewensmiddele.

Van die kinders is siek, party met koors, een met masels (wat gou versprei het na andere), en daar is 'n baba van tien dae oud (Anna Maria se nuutste seun), maar almal moet onverwyld die huis verlaat, sonder enige uitsonderings, en op die werf vergader. Ons word beveel om alles moontlik na buite te dra, en natuurlik was ons eerste gedagte om te red wat vir ons die kosbaarste was. Toe moet ons vind dat juis hierdie kosbare persoonlike goed eerste deur die vlamme verteer ward. Terwyl ons staan op die werf, word die blaaie van ons familie-bybel gebruik om die hele huis aan die brand te steek. Anna Maria maak 'n wanhopige poging om van die vlamme te blus, maar sy word platgeslaan deur 'n soldaat. Daardie dag het die trane gevloei soos nog nooit tevore of daarna nie. Om die waarheid te vertel, na hierdie vreeslike dag het niemand meer trane oorgehad om te stort nie, net hartseer en bitterheid het oorgebly.

-21-

Ons plaas word stelselmatig verwoes soos al die ander om ons - ons het niks oor nie, ons landerye staan in vlamme, alles kaal, verbrand en verdelg. Toe begin hulle op die oorblywende plaasdiere: 'n paar perde, beeste, varke, skape en pluimvee. Ons karperde en 'n paar stuks vee het ons die rante ingejaag, die perdekarre en ander goed lê nog steeds onder in die diep rivier kuil. Wat hulle nie onmiddellik kan gebruik of vervoer nie, word geskiet of doodgemaak en word net daar op die werf laat lê. Die onuithoubare reuk van vrot karkasse kan ons niks aan doen nie. Ons bekom 'n paar repe ou linne wat ons in asyn doop en dit dan om neuse en monde vasmaak om sodoende op 'n manier aan te sukkel. Dit is a verskriklike tyd waardeur ons moet leef voordat hulp opdaag. Ons staan op 'n kaal werf met niks, net die klere wat ons aan het, en winter is op hande. Daar is nie 'n plek waar ons kan was, of kopwas, en ons het almal lang dik haarvlegsels wat ons nie kan was of kam nie, of klere kan skoonkry nie. Die tien-dae-oud baba het geen klere of doeke nie, net wat hy aan sy liggaampie het. Nêrens is daar enige noodsaaklikhede of lewensmiddele nie. Anna Maria is in 'n bedenklike toestand na hierdie laaste bevalling en kan nie self haar baba versorg nie. Die bietjie kos wat op verskillende plekke weggesteek is was te min en dit word nodig om alles te rantsoeneer, sodat elkeen 'n gelyke deel kan kry. Van ons tydelike bewoners op die plaas word teruggestuur na hulle eie plekke om enigeiets moontlik bymekaar te kry - miskien 'n paar artappels of wortels nog in die grond, of eiers, of 'n verdwaalde hoender - enigeiets wat gebruik kan word. Ons probeer skuil in die oorblyfsels van die huis, skure en waenhuis, want tot die seile en tente wat ons besit het was verbrand. Ons probeer beskermings maak van stukke sinkplate en boomtakke, maar dit is skaars genoeg vir die babas, siekes en klein kinders. Op een van ons wegsteekplekke is daar 'n paar kerse saam met die kosware, sodat ons 'n flou liggie het in die pikdonker nagte. Hier is net verwoesting en die dood, en die oorheersende angs en vrees wat nie vir 'n enkele oomblik weggaan nie.

Agt dae gaan verby voordat 'n klein groepie burgers van ons plaaslike kommando opdaag om hulp te verleen, veral met die verwydering van die verrottende diere-karkasse. Die mans slaag daarin om party van ons vee en perde in die rante aan te keer, en hulle help om ons goed onder uit die waterkuil te haal. Die kommando-lede vertoef net totdat die nodigste werk gedoen is, dan moet hulle weer na ander plase waar hulp ook nodig is.

Maar nou kom daar uit 'n ander oord nog veel erger. Waar die vyand self nie kon uitkom nie, stuur hy sy swart hordes, gewapen met gewere en patrone, wat as deel van die Britse leër optree en wat die verwoesting en verskrikking van die troepe voltooi.

-22-

Daar kom 'n groepie swartes op Vredefontein aan, soek kammakastig werk nadat ons maande laas 'n plaaswerker gesien het, en onmiddellik keer hulle ons karperde aan, en trek weg met hulle.

Nou sit ons met drie perdekarre, maar sonder trekdiere, en sonder hulp van buite kan ons niks doen nie. Na 'n paar dae kom ene Dolf Britz by ons aan. Hy is 'n Kapenaar wat vrywilliglik vir die Vrystaat kom veg, saam met sy baie Vrystaatse familie. Hy is 'n besondere dapper, onverskrokke man, en dit word van hom gesê dat hy vir geen duiwel stuit nie. Ons vermoed hy het 'n oog op Mooi Annie, want hy kom verneem na ons welstand en kom help ons so dikwels as wat sy pligte dit toelaat. Hy word woedend toe hy sien wat met ons gebeur het, en die haglike omstandighede waaronder ons moet leef. Kort na sy aankoms daag daar 'n enkeling swarte ook op, om te vra vir kos en werk, en dadelik vermoed Dolf dat alles nie pluis is nie. Hy verneem na die man se omstandighede en waar hy voorheen gewerk het, en Dolf vertel ons hy dink die man is waarskynlik 'n spioen vir die Engelse.

Dolf laat die man oornag op die plaas, maar sy gedrag word al hoe meer verdag, en kort na sonop sê Dolf dat hy nie meer enige twyfel het nie. Almal wil weet, wat moet ons nou doen? Dolf sê hy sal met hom afreken. Hy maak 'n plan om die man met 'n spantou vas te maak en visenteer sy klere, en daar kry hy duidelike bewys van meneer se spioenasie-werk. Dolf maak die man los en se vir hom "hardloop die veld in, so vinnig as jy kan", met Dolf agterna op sy perd.. Hy ry 'n end vooruit en toe die man stilstaan skiet Dolf hom op die plek dood. Met perd en spantoue sleep hy die lyk tot by 'n nabye sloot en daar laat hy die spioen, in 'n vlak graf wat Dolf met los klippe bedek.

Dolf is weg om hulp te ontbied, maar ons was reeds vroeër deur die Verkenners gewaarsku dat die moord-bendes in ons omgewing rondbeweeg en alles verder uitmoor en verniel. En binne 'n dag of twee kom hulle op ons werf aan. Ons het vroegtydig skuiling gaan soek in die slote en spelonke van die nabyliggende koppies, 'n teisterende ontbering veral vir siekes en babas. Voor lank is Dolf terug met 'n klein groepie kommando-lede, en hulle sit die bendelede, weg met ons perde en vee, agterna, en voor lank kry hulle ons perde terug, en agtervolg die bende om met hulle af te reken. Binnekort was almal op 'n naburige plaas vasgekeer, waar die leier en 'n groep van sy makkers in 'n spelonk weggekruip het, vanwaar die bende baie goed weerstand gebied het. In hierdie geveg is twaalf van die bendelede doodgeskiet. 'n Besonder dapper jong burger van ons kommando (ek kan nie meer sy naam onthou nie) het vrywilliglik die spelonk binnegegaan om die leier te gaan uithaal, en na 'n kort rukkie se rumoer bring hy hom lewendig uit die spelonk.

-23-

Van al die oorblywendes is 18 volwassenes tot die dood veroordeel en almal is opgehang. Die Hof wat die oordeel gefel het was net onlangs gestig in Kroonstad toe die Volksraad daar met sy laaste sitting byeen was. Die hof het uit drie persone bestaan van wie een 'n regsgeleerde was en het nie krygsoffisiere ingesluit nie. Dit is moontlik en ook waarskynlik dat hierdie moord-bende deur hierdie of 'n soortgelyke hof die doodstraf opgelê is.

En net sodat ek nie miskien vergeet om julle te vertel nie: een van Dolf Britz se Vrystaatse neefs - en daar was baie van hulle - by name Gert Britz, is na die oorlog met Catharina se oudste suster Judith getroud, en hulle het twee seuns en drie dogters gehad.

Op die dag toe ons plaas afgebrand was, skiet my pa 'n Khaki dood in 'n ander deel van die provinsie waar sy kommando werksaam was. Sy doel is om die soldaat se klere, geweer en ammunisie, en alles persoonliks te bekom sodat hy tussen die vyand kan verspied en sodoende hulle bewegings kan verstrek aan sy bevelvoerders. Hoe hy vir 'n oomblik kon dink dat hy, 'n bebaarde takhaar Boer, sonder kennis van 'n woord Engels, met soiets kon wegkom gaan die verstand te bowe. Nietemin, hy kry dit reg en is suksesvol vir 'n tyd - hy gebruik die vyand se perde, klere en ammunisie - maar voor lank word hy aangekeer en deur die Engelse aangekla as 'n spioen, wat die doodsvonnis gedra het, met onmiddellike teregstelling deur "Firing Squad". Ons het nooit die besonderhede gehoor nie, ons was nog maar klein kinders en wat ons gehoor het was vanaf grootmens-gesprekke wat bo-oor ons koppe vertel was. Ewenwel, die doodsvonnis was vir die een of ander rede teruggehou, en my pa het mettertyd by ons laer onder beskerming van President Steyn aangesluit. Hy was gesê as hy ooit weer 'n wapen sou optel hy onmiddellik geskiet sou word as 'n spioen. Daar was gerugte dat hy in die geheim weer aangesluit het by sy kommando, en ons onthou duidelik dat hy dikwels vir lang tydperke sonder enige verduideliking weg was, maar oëenskynlik was hy deel van ons laer. Na die oorlog was hy een van baie wat geweier het om die eed van getrouheid af te lê - dit wil se 'n "Bittereinder" - en is na Indië gestuur as krygsgevangene, vanwaar hy eers in 1903 teruggekeer het na sy familie en vaderland.

Maar terug by ons verdere lotgevalle. Met behulp van ons kommandolede haal ons ons paar besittings onder uit die waterkuil, en so tussen al die families saam op die plaas kry ons die nodigste bymekaar. Ons is naderhand 'n groot laer, meer as 30 waens en perdekarre en meer as 150 siele bymekaar, want baie vergader by ons op Vredefontein. Ons reis onder die algehele beskerming van Marthinus Steyn, President van die Oranje-Vrystaat. Hierdie "Vrouelaers" word gestuur na verskeie sentrale bymekaarkomplekke, en die vroue en kinders word voorsien, waar beskikbaar, met kos, klere, wapens, tente of seile, en het vir beskerming 'n paar ou mans - te oud of sieklik vir kommandodiens - tesame met 'n paar jong kommandolede, maar die

-24-

jongmans bly net tydelik om te sien dat alles goed verloop voordat hulle weer by die kommandos aansluit. President Steyn kommandeer alles wat beskikbaar is sover ons reis. Soos ons ry om by die groot laer aan te sluit sien ons plase, skure, en landerye wat staan in onafgebroke vuur en vlam en orals honderde karkasse van vee. Saans slaap ons binne of onder die waens want ons sou enige ding verduur of van ontbering omkom solank ons netnie in 'n konsentrasiekamp sou beland nie. Maar selfs hier het die vyand geen genade nie, en net waar hulle 'n onbeskermde laer raakloop word alles weer verniel en verbrand en enige persone gevange geneem word dadelik na die naaste konsentrasiekamp gestuur. *

Tussenin pryk nog steeds die pragtige plase, huise en landerye van ons land se pes en ondergang, die verraaiers wat as National Scouts hulle land en volk en eer prysgegee het om aan die kant van die Engelse te werk. Verder ook die "hendsoppers" wat lafhartig hulle wapens neergelê het sodat hulle plase en wêreldsgoed nie uitgedelg moes word nie. Maar selfs met hierdie soort het die vyand nie sy woord gehou nie, en voor baie lank word hierdie hendsoppers se plase ook verwoes. Ons ken baie van hulle, meeste in ons kerk, bure of selfs lede van ons families, en in baie berugte gevalle was dit broer teen broer. Almal is so verbitter teenoor hierdie mense dat daar vroeg al 'n onwrikbare besluit geneem was dat geen National Scout of hendsopper, of sy vrou en kinders, of enige lid van sy familie ooit weer toegelaat sou word in die gemeenskap nie, selfs nie ten tye van siekte of dood nie. Die kerk laat nie toe dat hulle Nagmaal gebruik nie, en dit het wel gebeur dat een so 'n persoon na die oorlog by ons huis aangekom het vir hulp van een of ander aard; hy was vir sy moeite na die agterdeur gestuur om aan te klop, en daar was sy versoek kortaf en finaal geweier.

Onder oorhoofse beskerming en toesig van Generaal de Wet en sy Verkenners ry ons in President Steyn se laer van staanplek tot staanplek. As die Verkenners sê 'Inspan!', dag of nag, reënt of kapok, span ons in en word vergesel na 'n veiliger plek. Ons was nooit gevang nie, en ons het naderhand gewoond geraak aan hierdie swerwersbestaan wat in geheel tot aan die einde van die oorlog amper twee jaar geduur het. Dit het meermale gebeur dat ons met gekniede panne brood moes inspan en vlug, en sodra ons uitspan soek Judith 'n geskikte miershoop uit, wat uitgehol word terwyl die kleiner kinders vlytig ronddraf om takkies en hout bymekaar te maak, en binnekort is daar 'n lekker vuur en voor lank is die hele kamp vol van die heerlike broodbak-geur.


*Teen die einde van die oorlog was daar 45 van hierdie konsentrasiekampe, met 'n amptelike dodetal - vasgestel deur 'n komitee onder voorsitterskap van Generaal Louis Botha en die Rooikruis - van 27,800 siele, waarvan 22,057 kinders onder die ouderdom van 16 jaar was.


-25-

President Steyn kom self dikwels kuier by al die staanplekke, hoofsaaklik om persoonlik te sien dat alles goed gaan onder sulke moeilike omstandighede. Hy ken my pa goed, en op 'n dag toe die brood weer so lekker bak kom hy aangery op sy pragtige perd en kom groet. Hy sê "ou Flippie, hoe het ek dit met jou - die waens is nognie eers afgepak nie, nie een vuur brand nie, net joune" en hy is verbaas dat die Van den Bergs brood bak. My pa roep vir Judith nader, en sê "President, dit is my oudste, Judith, en dit is die handewerk van hierdie vlytige dogter wat so goed vir ons sorg".

In Junie 1900, na afloop van 'n aantal gevegte gewen deur die burgers, veral Rooiwal waar die Kroonstad-kommando hulleself onderskei het, word daar besluit deur die twee Republieke - Transvaal en Vrystaat - om 'n Dag van Danksegging en Verootmoediging te hou, saam met 'n Nagmaal. Die geleentheid was wyd en syd bekendgemaak, en soveel siele moontlik moet bywoon, sonder om afbreuk te doen aan enige pligte of oorlogvoering. Op die bestemde dag was daar honderde mense, burgers kon in baie gevalle vir die eerste keer weer hulle geliefdes bymekaar sien, maar tussen die vreugde en blydskap was daar ook baie trane en harte vol smart vir gesneuweldes en gewondes.

Die vroue wend 'n buitengewone poging aan om iets bymekaar te skraap om dit 'n besondere geleentheid te maak. Die kinders kry gou fynhout en takke bymekaar om te sorg vir genoeg braaivleisvure. Daar is boerewors, 'n paar varsgeslagde skape en ander toepaslike vleis, daar is vars brood en roosterkoek, selfs hier en daar 'n koek gebak deur 'n dame met baie ondernemingsgees, daar is gemmerbier, melktert, en heerlike, egte vars koffie - 'n groot luukse en seldsaam gesien.

Die Nagmaal sou natuurlik die Sondagoggend plaasvind, maar die Saterdag is die ene groot plesier, 'n dag om nooit te vergeet nie. Na die gesellige middagete word almal tot stilte gemaan want President Steyn en Generaal de Wet sou albei 'n toespraak lewer. Die verrigtinge word geopen met skriflesing, dan 'n vurige gebed, en dan sing almal uit volle bors hulle mees geliefde lied

Dan uiteindelik kom die groot oomblik waarvoor almal gewag het. Nadat Generaal de Wet sy toespraak gelewer het, kondig hy die name af van die DAPPERSTE HELDE van die oorlog tot dusver, en in die lys van name is daar ook baie van ons familie en vriende en mans wie later met 'n Van den Berg dogter sou trou:

-26-

GERT BRITZ, DOLF BRITZ, HENDRIK VAN RENSBURG, ROELF BRITZ, HANS BRITZ, JAN ECKSTEEN, RUDOLF PRETORIUS ('n broer van Anna Maria), en dan ook PHILIPPUS JACOBUS VAN DEN BERG, een van die dapperste van al die helde. Stel julle voor hoe daardie gesigte gestraal het van trots en vreugde by die aanhoor van hierdie eer!

Hierdie openbare "noem van name" was ook al erkenning wat die burgers gekry het vir al hulle swaarkry en opoffering. Daar was geen "Mention in Despatches", geen Military Medal of Victoria Cross soos by die Engelse nie. By die vyand was erkenning en militêre eerbewys alles en hulle was te alle tye bereid om hulle lewens neer te lê vir sulke erkenning

Die mans, vroue en kinders van die Oranje-Vrystaat het tot die bitter einde aangehou veg teen 'n oorweldigende oormag, en honderde van hulle het met die stryd aangehou selfs na die Vrede van Vereeniging in Mei 1902, deur hulle weiering om wapens neer te lê en die Eed van Getrouheid te versmaai. Vir hierdie trotsering van die veroweraar se voorwaardes was honderde verban na verre lande: St. Helena, Ceylon, Bermuda, Indië.

Een van die laaste aantekeninge in my boekie van die stories aan my vertel deur Catharina is dat Vise-President van die Oranje-Vrystaat, Schalk Burger, persoonlik gereis het van kamp tot kamp om die verpletterende nuus oor te dra van die onvoorwaardelike oorgawe van die twee Republieke, en oral waar hy die nuus meegedeel het kon hy dit nooit regkry om te verhoed dat sy trane oor sy lang wit baard gevloei het. President Marthinus Steyn was bedlêend siek vir etlike maande voor die einde van die oorlog. Ten tye van die vredesonderhandelings was sy toestand ernstig, en het hy nie een van die onderhandelings of die Vredesverklaring bygewoon nie.


Anna Maria se tien-dae-oud babaseun, Hendrik, het sy ongunstige toetrede tot die lewe oorleef en het 'n kranige jongman geword. In die loop van tyd het hy 'n Mej Kobie de Wet ontmoet en hulle is getroud. Hulle het drie seuns en 'n dogter gehad.

-27-

ADDENDUM
26 September 1998

Teen die einde van 1900 het die Britse leërbevel besluit op die verwoesting van plase, oeste en lewendehawe, en die verwydering van vroue en kinders na konsentrasiekampe, waar derduisende beswyk het. Statistieke as volg:

Die Boere-Hulpkomitee onder voorsitterskap van Ds. A.J. Louw van Heidelberg het deur middel van die Kerkrade begin met 'n statistiek van diegene wat deur die oorlog doodgemaak is. Die hoofkomitee van "Het Volk" onder leiding van Generaal Botha het die saak verder gevat en deur middel van die Veldkornette en die personeel van die Rooikruis getalle bekom. Die statistieke opgawes bewys nou volledig deur naam, datum en distrik van die oorledene sowel as die oorsaak en die plek van oorlye, hoeveel daar van ons volk tydens die oorlog omgekom het. In die 45 konsentrasiekampe of vrouekampe is daar omgekom:

Getroude vroue 3,288
Jong dogters bo 16 jaar 825
Jong seuns bo 16 jaar 209
Kinders onder 16 jaar 22,057
Totaal vroue en kinders 26, 379
Ou manne 1,421
Groottotaal in die kampe gesterf 27, 800

Die statistieke opgawes bewys verder dat daar tydens die oorlog die volgende ook hulle lewens ingeskiet het:

Gesneuwel en aan wonde dood 3,990
Op kommando dood aan siekte of ongeluk 1,081
Omgekom in 21 krygsgevangeniskampe 1,118
Totaal gesterf in diens van land 6,189

Daar was geen noukeurige opgawes van manne, vroue en kinders wat tuis of deur te vlug in die veld dood is nie. 'n Beraamde berekening bring dit op omtrent 2,000 persone, wat so weens blootstelling en honger ontydig aan hulle end gekom het.

So het ons dan vanaf Oktober 1899 tot Junie 1902 van ons Afrikanerbevolking in die graf sien lê

Burgers op Kommandodiens 6,189
Vroue en kinders in konsentrasiekampe 27,800
Deur blootstelling en ontbering 2,000
Groottotaal 35,989


Copyright Suzanne van den Bergh. April 2006.

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org